'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, May 14, 2013

Bernard 17 vandag!

Liewe Bernard,

Voor jou geboorte was ek bang om die pa van 'n seun te wees.  Ek het nie broers gehad nie. Ek het op skool nogal gesukkel met vriendskap.  Ek was nie baie goed in rugby nie, alhoewel ek my bes gegee het vir Newcastle Hoërskool se 3e span.   Ek was bang dat ek nie vir jou 'n goeie voorbeeld sou kon stel in die lewe nie.

Maar met jou vriendelike geaardheid het jy van die begin af diep in my hart gekruip. Ek het 'n belangrike ding van vaderskap geleer- dit gaan nie oor die abstrakte idee om 'n pa te wees nie, maar die verhouding met 'n spesifieke seun, wat die verskil maak.

Ek is baie trots op jou.  Ek bewonder die man wat jy besig is om te word. EK bewonder jou sagte hart, en die mooi manier waarop jy met mense werk. Ek bewonder jou talent op 'n rugbyveld, en waar jy hard maar eerlik speel, jou beste gee sonder om ander doelbewus te beseer.

Ja, nou kan jy 'n leerlinglisensie vir 'n kar kry. En ek hoop en bid dat jy in hierdie opsig ook meer verantwoordelik as ek gaan wees.  Ek dink jy gaan...

Mag jy ook eendag die regte meisie ontmoet, wat die mooi in jou gaan raaksien, en mag jy haar soos 'n prinses behandel, maar dis hoe ek jou ken- jy sal...

Geniet jou verjaardag. Dis baie lekker om jou pa te wees, ek is baie trots op jou!

Jou Pa...




Saturday, May 4, 2013

Eerste Twitterdiens oor Kolossense 1- Wie is Jesus?

Hierdie is 'n preek vir NG Gemeente Nylstroom-Oos op 5 Mei 2013. 




Inleiding
In die ou dae het 'n plattelandse dominee eendag rondgestap, en toe op 'n baie vreemde toneel afgekom. Daar was 'n jong seun, wat by 'n wa gestaan het. Die wa se vrag hooibale het afgeval en op 'n hoop gelê.  Dit was baie warm, maar die jong man het verwoed geprobeer om die hooibale weer terug op die wa te kry. Hy was papnat gesweet, en het na sy asem gehyg.
Die dominee het hom gestop en gesê hy lyk darem baie warm, wil hy nie net 'n oomblik stop en water drink dat hy kan beter voel nie? "Nee dankie", sê die jong man- "my pa gaan nie daarvan hou nie!"  Die dominee sê vir hom:  "Maar alle mense mag mos soms darem 'n breuk ook vat! Kom, rus so bietjie dat jy kan beter voel!"
" Nee", sê die jongman, "my pa gaan nie daarvan hou nie. "
Die dominee het sommer omgekrap geraak. Hy sê toe: "Klink my jou pa is 'n regte slawedrywer! Waar kan ek hom in die hande kry, ek gaan verseker vir hom iets te sê hê oor hoe hy jou behandel! " "Wel", sê die jongman- "hy lê daar onder die hooibale... "
Wat op aarde leer ons uit hierdie verhaal? Die jong man het geweet wat hy moes doen. Daar was 'n sin vir dringendheid by hom,  hy was doelgerig en niemand, nie eers die dominee, kon hom van sy koers afhaal nie.  Maar dit het nie gekeer dat iemand hom probeer stop het nie!
Die dominee het die situasie heeltemal verkeerd verstaan. Hy was oortuig dat hy reg was, en hy het alles in sy vermoë probeer om die jong man te laat ophou met wat hy besig is. Wat het dit met vanoggend se teks te doen? 

