'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, April 26, 2011

Die Schmidt familie Wapen


BLAZONING OF THE SCHMIDT COAT OF ARMS

BLAZON (Wappen der Familie Schmidt):
ARMS (Shield):
Azure a lion rampant or, holding a hammer bendways of the second
CREST (Helmet):
On a torse of the colors a lion issuant as in the arms
MANTLE (Decken):
Not deScribed (Mantling is seldom deScribed unless other than the Primary Tinctures are to be used)

MOTTO:
None recorded (It is rare for the German Achievement to deScribe a motto) 
 ARMS (Shield) INTERPRETATION:
Azure - (Means the Shield is Blue (Azure = Blue))
A Lion Rampant Or - (Means, in profile, a rampaging (Rampant) male Lion standing on one hind leg and colored golden (Or = Gold) is placed upon the Shield)
holding a hammer bendways of the second - (Means the Lion is holding a hammer in a diagonal attitude/orientation (Bendways) and it takes the color of the second color mentioned (Or))

CREST (Helmet) INTERPRETATION:
On a Torse of the colors - (Means the next thing deScribed will go upon a cloth wreath (Torse) of 6 twists, alternating between the primary tinctures)
A Lion Issuant as in the Arms - (Means a Lion "comes out" as if from behind the Helmet (Issuant) and is otherwise like the Lion on the Shield (as in the Arms) and is affixed by the Torse (together with the Mantling to the Helmet, which is drawn in Profile with its Visor Closed, or with no Visor nor Grilles - the kind used by a "Bürgerliche" (Esquire/Commoner/Citizen))

SYMBOLISM:
Hammer - (Honor; emblem of the smith's trade)
Lion - (Courage)
Colors:
Azure (Blue) - (Loyalty and truth)
Or (Gold) - (Generosity)
  
Bron: http://freepages.genealogy.rootsweb.ancestry.com/~kuntz/schmidt.html

Vir my kinders- mag ons altyd met eer lewe, vol moed om die toekoms aan te pak en te vorm. Mag ons altyd lojaal wees in dit wat ons in glo. Mag ons lewens van die Waarheid getuig, en mag ons vrygewig wees teenoor almal wat minder as ons het. 

Monday, April 25, 2011

Klim die berg- omdat hy daar is om te klim.

Gedurende 1988, êrens in April,  het ek bo-oop Mont aux Sources gestaan.
Dit was 'n naweek in my derde jaar. Die universiteit se stapklub het so vinnige wegbreek gereël.

Ek was nog nooit 'n goeie stapper nie, en nog altyd 'n slegter klimmer. Maar die uitdaging was net te groot om nee te sê. My pa het baie keer weggevlug na die berge toe as die lewe vir hom te veel geword het. Hy het vertel van Mont aux Sources se uitsig, ek vermoed dit is waar hy sy een duur kamera  verloor het- dit moes 'n traumatiese long drop gewees het!  My pa het my egter nooit saamgeneem op hierdie trippies van hom nie.  En ek het altyd gewonder hoe voel dit om bo-op die berg te staan.

Die kettingleer daar van Witsieshoek se kant af op was nogal 'n uitdaging. Die ketting was yskoud, en dis 'n redelike fris geleentheid om ver te val daar.  Maar ek dink dit was destyds een van die ervarings op my Bucket List wat ek net moes doen. In elk geval- hier is die fotografiese bewys: ek het al die kettingleer oorwin!

As 'n mens eers daar bo is, dan is die uitsig oor die rand van die afgrond regtig asemrowend. 'n Mens kan baie, baie ver in Natal insien, sommiges sê tot by die see op 'n helder dag. Maar dié dag was so effens deinserig.  Ons het ons tente bo op die eskarp opgeslaan in 'n sirkeltjie.  Daardie nag het dit koud geword daarbo- minus 14 grade volgens een se termometertjie. So koud dat ons op 'n stadium 14 mense in 'n driemantent gesit het, en kaart speel en schnapps drink- jy wou net nie gehad het die ysbere moet jou alleen aantref nie. Net studente kry so baie mense in so klein ruimtetjie in!  Mans en dames gemeng, baie lekker aand gewees!

Die volgende dag het ons nog hoër geklim. Bo-op Mont aux Sources is Crow's Nest 'n verdere koppietjie, met so lekker afgrond aan die een kant. Die stapklub het 'n paar ervare klimmers, wat toue en harnasse saamgebring het. Daar het ek vir die eerste keer absailing gedoen. Praat nou van 'n uitdaging om jou hoogtevrees te oorwin!  Daar is altyd iets om oor dankbaar te wees, dit kon die loodregte afgrond daar waar die Tugela 1 km ver val gewees het!

Die ander eerste, wat ek by Willie Wessels van Wesselsbron geleer het (en nog nooit weer gedoen het nie!) was waar die hele toergroep saam tunaslaai in 'n skoon swart asbliksak maak. Tamaties en komkommer en slaaiblare word daarin opgekerf, rys word op die blou gasstofies gemaak en ingegooi, en 'n paar blikke tuna met mayonaise ingegooi, en goed geroer. Dit was nogal baie lekker- seker so na al die opwinding van die absailing. 

Tunaslaai a la Swartsak
  Party van die meer ervare stappers wou graag die Sentinel gaan klim. Dit is die groot kop aan die linkerkant van Mont aux Sources- hoogste of tweedehoogste punt in die Drakensberge. Maar daarvoor moes 'n mens eers weer af teen die kettingleer, en dan weer op en op en op, en dan is daar glo  'n stukkie regop klim teen 'n rotswand ook betrokke. Daarvoor het ek nou nie kans gesien nie. Eerder die middag gelê en gesels met die dames- dis 'n moeilike werk, maar iemand moet dit doen!


Sondagoggend was dit maar weer tyd om af teen die berg, tot by die polisiestasie in Witsieshoek waar ons geparkeer het. Ons het 'n groepfoto geneem van almal daar teenwoordig. Ek persoonlik kan omtrent net twee of drie van hulle se name nog onthou. Maar die ervaring saam met die klomp Kovsies was regtig lekker.

