'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, November 28, 2012

Kos vir my geliefde...


Annelie het haar Ma by haar huis gaan aflaai, en Maandagmiddag teruggekom. 
Ek wou nou nie graag hê dat sy na 'n lang dag honger by die huis aankom, en dan moet kosmaak nie. Soms is dit net nodig om vir 'n vrou te wys hoeveel sy waardeer word, en so het ek besluit om dit 'n feesgeleentheid te maak. Met 'n lekker bottel Bubbly om 'n punt te maak- ons moet ook die klein dingetjies in die lewe vier, soms net die ander een se teenwoordigheid in ons lewe is mos genoeg rede...

Ek is nou nie Masterchef gehalte nie, nie eers naastenby nie. Maar ek kan darem met liefde 'n pakkie macaroni kook, maaklvleis met gemengde groente en 'n Pakkie Pasta & Sauce voorberei, en dit keurig in 'n pot gooi. Glipsie- ek vat toe mis in die rak en vat die Tamato & Chilli pakkie raak, en Mevrou hou nie so baie van brandgoeters nie. Maar met die gemengde groente saam was dit darem hanteerbaar... 

Stephan het die tafel mooi gedek vir sy ma (nie sleg vir 'n 12 jarige seun nie...!) 


Die resultaat? Een gelukkige moeder in ons huis!







Monday, September 3, 2012

Die Paralimpiese Atlete inspireer ons!

Ek en my gesin kyk in die aande met presies dieselfde vlakke van toewyding na die Paralimpiese spele in Londen.  Dikwels het ons 'n traan in die oog en 'n knop in  die keel.
Dit is aangrypend mooi hoe mense wat al baie seergekry het, of anders as ons gewone mense gebore is, hulle lewens nog steeds voluit aanpak. Om met daardie stukkende liggame met soveel entoesiasme vir jare lank te oefen, om steeds die heel beste te kan wees wat hulle kan wees- hulle droom ook oor Olimpiese Goud! En hulle elkeen verdien dit. Hulle het ons onverdunde ondersteuning- hulle is die ware kampioene in die lewenswedloop!

Vroulief merk nou die dag op- die gees van sportmanskap is baie mooier hier as in die ware Olimpiese spele. Hier is die atlete nie so vol van hulleself nie- hier is baie meer medelye en empatie met jou mededingers.

Saturday, July 28, 2012

Die Koffiekan in Nylstroom

Ek het hierdie week bietjie gedink. Hoe kan dit mooi wees om net iets oor die nuweling in die dorp te sê, as 'n mens nog nie eers oor jou ou gunstelinge gepraat het nie.

Die Koffiekan in Nylstroom is al baie lankal een van my gunsteling uithangplekke. Die foto op my blog se avatar is daar geneem toe ek nog mooi en jonk was,,, vanoggend was ek en dieselfde denimbaadjie en ou Huisbesoek saam daar gewees. Ek het laat opgestaan, want ek het tot by oom Paul se liedjie twee uur vanoggend gekyk wat daar in Londen aangaan. Soveel talent en leierskap in een vierkante kilometer bymekaar. Het julle gesien hoe mooi lyk Maria Sharapova toe sy Rusland in die stadion inlei? Wow!

Ek dwaal al weer af- die aandagafleibaarheid, sien? Waar kry jy die Koffiekan? As jy in Nylstrooom inry van die snelweg af, dan gaan jy oor die treinspoorbrug langs die groothandel slaghuis Meatrite. As jy oor die brug gaan- kyk links. Daar in die Nylstene kompleks is Die Koffiekan.
Huisbesoek Regs, saam met die Vermaaks se Yammie en Harleys...
 Daar was nog altyd vir my 'n baie lekker atmosfeer in die Koffiekan. Soos jy instap, is daar die kalmerende effek van die koi visdamme, mooi toegespan dat jou kiddies nie kan inplons nie...  Dis 'n baie kindervriendelike plek, waar jou kiddies kan gly en in die sand kan speel...

