'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Thursday, March 31, 2011

Vir Jou- baie, baie dankie...



In my lewe is daar heelwat dinge waaroor ek onseker is. Ek is baie dikwels onseker oor watter kar ek moet ry, oor watter motorfiets vir my beskore is. Ek is dikwels onseker oor myself en my eie identiteit. Ek is onseker tussen mense. Ek is dikwels onseker oor my beroep, en wonder of ek iets daarin regkry. Ek is selfs dikwels onseker oor God, oor geloof, oor gebed... 

Maar ek het baie lank terug sekerheid oor een ding gekry- daar is net een mens wat ek langs my op die lewenspad wil hê. Ander kan saamstap, en hulleself ons kinders noem. Nog 'n paar besondere ander kan saamstap, en hulle ons vriende noem. Elkeen van hulle is vir my baie kosbaar.

Maar die kosbaarste een van almal bly Jy wat vir my ja gesê het. Jy wat gekies het om met jou hele menswees deel van my lewe te word, en my toegelaat het om deel van jou lewe te word. Jy wat vir my nog altyd so mooi is. Jy wat so kalm kan bly as ek dit verloor langs die pad. Jy wat met soveel wysheid kan redeneer, en soveel opsies kan onderskei vir die keuses wat ek moet maak. Jy wat met soveel humor daar binne jou sit, en met ogies wat so kan vonkel groot waarhede kan kwytraak in 'n grap. 

Jy wat so 'n uitstekende moeder vir ons kinders is. Jy wat soveel van jouself kan gee, en so bitter min vra. Jy wat die groot seer met soveel geloof kan dra, en met soveel hoop deur moeilike tye kan gaan. 

Dankie dat jy verby al my nonsens kan kyk, en my ken vir wie ek werklik is. 
Dankie dat jy in my glo, selfs al sukkel ek so dikwels om dit self reg te kry.
Dankie vir die potensiaal wat jy in my sien, en wat jy met jou menswees en jou daarwees al soveel vorm help gee het. 
Dankie dat jy my nooit gelos het nie, al het ek jou al soveel keer moedeloos gemaak. 
Dankie dat jy glo, in dae wat ek nie die Here se stem kan hoor nie. 
Dankie vir jou humorsin, al het ek al jou grappies so verkeerd verstaan.
Dankie dat jy so opreg is, en so eerlik is, dat almal weet waar hulle met jou staan. 

Dankie vir daardie pragtige oggend in Bloemfontein se klipkerk, toe jy met daardie bewende bossie blomme aan jou pa se sy in die gang afgestap het, om jou lewe met my te deel. 
Dankie vir ons vier pragtige kinders, wat elkeen ietsie van jou wonderlike eienskappe het. Dankie vir ons twee kinders wat in die hemel gebore is, waar ons saam seergekry het, en in mekaar se arms troos kon vind.

Dankie dat jy my beste vriend is, met wie ek alles kan deel. Dankie dat ek na jou kan verlang wanneer ek weg van jou af is, dat ek nooit 'n sonsondergang soveel waardeer as jy nie langs my is om dit saam te geniet nie. 
Dankie dat jy my beminde is, in jou arms kan ek in die hemel glo. 
Dankie dat jy met soveel liefde vir my kos maak, dat elke ete saam met jou 'n baie spesiale ervaring is. 
Dankie dat ek altyd seker van jou liefde is, dankie dat ek altyd op jou kan staatmaak, dankie dat ek jou nog altyd met my diepste hartsgeheime kon vertrou, dankie dat jy my so goed ken dat ek niks vir jou kan wegsteek nie, jy lees my gesig soos 'n kinderboek!
Dankie dat my grys hare vir jou sexy is, dat dit nie 'n bedreiging vir jou is dat ek ouer word nie. 

Dankie vir 21 jaar met al die seer, en vreugde, wat ons kon deel. Dankie dat ons saam geliefdes se dood, en nuwe geliefdes se geboortes kon deurmaak. 

Ek is so ongelooflik dankbaar dat jy my lewensmaat is. Ek is so onbeskryflik lief vir jou na al die jare, en op een of ander Goddelike manier word dit net al hoe sterker soos ons ouer word. 
Ek is so jammer vir die kere wat ek jou hartseer gemaak het. Ek is so jammer oor die kere wat ek lelike dinge vir jou gesê het, wat ek jou goeie bedoelings so kon misverstaan en in jou gesig kon teruggooi. 