Dit het my geleer dat 'n mens soms 'n berg moet gaan uitklim, net omdat hy daar is om geklim te word. Van die heel grootste ervarings in die lewe kom nie maklik nie. Dit is juis 'n groot ervaring, omdat 'n mens jou eie vrees in die oë moes kyk, en moes deurdruk. Goeie ervarings lê dikwels anderkant jou eie persepsies van waar jou grense lê. Soms moet 'n mens so bietjie vasbyt en deurdruk, om die uitsig van bo af te kan bewonder.
Ek kan nie meer onthou wat ek vir die volgende week se Griekse toets gekry het nie. Maar hierdie ervaring kan ek nog steeds duidelik onthou. Ek vermoed 'n mens moet soms maar ruimte maak om die lewe te geniet ook. Dis wat ek dalk vir die Griekse proffie gesê het toe ek die toets teruggekry het.

Kovsies se Stapklub, Mont aux Source April 1988- met die Sentinel in die agtergrond.





Sunday, April 24, 2011

My Universiteitskamermaat- Heinrich Eksteen


 Dit is Opstandingsondag. Ek kyk na kerk deur 'n ou fotoalbum. En skielik sien ek weer die fotos van my ou kamermaat. EN soos die afgelope paar jaar al, begin ek verlang na hom.

Van die wonderlikste tye in 'n mens se lewe beleef jy op universiteit.  En dit is regtig 'n voorreg om in 'n Universiteitskoshuis te kan woon.

Ek het dit baie geniet om 'n Kovsie te wees. Universiteit van die Oranje Vrystaat.  Ek het ook die voorreg gehad om in die Huis van Meesters te woon, Huis J.B.M. Hertzog.

My eerste jaar was so bietjie van 'n gemors (om dit lig te stel!). Net so voor Geloftedag aan die einde van matriek is my jongste sussie aan kanker dood. 'n Maand later moet ek die grootmenswêreld aandurf, as eerstejaar in 'n koshuis. Ek het baie issues gehad, ek weet dit vandag.

My eerstejaar kamermaat het ook issues gehad, en aan die einde van ons eerste jaar die koshuis verlaat. Dit was nie 'n goeie match gewees nie.

Van my tweede tot my vierde jaar het ek die ongelooflike voorreg gehad om Heinrich Ostwald Peters Eksteen (soms bekend as HOP in sekere kringe) as kamermaat te hê. Maar ek dink dalk sy ergste nagmerrie het waar geword toe hy my as kamermaat gekry het.  Maar Heinrich is 'n mens met ongelooflike uithouvermoë.

Heinrich het saam met my begin teologie studeer. Maar waar ek pas uit die Hoërskool en nat agter die ore daar in Bloemfontein aangekom het, was Heinrich reeds in die weermag, twee jaar as Korporaal by Pantserskool.  Die een ding wat 'n mens dadelik van Heinrich kan sê: Hy is 'n baie netjiese mens.  Die een ding wat 'n mens van my kan sê: ek is nie 'n netjiese mens nie. Ons was behoorlik twee teenpole.
Heinrich se klerekas sou enige dag 'n weermaginspeksie kon deurstaan. Sy klere was in sulke netjiese blokke gestapel. Sy boeke was baie netjies gepak in die boekrak. En ander besittings in sy weermag staaltrommel aan die voetenend van sy bed.

My klere was enige plek van die kas tot onder die bed, al die pad tusssenin, in verskillende grade van skoon. My boeke het op die lessenaar gelê in hope. Ek was regtig slordig! Vandag voel ek baie skaam daaroor! (Heinrich, as jy dié dalk ooit lees- ek is toe gestraf- my oudste is 'n rooikop dogter, en sy is drie keer erger as ek!) Mense het altyd baie opmerkings gemaak as hulle in ons kamer instap. Maar Heinrich het dit geduldig aanvaar.

In ons tweede jaar het Heinrich die Universiteit se mobiele klankstelsel gereeld ge"operate". So nou en dan het daardie klankstelsel oornag in ons kamer, in JBM se gang 3, wat so mooi uitkyk op Verwoerd en De Wet. So nou en dan, na 23h00, is die luidsprekers uitgedra, en dan het  Heinrich vir die manne in stereo byklanke gespeel, soos 'n trein wat verby kom. Dit het ook so nou en dan amper tot koshuisgevegte gelei- seker omdat De Wet en Verwoerd vol akademiese reuse was wat hulle slaap nodig gehad het! 

In ons derde jaar het ons 'n kamer gehad by trappe in Gang 7, wat afloop na die universiteit se muurbalbane toe. Ons het baie gereeld na 22h00 in die aande vinnig afgehardloop, en 'n paar balle gaan slaan.
Die koffies saam met Heinrich in die aande is iets wat ek regtig baie mis. Heinrich is 'n diep mens, met wonderlike insigte.

Die Grieks en die Hebreeus het hom egter bietjie gepootjie. Ek het die goed net-net deurgekom, Heinrich het altyd daardie een of twee punte gekort. Dit was eintlik vreeslik snaaks om te sien hoe goed Heinrich kon beplan. Hy kon baie mooi studieskedules opstel met die bietjie tyd wat oor was voor 'n toets. Dan is daar ook ruimte vir 'n muurbal, ruimte vir koffie, saam met my of saam met 'n dame. Dan ruk die kuier bietjie hande uit, dan is sy skedule deurmekaar, en dan herbeplan hy weer. Hy het verskriklik baie tyd aan beplanning afgestaan. Ek het nooit beplan nie, net in die laaste minute soveel as moontlik inligting in my deurmekaar verstand probeer inprop. En dit het daai 2% verskil gemaak tussen ons.

Heinrich was altyd 'n galante heer met die dames. Hy sou altyd verskriklik belang stel in iemand, haar soos 'n regte dame laat voel, en absoluut soos enige skoonma se droom optree met die skoner geslag. Hy het nooit soos baie van ons 'n dop te veel gevat nie, hy het 'n reguit pad as gelowige gestap.

Ons paaie het ongelukkig geskei na ons koshuistyd. Heinrich het sy droom laat vaar om dominee te word. Hy het vir die SAUK gaan werk. Ek het uit die koshuis uitgegaan om te gaan trou. Ons het kontak verloor, iets waaroor ek verskriklik jammer is.