Daar is heelwat interessante voëlspesies om na te kyk in hokke daar agter die sandput. Hier is ook 'n uitstekende haarsalon waar mammie kan hare sny terwyl pappie bier drink, hulle is gelisensieerd.
Kyk net mooi na die kinders rondom die Macaws, soos my Ierse skoonsussie se dogtertjie op die harde manier uitgevind het. As jy sien wat 'n Macaw met 'n hoenderbeentjie kan doen, dink wat kan met 'n kind se vinger gebeur...

Pasop, ek byt so nou en dan...
Hierdie is 'n baie lekker plek vir ontbyt eet. 'n Bodemlose koffie kos R15 en is van baie goeie standaard.
Ek hou baie daarvan, na veral 'n harde fietsrysessie, om hier hulle pap en wors te kom eet, bedien met 'n gebakte eier en kom met heerlike tamatie en uie smoor vir net R35. Ek gaan die ontbytbladsy van die menu hier bysit, ek dink dis billik.

Die koekverskeidenheid is groot vir die platteland en effens goedkoper as die stad se pryse. Vanoggend se Lemon Merangue was heerlik saam met die filterkoffie! Die Scones is kleiner as Mugg en Beane s'n, maar heelwat goedkoper.

Vanoggend het ek die Vegetariese Saadbroodjie met slaai gehad vir R33 vir ontbyt. Dis altyd 'n pluspunt as daar EGTE botter saam met brood bedien word, en nie daardie simpel Flora sampletjies nie. Hier slaag Koffiekan die toets.

Die Beeld en die plaaslike koerantjie is by die deure beskikbaar, en verskeie televisies is gewoonlik op die huidige Sport (vandag die Olimpiese padfietswedren) of kosprogramme soos BBC Food ingestel.  Dis 'n lekker plek om vir 'n rukkie te kom sit en kuier met jou laptop. Ongelukkig is daar nog nie wifi in enige koffieshop in ons dorp beskikbaar nie, ek skimp gereeld by die eienaars om dit beskikbaar te stel!

Die diens is gewoonlik vriendelik, maar kan soms bietjie aan die stadige kant wees. Jy gaan nie party van die stad se plekke se blitsige diens  hier kry nie. Maar dan is ons die platteland, ons leef rustiger as de stad, want ons het meer tyd. Ons ken nie spitsverkeer nie, daardie tyd sit ons eerder in die koffieshops.

So vir toeriste in Nylstroom- die Koffiekan is 'n lekker ontmoetingsplek, ontbyt, middagete, koekeetplek. Dit is kindervriendelik en in die somer lekker koel met daardie fyn watersproeiertjies.  Ek geniet die Koffiekan baie, en kom ten minste een keer 'n week daar vir 'n kafeieninspuiting om die week te oorleef!

Die Ontbytbladsy van die Menu, daar is heelwat verskillende ligte etes en koekerighede ook beskikbaar.









Thursday, July 26, 2012

Karoo Leefstyl Koffieshop in Nylstroom


Ek word soms in Koffieshops opgemerk. Net soms. Vandag. Gister...

In 'n kleiner dorp, ver van die stad se groot malls, het ons nie Mugg & Beane nie. Ons het getreur toe ons Wiesenhof in Januarie vanjaar sy deure toegemaak het.  Ons het nie soos ons buurdorp 'n Greenfields nie.

Maar die onafhanklike koffiewinkel bly ook mos maar lekker om te ondersteun.  Hulle pryse is dikwels goedkoper omdat hulle nie daardie duur francise koste hoef te betaal nie.

In Nylstroom het 'n nuwe koffiewinkel oopgemaak. Karoo Lifestyle...
Vanoggend het ek so 'n ledige halfuurtjie gehad rondom teetyd. Daarom het ek besluit om te gaan inloer by die Karoo Leefstyl Koffieshop.



Waar is die Karoo Leefstyl? As jy van die N1 se kant af inkom, oor die brug, verby die eerste robot, kyk uit vir die windpomp op regterhand langs die groot hardewarewinkel.