Dankie vir die dans van die lewe wat ons twee saam kan dans. Ek hoop regtig ons word gespaar om eendag ons 50e huweliksherdenking oor 29 jaar saam te kan vier. 31 Maart 2040.  Ek weet as dit so uitwerk, gaan jy vir my sê: "Sien, ek het jou mos gesê alles gaan reg uitdraai, waaroor het jy jou so bekommer?" Ek hoop daardie dag is ons weer in die Blue Peter, derde kamer in die gang af, met die wonderlike uitsig oor Tafelberg en Robbeneiland. As ek dit nie tot daar maak nie, sal ek in die see jou naam saggies roep... 

Soos 21 jaar gelede sê ek vandag weer: Hier is my hart, en my hand. Ek gee myself vir jou, vir altyd. 




Wednesday, March 30, 2011

Laerskool Nylstroom in situ in Volksrust

Dit is 'n jaarlikse hoogtepunt vir rugbyliefhebbende ouers van Laerskool Nylstroom, die begin van elke Maart vakansie. Op uitnodiging van Laerskool Pionier in Volksrust vergader die ses skole: Pionier, Marietjie van Niekerk (Marietjie speel baie goeie rugby!), Lucas Meyer, Generaal Iemandbekendvanlanklankgelede, Oranjegloed (vernoem na die industriële besoedeling se weerkaatsing op die suurreënwolke in Secunda), en dan natuurlik Laerskool Nylstroom.

Lank voor die tyd vergader die ouers van die o/11 span rondom 'n braaivleisvuur by die laerskool. Spanklere word uitgedeel. Kwaliteite van elke speler word besing, borge word plegtig bedank. Die vure brand hoog, en die pappies word dors. Rugby gaan seëvier in Volksrust! Die volgende aand is dit die EERSTESPAN se beurt- daardie droom ouens van elke graad vyf dogtertjie. Die geleentheid word herhaal, met nog meer opgewondenheid. Klere word uitgedeel, die borge het goed gedoen vanjaar!

Elke moontlike gastehuis in Volksrust word vroegtydig bespreek, die een by die dam is eerste op die ranglys. Proviande word vroegtydig aangekoop. En dan, Sondagoggend vertrek die Konvooi. Volksrust word op horings geneem, en die seuns word ingeburger.

Maandagoggend skop die rugby in alle erns af. Die ouers maak 'n tonneltjie, die seuns, ons trots, hardloop daardeur. Eers die onder Elfs, later die Eerstespan. Hulle kry die nodige eerbied, hierdie draers van ons Toekomshoop. Breëbors draf hulle op- toekomstige Bulle en Bokke, in pappie en mammie se oë- elke liewe een van hulle.


Maar o wee, vanjaar gaan dit nie heeltemal so goed met ons nie! Die ander skole het intussen leer rugby speel. Natuurlik was dit dikwels die Ref se skuld- 'n hele paar van hulle het dan nie eens kwalifikasies as skeidsregters nie. Maar ons Toekomshopies maak dit ook nie makliker nie. Die hartseer realiteit is: die eerstespan is nie heeltemal so goed soos laas jaar s'n nie. Ons moet onthou, 'n klomp kernspelers het aanbeweeg Hoërskool toe. En elf van die eerstespan is nou eers in Graad 6. Ons bou vir volgende jaar, 'n mens kan nie elke jaar die Volksrustweek wen nie!

Halftyd breek aan. Die koppe hang. Mnr Hempies praat moed in.

Die koppe styg tien grade, die gesigsuitdrukkings raak meer vasberade... Helaas, nog balle word ge"knock". Die wedstryd gaan ook na halftyd nie heeltemal na verwagting nie. Pa's se humeure vat vlam, ma's spring op en af, die spel gaan voort...  genadiglik blaas die eindfluitjie uiteindelik.

Die ma's gaan sit op die kampstoele. Die pa's verdwyn een na die ander- dorp se rigting toe. Trio slaghuis word vinnig ontdek, en ook die paar "grootmens-apteke" in die hoofstraat, wat hoesmedisyne verkoop, vir die keel.

Terug langs die veld, en daar kan omtrent 'n beheerliggaam verkies word- daar is verseker 'n 15% kworum soos vereis deur die Onderwyswet.  Daar is baie Nylstromers langs die veld- die meeste van al die skole teenwoordig.

