'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, September 7, 2014

Bernard se Belydenisaflegging

Amper 18 jaar gelede het ek hierdie jong man gedoop, en belowe om Hom groot te maak met die Here se liefde. 
Ek het baie foute langs die pad gemaak. EK was nie altyd 'n goeie voorbeeld vir hom nie. 
Elke dag was daar maar baie genade nodig. 

Maar vanoggend het hy opgestaan voor die hele gemeente en sy geloof bely. Vir baie mense is dit onsin, en nog meer verstaan dit glad nie meer nie.  In ons gemeente is daar geen druk op 'n kind om dit te doen nie, en ons doen dit ook nie in groepe nie. Na al die jare van sondagskool en by die ouerhuis van die Here se liefde leer, gee ons hulle die verantwoordelikheid. Party kom nooit terug om te kom sê dat hulle die Here liefhet nie. Ons plaas geen druk op hulle nie. Wanneer hulle gereed is, kom sê hulle dit in hulle eie woorde; Ek is lief vir Jesus. Ek wil graag deel van sy kerk wees, en 'n verskil help maak in die wêreld rondom my. (Ek gaan ook nie in allerhande argumente hieroor betrokke raak nie. Hier baklei ek met niemand oor teologiese/ godsdienstige/ ateïstiese verskille nie...) 

Dit was vir my as pa baie kosbaar toe my seun vandag, in sy eie woorde, gesê het wat in sy hart leef. 

Vandag was daar vir my genoeg rede om fees te vier. Ons gesin het 'n heerlike braai saam gehad, met rumpsteaks op die Weber, medium rare met 'n sampioensous. 
Maar vir Bernard was die mooiste van die dag maar steeds "die besondere mense in sy lewe" of te wel: 
Die jong man het BAIE goeie smaak in die lewe... 





Saturday, August 2, 2014

Groot oomblikke in 'n pa se lewe...

Wanneer Ouboet vir Kleinboet leer skeer...

Maar in daardie oomblikke kom ook die besef: my jongste word nou ook 'n man. EN ek word oud...

Sunday, March 2, 2014

Eerste Hoërskool Rugbywedstryd vir die jongste...


Dis so lekker, nadat hy so baie op die reserwebank geparkeer is in die Laerskool, om te sien hoe hy homself geniet het daar in die agterlyn! Dis dalk net 'n pa se opinie, maar hy het vir my baie mooi gespeel!


Wednesday, February 19, 2014

Valentynsbal 2014

Gisteraand het die Hoërskool hulle jaarlikse Valentynsbal gehou. Vrydagaand die 14e sou nie gewerk het nie, want daar was 'n groot atletiekbyeenkoms.

Die Valentynsbal begin nou al amper 'n klein matriekafskeid hier by ons raak. Dit maak regtig saak wie jy vra, en hoe julle aantrek.

Ouboet het op Valentynsdag die eerste keer in sy lewe, in matriek, 'n meisie gevra om met hom uit te gaan. Ek het nie 'n idee wat die jongmense dit deesdae presies noem nie!

Vir gisteraand se Bal kon Ousus die Fotograaf nie in die middel van 'n akademiese week huis toe kom nie, daarom moes ek maar die fotos neem. Hier is net twee van die 90 wat ek geneem het. En ja, ek is baie in my skik met my seun se goeie keuse, sy is baie oulik!



Wednesday, January 15, 2014

2014 Skop af...

So is die lang, lang, lang Desembervakansie uiteindelik verby.  Die elfuur in die oggend opstaan. Die heeldag op die rekenaar en die Playstation rondlê. Die tye van absoluut niks oefen nie, net eet tot jy vaak is en slaap tot jy honger is.  En dis net ek- nou die kinders...

Vanoggend is almal weer netjies gekoller en getaai...
Die drie broers op pad... 

Wil darem nog 'n foto saam met sy ma hê in sy laaste skooljaar...


Soos daardie eerste dag 12 jaar gelede

Saam met die hoofseun en onderhoofseun- die Mafia het die skool oorgeneem....

En nou begin die jaar weer volspoed van voor af. Die atletiek. Die boeke oortrek. Die romanse wat by twee blom... die blydskap en die trane en die Wiskunde... 

Nog 'n jaar op die Roller Coaster van die lewe...