'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, March 27, 2013

Voorbereiding vir Goeie Vrydag

In die kerklike wêreld dink ons nou saam aan die Lydingstyd van ons Here Jesus. Ek het die verantwoordelikheid om die Goeie Vrydag diens te lei. 

Vandag is die dag wat ek in my studeerkamer verdwyn. 
Op my rekenaar speel die CD- His Passion- a Worshipful journey to the Resurrection (net foto, moenie kliek nie!)

Die fondament vir die diens wat ek gaan lei, is die sewe Kruiswoorde van Jesus. 
Dit bly so aangrypend- ek lees op die oomblik op die internet oor wat die kerklike wêreld oor die algemeen daaroor te sê het. Uit die verskillende Christelike tradisies- Ortodoks, Katoliek, Gereformeerd, Charismaties, Pinkster, Kopties... vir almal bly die Goeie Vrydag boodskap belangrik. 

Ek het nie die behoefte om in die detail van hoe Jesus gekruisig is, in te gaan vanjaar nie.  Ek het daardie behoefte om te fokus op sy Middelaarsrol.  Hoe Hy die kloof tussen God en mens kom oorbrug het.  Hoe sy woorde aan die kruis gespreek het van sy mensheid- "Ek het dors". Oor vergifnis- "Vader, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie..." terwyl hulle besig was om Hom dood te maak. Oor die versorging van sy moeder "Daar is u seun- daar is jou moeder".  Oor sy intense ervaring van die afwesigheid van genade- die dieptepunt van lyding waar die verhouding met God afgebreek het "Eli Eli lema sebagtani"- "My God, my God, waarom het U my verlaat?". Sy boodskap van hoop vir 'n sterwende moordenaar langs Hom "Dit verseker Ek jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees". En uiteindelik- die oorwinning oor die gebrokenheid- "Dit is Volbring!" En die finale oorgawe- "Vader in U hande gee Ek my gees oor..." 

Op die oomblik speel Kyrie- van die Integrity Worshipo Singers wat vra "Restore to me the joy of your salvation... Kyrie Eleison, Lord have Mercy..."

Dit is vir my aangrypend hoe diep die versoening is wat moontlik is in ons Here Jesus. 

Terselfdertyd wil ek soms huil oor hoe min die Here se kinders hiervan verstaan. Ons is so duur gekoop. Daar is so absoluut niks wat ons kon bydra vir genade nie. En tog kan die Here se kinders so geestelik hoogmoedig wees, en dink party is beter as ander. Party het so al die antwoorde en al die wysheid (dink hulle). Kerkmense byt en verskeur mekaar nog steeds. Die kerk is nog steeds nie die plek van liefde en aanvaarding vir almal nie. Dis nie altyd 'n veilige adres om na toe te gaan as jy stukkend is en hulp nodig het nie. Een van die dinge wat my die meeste vang, is hoe die Here se kindertjies van mekaar kan skinder, soms selfs in gebed!  Kyrie Eleison! 

Ons kan ons ook so met vroom dinge besig hou, en geen verskil in ons gemeenskap maak nie. Ons kan so lekker in ons omgeegroepe saam groei , dat niemand anders by ons welkom voel nie. Ons kan so ons eie opinies oor die reg en verkeerd in ons naaste se lewe hê- daardie ding van die splinter in ons naaste se oog, dat ons soms die hele balk in ons eie oog miskyk. "There is no Shadow in Your presense..." (The Offering- Paul Baloche) "I bring an offering of worship to my King..."  Hoe kan ons die Here worship as ons hande nie uitreik na ons naaste toe nie?  Hoe kan ons dink ons glo as ons nie mekaar liefhet, soos Jesus in Joh 15 beveel het nie- ons bly in sy liefde as ons sy opdragte uitvoer- dit is die opdrag- ons moet mekaar liefhê (Joh 15: 12)  Die Here het ons duur gekoop om mekaar lief te hê, as dit in ons lewe ontbreek, dan probeer ons verniet aanbid, dink ek. Kyrie Eleison... 

Die afgelope ruk is ek weer oorval met boeke en idees. Iemand wat weer vir ons almal wil vertel hoekom ons verkeerd doop. Ander wat weer vreemde name vir die Here uit die Ou Testament verkeerd aanhaal en wil hê ons moet Hom net so noem, nog ander wat wil hê ons moet terugkeer na die Sabbat toe. EN so kom die stemme- ek is reg, jy is verkeerd, glo net soos ek, anders is jy nie gered nie... So baie tradisies, so baie kerke, so baie opinies...  So baie baklei in die Naam van Jesus... Kyrie Eleison!!!