Ek het klaargemaak met universiteit, en ook maar deur die weermag gaan worstel. Heinrich sou geglimlag het om te hoor dat die luitenant wat ons opgelei het in basies, eendag die ander manne in die bungelow geroep het om na my kas te kyk- dit was die standaard wat hy graag by hulle almal wou sien! (Dit het egter nie gehou nie!)

Soos ek ouer word, mis ek my kamermaat baie. EK het hom op facebook raakgeloop, maar hy is nie baie aktief daar nie. Hy het, 21 jaar na my, uiteindelik 'n kamermaat gekry met wie hy die langpad kan saamstap. Ek het die facebook fotos van sy huweliksmaat gesien- Mercia is 'n pragtige vrou!

Ek het ook onlangs 'n CD raakgeloop wat hy opgeneem het, met sy selfoonnommer op. Maar ek is nog half huiwerig om hom te skakel.

Heinrich, jammer vir die kere wat ek 'n drol was! Jammer vir die onnetjiese kamer wat jy in moes bly. Baie dankie vir jou geduld, jou humorsin, en dat jy regtig daardie tyd 'n great ou was, ek hoop jy is dit nog steeds. Dankie vir jou aanvaarding, jy het regtig 'n baie groot rol in my lewe gespeel, en ek kon dit nie destyds regkry om dit te wys of vir jou te sê nie. Dankie vir sulke wonderlike tye saam!

Ek verlang verskriklik na 'n koppie koffie saam met jou. Ek sal so graag vir Mercia wil ontmoet.

Monday, April 18, 2011

Die Camino de Santiago se tweede groot uitdaging...

Die eerste groot uitdaging van die Camino de Santiago in Spanje is mos maklik- dit is om daardie stryd teen jouself te wen. Daar is altyd verskriklik baie goeie redes om nie die Camino de Santiago op jou Bucket List te sit nie. Jy is nie 'n Rooms Katoliek nie. Jy glo nie in heilige relekwieë soos die beendere van sekere mense nie. Jy hou nie van stap nie, in elk geval nie verder as van die bed af badkamer toe nie. Jy het genoeg geld om Spanje met 'n Travalgar toer te sien. Jy deel nie graag jou slaapkamer met 80 vreemde mans en vrouens nie. Jy reis nie oorsee voor jy nie eers die hele wonderlike Suid-Afrika gesien het nie. Soos ek gesê het, daar is baie goeie redes om nie die Camino te stap nie.

Maar as daar dalk net so 'n klein vlammetjie van avontuurlus in jou hart brand, as jy soos daardie beroemde Spanjaard Christopher Columbus net so bietjie vir 'n rukkie van die huis en die beskawing wil wegkom, dan kom daardie eerste uitdaging- kom stap 'n gedeelte van die Camino de Santiago. Net afgetredenes het tyd om die hele erkende 728.2  km van St Jean Pied de Port net oor die Franse grens (anderkant die PERINIEë- daar waar Contador en Schleck mekaar so gas gee op die Tour d' France- daai bulte!!!) tot in Santiago de Campostela te stap- dit vat 'n goeie vyf weke vir redelike fikse mense. Jy moet ten minste 100 km ononderbroke loop- die laaste 100 km, om daardie gesogde Campostela sertifikaat teen jou studeerkamermuur te kan sit. Dis uitdaging 1- oorwin al jou verskonings, en sê ja vir die roepstem van die Camino.

Uitdaging twee lê nader aan jou vertrekdatum. Jy het vir jou 'n vliegkaartjie Spanje toe geboek, jy het 'n rugsak wat gemaklik sit en nie te groot is nie, aangeskaf. Jy het stapstewels gekoop en ingestap. Jy het opgelees oor wat om te verwag. En die datum kom vinnig nader. Uitdaging twee: Die SPAANSE AMBASSADE! Jy het 'n Schengen visum nodig, en Spanje is waarskynlik die land in Europa waar jy gaan arriveer, en die langste gaan wees. Al wat ek vir jou wil sê, is STERKTE! Spanje se ambassade is in Afrika! En dit voel soos 'n Afrikaland se red tape!

Kom ek help jou net met 'n paar tips:
1. Sluit so vinnig as moontlik by die Suid Afrikaanse Confraternity of Saint James aan, en kry deur hulle 'n Pelgrimspaspoort. Die Confraternity of Saint James is die organisasie wat die Camino de Santiago vir die Rooms Katolieke kerk bestuur. Hulle plaaslike tak in Kaapstad is baie hulpvaardig, en dit kos so ongeveer R100 om vir 'n jaar aan te sluit, en jou Pelgrimspaspoort te kry. Saam met die Pelgrimspaspoort kry jy 'n "Credential del Peregrino"-brief wat soos die goue kaartjie in Charlie and the Chocolate factory is! Die Spanjaarde is baie skepties oor mense van Afrika wat in hulle land wil kom toer- daar kom te veel onwettige immigrante deur Marokko uit Afrika daar aan. En daar is seker  baie wat sê hulle gaan daar studeer, wat ook net wegraak in die Europese Unie. Spanje kry baie gas daaroor by die huisvergaderings van die EU. Daarom is hulle BAIE taai oor besoekers aan hulle land, behalwe as jy 'n miljoenêr is!  Maar geheimpie- hulle hou baie van pelgrims!  Soek die CSJ by www.csjofsa.za.org- sluit aan. Jy het in elk geval 'n Pelgrimspaspoort nodig om in die refugio's te bly, en daarin elke dag die stempel te ontvang wat sê jy was 'n eerlike pelgrim. Daarsonder kry jy nie 'n CAmpostela nie.

2. Kry die NUUTSTE inligting oor Spaanse visumvereistes, op hulle webwerf- www.embassyinsouthafrica.maec.es  Jy mag net elektronies inbetaal vir jou visumaansoek, en dit MOET presies die regte bedrag wees, anders aanvaar hulle stelsel dit nie. Vir 2011 (van 1 April af) het die prys gestyg na R574 toe.

3. Maak seker jy het AL die dokumentasie reg, anders gaan hulle jou huis toe jaag. Hulle voel vere of jy 1000 km afgelê het om by die ambassade uit te kom- as jou goed nie reg is nie, gaan jy dit regmaak en weer kom. Die ambassade is net oop tussen 9 en 12 op weeksdae, en die kantoor is in Brooklynweg 337 in die Lord Charles gebou in Hatfield, Pretoria. Jy moet visums persoonlik inhandig. (daar is ook 'n kantoor in Kaapstad, maar daarvan weet ek niks...)

