'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Thursday, June 9, 2011

Dag 9 en deel dag 10- Ruitelan tot O´ Cebrero

Gister het verder baie mooi verloop. Ek het baie lekker gestap, 20 km opdraande in die vallei van die rivier af. Daar was later amper elke 2 km ´n dorpie. Maar die dame by Albergue San Miguel in Astorga het gesê die lekkerse Alburgue vir haar (en sy het verskillende dele van die Camino al oor die 20 keer gestap) was Ruitelan s´n.

Toe ek gister in Trobadello blog, sien die meisie wat daar werk dat ek die foto van haar omgewing op my blog sit. Sy was so beïndruk dat sy vir my ´n blok sjokelade present gegee het, met baie Spaanse woorde by. Ek dink nie dit het beteken dat sy my sexy vind en ´n afspraak met my soek nie- maar ´n mens weet nooit met die Spanjaarde nie!

Van Trobadella was dit nog 3.5 km na La Portella, dan nog 1.5 km na Ambemestas, en nog 2.5 km na Vega de Valcarce. En dit was baie, baie koud die hele dag! MAar dit is baie mooi in hierdie vallei op. In Vega de Valcarce is my geloof deeglik beproef. Want daar loop ´n mens verby die Alburgue Brazil, en dit lyk na ´n lekker partytjie daar by die Brasiliane. Maar ek is nie hier vir ´n partytjie nie, ek hou aan. Die gids sê dis net nog 1.7 km tot by Ruitelan. Maar dit voel soos 4! Dalk omdat ´n mens al moeg was van die hele dag se opdraande.

Toe ek in Ruitelan aankom, wou ek amper omdraai. Die Alburgue lyk glad nie so hot nie. En dan is daar ´n netjiese bar oorkant die pad, waar ´n tannie met min tanne bier bedien. Daar is nog so drie huise en twee hoenders, en dis die hele dorpie. Maar ek boek toe tog maar in.

Die eerste indrukke is vreemd. Die Spaanse man daar is obviously ´n Boeddis. Die reëls klink vreemd. En daar is niks om verder te doen in die dorpie nie. MAar ek druk deur. Ons bly in ´n dakkamer. En daar is min mense in die Alburgue. Ek was weer klere. Soos elke dag. En ek vang weer´n slapie. Gaan drink nog ´n biertjie oorkant die pad. En sit. En wag. Want aandete is eers om 19h30.  Ek page ´n Engelse boek deur waarvan die eerste 30 bladsye uitgeskeur is. Spoedlees deur die res van die 547 bladsye voor ete.

Aandete was uitstekend! Dit het begin met ´n groentesop met baie ham by. Die gebruiklike wyn en brood op die tafel. Daarna was daar ´n slaai op die tafel, met tuna, en fetakaas, en slaaiblare, en pitmielies, en daardie reuse rooi soetrissies. Die hoofgereg was Spagetti met ham.  En poeding was ´n Mariebiskuitjie met vla.  En genoeg rooiwyn! Ek het in die middel van ´n lang tafel gesit, en oorkant my was ´n Amerikaner van Ohio wat al 10 jaar in Japan woon en met ´n Japanese meisie getroud is. Confusing, né? Links van my was ´n groep Franse dames, op die punt ´n Italiaanse egpaartjie wat eergister in Ponferada begin het. En regs was die gebruiklike groepie Duitsers.  Na ´n paar wyne het die gesprek ontdooi, en het ons heerlik internasionaal gekuier. In Vino est Veritas...

Vroeg in die bed geklim. Daar was duidelike opdrag dat ons nie mag opstaan voor die musiek nie vanoggend 06h00 speel nie. Ek was al 05h00 wakker, en het gelê en wag tot die musiek begin speel het- Ave Maria!

Liewe vriende en familie, vandag was sover hel! Van Ruitelan het ek nou al 7 km geklim. Dit is opdraande al die pad. Dit voel of ´n mens ´n nimmereindigende stel trappe klim!
In La FAba, na 5 km, het ek eers gestop vir ´n GROOT koppie koffie. Daarna was dit 2.7 km van hel op ´n nimmereindigende grondpad, tot hier waar ek nou sit in Laguna de Castella se Alburgue kroeg.  Hierdie breuk het ek nodig, want nou lê daar nog 3 km se hel voor tot by O Cebrero, ´n baie bekende berg op die Camino. Daar is ook ´n webcam bo-op O Cebreiro, so as julle dit kan opspoor, ek sal seker so oor ´n uur of 90 minute daar wees. Ek hou, maar ek bars! Vandag sweet ek my dood.  Ek sal by O Cebrero besluit of ek enigsens verder wil stap vandag. 9.5 km se kwaai opdraande is dalk erg genoeg!

So geliefdes, mooi dag daar vir julle elkeen!

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?