Die winkel het sy eie unieke atmosfeer, met inspirerende verse teen die mure:

Agter die hek is 'n hele paar koffietafels, met 'n 1950's atmosfeer.  Daar is groot leerbanke eenkant om rustig op te sit en gesels met goeie vriende. Daar is 'n fontein met kabbelende water wat 'n rustige atmosfeer skep. Verdere dekorasie is oorspronklike skilderye van Marilyn Monroe, 'n groot yster volstruis, 'n gedane 1950's wasmasjien.   Aan die agterkant van die koffiewinkel is 'n gedeelte wat interne dekorasie verkoop- 'n tipiese toeristewinkel. Die atmosfeer is al klaar baie aangenaam vir 'n plek wat nou maar in sy 2e week is, maar ek dink tog dit sal lekker wees as daar luidsprekers buite aangebring word, om die musiek wat in die winkel speel, ook buite te kan hoor.

Dit wat ek die meeste geniet het van vanoggend se besoek, was die pryse!
'n Koppie heerlike filterkoffie kos R10, en hier is vandag se koeklys. Ek het die Weerligkoek geëet, glo 'n ou familieresep uit die Karoo wat oumagrootjie nog met haar eie bewerige hand geskryf het. Ek het dit baie geniet, 'n wit koek wat gekookte kondensmelk en neute insluit- heerlik! Veral vir hierdie prys!
Ekskuus, ek kon nog nie my gesteelde kamera vervang nie, en die Swartbessie is nie so gelukkig in die binnekant van geboue nie! 

Sulke besighede kry maar swaar in ons gemeenskap om kop bo water te hou, ek hoop regtig die Karoo Leefstyl gaan 'n groot sukses wees.

Hoe lyk dit met 'n Wifi sone? Geen koffieshop in Nylstroom bied dit op die oomblik aan nie!

NS- Koffieshop is dalk nie mooi Afrikaans nie, dis ek wat so praat, nie die Karoo Leefstyl se mense nie!






Saturday, July 21, 2012

Moederloos- brekfis en rugby...

My vrou het my ALWEER verlaat.  Ousus is terug na haar plek van studie toe.

Vanoggend is dit net ons manne by die huis.En hier gaan dit rof. Ons was nie skorrelgoed nie. Ons trek nie onderbroeke aan nie. Ons borsel nie tande nie. Daar is net nie tyd vir sulke sissie goed nie. Want vanoggend is dit RUGBY! Ons maak gereed vir die Bulle teen die Crusaders, Maar net ek en Stephan is Bulle- ons lewe met HOOP!

Net daarna is dit die Sharks teen die Reds, Bernard en Ewald se span (al was hulle omtrent nog net drie keer in hulle hele lewe in Natal- hulle was nog nooit op Kings Park nie.  Of Gapsa stadion of Moses Mamparra stadion- kan nooit meer bybly met al die name nie. Sommige dae wonder ek sommer wie ekself is, met al die veranderinge rondom my.

Nou kyk, vanoggend is uitdagende tye. Twee rugbywedstryde direk na mekaar is uitputtend! Ek onthou! Daar was daardie een roemryke dag in my eie persoonlike glorieryke rugbyloopbaan as derdespan haker van Hoërskool Newcastle. Toe ek met daardie game klaarmaak, is die haker van die 2e span net MIA. Toe moes ek maar opgetrek word groot rugby toe- 2e Span! Ek het skoon hoogtevrees gekry- die roem het amper na my kop toe gegaan. Ek wou net begin handtekeninge uitdeel by die Game sentrum, maar ek was bang om daar te staan met al die bomme wat al daar ontplof het naby die Wimpy...

Om twee wedstryde na mekaar te kan oorleef, is voeding baie belangrik.  Met Mammie wat nie vandag met ons is nie, en die seuns wat te lui is, en lanklaas hande gewas het, moes ek maar self die Naakte Kok gaan wees in die kombuis.