Die kerk in Kolosse het ook so 'n probleem gehad. Hulle was 'n doelgerigte kerk gewees. Hulle het baie hard probeer om hulle Hemelse Vader te verheerlik.  Paulus het selfs vir hulle 'n brief geskryf waarin hy hulle aanprys vir hulle geloof, en hulle liefde.
Maar daar was iemand wat hulle probeer stop het met wat hulle besig was.  Paulus het in Kol 2:8 vir hulle gewaarsku: 


Daar was godsdienstige mense in Kolosse wat die kerk probeer stop het in waarmee hulle besig was.  Hierdie mense het allerhande vroom praatjies gehad, maar die mense weggelei van die basis van hulle geloof af. Ander dinge as Jesus het skielik belangrik geword. 



Dit is vandag tyd om weer oor hierdie dinge te praat. Want daar is vandag weer sulke stemme soos destyds in Kolosse. Daar is mense wat allerhande interessante teorië oor die geestelike lewe het. Party wil weer heeltemal die Joodse name vir God as die enigste Name gebruik. Party wil weer die Sabbatdag soos in die Ou Testament hou. Party wil hê jy moet in tale kan praat om gelowig te wees.  Jy moet kan profeteer.  Ek is verbaas dat iemand nog nie weer die besnydenis ook wil hê nie!  Baie teorieë word voorgehou as Die Waarheid- en word gesê die Kerk  mislei jou.  So word die kerk al meer opgebreek deur 'n klomp teorieë wat as Die Waarheid verkondig word.
Dis waarteen Paulus dit in Kolosse gehad het. Dis waaroor ek so lekker omgekrap raak deesdae.
Daar is net een Waarheid in die kerk- en dit is die Persoon van Jesus Christus. Jesus het gesê: Ek is die Weg, en die Waarheid, en die Lewe...

Alles anders is bysake!  Die Waarheid is Jesus!
As jy vergeet wie Jesus is, en as jy vergeet wat Hy vir jou gedoen het,  dan sal jy altyd 'n teiken vir dwaalleer wees.  As jy nie op die fondament van Jesus jou geloof bou nie, gaan jou geloofshuisie êrens inmekaar tuimel.

Daarom begin Paulus sy brief aan die Kolossense om weer te herinner wie Jesus is, en wat Hy alles vir ons gedoen het.


1.    A. Jesus is ‘n ewigheid al ons Middelaar.
Wanneer ‘n mens Kol 1:15-20 in Grieks lees, is dit pragtige poësie, met ‘n baie duidelike ritme. Dit word algemeen aanvaar dat dit ‘n gesang uit die Vroë Kerk was, wat Paulus hier aanhaal. Dit is ‘n gesang wat die eerste Christene herinner het wie Jesus is. 


1. Jesus is die Seun van God.
Jesus was nie maar net nog ‘n goeie mens êrens in die antieke geskiedenis nie. Hy is nie net ‘n profeet soos ‘n Elia of ‘n Jesaja van ouds nie. Hy was nie ‘n aardse Koning met baie mag, soos Dawid nie. Jesus staan in ‘n heel unieke verhouding met God. Hy is self ook ewige God, deel van die Drie-Eenheid wat aan ons geopenbaar word in die Bybel.  Daarom is sy lewe op aarde ook die grootste gebeurtenis ooit in die geskiedenis, toe God self in die volheid van die tyd sy Seun gestuur het om sy liefde aan die wêreld bekend te maak. 
2. Jesus is die Beeld van God.  
Van die mense in Kolosse het geglo dat God nie die aarde geskep het nie, aangesien Hy niks sou maak wat boos en sleg is nie. Alle stoflike dinge, insluitend ons menslike liggaam, was volgens hierdie tipies Griekse denkwyse sleg, en kon daarom nie van God af kom nie.
Maar Paulus stel Jesus weer aan hulle voor. Deur sy wese, ook sy Liggaam, vertoon Hy die beeld van God. God het die mens, vir Adam en Eva, geskape as sy beeld. Maar met die sondeval het die beeld van God in die mens gebreek. Vir baie jare het hierdie wêreld nie meer die beeld van God gesien nie. Totdat Jesus as mens gebore is. En Jesus was ook mens, waarlik mens, maar sonder sonde. En daarom kon Hy weer die beeld van God vertoon. Die apostel Johannes het gevra- wil jy sien hoe lyk die Vader? Kyk dan na die Seun. (Joh 14:9).