Uiteenlopende beroepe is daar langs die veld verteenwoordig- prokureurs en boere, bandemagnate, en mondhigiëniste, 'n verdwaalde dominee en 'n tronkbewaarder, 'n satelietskottelingenieur en 'n deurmaker. Polisiemanne, seepmakers, en... 'n genuine egte Pool! Nie Noord of Suid nie, van Poland af. Op besoek aan Suid Afrika saam met Blackie se kinders.

Soveel verskillende beroepe is daar langs die veld verteenwoordig, uit omtrent elke denkbare geloofsgemeenskap uit die dorp uit. Mense word groot vriende daar langs die rugbyveld, die liefde vir rugby en die liefde vir ons kinders bind ons saam, hegter as wat die kerk dit regkry. Daar is tyd vir baie gesels, daar is tyd om mekaar baie beter te leer ken. Maskers val af, ons almal is maar net mens.



Maandagaand is daar 'n ouerbraai daar langs die rugbyveld. Nee, ons braai nie ouers nie, die ouers braai lekker saam. En die sakegemeenskap van Volksrust word elke nou en dan al hoe liewer vir ons- daar sal more weer 'n aflewering van Klippies en Cola uit die grootstad moet wees, anders gaan die plaaslike bevolking opstandig raak.  Maar dit is baie lekker- om met mense te gesels rondom die vuur, en net te hoor wat in hulle harte aangaan, sonder dat dominee dit "huisbesoek" hoef te noem.

Dinsdag se rugby kom en gaan. Soms gaan dit beter, soms nie. Dit maak nie regtig saak wat die uitslag is nie, Nylies is wenners. Seuns leer om oorwinning met grasie te aanvaar, om nederlaag in die gesig te staar en te soek na beter vir die volgende wedstryd. Enkeles wonder dalk net hoekom hulle die hele tyd "bench", as ander net soveel aanjaag soos hulle?

Woensdagoggend kom, die laaste rondte vind plaas. Daarna kom die prysuitdeling. Oor die hele ou Republiek van Suid-Afrika is Afrikaners oral dieselfde- ons hou van baie praat. Oral praat ons dieselfde dinge, op dieselfde stemtoon, en maak dieselfde ou grappies. Eers word al die borge weer plegtig bedank, sonder hulle (en ons aansienlike koste per kind!?) sou die geleentheid nie moontlik wees nie. Al die helpers word bedank, van die skeidsregters tot ou Sophie in die kombuis. Al die afrigters, al die ouers, al die bestuurders wat nugter gebly het om die kinders daar te kry (OK, hulle het dit nou nie gesê nie :-) )
Die seuns sit almal in die bloedige son, die afkondiger belowe om gou te maak, maar hy kry dit nie reg nie.

Daarna wil 'n ander skoolhoof ook eers namens die besoekende leerlinge die gasheerskool bedank, en die afkondiger, en die oulike dames wat so lekker kos gemaak het, en...  'n hele paar minute se woordewaarde deur die liewe skoolhoof van Drakensberg.

Uiteindelik word die Voorsitter-van-die-beheerliggaam-se-vrou genooi om die medaljes en trofees uit te deel. Die wonderlikste spelers van elke moontlike aard word bedank. Die wenners kry goue medaljes, silwer vir die tweedes, brons vir die res. Na baie woorde het elke seun erkenning gekry.

'n Groot sirkel word in die middel van die veld gemaak deur al die spelers en afrigters. Daar word mooi gebid, en dankie gesê vir veiligheid op die veld, vir talente, vir die spelers se gesindhede, en vir die mooi spel wat ons kon geniet het. Amen.

Tot volgende jaar- veilig ry! Onthou van die "special" by Tops op Klippies en Coke... hulle is een van ons borge...

Rugby het weer geseëvier...

Sunday, March 20, 2011

Een Somersaand op Loftus... (it was a dark and stormy night...)

Daar is soms onverwagte vreugde in die lewe op plekke waar jy dit nie verwag het nie. En soms draai onverwagte vreugde ook anders uit as wat jy dalk sou beplan het.



So gebeur dit toe eendag lank, lank, gelede (gisteraand om meer presies te wees) dat ek 'n uitnodiging kry om saam met wonderlike mense na Loftus toe te gaan. Die geleentheid: Die Super 15 kragmeting tussen die Bulle en die Stormers. Dit het beloof om 'n epiese stryd te wees, soos in vanmelewe se dae toe my eie persoonlike pa nog gelewe het, en so die hel in kon raak vir ene Naas Botha as die Bulle teen WP speel. Pa het sy hele lewe lank 'n Streeptrui gebly, tot op die laaste...