Regte dokumentasie is:
  •  'n Geldige paspoort wat nog ten minste 6 maande geldig is, en ten minste 2 visumbladsye oop het. En 'n fotokopie van die inligtingsblad van jou paspoort, die gesig en paspoortnommer deel.
  • 2 van die regte visumaansoekvorms (kry dit by hulle voor die tyd!)  
  • Twee paspoortfotos- 45 X 35 mm in kleur met 'n WIT agtergrond- een plak jy op die vorm, een sit jy met 'n paperclip op dieselfde vorm vas, gesig ondertoe. 
  •   Jou vliegkaartjie, met 'n duidelik vertrekdatum terug waar jy vandaan kom, hulle soek jou nie op hulle welsyn nie!
  • Reisversekering- ten minste R300 000 mediese dekking, en "Assistance", nie "Refund" nie, as jy iets daar sou oorkom en teruggevlieg moet word, of, mag jy gespaar word, as jy daar sou sterf en daar veras moes word. Betaal jou vliegkaartjie met jou kredietkaart en kyk of die versekering nie outomaties genoeg gaan wees nie...  Pasop vir Flight Centre se toonbank reisversekering, ek het by my eie bank 1/4 daarvan betaal vir beter dekking! 
  • Bewys van inkomste- drie maande se bankstate, kredietkaartstate en wat jy ook al kan bewys dat jy beskikbaar het. Die inligtingsvorm sê jy moet Euro 562 beskikbaar hê vir die eerste week, en Euro 68 per dag daarna om in te kom.
  •  Bewys van akkommodasie- my Pelgrimspaspoort was genoeg bewys. Ek het ook 'n tentatiewe roetebeskrywing aangeheg net vir ingeval!



Die storie van die Visumaansoek:

Vanoggend is ek sewe uur by die huis weg, om darem nege-uur eerste in die tou te staan by die Spaanse Ambassade. Groot verrassing. Toe ek half nege daar stop, toe gaan ek deur 'n metaalverklikker, en vat 'n nommer. Daar binne sit alreeds omtrent 15 ander mense. Baie van hulle groet mekaar soos ou bekendes- van hulle was al 'n paar keer daar, en kry net nie al die dokumentasie reg nie. 'n Hele paar was by reisagente, wat hulle verseker het die koste van die visumaansoek is R563, en dit het hulle elektronies inbetaal. Die man wat langs my sit, het van Port Elizabeth af vir die dag ingevlieg om sy aansoek in te dien.  Aan die ander kant sit 'n egpaar van Indiese oorsprong van Rustenburg af- almal nog die verkeerde bedrag inbetaal. So Engelse dame vertel leedvermakerig aan hulle almal hoe hulle net-nou rondgeshunt gaan word.

Nege- uur maak die glasvenster in die wagkamer se blinders oop. Daar agter sit so aantreklike Spaanse dametjie, met 'n gesigsuitdrukking wat sê: "Moenie met my *** soek nie!" Eers val daar 'n ry mense in 'n tou- dit is die gelukkiges wat hulle visums na 5 werksdae kom afhaal. En hoor my lied- as jy jou visum gaan haal, maak seker jy is 9 uur presies betyds in daardie kantoor, anders gaan jy 'n nommer vat en sit tot twaalfuur toe.
Die ontvangers van visums word redelik vinnig gehelp- voor jy die kantoor verlaat moet jy seker maak jou visum is reg, anders gaan jy die hele proses van voor af moet doen. Een dame s'n is verkeerd, die Spaanse dametjie raak weg vir tien minute, en kom dan met 'n gewysigde visum na vore.

Nou is dit die aansoekers se beurt. Die leedvermakerige Engelse dame het gewaarsku dat dit tot 'n kwartier per persoon gaan vat. En my nommer is E 45! Gelukkig begin die aftelling op die rooi letterbord toe by E37. Ongelukkig is die PE mannetjie, en die Indiër egpaar voor my in die ry. Hulle almal probeer vinnig R11 oorplaas. Nee, sê die Spanjaard, so werk dit nie. Jy moet die presiese regte bedrag elektronies inbetaal, en dit moet op ons state reflekteer, dan kan ons jou help. Ons sal die R563 terugbetaal, maar jy gaan R574 elektronies inbetaal. Ons neem nie kontant hier nie. PE se skouers hang, die Indiërs bel haastig vir Mohammed. (Wat toe hulle seun blyk te wees, nie 'n langgestorwe Arabiese profeet uit die 6e eeu nie!)

Net voor my in die tou staan twee swart persone. En elkeen van hulle het omtrent tien aansoeke in die hand. Hulle is Visa- agente. Mense betaal hulle om in die tou te gaan staan. En omtrent nie een van die aansoekers se papierwerk is op datum nie. Dié een het swart en wit fotos opgeplak, daardie een het nie reisversekering nie... Dit voel of dit ure en ure neem.

Uiteindelik is dit E45 se beurt. My broek bewe. Niemand het nog suksesvol 'n aansoek ingedien vanoggend nie, almal het 'n her gekry vir die Spaanse toets.  Die Spaanse dametjie neem my paspoort, en sien hy verval eers in 2016. My aansoekvorms lyk reg. Daar is drie maande se bankstate en kredietkaartstate om te wys ek is nie heeltemal op die Diens van Barmhartigheid se lys nie. Daar is ekstra reisversekering. En wonder bo wonder- daar is 'n afskrif van die "Credential" brief. Haar gesig helder op- die son kom op in daardie kantoor. My niggie was reg- hulle hou van bona fide pelgrims in Spanje! Die aansoek word aanvaar, ek moet die 28e April presies om 9 uur daar wees om my paspoort met sy Schengen visum af te haal. Glo my, ek sal alles in my vermoë doen om presies 9 uur daar te wees! Eers as daardie paspoort weer terug in my besit is, en die visum se datums is reg, sal ek kan ontspan. Eers dan gaan die tweede uitdaging oorwin wees!

Sunday, April 17, 2011

Skoonfamilie is nie altyd uit die hel uit nie...

