'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, June 8, 2011

Dag 8- Ponferada na Villafranca del Bierzo en ´n stukkie dag 9...

Die 22 km na Villafranca het vanoggend soos ´n droom onder my verby gerol...
Die eerste 10 km is deur Ponferada se buitewyke, met winkels en woonbuurte die hele pad lank. Maar dan beweeg ´n mens uiteindelik uit hierdie industriële deel na die volgende dorp toe, Cacabelos. En hierdie omgewing is werklik mooi! Dit herinner ´n mens aan die Franschhoekvallei. Die Bierzo gebied is ook bekend vir sy druiwe, wyne en vrugte. Die hele stuk na Villafranca toe is deur sulke wingerde en boorde. Redelike opdraendes al klaar, maar dit verwag ´n mens soos die groot berge weer nader kom.

Villafranca is werklik ´n pragtige dorp! Hier is die ou Santiago kerk, met die poort van Vergifnis, as jy in die middeleeue die pelgrimstog tot hier kon maak, maar te siek was om verder te gaan, dan het dit glo dieselfde getel as om by die katedraal in Santiago self uit te kom.

Ek het in ´n baie mooi private Albergue gebly, maar al wat regtig op my senuwees begin werk, is dat die hele plek alweer vol Duitsers was, wat nie ´n woord Engels praat nie.
Ek het gisteraand seker die slegste bord kos ooit in my lewe gemaak, en dit terwyl ek gedog het ek gaan dit so goed regkry. In die klein winkeltjie oorkant die pad loop ek twee blikkies kos raak. Nou die spaans is mos nie so lekker nie, ek kan nie onderskei of dit kat of seekat was nie! Die blikkie sê iets soos seekat in ´n amerikaanse styl salsa sous. Ek het dit saam met pasta gaargemaak. Maar die pan met kat/seekat wil net nie lekker proe nie. EK gooi van iemand se rooiwyn by. Dit help niks. Ek gooi bier by. Dit help niks. Uiteindelik het ek ´n bord daarvan geëet, en die res weggegooi. Gelukkig was daar 2 sjokelade mousse om my deur te help! (´n Mens koop hulle nie een een nie, twee of vier!)

Vanoggend so ver was baie spesiaal. Toe ek uit die Albergue uitstap om 7 uur, was dit snerpend koud, daar waai ´n ysige wind van die berge af. Maar die eerste 11 km sover was so lekker! Die pad kronkel langs ´n rivier, met bosse, en koekoekvoëltjies wat roep. My voete is steeds seer, ek gaan my linker kleintoontjie binne die volgende drie ure amputeer met my Swiss Army Knife, en die wond toebrand met ´n sigaar. Maar dit was lekker koel tot hier in Trabadelo, waar ek die rekenaar in die koffieshop ontdek het. Ek beplan, as alles reg loop, (dis seker nou ek!) om te vorder tot in Ruitelan, nog so ses of sewe km vir die dag, maar dit gaan redelik vris opdraende wees.

Skoonma word vandag 80- lekker verjaar daar by my huis!
Liefde vir julle almal!

Waar ek nou so pas geloop het by Trabadelo

2 comments:

  1. Great om 'n foto te sien Ewald! Ek het geweet die Camino gaan 'n ou met baie nuwe voornemens vul, maar amputasie, dit het ek nie sien kom nie!! Katkos is ook nie 'n ding wat ek verwag het nie - dalk moet jy maar eers die woorde op die blikkies gaan 'google translate'! Ek het nou al so baie mense se Camino ervaringe gelees maar ek moet jou se, niks kom by die eerlikheid van 'n boer op 'n Spaanse pad nie! :)

    Voorspoed verder - ons volg jou al die pad! Ek kan maar net namens daai kleintoontjie pleit vir 'n tweede kans!

    Groete hier van die Kaap af!

    ReplyDelete
  2. Stem saam dis lekker om 'n foto te sien en dit lyk vreeslik rustig. Natuurlik nie altyd wat in mens se binneste aangaan tydens die stap nie :-). Onthou jy het daai toon nodig vir die afdraende so gee hom maar nog 'n kans

    Sterkte

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?