‘n Volgende dwaalleer in Kolosse was dat Jesus nie die Seun van God was nie, maar net nog een van die talle tussengangers tussen God en mens. Dit is ‘n dwaalleer wat vandag nog steeds voorkom in die wêreld. Baie mense glo vandag dat Jesus net nog ‘n goeie mens was, soos ‘n Mandela, of ‘n Gandhi. Selfs Mohammed, die vader van Islam, het in die Koran Jesus ingeskryf as net nog ‘n profeet.  Was Jesus net ‘n goeie mens? 


3. Jesus is die Eersgeborene (Eerste) van die Skepping.
Paulus doen groot moeite om Jesus aan ons voor te stel as Ewige God, van die begin af saam met die Vader. Hy was daar voor die Skepping. Dit is mos wat Johannes ook vir ons in hoofstuk 1 van sy evangelie sê: In die begin was die Woord daar... en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hierdie Woord is Jesus.


 4. Jesus is Skeppingsmiddelaar.
Middelaar- dit is ‘n tussenganger, iemand wat dinge laat gebeur.
Paulus sê as ons die Skepping wil verstaan, kan ons nie dit indink sonder die Seun van God nie.  Vers 16- “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is, alles wat gesien kan word, en alles wat nie gesien kan word nie.”

Die skepping staan nie los van Jesus nie. Johannes 13 stem saam en sê ook dat alle dinge deur Hom tot stand gekom het. Paulus sê Hy is aangestel bo alle konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Paulus wil Jesus voorstel as die Verlosser wat van die begin af in ons wêreld betrokke is. Hierdie is sy wêreld, want alles is vir Hom geskep. En omdat hierdie sy wêreld is, kan ‘n mens net waarlik gelukkig wees as jy in ‘n verhouding met die Koning van die wêreld lewe. Dit is hoekom hierdie wêreld so deurmekaar is- die Koning word nie erken en geëer nie.
5. Jesus hou alles in stand. 

Vers 17 sê: “Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.”
Een van die vroegste dwaalleer was dié van Arius. Hy het gesê dat daar ‘n tyd was wat Jesus nie was nie. Of anders gestel, daar was ‘n tyd wat Jesus nie bestaan het nie. En baie mense vandag dink ook so. Hulle dink dat Jesus eers met sy geboorte op daardie eerste Kersdag op die wêreld se verhoog verskyn het.  En tog leer ken ons Hom in die Woord as Ewige Here, wat alles onderhou. Wat beteken dit vir ons vandag? Jesus is my Ewige Here, wat altyd vir my sorg. 
6. Jesus is die Hoof van die kerk.
In Romeine 12, en 1 Kor 12, gebruik Paulus die beeld dat die Kerk die liggaam van Christus is. Elke gelowige is deel van hierdie liggaam, en het sy eie unieke funksie binne die kerk. Maar wie is die Hoof van die kerk. Gelukkig nie die dominee of die kerkraad nie! Vers 18 gee die antwoord.
“Hy is die Hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan. Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.”

Die Opgestane Here, die Lewende Here, is die Hoof van die kerk. Deur Jesus se opstanding uit die dood het Hy die nuwe lewe vir gelowiges gewaarborg. Die opstanding van die Here Jesus uit die dood was die oorwinning oor alle magte wat die mensdom gevange gehou het. Met daardie eerste Paassondag het Jesus nuwe hoop en nuwe lewe vir die mensdom gebring.  En dit is dan ook hoekom die kerk bestaan- ons moet die boodskap van hoop en nuwe lewe aan alle mense verkondig, en dit met ons lewens vir hulle wys. Kan die wêreld regtig in ons lewens sien dat ons anders is, dat daar ‘n nuwe lewe in ons te sien is? Ons moet elkeen bekend wees as mense wat hoop bring. Kry ons dit reg? Of kla ons ook maar net soveel soos die mense sonder enige hoop?
7. Jesus is waarlik God en Verlosser.
Vers 19 sê dat God met sy volle wese in Jesus woon. Alle mag wat God as Skepper en Onderhouer van die heelal het, het Hy ook aan Jesus gegee. God het Homself ten volle aan die wêreld in Jesus geopenbaar. Daar is geen ander tussenganger of middelaar tussen God en mens as Jesus nie. Deur Jesus is daar nou vrede met God. v 20 “ God het deur Hom alles met Homself versoen. Deur die Bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.”