My Skoonsuster word vandag 50 jaar oud. Swaer is 'n digter, en het al verskeie gedigte aan haar opgedra. In elkeen van sy gepubliseerde bundels sal jy 'n gedig aantref: Vir Retha. Skoonsus het ook verlede week Ouma geword!

Gister het ons daar buite Pretoria as skoonfamilie bymekaargekom en fees gevier.

Skoonma was daar. Vir die meeste ouens is dit 'n krisis, die meeste vrouens verander as hulle dogtertjie trou,  in 'n wrede gedrog met skubbe en  kieuwe en so 'n branderige knoffelasem wat in vlamme uitbars. Ek is een van die bitter min ouens wat nie daardie probleem het nie. My skoonma was van die eerste dag af baie nice met my. Dalk het sy gedink omdat ek 'n dominee is, sal ek nie 'n wrede wolf met haar dogter wees nie. Juffrou, ek is nie 'n wolf nie, maar halloooooooooooooo! Ek dwaal van die punt af. Skoonpa is einde Januarie oorlede. Skoonma begin nou met groter vrymoedigheid wegbeweeg van die huis waar sy so lank vir Skoonpa versorg het. Skoonma was gister daar, en dit was baie lekker.

Een sussie, die jongste sit in Ierland (sy skryf Groete uit Ierland op Blogger). Ons het haar gister baie gemis, saam met haar gesin. Die res van ons was almal daar. Skoonma en Skoonpa het gesorg vir 'n groot nageslag. Hulle het vyf kinders, en elkeen behalwe die jongste het vier en meer kleinkinders voorsien vir die uitbreiding van die volk en vaderland. Gister was daar twee susters, en twee broers, met eggenote en aanwas teenwoordig. Plus nog 'n hele klomp vriende. O ja, as julle dink ons teel woes aan- die een vriendin was daar met 'n pasgebore tweeling. Hoor hierdie een- sy het nou vyf kinders, waarvan die oudste vier is! Pragtige mamma, lyk goed versorgd, haar man lyk so half verdwaasd...

Skoonsus se oudste is 'n chef van die voorste gestoeltes- sy publiseer 'n baie wyd geleesde kosblog.
Ons het gister geëet! Eet is een van die oudste vreugdes wat gemeenskap veroorsaak. Daardie gevoel dat ons saam behoort. Toe ons daar aankom, het swaer die wonderlikste wynversameling uitgepak. Daar was so besondere Italiaanse bottel met daardie geweefde bodempie op, wat hemels was. Verskeie ander belowende bottels beleë vreugde in wit en rooi.

Tussen Skoonma, Skoonsus en Niggie het hulle kos gemaak! (Moenie die prentjie kry van kappies en Voortrekkermonument nie, inteendeel, hulle is heel aan die ander kant van die spektrum van Afrikanerskap...)

Die wonderlike fees het begin met Franse brood, met drie verskillende olyfolies en Dukus (sulke sade en gebreekte neute uit Marokko uit) gedoop in balsamiese asyn. In die Spaanse Tapas tradisie was daar Boggerol (ek weet mos nou nie hoe om dit te spel nie- dis sulke neute wat jy peusel.) Daar was verskillende kleure olywe wat met knoffel gestop is. Daar was sulke wit vissies (is hulle nou die boggerol?) en verskeie kasies. Saam met Sangria. EK en bebaarde swaer (meer tradisionele Afrikaner) het ingelê in hierdie voorgereg. Hierdie swaer en sy vrou ruik aan die wyn se prop, dan het dit al 'n invloed... Ons het gegiggel soos nonne wat wortels rasper in die kloosterkombuis.

Na die voorgereg het ons bymekaar gekom op die stoep terwyl die reën heerlik val daar buite. Swaer Digter het 'n kosbare heildronk op sy vrou ingestel. Hy het een van sy ouer gedigte aan haar voorgelees. Hy het baie emosioneel dankie vir haar gesê vir die kosbare lewenspad saam, vir die ses kinders wat hulle saam kon grootmaak, ook vir seer tye wat hulle saam kon troos vind in mekaar se arms. Hierdie twee mense se liefde vir mekaar en vir hulle gesin is baie inspirerend.

Toe het ons ingeval by die hoofgereg. Ek ken nie al die fensie name nie. Maar daar was wildspasteie, en skaapboud in sulke netjiese snitte. Daar was verskeie slaaie en die lekkerste aartappelgeregte. Die pampoenkoekies was hemels! Een bord kon nie soveel vreugde maklik bevat nie.

Nagereg heelwat later was ook weer iets besonders. Daar was gesmelte sjokelade met marshmellows en piesangskywe, daar was die wonderlikste Pavlova met granaatpitte, daar was 'n bloubessietert, en nog ander gebakte poedings. Maar op hierdie stadium kon ek nie meer 'n enkele ryskorrel inneem nie.

Ek self het nie baie familie nie. Ek het net 'n ma in Suid- Afrika, en 'n oom wat besig is om aan kanker te sterf in Hermanus. Ek het 'n suster in Engeland, wat besig is om te skei, na wie ek baie verlang deesdae. Dis my familie- dié wat ek mee kontak het.
My skoonfamilie het my familie geword. Ek is baie lief vir dié klomp mense.
Ouboet in Heidelberg, met sy unieke humorsin, wat rekenaars programmeer vir die bank.
Ousus wat met Digter getroud is in Pretoria- swaer is ook kerkleier van 'n netwerk- kerk.
Baardman boetie se huis is in Volksrust, hy is 'n elektriese ingenieur en sy vrou is 'n Chemiese kenner en onderwyser.
My vrou is nommer 4. Kleinsus is in Ierland, haar man is 'n elektrisiën.

Die klompie het tussen hulle vir twintig kleinkinders gesorg. En verlede week is Skoonma se eerste agterkleinkind gebore. Skoonsus het Ouma geword, en die jonge heer was ook by sy ouma se partytjie.
My skoonfamilie is so uiteenlopend wat politiek en geloof aanbetref. Daar is soveel verskillende sieninge en waardes in die verskillende huisgesinne. Maar daar is liefde. Wanneer die familie saamkom, is dit met soveel vrede, en soveel humor. Dit is vir my so lekker om deel van hierdie groepie mense te wees. En soms lyk dit of party van hulle nogal oor die weg met my ook kom!