In elk geval, geen regdenkende mens sê Nee vir 'n geleentheid om op Loftus te kom nie, behalwe miskien as iemand baie besonders onnadenkend daardie tydgleuf gekies het om te trou nie. Of as jy in intensiewe sorg lê na 'n onderonsie met jou skoonma, of in die kraamsaal, of onder die puin van 'n aardbewing vasgekeer is- daar mag dalk enkele verskonings wees wat 'n bietjie meriete mag hê. Andersinds, as jy 'n kaartjie het vir Bulle vs Stormers, is enige reggeskape mens daar.

So het ons vriende toe opgeruk in getalle na Loftus toe. Ons het deeglik beplan: daar was vloeibare verversings, biltong en droëwors, en die gasbraaier, steaks en wors en broodrolletjies, tamatiesous en mosterd. Ons het vroeg gegaan, om daar voor Parkstraat 964 te parkeer, en langs die motor te braai. Daar was so enkele vae bekommernissie: dit het gietend gereën. Maar behalwe vir die Sondvloed van Noag se dae, anderkant dag 7, of die reën van Queensland in Australië, mag 'n mens nie reën gebruik as verskoning om nie te braai buite Loftus nie.  Die Braai was toe suksesvol ongeag die reën. Goeie vriende, sambrele en 'n gasbraaier is die manier om te gaan.

Annelie, Piet, Adriani, Marie en Billy


Nadat ons heerlik gebraai het, eendag lank lank gelede, gisteraand, het ons te voet vertrek na daardie katedraal van rugbyaanbidding. Die een ding wat darem altyd wonderlik is, is as jy snags in Loftus ingaan, en so deur die tonnel inbeweeg tot binne daardie helder verligte Colosseum met sy groen gras en blou sitplekke. Die geraas wat eers 'n dowwe dreuning is, dan al hoe meer in intensiteit toeneem totdat dit jou oorweldig en meesleur- kom in, kom word deel van ons!

Ons kry toe baie interessante plekke- kyk, ons was die amptelike verteenwoordigers van die Phagameng Rugbyklub. Ons sitplekke is toe net langs die WAGS se losie. WAGS? Kom uit die sokkerwêreld- Wifes and Girlfriends van die spelers. Dit was pragtig om te sien. Die gemiddelde Bloubul is baie lief vir blonde, baie sexy meisies. 'n Paar van die ouer manne se vrouens het kinders, tot drie soos Bakkies Botha. Sy vrou is 'n pragtige swartkop, soos jy kan sien op die reuse foto van hulle voor Etienne Lewis se winkel in Zambesiweg. Pragtige kinders. Bakkies se seun is seker so 2 1/2, en lyk verskriklik baie soos sy pa, net baie slimmer...
Opmerklik. Nie een van die WAGS of kiddies het Bloubulklerasie aangehad nie. Hulle was wel baie modieus aangetrek, enkeles was ook ver swanger- dit lyk of die skrumwerk darem nie agterweë gebly het nie.

Die aand op Loftus was baie goed vir my jong, onskuldige gemoed. Soveel mooi meisies, soveel wonderlike dinge wat 'n mens beleef daar langs die veld in die reën. En toe draf die Bulle op...

Die Rugby self was nie baie lekker nie. Die ref was 'n p*****l, natuurlik. Maar die Bulle self het ook nie gelyk of daar enige lus was om te wen nie. Almal het rondgetjommel, balle aangeslaan, gepaas wanneer hulle nie moet paas nie, nie gepaas nie wanneer hulle moes paas. So het hulle gesorg vir veertig minute se loutere, onverdunde pyn. Toe kom Laurika Rauch op die veld en stuur groete vir Mannetjies Roux. Maar sy kon dit sommer self vir hom gesê het, want hy het in sy Springbokbaadjie langs haar gestaan...  Hy word nou oud, maar sal altyd 'n legende bly in Springbokrugby. Respek, oom Mannetjies!

Toe gaan ek na die kleinhuisie toe daar agter die Laerskoollosie. En my sommer lelik vervies. So 'n omie in sy 60's wat duidelik lekker in die Losie gekuier het, met sy WP baadjie aan, kom druk sommer reg voor die ry in waar ons almal staan en knyp. Klas kan jy nie koop nie...