Ek het eendag op 'n sinodesitting in Pretoria daar in die Manhatten hotel mooi gekyk hoe die chef my omelet maak. Van toe af kan ek darem ook.  VAnoggend het ek weer probeer:
Daardie pan is een van my heel gunsteling besittings! Ek het hom jare gelede baie goedkoop by Checkers Hypermark in Klerksdorp gekoop. Let op die handvatsel. Hy het eenkeer geval, en soos gietyster maar maak, het die handvatsel afgebreek. Ek is heel trots daarop- kyk daardie nuwe handvatsel- ek het self geleer om gietyster te sweis, en dit net hierdie een keer reggekry, met 'n stuk roundbar  wat in die tuin rondgelê het. Geldwaarde- sal seker so R20 kan kry vir die pan op die kerkbasaar se veiling. Waarde vir my: Priceless! Hierdie pan laat net nooit 'n omelet vassit nie.  Soos dit maar gaan hierdie tyd van die maand gooi 'n mens by wat nog beskikbaar is, so kort voor payday. Rapsie kaas, 2 Weenseworsies opgekerf, 'n skud Tabasco Smoked Peppersous, klein bietjie growwe seesout, en Bob is nog steeds in Zim...

Dis hoekom hierdie pan so geliefd is- Toyota kon hom gemaak het! Alles loop reg, altyd reg...
En die omelet was toe baie lekker, beter as die meeste ontbyte by restaurante in ons omgewing- hiervoor sou 'n mens in elk geval anderkant R45 betaal het!  Ek wens net daar was filterkoffie en nie Ricoffy in die huis nie.

Nou is ek gereed om op te draf teen die Crusaders... hulle gaan bars! (Geloof is veronderstel om deel van my werk te wees, onthou!)
Vroulief, gedra jou daar by Skoonma, en berei jou maar geestelik voor vir die terugkoms huis toe!

Sunday, July 15, 2012

Die einde van die vakansie...

bring groot depressie in die Pastorie mee! By die Onderwyseres en die drie seuns...


Tuesday, July 10, 2012

Anja het 19 geword...

Raai wie het Sondag 19 geword?  Jammer oor die fotokwaliteit, my geliefde Canon Powershot D10 is uit my huis uit gesteel... my dogter het my Canon 350D vir haar studies. Vir die eerste keer van Standerd 7 af is ek sonder 'n behoorlike kamera in my besit :-(

In elk geval, Anja, baie welkom in die grootmenswêreld van stywe begrotings, nuwe liefdes, karre wat gestamp word, min slaap voor groot eksamens, gesels saam met vriendinne by die Square, misverstande met jou ouers...

Al hierdie dinge maak die lewe net meer interessant, en hierdie dae van jou lewe sal jy nog onthou as van die mooiste tye ooit.  Sweef soos 'n arend...

Sunday, June 24, 2012

'n Heerlike Sondagoggend se wegloop...

Nee, ek is toe nie na die Bikerskerk se begin toe nie. Maar ek is op verlof.
Ek en Pastoriemoeder was te laat vir die diens in Vaalwater, waar ons goeie vriend se afskeidspreek was.

Ons het maar in die ander buurdorp gaan rondwandel...

Die brekfis was baie lekker...

Dit was te vroeg om behoorlik saam met oom Jack te kuier...


Soms moet 'n mens ook in jou eie omgewing toeris speel... 

Ja, dis lekker om soms naby toeris te wees...
Na die rondloop het ons maar weer huiswaarts gekeer, en die ou Weber opgestaart vir 'n lekker stukkie "tenderised steak" saam met pap en sous, en 'n heerlike broodjie van Pick 'n Pay.  En so bietjie oorskiet poeding van gisteraand. Gevolg deur die moeder van alle middagslapies...

Friday, June 8, 2012

Vrydagaand amper alleen by die huis...


Photo: Ek en Stephan is alleen tuis vanaand maar ons is nie bang nie...

So gebeur dit toe dat ek en Stephan vanaand alleen tuis moet bly. Skoonma verjaar vandag, en Vroulief en die ander kinders is na haar toe. Maar jongste se rugbyloopbaan het 'n onverwagte hoogtepunt opgelewer. Die Laerskool se 2e span het deurgedring tot in die liga se semifinaal. En hoe het hulle nou 'n kans sonder hulle een vleuel, hmm? So pleit jongste- iemand van sy ouers moet darem daar langs die veld wees om die glorie te aanskou, of die nederlaag te help dra... Dit maak seker meer sin dat Vroulief na skoonma toe gaan, daarom moes ek en hy maar alleen agterbly in die groot en donker pastorie...