Dankie dat julle ook vir my plek gemaak het in die familie! Die dag toe ek loop vrou vra, het Skoonpa dadelik gesê: "Welkom in die familie." Dankie dat ek nog steeds welkom is.

Monday, April 11, 2011

Vrydagaand se Lamskerriepotjie in die Pastorie

'n Week in die Pastorie is nogal baie, baie besig. Dwarsdeur die week hardloop elkeen van die inwoners in hulle eie rigting. Pa hardloop rond tussen huisbesoeke, huwelikskategese, huwelikspanning, sterfgevalle, vergaderings wat baie sinvol is, vergaderings wat na nêrens lei, en soms net agter mense se doodgewone nonsens aan.  Ma hardloop rond agter skoolwerk aan, en speel algemene Taxi vir al die inwoners wat nog nie scooters op die pad mag ry nie. Ousus is in matriek en het 'n scooter- sy word net nou en dan opgemerk in die wandelgange. Ouboet is te vinde naby die naaste spieël, soos hy van nog 'n oefensessie af terugkom. En die jongste twee is maar êrens besig om te baklei, of oor die algemeen te KKNK.

Omdat elkeen 'n stywe dagboek het, is die een, enkele aand waarna ons geweldig baie uitsien, Vrydagaand. Saterdagaand werk nie in die Pastorie nie. Dan is Pa gestress oor Sondag se preek. Saterdagaand is nooit 'n goeie kuieraand in die pastorie nie.

Maar Vrydagaande is ons aand. Dan probeer ons die gesin bymekaar hou, en saam iets lekkers eet. Dit is hoekom hierdie Dominee nooit baie gelukkig lyk as een of ander gemeentelid 'n visie kry om op 'n Vrydagaand 'n gemeentefunksie te reël nie. Daar was selfs al van hulle wat so oorywerig was om 'n gemeenskapsbiduur op 'n Vrydagaand te probeer reël- gee jou beste tyd vir die Here, sien? Maar as Dominee nou nog daarby ingeskakel het, dan was hy nie meer vandag gelukkig getroud nie. Daar kom 'n tyd wanneer gesin eerste moet kom. Vrydagaand, met die hoogste uitsondering, is so 'n aand in ons huis.

Op 'n Vrydagaand sal ons soms vriende oornooi. Mense wat waarde toevoeg tot ons gesinslewe. Mense wat die lewe vir ons lekkerder maak, hulle is welkom op 'n Vrydagaand. Maar mense wat ons aan diens laat voel- hulle is welkom op 'n ander werksgerigte aand.

Die afgelope ruk het ek dikwels verby restourante gestap wat Lamskerrie op die menu het. Toe die jongste twee rugby gespeel het in Volksrust, het die mammies van daardie skool die heerlikste lamskerrie en rys bedien- die beste wat ek nog ooit geproe het. En toe ek nou die dag by Meatrite verby ry, is daar C graad skape beskikbaar teen 'n uitstekende prys. Kyk, deesdae kos 'n skaap meer as 'n motorfiets! As 'n mens 'n skaap op 'n eerbare manier in jou vrieskas kan kry, dis nou te sê nie soos agter in die ambulans nie, dan het jy 'n stuk lewensgeluk beleef.

Vrydagaand was dit weer so. Vroeër in die week het 'n vriend 'n bottel Chateu Libertas daar agter gelos. Daar was 'n pakkie skaap oor. Darem nog twee uie te sien in die spens.  Ons gaan koop 'n pakkie klein aartappeltjies, en 'n sakkie bevrore groente.

Vir 'n slag was ek sommer net lus om in 'n skottelskaar op die grond vuur te maak, en net op my blaker daar te sit, niks fênsie nie. En terwyl ek die vuur aan die gang kry, potjie warm maak, olie ingooi en uie braai, kry ek lekker kans om met my naamgenoot te sit en gesels. Of ek gesels, en hy luister na sy musiek op sy selfoon!  Maar ons sit langs mekaar en geniet die middagson, en mekaar se teenwoordigheid.

Dis vir sulke oomblikke dat ek lewe. Oomblikke saam met my geliefdes. Oomblikke wat ons maar net die lewe se mooi saam kan geniet.

Later die middag het goeie vriende by ons aangesluit by ons glad-nie-fensie viering van die lewe.
Ons het heerlik gekuier. Groot dinge gesels. En dit was 'n baie mooi aand. Ook ma en dogter kon tot laat sit en filosofeer oor die lewe rondom die kampvuurtjie na ete.

Wel, dit was die vinnigste wat een van my potjies nog ooit opgeëet was. Skaap doen dit aan 'n mens!

Wil jy ook probeer? Hier is so effense aanduiding van wat gebeur het, maar soos in enige selfrespekterende potjie is alles maar na gedagte bygevoeg, en nie in presies afgemete hoeveelhede nie.

Bestanddele:
Skaap
Aartappels
Gemengde groente
Rys
Twee uie

Speserye:
Mild kerrie. 1 teelepel en 'n bietjie koljander. 1 teelepel komyn. 1 teelepel gemmer. Bietjie ou rooiwyn, wat jy nie die vorige keer kon klaarmaak nie (sou dit moontlik wees!)

Metodologie:
Kry 'n nommer 3 potjie op 'n stabiele hitte. Gooi alles bymekaar. Los tot skaap sag is. Eet.
Bietjie fyner?

Verhit die potjie oor die kole. Gooi kookolie in en laat dit warm word. Kap die uie in fyn stukkies, soos Jamie Oliver dit in die Bosveld sou doen met 'n Okapi mes. Braai die uie tot bruin in die olie. Voeg die kerrie, gemmer, komyn en koljander by. Jou skaap is in blokkies gesny, of in hanteerbare stukkies gebreek, soos jy dit verkies. Laat die skaap lekker bruin braai in die pot vir 'n ruk. Hy maak sy eie sous. Later kan jy vir hom so bietjie rooiwyn (enige iets tussen 100 ml en 1 l- dis jou pot!) byvoeg vir ingeval die hitte die skapie dors maak. Los lekker lank, so lank soos wat dit neem om die Blou Bulle se wedstrydstrategie teen die Crusaders (27-0 verloor) te ontleed en beter alternatiewe vir die afrigter saam te stel.