Toe begin die tweede helfte. En reg voor ons staan 'n duidelike antie in Bloubulklere, met die selfoon in die hand. Haar beste vriendin sit aan die oorkant van die veld, en sy wil net so graag hê haar vriendin moet haar raaksien. So met haar duidelike lyf staan sy en waai en chat op die selfoon, met nie 'n saak wie agter haar sit en nie die spel kan sien nie. Klas kan jy nie koop nie...

Die ander ding wat sleg is op enige stadion, is wanneer daar wel iets opwindends gebeur. Outomaties staan almal skielik op om beter te kan sien, of daardie lankgeknypte poep te los, of wat ook al. Maar omdat almal skielik staan, kan niemand iets sien nie.  As almal net mooi bly sit het, kon almal sien... Klas kan jy nie koop nie...

Die een ou op die veld wat sy kant gebring het, was die Bulle se Mascot. Daardie ou is uitstekend! Dit is lekkerder om vir hom te kyk as vir Wynand Olivier. Baie beter bewegings. En die Bulls Babes was ook pragtig in hulle blou en wit uniformpietjies.

Die rugby was uit 'n Bulondersteuner se oogpunt 'n ramp. Bryan Habana het sy eerste drie sedert die groot Runderpes van 1896 aangeteken, en was so duidelik aangedaan oor die enkele oomblik van sukses in 'n lang, lang tyd wat na sy kant toe gekom het. Dié drie was so skuins voor ons, 'n mens kon elke trekkie op sy gesig duidelik sien. Dit was nie die afgelope tyd lekker om Bryan Habana te wees nie.

Die Stormers wen toe die wedstryd met 23-13.  Ek wou toe eers vir die Bulle se dames ('n mens mag nie sê koeie nie, want nie een van hulle lyk soos een nie) vra om tog asseblief geen skrumwerk toe te laat tot die manne se "performance" op die veld verbeter nie. Maar die moed het my begewe. Dink net, ek kon net daar die Super 15 se gang vir 2011 drasties verander het.

Dankie vir die kaartjies, Billy, dit was nog steeds BAIE lekker, ongeag die rugby!

Let op Mev Bakkies Botha daar langs Annelie


:

Sunday, March 13, 2011

Bucket List item 499- ‘n Besoek aan Hermanus!

Hermanus se mooi deel- sien- dis verlate!

Dit bly elke boer aan die anderkant van die Oranjerivier, en duskant die Vaalrivier soos jy uit die Kolonie uitry, se groot toekomsdroom. Elkeen wil so graag ‘n huisie by Hermanuspietersfontein hê, in die volksmond beter bekend as Hermanus. Daar lê die pragtige dorp tussen die walvisse in die koue Atlantiese oseaan, en die fynbos van die Overberg. Soos ‘n mens hierdie juweel van ‘n plek betree vanaf Onrustrivier se kant, kom jy inderdaad ook agter dat heelwat van die skaapboere tussen die Oranje en Vaalriviere wel hulle droom kon bewaarheid, sommiges dalk al so lank terug as 1948, toe DF Malan nog die Natte gelei het, en die Sappe nog sapperig was. Hoe, mag jy dalk wonder, weet ‘n mens dit? Wel, die eerste leidraad vind ‘n mens in die dubbelpad, wat presies in die middel beset word deur ‘n dame met pers gespreide hare, wat net mooi die spoedgrens met die helfte mis. Teen 30 km per uur word die middedorp bestorm met ‘n 1981 Mercedes 560 SE. Agter haar volg ‘n string motors, geduldig ingeperk soos in ‘n begrafnisstoet, ‘n ry wat strek tot by die Arabella landgoed verby.  Kom sy by die Pick ‘n Pay, wys die flikkerlig ‘n begeerte om links te draai, gevolg deur ‘n ywerige pluk aan die stuurwiel na regs. Die dame wil eintlik net graag ietsie lekkers vir die oom kry… Die gevolg van die koeksusterbrigade se optrede is ‘n permanente treffiek jem in Mainstraat. Wat aansienlik vererger word deur negentigjarige omies met hoede agter die stuurwiel van blou Hiluxbakkies van 1976 met 500 000 km op die klok, en 130 000 km op die tires. Soos die ANC Jeugliga is ‘n mens nooit heeltemal seker waarheen hulle op pad is nie, hulle self dikwels ook nie.  Hermanus is ‘n baie groot ouetehuis, sonder ‘n dak op.