Uiteindelik hou ek maar net vas aan wat Jesus self gesê het in Joh 6:37- "Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom, en ek sal Hom wat na my toe kom, nooit verwerp nie... "

Ek weet nie of ek alles in die Bybel reg verstaan nie. Ek weet nie of ek dalk ietsie mis wat ek moes gedoen het nie. Maar ek weet dat Jesus gesterf het aan 'n kruis, as die Middelaar wat God en mens versoen het. EK weet Hy het dit ook vir my gedoen. Ek weet Hy het verhoudings kom herstel. Ek dink nie Hy is so omgekrap oor wanneer en hoe ek gedoop is, of ek in tale kan praat of nie, of ek hom as Jesus of Jahoeahh (die Hebreeuse uitspraak is eintlik Jahweh...) aanspreek nie, ek dink nie Hy is so tense oor Sabbatviering nie, en ek hoop regtig die besnydenis het verval!  Ek verstaan nie alles nie. Maar ek soek na sy genade... Kyrie Eleison. . 

Ek dink die Here se kindertjies maak geloof heeltemal te complicated. Ek is moeg vir boekies in die pos wat die eenheid tussen God se kinders net nog verder versteur deur mekaar verdag te maak. 

Ag so baie op die hart vandag hier agter die rekenaar...  Heaven knows how much it costs, to see my sin upon the cross... Eughan Heaslip... 

LAat ek nou maar verder werk aan Vrydag se boodskap- Jesus het alles kom nuut maak, deur ons uit die donkerte na die lig toe te kom lei! 

Kyrie Eleison! 

Ek weet nie by wie het ek hierdie skildery van Ruth Counsell van Darkness into Light gesien nie, dis die fondament van Vrydag se diens... 


"Worthy is the Lamb..." Angel Cruz... "Thank you for the Cross..."

Kyrie Eleison... 
  

Sunday, March 24, 2013

Sondagmiddag- steeds die lekkerste ete as ons saam kan wees...

Vandag is een van daardie lekker dae in die lewe. Ek het vanoggend gepreek, en is nou klaar vir die dag. My ma en my dogter kuier by my, en al wat kort is my suster van Engeland. Om Annelie se familie bymekaar te kry is natuurlik baie moeiliker, maar ons was nou amper voltallig vanmiddag.

Ons het 'n wonderlike winskopie gekry- Lam uit Aberdeen (Suid Afrika) uit.
Die lam is met die nodige respek behandel:


Daarna was dit so lekker om die gesin om die tafel te hê. Saam met die lam was daar knoffelbrood, warm groente, en 'n slaai. Die slaai is heerlik saam met die Frogger balsamiese asyn wat ek daar by Oude Libertas vir my vrou se verjaardag gekoop het. En 'n bottel Rosé van Robertsons kelders.


Dis mos nou die lekker tye in die lewe so saam met jou eie mense. Al baklei die monstertjies maar nog steeds woes met mekaar, is daar darem hierdie enkele oomblik van vrede...

So pas gehoor een van my goeie vriende is ook op pad deur onse dorpie netnou, so nou kan ons nog 'n heerlike filterkoffietjie ook saam geniet! Die lewe is vandag mooi!

Saturday, March 23, 2013

Saterdagmiddag in die Dominee se lewe

Hier sit ek nou in my studeerkamer op 'n Saterdag middag 15h30.  Ek het 'n heerlike oggend gehad, met van die mooiste skolerugby wat 'n mens kan verwag, sommer net hier by ons Hoërskool gespeel. Oor 'n uur draf my oudste seun weer op vir die 2e span.

Maar nou is dit eers studeerkamertyd.  Ek preek more oggend.

Dit bly een van die onbeskryflikste voorregte wat ons het, om op 'n Sondagmore voor amper 500 mense te kan staan, en vir hulle te kan sê: "So spreek die Here..."

Dit plaas 'n geweldige groot verantwoordelikheid op my skouers.  Ek kan nie net vir mense my eie storietjies vertel nie. Ek kan nie net 'n mooi sedelessie gaan uitpluk oor hoekom mense sekere sondes moet vermy nie. Uiteindelik moet ek iets regkry van om mense in God se teenwoordigheid in te lei. Om God se woorde te hoor. Om God se droom te hoor, van 'n ander wêreld as die een wat ons op die oomblik sien. 'n Wêreld vol liefde. Liefde wat hande en voete kry, liefde wat opoffer, liefde wat lewens positief kom verander.  Wanneer mense in die kerk 'n ontmoeting met God gehad het, moet hulle daar uitstap met nuwe hoop, dat die wêreld kan verander deur liefde. God se liefde. En ons liefde.