As die kok goed gemarineerd is, en die skaap begin sag word, voeg jy die aartappeltjies by. Gooi 'n stewige handvol Marina Braaisout bo-oor. Los vir nog 'n ruk, terwyl jy of jou geliefde elders 'n pot rys gereed maak, veral Basmati rys werk lekker vir kerriepotjies.  As die aartappels amper sag is, dan voeg jy die gemengde groente by, en los hulle tot dit net lekker deurwarm is. As dit nou net anderkant Payday is, dan kan jy ook klein sampioene bo-op gooi- dit maak dit baie lekker.

As alles nou eers gereed is (en jy bepaal dit, dis jou pot, onthou. Moet nou nie vir wetenskaplike tydsberekeninge vra volgens Greenwich se Mediaantyd nie- as jy dit soek, bel vir Jamie of Ainsley of Gordon), dan bedien jy dit op 'n bed van rys. Jy pak dit baie netjies op die bord, en neem 'n foto, en stuur vir Huisgenoot se wenresepte en vir jou ouma. Of jy begin 'n blog oor die ervaring. Wie sou nou so iets wou blog?

As jy hierdie potjie maak, maak seker dat jy omring is met mense wat jy werklik voor omgee. Mense saam met wie jy 'n botteltjie rooi kan deel. As jy dit nie in jou lewe het nie, gaan  koop eerder KFC en gaan sit voor die TV, en drink Savannah Light. 'n Potjie en 'n bottel rooiwyn is bedoel om gedeel te word, sodat dit deel kan word van die mooi ervarings van jou lewe. Dit is nou LEWE! KFC en Savanna Light het jy al klaar twee dae later vergeet. Dit is net bestaan. Tot volgende Vrydag!

Monday, April 4, 2011

Die pad na Santiago toe...

Vanoggend omstreeks 03h30 skrik ek skielik wakker. Ek besef skielik weer dat my droom om die Camino de Santiago te gaan stap, nou so naby as volgende maand is. En daar is nog so baie om te doen voor ek op Lufthansa vlug LH573 via Frankfurt na Madrid toe kan klim op 27 Mei 2011 om 18h55.

Reeds gedoen:
Koop 'n vliegkaartjie Spanje toe- reeds op 1 Augustus 2010 gedoen, en baie goeie prys self op die Internet by Lufthansa gekry- Flight Centre wou my op EGYPT AIR!!! vir meer as R2000 meer geplaas het. Dis darem net baie lekkerder Frankfurt oor met 'n vliegtuig met movies en bier,  as weer op Egypt Air sonder movies en bier, en met 'n F veiligheidsgradering, en 'n oorstaan op Kaïro en 'n helse lang tweede vlug Madrid toe.

Toerusting aangeskaf:

  • Stapstewels wat goed ingestap moet wees, na deeglike opleeswerk besluit dat Wolverine Fortis die ding behoort te doen. Hulle is darem alreeds ingeloop- hulle gee my nie meer so baie blase nie!
  •  'n Baie kleiner rugsak as my 85 l Backpacker Boulder was nodig (anders gaan ek hom volpak!) . Ek het op 'n baie spesiale aanbod by Cape Union Mart 'n KWAY Alpine 55 rugsak gekoop.
  •  'n Baie goeie reënbaadjie van KWAY, met 'n reënbroek, want "the rain in Spain falls mainly on the plain..." daardie stukkie Spanje wat ek mos nou in die lente, in die reënseisoen gaan stap!  
  • Vyf pare goeie stapkouse by daardie wonderlike Cape Union Mart se Factory Outlet in Attenbury Value Mart- teen R20 'n paar, waar dit gewoonlik oor die R70 is vir Timberlands... 
  • First Ascent langboek en hemp, weeg 415 en 215 gram en word baie baie vinnig droog, om in katedrale mee in te stap. First Ascent kortbroek, en drie Drisport hemde van Mr Price Sport. 
  • En die wonderlike dames van my Bybelstudiegroep het my einde laas jaar bederf met 'n kontantgeldjie, wat genoeg was om 'n First Ascent Travelite slaapsak (5 Grade, weeg net 750g!) te koop.
Om nog te doen: sal dalk nog 'n stapbroek van First Ascent moet koop. Finale besluit moet geneem word oor  watter, indien enige bordegoed saamgeneem word, dalk net 'n Spork en 'n plastiese bord en beker.

Wat my vanoggend wakker gemaak het, was die bekommernis oor die reisversekering. Die Spaanse Ambassade wil hê 'n mens moet ten minste R300 000 se mediese versekering hê, met duidelike "assistance", nie "refund" nie as jy wel in die moeilikheid kom. Toe ek destyds by Flight Centre navraag gedoen het, wou hulle aan my 'n polis van R1300 verkoop. Ek het vanoggend om 03h40 op die internet uitgevind ek het voldoende dekking op my Nedbank goue kaart, en het so bietjie ekstra (R5 miljoen vir 'n mediese noodgeval) gekry vir net oor die R413.00. Reisversekering is nou uitgesorteer.

Nou kort ek nog net Maart se amptelike bankstaat, want die Spanjaarde wil 3 maande s'n sien om te kyk of ek ook 'n  "illegal alien" gaan wees uit Afrika.  Hulle wil graag adresse hê waar ek gaan oorbly, en ek hoop my Pilgrim's Passport, wat 'n mens by die Confraternity of Saint James of South Africa in Kaapstad bestel, gaan die ding doen.  Ek weet nog nie eers hoe ver kan my liggaam in 'n dag stap nie!

Ek sal my twee visavorms moet invul, kleurfotos kry, en dit persoonlik by die Spaanse Ambassade gaan inhandig. Dit lyk of die Visa nogal ook ietsie gaan kos!

Die ander ding wat ek nog glad nie uitgesorteer het nie, is sakgeld. Dié wat dit al gedoen het, sê 'n mens het so ongeveer R250- R300 per dag nodig om in die pelgrimshostels te slaap, en 'n Pilgrim's Menu by 'n plaaslike restaurant te eet. Gerugte wil dit hê dat 'n mens vir 10 Euro 'n driegang maaltyd met 'n bottel wyn kan kry as jy 'n pelgrim is. Ek moet eers 'n Visum hê, voordat ek kan geld wissel. Geld het ek ook nog nie. Sal dalk uit die huislening so effentjies moet leen.