Maar ons is manne met planne. Ons kan ORGANISE...

Die een vulstasie in onse dorpie het heerlike hamburgers, so getuig die ouer seuns.  Ons het kos en Coke vir die aand.

Maar die aand is lank. Daarom het ons ook twee DVD's gekry om ons in die kwaad/ uit die kwaad uit te hou. Die eerste een was die heerlike... Puss in Boots...  nou wel nie in 3D nie.
Ons het dit nou baie geniet. Maar daar is so 'n paar aanhalings wat nie so lekker in Afrikaans gaan klink nie...
  Wat ek nie verstaan nie, is die tweede ene. Hy is redelik pas op die winkel se rakke. Ek het hom nie onlangs uitgeneem nie, maar ek het dit al gesien... kan nie dink waar of wanneer nie, seker saam met Kollega by die Sinode se Lentekonferensie verlede jaar...
Elke nou en dan moet ek maar vir die jong man sê om sy ogies toe te maak.  


So Pa en Jongste het 'n heerlike aandjie saam. En more gaan Phalaborwa se 2e Span hulle alies sien daar op Warmbad se Hoërskoolveld (neutrale terrein...)

'n Dubbelbed voel net so eensaam... 

Thursday, May 24, 2012

Nog 'n stappie nader aan grootword...

Nee, nie my seun nie, ekke...

Vanoggend het Bernard sy leerlinglisensie gekry vir 'n 125cc motorfiets...

 

Dit bring so baie mooi herinneringe terug. Ek het ook baie vinnig na my 16e verjaardag my leerlinglisensie gekry, vir my pragtige nuwe Honda MTX 50 motorfiets.

Daardie leerlinglisensie het vir my 'n nuwe wêreld oopgemaak: If you don't own wings you'll never fly...  Dit was so opwindend- daardie gevoel van absolute vryheid as jy daardie enjin aan die gang skop, en met 'n woeste draai van die regtergewrig laat wegtrek op die paaie van die lewe in, met 'n groot avontuur wat wag agter die horison. 

Daardie eerste leerlinglisensie, en my eerste motorfiets, het 'n passie begin wat seker lewenslank sal bly, en my dalk nog eendag deur die Jordaanrivier sal vat... Die vryheid, die roepstem van die pad, die onbekende plekke wat nog ontdek moet word. 

Ek kan dieselfde kyk in my seun se oë sien. Soos my teatersuster-ma wil ek waarsku: wees versigtig Seun, die goed is gevaarlik... maar die Bikerpa in my jubel en sê: welkom in ons wêreld! Mag daar altyd 'n pad wees om te gaan kyk wat agter jou horison lê, mag daar altyd 'n BIKE onder jou wees wat jou vinnig en veilig dra, mag daar goeie vriende wees om die ervaring mee te deel, en mag die regte Passasier (Sy!) eendag agterop jou bike klim, om saam met jou die mooi paaie te gaan ry! 

Draai  daai regteroor, my seun, maar onthou om betyds te briek. Kyk altyd uit vir almal rondom jou, veral hulle wat nie kan of wil dink en sien nie... 

As ek eendag groot is, wil ek graag saam met my seuns, elkeen op eie Bike, op 'n lekker roadtrip gaan. Hulle moet die regte dinge gaan studeer, ek droom van Route 66! 

Bernard: Yol Bolsun!

Wednesday, May 16, 2012

Bernard is nou sestien!

Dit voel so onwerklik- die klein mannetjie wat destyds so vinnig gebore is, en so rustig van kleins af was, het Maandag 16 jaar oud geword. Die klein mannetjie is nou 'n hele ent langer as ek. Hy is nog steeds baie rustig en vredeliewend. Tot hy op 'n rugbyveld opdraf! Ek is so bly hy hoef my nie te tackle nie!

In elk geval, Maandag moes Bernard eers 'n ou toetsie deurwerk so op sy verjaardag. Daarna het ek hom by die Hoërskool gaan uittteken. Eers het ons sy ma en sy vermoedelik siek boetie by die Koffieshop in die dorp ontmoet vir koffie en koek. Daarna het ek en hy die pad stad toe gevat.

