'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Friday, June 10, 2011

Dag 11? O Cebreiro na Triacastella

Dit raak nou ´n gewoonte om nie waar ek slaap, internet te hê nie, en dit dan langs die pad raak te loop. Dit maak my sessies so bietjie meer gejaagd...
Toe ek gister geblog het, was ek byna dood van die moegheid. Daardie O Cebreiro bult is regtig kwaai!  Daarna het ´n mens nog 3 km geklim, gelukkig nie heeltemal meer so steil soos die vorige deel van die dag nie. Maar dit is baie hoog, 1350 m bo seespieë. En die wind waai. En dis baie koud. Nou kyk, behalwe vir blase op my voete is daar ´n ander ding wat stap altyd vir my baie moeilik maak. Ek sweet soos ´n os. Altyd, as ek oefen. Ek het gister met my sweater die eerste deel geklim, want dit was baie koud. Maar hy was later deurnat, en daarna het ek maar uitgetrek en net met ´n t-hemp geklim. Die laaste ent het mooi gevorder. Uiteindelik het ek bo by O Cebreiro uitgekom. En dit is nou behoorlik op toeriste gemik. Ek het besluit om daar oor te bly. Dit was my eerste ervaring van die staatsrefugio´s langs die pad. En dit was nogal traumaties!  Die gebou self is baie netjies en modern. Maar daar is 40 bunkbeddens, twee twee teen mekaar, in ´n enkele kleinerige slaapvertrekkie. Ons het buite gesit en wag tot 1 uur, tot die refugio oopgemaak het. In die tou al het ek gesien daar is so luidrugtige Spanjaard, wat op sy vriende skree wat langs hom sit. In hierdie refugio, soos jy inboek, kry jy ´n kaartjie met ´n bednommer op. En daar sal jy slaap. Raai langs wie land ek? Dis reg, langs Senor Grootbek, met twee bunkbeddens langs mekaar lê hy nader aan my as my vrou in ons queen size bed!  Tweede surprise, toe ek gaan stort- die storte is redelik modern. Maar daar is ses hokkies, sonder enige deur of gordyn. Soos julle agterkom, as ´n mens "privacy- issues" het, gaan jy redelik swaarkry op die Camino in die refugios!

Ek het vinnig gestort, en daarna was daar nog ´n baie lang dag oor. Ek het eers in die kerk gaan sit. Baie mooi gerestoureer, en daar het Taize musiek gespeel. Ek het die stilte baie waardeer. Toe eers weer gaan koffie drink by een van die drie restourante daar. En baie lank gesit en my gids gelees.  En toe maar deur die dorpie rondgestap.  Die hele middag het so aangehou, elke drie ure as ek op my horlosie kyk, is dit vyf minute later. Ek kry behoorlik tyd vir stil word! Ek het later weer in die kerk gaan sit, vir ´n baie lang tyd, en vir elkeen wat ek ken, op die naam gebid.
So teen half sewe het ek gaan aandete eet. Dit was die een lekker deel van gister. Dit was in so ´n intieme restourantjie van klipmure, en dik houtbalke vir ´n dak. Dit behoort aan ´n jong egpaar met drie klein kindertjies, en daar is een van die oumas ook daar- dit lyk nie of ´n mens met haar moet sukkel nie!  Dit was, soos ek gesê het, baie koud. Maar daar was ´n kaggel met ´n vuurtjie. Hulle Macaroni eerste gereg het actual stukkies vleis in gehad, en die hoofgereg wat ek gekies het, was minute steak en tjips. Hulle sal nooit vleis braai soos ons nie, maar steak was baie welkom, al was dit baie klein! Nagereg was ´n Flamby, en die 1/2 bottel rooiwyn saam met die ete was uitstekend. Ek het so lank as moontlik daar tyd verwyl, en toe maar teruggeggaan refugio toe.

Om aan die slaap te raak, was nie maklik nie. Dit het later twee slaappille gekos (Sorry Mich- noodgeval!) Want Senor Grootbek en sy trawante het die interessantse ensamble van snork wat jy in jou lewe gehoor het. Veral hier teen ´n mens se oor was dit nogal erg!

Vanoggend het ek so half sewe begin stap. Ek wil druk vuir Triacastella, so 22 km se stap vir die dag. Die eerste 15 het baie mooi verloop. Dis meestal afdraande, maar daar was een of twee opdraandes wat ´n mens goed besig gehou het. My linkertoontjie is nog steeds nie afgesit nie, maar hy tender. Ek dink dit is die eerste keer in my lewe wat daar drie lae blase op een slag op een plek is.  Ek sak nou 700 m in 6 km se tyd, so my enkels is ook besig om ´n helse knock te vat, my knieë hou verbasend genoeg nog. 
Hierdie omgewing van Galacia lyk baie soos Ierland, ´n mens kan sien dit reën baie. En ´n mens stap die hele tyd deur beesmis van die baie melkerye.

As daar later weer internet is, sal ek weer gesels. Ek het uitgefigure hoekom ´n mens so baie blase kry hierdie kant van die wêreld. Dit werk so- in Suid Afrika is ons onder die ewenaar. Dit beteken ons hang eintlik onderstebo aan ons voete. ´n Mens is dus baie ligter in Suid Afrika. Hierdie kant van die ewenaar staan jy met jou volle gewig bo-op jou voete.  En ´n Suid Afrikaner se voete is nie gewoond daaraan nie. Maak dit sin? +
Baai, laat ek weer probeer waggel...

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?