En dan, die laaste ding wat ek nou aan kan dink, is om te begin stap. Ek het nouwel die Argus vanjaar oorleef, maar die stappery is totaal 'n ander "ballgame"!  Ek sal binnekort moet vroeg begin opstaan, en dan so 8km vroegoggend gaan stap. My voete moet nou finaal gewoond raak aan die stappery, die ou magie moet begin krimp, en die spiere moet klaar rek- want ek beplan om tot 26 km per dag te stap.

Die heel heel laaste ding wat ek aan kan dink, is om nou my Spaanse taalles CD te begin luister. Daar waar 'n mens op die Camino Frances wil loop, klink dit nogal erg plattelands. Dié ouens het glo nog nooit rede gesien om Engels te leer praat nie. En 'n mens wil darem weet waar jy vanaand kan slaap, waar jy kos kan kry, waar die naaste toilet is, en wat die goeters kos.

Soos julle op die Blog se buitekant kan sien- die klok is besig om te tik- die tyd loop uit. Ek begin al meer bang raak, en versigtig uitsien na hierdie ervaring. Gaan ek dit kan maak? Gaan ek die stilte kan hanteer? Gaan ek die lang tyd van die huis af kan hanteer? Gaan my kinders vir my "oom" sê as ek terugkom?

Ek moes kies tussen die ses verskillende roetes na Santiago toe. Ek het maar besluit op die oudste een, die roete vanuit Frankryk uit. Dit lyk of die infrastruktuur daar die beste is, en die dorpies is naby aan mekaar. Maar die Portugese roete- van Porto af teen die Atlantiese kus op tot by Finistere en dan na Santiago toe, het ook goed gelyk. Die roete van Madrid af boontoe is die nuutste, maar dorpe is ver uit mekaar uit. Die Engelse roete is weer te kort, net net oor die minimum 100 km wat 'n mens nodig het om jou sertifikaat te verdien.

Hoekom hierdie tyd van die jaar? Ek het baie op die Internet gelees, en baie boeke tweedehands op Betterworld gekoop oor die Camino. Op 24 Junie begin die Europese lang skoolvakansie. Dan raak baie restaurante baie duurder, en die hostels raak skielik vol toergroepe vol skoolkinders. En hulle gaan die beddens beset, en die stilte verbreek. Daarom het ek gekies om die 22e Junie terug te kom, en van daar af drie weke teruggewerk. Dit is in die Europese lente net voor hoogsomer. April is 'n baie besige tyd in die kerk, ek kon dit nie aan my kollega doen om dan langverlof te neem nie. Maart kan nog baie koud wees in die berge. Julie en Augustus is duur, en baie, baie warm. En so bietjie later kan dit weer baie baie koud in die berge raak.

Ek sou so graag die hele Camino Frances, van St Jean Pied de Port af wou stap. Maar dit is 800 km, oor drie bergreekse soos die Perineë. Al waarvoor ek nou kans gaan hê, is 300 km van Léon af.  (Ek sou so graag Pamplona wou sien, 200 km verder, waar die mense saam met die bulle hardloop- nee, nie Bakkies en Victor nie, daai met die twee skerp horings voor). Ek kan my vrou nie saamvat nie- die skoolvakansieprobleem! Maar eendag- eendag sal ons dalk saam die hele Camino Frances kan stap.

Hoekom doen ek dit? Ek is dan nie Rooms Katoliek nie, en glo nie eers die legende dat Jakobus, die broer van Johannes, daar begrawe kan lê nie. Ek het nie 'n saak met ikone en heilige beendere nie.

Wel, hierdie is 'n baie belangrike oorgangsjaar in my eie lewe. Ek is 44 jaar oud, en gemeet teen my pa en my oupa se lewensduur, is ek lankal verby halfpad. My oudste kind maak klaar met skool vanjaar. Ek is soms lekker deurmekaar oor wie ek is, en hoe ek oor die toekoms moet dink. En stap was nog altyd vir my moeilik- ek het 'n groot uitdaging nodig om uit my gemaksone te kom.

Die Camino gaan deur een van die mooi dele van Europa- dit is veilig om daar te stap, en die plaaslike bevolking is pelgrims baie goedgesind. Die infrastruktuur op die Camino kom al van die 12 eeu af, en die dorpies is naby mekaar. Elkeen het êrens goedkoop verblyf vir die pelgrim. Ek hoef nie kos saam te neem nie, 'n mens eet baie basies uit die winkels waar die plattelanders hulle kos koop.

En dan bly een van my hoofredes vir hierdie reis daardie aantrekkingskrag om af te skaal. Om vir drie 1/2 weke met net 3 stelle klere reg te kom. Om minder as 10 kg te pak, ek kry dit nie eers reg vir 'n naweek in Pretoria nie! Om af te skaal van die gerief van my bakkie,af te skaal van my sekerheid oor waar ek vanaand gaan slaap, wat ek vandag gaan eet.  Waar ek wil wees, sal ek moet loop. Ek wil die horlosie afhaal, en net wees. Ek gaan my dood verlang na my vrou en kinders. En as ek daar terugkom, gaan ek sommer weer 'n nuwe waardering vir elkeen van hulle hê.

Die reis is simbolies van my lewensreis, en ek wil graag baie meer tyd in stilte saam met die Here spandeer. Dit gaan vir my 'n gebedsreis wees. Soms gaan ek bid om net lewendig vanaand by die volgende dorp uit te kom, so moeg gaan ek wees. Ander kere gaan ek op 'n bergtop staan en uitroep: "Hoe groot is U!" Ek wil die mooi van Spanje op so 'n primitiewe manier gaan geniet.

Met hierdie reis wil ek die Here baie mooi vra om my geestelike batterye vol te laai, sodat ek gereed is vir die volgende fase van my lewe, wat my baie, baie vinnig bestorm. In al die bronne wat ek gelees het, het niemand onveranderd teruggekom van die Pelgrimsreis nie. Ek wil ook nie dieselfde terugkom nie...