Wie het Jesus se versoening nodig?
2. Elke mens het Jesus as Verlosser nodig.

Die Bybel sê dat elke mens gebore word as vyand van God. vers 21- “Ook julle was voorheen ver van God af en vyandig gesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse.”

Van nature is ons in opstand teenoor God. Ons leef nie in ‘n verhouding met Jesus as Koning van die wêreld nie. Mense steur hulle nie meer aan God nie. Die wêreld se mense word al hoe meer ateïsties.

Maar op ‘n dag begin die Heilige Gees ‘n mens oortuig dat daar ‘n God is, en dat jy nie meer langer sonder God kan bestaan nie. ‘n Oorweldigende sondebewustheid pak ‘n mens beet. Jy kom skielik agter hoe die sonde ‘n skeidsmuur tussen jou en God geword het, wat jy nie self kan wegneem nie.

Ons kom agter dat die sonde ‘n geweldige kloof tussen ons en God veroorsaak het. Kan ons self oor hierdie kloof van sonde spring?  Ons kan dan nie eens oor die Grand Canyon spring met ons eie krag nie. Nie eers die Olimpiese gouemedaljewenner in verspring kan dit begin oorweeg nie. Hoeveel groter is die kloof tussen God en mens nie as die Grand Canyon nie!  En geen mens kan eers begin dink dat hy self dié kloof kan oorsteek en vrede met God verdien nie. Die kloof tussen God en mens, wat sonde veroorsaak het, is daarvoor veels te wyd.

Hoe kan ons dan weer met God versoen word? Hoe kom ons in die regte verhouding met God? Daarvoor kan net God sorg. “Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle te heilig, sonder smet en onberispelik voor hom te stel.” 

God het Jesus laat gebore word aan ons kant van die kloof. En omdat Jesus sonder sonde is, kon Hy die brug word wat die kloof na God oorbrug. Ons kan nie met sonde voor God verskyn nie. Maar Jesus het al ons sonde op Hom geneem en daarvoor betaal. Ons sonde het geen skuld meer nie, en ons is welkom by God.  Dit is net moontlik deur Jesus wat ons sonde wegneem.

Wat is ons verantwoordelikheid in ons verlossing? Ons moet in geloof aan Jesus vashou.
Vers 23- “Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie.”

Jesus het vir ons alles gedoen wat nodig is om met God versoen te word. Hy het saam met die Vader gewerk om vir ons ‘n leefwêreld te skape. Hy werk saam met die Vader om elke dag vir ons te sorg. Hy het mens geword, en al ons sonde op Hom geneem. Hy het onskuldig aan die kruis gesterf sodat ons sonde vergewe kan word. Hy het uit die dood opgestaan, om die ewige lewe vir ons te waarborg. Hy is die Hoof van die kerk, dié kerk wat die evangelie aan die wêreld verkondig, wat hoop aan die wêreld bring.

Om waarlik te lewe, moet ons die Koning van die wêreld ken. Om waarlik gelukkig te wees, moet ons waarlik vir Hom lewe. Ons het Hom nodig..

Mag ons elkeen daarom aan Hom alleen bly vashou, en ons nooit laat losruk van die lewende hoop wat Hy vir ons is nie. Mag ons lewenswa nie omval met allerhande onnodige bakleiery oor klein dogmatiese verskilletjies nie. Kom ons fokus daarop om Jesus lief te hê as ons Redder en ons Hoof. En omdat dit Sy opdrag is- kom ons hê mekaar lief! 

Amen.