Spoorloos op Hermanus
‘n Mens moet ook groot moeite doen om die spoorwegstasie in Hermanus te besoek. Jy sien, die saak staan nou eintlik so: êrens gedurende die Nasionale Party se bewind het een van Julius Malema se wit voorgangers op ‘n dag bang gewees hy gaan op sy hêrrie kry in die volgende verkiesing. Toe belowe hy die klomp afgetrede boere ‘n eie spoorwegstasie, dat hulle weer kan voel soos in vanmelewe se dae, toe die melktrein nog verby die plaas gekom het. Die eerste jaar  van die belofte was daar toe net mooi genoeg geld om die stasiegebou op te rig- pragtig, rein en funksioneel. Die spoorlyn self, die lokomotief en die trokke? Wel, die spesifieke politikus het mos ‘n stasie belowe en daar is hy nou- die res het toe nooit gerealiseer nie. Tussen stasies is daar basies nie noodwendig treine nie, met apologie aan Lochner. Hulle het intussen maar ‘n mall langs die stasie gebou, waar jy darem koffie kan gaan drink, en oor treine van vanmelewe se dae kan mediteer.

Die ander vreemde verskynsel in Hermanus se strate, is die helfte van die bevolking wat in blou gekleurde uniforms op straat verskyn. Hulle elkeen dra so ‘n elektroniese apparaat oor die skouer. As jy bietjie lank by die stopstraat staan, verskyn een van hulle langs jou venster. “R1,50 vir ‘n halfuur, en R3,00 vir ‘n uur, my lanie…”  “Om te wat?” “Om te parkeer.” “Maar ek parkeer nie, ek wag nog vir daai perskoptannie in die Merc om haar mind op te maak waar sy wil heen gaan…” By elke moontlike stopplek is hulle daar. Selfs as daar ‘n walvis verby swem, gaan dit jou kos- R1,50 ‘n halfuur, R3,00 per uur.
Baie vriendelike parkeerassistent in Hermanus.
Ek gaan gooi brandstof in by die caltexgarage. Ek vra die persoon agter die glasruit om asseblief die kleinhuisie vir my oop te sluit. En toe ek net so gemaklik gaan sit, is daar ‘n klop aan die deur- “My lanie, jy moet betaal- R1,50 per halfuur, R3,00 per uur.” “Hoekom nou al weer?”brom ek vies. “Ek het jou mos betaal toe ek hier buite gestop het!” “My Lanie, dis eintlik vir jouself! Hier in Hermanus kan ons nie sommer  net enige plek park nie. Hier is dit park en betaal!”

Sunday, March 6, 2011

Pick 'n Pay/Cape Argus nommer 17 op 13 Maart 2011

Ek moet dit vanaand bely- die Argus is in my bloed, ek is totaal verslaaf, en kan niks daaraan doen nie. 110 km op 'n fiets om Tafelberg- vir die 17e jaar agtereenvolgend.

Daardie begin- om vroegoggend op te staan, die motor by die parkeerterrein by die Waterfront in Kaapstad in te boek. Laaste keer by die toilet by die Caltex garage in te hol, en dan jou weg te vind na die wegspringblok toe. Met angstige oë na Tafelberg te kyk vir daardie dekselse duiwel wat so rook daar bo, en verklap dat die Suid-Ooster al weer ons lewe hel gaan maak tot by die halfpadmerk daar bo op Smitswinkelbaai.
Vind die blok, gee jou wegspringkaartjie in. Die wenners het so pas klaargemaak! Die vlae wapper (en in 2009 rol die tydelike toilette gat oor kop in die straat af!) Elke paar minute skuif jy bietjie nader aan die wegspring, tot dit jou beurt in die drukgang is. Piet Koekemoer verjaar vandag in blok FF, hy is 69 jaar oud, en dis sy 19e Argus. Kyk ook uit vir FF 12345, hy ry met 'n blou nommer, 21 Argii voltooi. Een of ander ANC minister is in die blok, seker weer rang getrek om vroeg weg te spring. En drie Stormers is ook daar na gister se pak slae op Nuweland- oorweeg 'n nuwe loopbaan in fietsry...  Dan speel die musiek: Three two one- everybody says WHOOPAH!  En dan sing die speke, die cleats click in, jy vermy rakelings die ou voor jou, en ry onderdeur die Burgersentrum van Kaapstad. Normaalweg effe gevaarlik, die adrenalien skop in. En in 2009 waai die wind die fiets net daar reg onder my uit! Eerste en enigste val sover in die Argus...