Dit is die Sondag voor Goeie Vrydag 2013. Ek wil dit waag om te preek oor die gebed van Jesus die aand voor sy kruisiging in Johannes 17.  Daarin het Hy gevra dat sy Vader verheerlik word, deur die oorwinning oor die stukkendheid van hierdie wêreld. Vir die mensdom is die kruis die grootste vernedering- om nakend voor die skare vasgespyker te wees, en wreed te sterf terwyl die inwoners van Jerusalem jou koggel en spot.   Maar wanneer Jesus daaroor praat, word dit "verheerliking"- die oorwinning oor self, die prysgee van self, die alles gee vir 'n baie groter saak.

Gaan die gemeente more dit hoor? Gaan hulle die prentjie sien wat in my kop is vanmiddag in my studeerkamer? Gaan Jesus se voorbeeld hulle inspireer om tot die uiterste toe te gaan liefhê?

'n Preek hou dalk so 20 minute aan. Maar mense onthou na die tyd omtrent net 2-3 beginsels.  Wat gaan mense oor more se preek onthou?  Gaan hulle lewens beter af wees na hulle daar was, of sou die Maleisiese Grand Prix meer beteken vir die ewigheid?

EK loop al die hele week en dink oor more se preek. Nou skryf ek enkele gedagtes neer op 'n stuk papier, wat more gebruik kan word, dalk ook nie...

Om te preek is 'n waagstuk, dit is moeilik, en dit vat lank om reg voor te berei.
En tog is dit ook lekker, as iemand se lewe vir 'n oomblik daardeur aangeraak is...
Picture from www.bible.ca




Thursday, March 21, 2013

Die Stadigste Fietsryer in Nylstroom...

Ek het so pas my Argus resultate vir 2013 gaan soek, en toe op hierdie pragtige tabel afgekom by Racetec...
Dit bewys weer my stelling dat ek die stadigste fietsryer in Nylstroom is... Maar ek maak elke keer klaar...


Ek is bang om 'n foto hier by te sit, want ek is ook die lelikste fietsryer in Nylstroom... :-)

Verlede jaar die Vrydag voor die Argus, by Moyos by Eden on the Bay...

Pasop, die Ou Katte se naels is nog skerp...

More begin die Nylieweek in alle erns. Dit is die Hoërskool Nylstroom se sportweek in die Paasvakansie. Vanmiddag het die ander gasteskole in alle erns begin opdaag. Ons sien uit na baie lekker dae van sport, en ek hoop almal gaan dit baie geniet, en heel anderkant uitkom.

Maar die wedstryd wat ek die meeste na uitsien, is more middag 17h00.  Dan speel Hoërskool Nylstroom se Eerste Hokkiespan teen... drumroll... Hoërskool Nylstroom se eerste Hokkiespan... van so paar jaar gelede. Daar is 'n span saamgestel uit 'n paar oudskoliere, en ek het hulle netnou bietjie gaan dophou. Daar is 'n paar plaaslike legendes in daardie span!

Maar die een wat my oog natuurlik sal vang, is die Legendes se doelwagter- die Goallie met die rooi hare. Sy mag dalk vaagweg bekend lyk- 2 jaar gelede se 1e span Goallie:

Mag daar genade in oorvloed op die veld more middag wees!

Friday, March 15, 2013

Op Roete 62 by Ronnie se winkel...

Ek sien nou eers hoe lank het ek hierdie blog van my afgeskeep! Jammer julle!

Ek wil dit darem nog oop hou.
So hier is so 'n fototjie uit my lewe uit...  Eendag lank, lank gelede (verlede week...)

Ronnie se Sex Shop is 'n PUB langs Route 62, êrens tussen Ladismith en Bonnievale. Dit is 'n bekende toeriste aantreklikheid, die toerbusse stop in massas daar deesdae...  Nee, daar dans nie kaal meisies rond nie...

Die binnekant van die Pub is baie interessant, met die bra's van wittebroodpaartjies en ander verliefdes wat daar in die dak hang. Al die binnemure is vol graffiti van almal wat al daar was.  Daardie deel van die Klein Karoo is baie, baie warm, en die bier is lekker koud...