Jy tref daardie brug wat uitlei na die N2 toe, verby die Spur advertensie op linkerkant. Daar het 'n groot dooie rietrot in die Argus van 1997 daar gelê... Onderdeur die brug langs die Holiday in, as die wind nie te erg is nie, is Hospitaalheuwel ook nie te erg nie. Vinnige afdraende verby Grootte Schuur Hospitaal, en hier val 'n paar ouens al klaar jaarliks hulself in die kraamsaal in... Die bondels kom van agter af, iemand skree histeries: "Keep left..." Af af af, dan weer op op op, verby die windmeul. Universiteit van Kaapstad regs, baie lui studente drink en braai (eintlik wyse mense- is dit nie die beste manier om aan die Argus deel te neem nie?)  Dan skielik daardie 2 km van Edinburgh drive... Loutere hel as jy dik en onfiks is... Die Kleurlingman wat in 2008 skree: Push- push- push en as jy verby kom: It will come out soon...  helse stryd om net bo- op Edinburgh Drive uit te kom. Dan die lekker van die Blou roete af- as die Suid-Oos nie waai nie. Lekker snelweg, goeie bondels, mooi meisies langs die pad. Draai af vir Wynberg, Tokai of wat ook al. EN die laaste paar jaar- die ekstra pyn van Boyles Drive- nog twee erge bulte by terwyl die DA sukkel om die paaie deur Kalkbaai reg te maak doer onder. 'n helse gevaarlike afdraende wat jou remme tot die uiterste toe beproef. Terug na seevlak toe- lekker tot in Simonstad, as die Suidoos nie waai nie...
By Simonstad die groot waterpunt, waar ek in 1996 langs Just Nuisanse se standbeeld gesit en huis toe verlang het na die Suid-Oos my beetgehad het, en nog steeds met bo-menslike inspanning, twee Bar-Ones en twee liter Energade nog verder gegaan het om uiteidelik klaar te maak.
Deur Simonstad na Millers Point toe, waar al die bome teen 45 grade groei- glo ook iets met die Suid-Oos te doen. As dit 'n stil dag is- heerlik verby die gholfbaan, en lekker deur Smitswinkelbaai se effense opdraendes (as die Suid-Oos nie waai nie).
Smitswinkelbaai het 'n pragtige see-uitsig. Jy hou aan trap tot bo verby die halfpadmerk. Daar is 'n lekker lang, effense afdraende verby die Kaappunt Natuurreservaat. Dit hou vir sewe kilometer aan, en die wind is 99.9 persent van die tyd van agter- heerlik! Draai af vir Scarborough, waar die kameel se rots is wat ek nog nooit gesien het nie- dalk moet ek volgende jaar stop en kyk. Pragtige dog windverwaaide dorpie, lyk na weird mense wat daar bly- die sout van die aarde. Een van die wonderlikste ervarings op die Argus- as jy vroeg nog in die berg se skaduwee langs Misty Cliffs kan verby ry. Net- net bo seevlak, lekker koel, geen wind nie, dan voel die lewe sommer net reg. Effense moeilike klim en dan 'n vinnige afdraende in Noordhoek in. Skerp links vir Chapmans Peak, reguit aan vir daardie 4 dekselse jare wat ons oor die gehate Detour gery het.

Chapmans Peak is fantasties- dis die rede hoekom ons Argus ry. Die beste uitsig in die ganse wêreld. Jy bars- eers klein Chappies, dan weer afdraende, dan groot Chappies. Daardie ry om die hoek, en dan lê die slangroete op- met fietsryers doer ver daar bo- waar jy met baie sweet en trane oor 5 km gaan uitkom. Maar die uitsig- onverbeterlik!  Daardie lekker verby die ou kliptolhuisie, die bo uitkom, en dan daardie heerlike gejaag teen die afdraende aan die anderkant af tot in Houtbaai. Hier kramp my bene al te gesellig. Daardie draai na regs, en dan... Suikerbossie. Eers een kilometer op. Die hele Houtbaai sit en braai langs die pad. En drink bier- wyse mense... Weer af. En dan twee kilometer kwaai opdraende. Daar sit duisende mense. Sommiges langs die pad spuit jou met hulle tuinslange nat as jy wil. Die vier bane word later net een, so baie mense drom daar saam langs die pad. Trots hou jou op die fiets- jy kan nie voor daardie mooi meisie afklim en stoot nie. Jou longe brand en jou bene kramp. Op, op, op. Halfpad kry jy die padteken met die koffiekoppie en die 1 km teken op. Die lyding is nou eers halfpad, elke 10 km het jy nog 100 meter gevorder, so voel dit. Maar daardie immensely trots gevoel as jy uiteindelik bo- oor Suikerbossie gaan- ek het hom weer 'n keer oorwin! Die vinnige af voor Llundudno verby, nie tyd om te loer of daar iets by Sandy Bay aangaan nie. En die briek daar onder deur die wind as die Suid-ooster in daardie een vallei afkom, en jou van 60 km/u na 10km/u in 20 meter toe vat. As die weer mooi is my vriend, is dit 'n fees om van bo van Suikerbossie af terug te ry. Daar onder die wakende oë van die 12 Apostels gaan dit baie goed met jou, as die wind nie van voor af kom nie- die Suid-wester! Af, Af,Af, verby die 12 Apostelshotel, tot in Kampsbaai. Daar verby al die rykgatte met die Harleys en Porsches, wat saam met hulle supermodel meisies in die Coffieshops sit en bly is dit is nie hulle alies op daardie fietse nie...
Daardie lawwe bult aan die einde van Kampsbaai, waar die Argus se eindpunt nog tot 1996 was. As jy daar kon stop- die uitsig op Clifton se 4e strand is om meer as een rede wêreldklas! En die Suid-Ooster pla nooit vir Clifton nie. Maar jy is op jou fiets, daar bo verby. Deur Clifton en Bantry Bay, waar 'n enkelmotorhuis 'n dominee se salaris vir 'n leeftyd kos... Draai links, in Seepunt in, al langs die see af, Groenpunt stadion toe. Jou bene brand, jou alie is morsdood, maar die einde is in sig. Joune en die wedren s'n. Hou net uit. Baie toeskouers wat sit en wag vir geliefdes, baie wat voor jou klaargemaak het, sit daar met 'n bier in die hand.

Hou net uit. Tot by die tydmeters se matte onder die brug. Briek hard. Klim af. Voel of jou kuite nog daar is. Trek die fietsrybroek se shammy uit jou *** uit. Stap met bewende bene tot waar die vriendelike Rotary tannie jou medalje, jou Coke en Energade voucher vir jou gee. Gooi die Energade voucher dadelik weg- jy is alreeds deur vyf liter van die goed, en is nou gatvol daarvoor. Kry 'n yskoue Coke. Dan sak die besef in- ek is klaar. Ek het dit gemaak! Ek het nog 'n jaar oorleef! Bel vir Mamma tuis, en sê sy kan maar weer die testament terugsit in die kluis. Die Argus is nou verby, maar nog nie heeltemal nie.

Klim terug op die fiets. Jou *** is die hel in vir jou, en jou bene ook. Maar ry tot by die Waterfront. Stop daar by Ferrymans, die ou kliphuisie. Bestel vir jou 'n Mitchell's Bosun's Bitter Draft- dit gaan jou kos. Drink hom vinnig. Gaan badkamer toe. Die urine gaan seermaak, en bloed bevat- dit is normaal vir 'n onfikse vettie soos jy! Gaan terug, kry 'n tweede Bosun's Bitter. Nou begin dit lyk of jy dalk gaan oorleef.  Ry daarna Spur toe, kry vir jou daardie reuse T-Been Steak, jy verdien hom. Terug by jou kar op die waterfront- haak jou fiets aan die fietshaak. Trek jou helmet en jou handskoene uit, trek die fietsryskoene uit en jou ou Crocs aan. Gaan sak agter jou stuurwiel in. Sê vir jouself dit was nou die laaste keer ooit. En as jy by die Waterfront uitry, en op die N1 noord klim, dan is jou Argus uiteindelik verby.

Tot 1 September. Wanneer die inskrywings weer oopmaak. En jy na die fiets onder die dik laag stof kyk, en dink aan Misty Cliffs. En daardie meisie met die volstruisvere voor Chappies in 2007... En jy maar weer...