Ons het heerlik motorfietse gaan kyk by Honda (sy belangstelling) en BMW (myne...) Ja, dit voel soos nou die dag wat ek 16 geword het, en die leerlinglisensie vir my swart Honda MTX 50 gaan skryf het, en my seun deel die liefde...

Na die motorfiets kyk het ons gaan Calamari ringe eet by die Food Lovers Market in Zambesiweg.





Ons het later sy ousus by Menlyn gaan ontmoet vir 'n vinnige koffietjie by Parrots. En daarna het ons vir die man gaan Rugbytokse koop- hy het nou al meer pare as Francois Hougaardt!

Dit was 'n baie lekker daggie saam met my seun, en ek hoop hy sal sy 16e verjaardag onthou as 'n baie spesiale dag. Vrydag gaan hulle eers teen die Kopstampers rugby speel (Naboomspruit se Hans Strijdom- ek wonder of hulle naam ook nou na Solomon Mahlango verander soos Hans Strijdomstraat in TSwanetoria...)
Daarna gaan hy en die rugbyspan hier braai, ek vermoed ons gaan daarna 'n nuwe pastorie nodig hê!

Een van my oudste vriende Roché Vermaak, leraar in Kalifornië, is in Madrid om die CAmino te gaan stap. Volg gerus sy reis by:  rochevermaak.blogspot.com


Sunday, March 18, 2012

Familie is belangrik!

Maggies, maar ek was lanklaas op hierdie blog van my!

Soos ek ouer word, het ek meer en meer behoefte aan familie. Gelukkig kan ek my moedertjie redelik gereeld sien, maar my suster sit aan die ander kant van die wêreld.
Aan moederskant is die familie omtrent almal klaar in die hemel. Ma se broers was oujongkêrels, en niks niggies en nefies aan daardie kant nie. En albei is al oorlede.

Aan pa se kant van die familie het ons nooit regtig by mekaar uitgekom nie. Ek het 'n neef in Beaufort Wes wat ek nog nooit ontmoet het nie.
Ek het twee niggies in Pretoria wat ek gelukkig so nou en dan te siene kry.

Wat vir my baie lekker was op hierdie trippie Kaap toe vir die Argus was, was om na byna 20 jaar weer my pa se broer en al sy kinders weer te sien. In die jare toe ek in Bloemfontein gestudeer het, het hulle so baie vir my beteken.  Na my pa se dood het ons kontak verloor, tot my niggies my weer opgespoor het op facebook.

Ek het op pad Kaap toe by my neef in Bloemfontein oorgeslaap. Hy het 'n wonderlike lewenspad gestap sover, lyk dit vir my- hy is 'n sammajoor in Panserskool, en sy vrou 'n suster by 'n privaat hospitaal in Bloemfontein. Hulle het die pragtigste twee dogtertjies.
Ek kon vir so rukkie saam met my niggie kuier wat net enkele dae jonger as ek is- het nog altyd 'n sagte plek vir haar in my hart gehad.
My oom en tannie lyk ook nog goed, al het die ouderdom maar sy tol stadig begin eis met die gesondheid. Kon so lekker saam met hulle gesels terwyl ons vir my neef wag om sy pligte by die oorlog vir die dag klaar te maak.
Onder in die Kaap kon ek ook weer vir die eerste keer in meer as 20 jaar die jongste niggie en haar gesin sien. Ook hulle is baie gelukkig, met twee pragtige dogters. Ek het so lekker by hulle gekuier, en ek wens 'n mens kon soveel meer saam kuier...

Ek wou net ietsie deel wat ek op die internet opgespoor het, wat ek so graag meer oor sou wou weet. Familiegeskiedenis is nogal onduidelik en onseker by ons...

My pa se biologiese ma is oorlede in 1946, met die geboorte van haar tweede kind (as ek die storie reg het!)
Sy is begrawe in Onder Papegaaiberg in Stellenbosch. Die man wat hom oor my pa ontferm het soos 'n eie pa, lê langs haar begrawe- hy het so baie vir my pa, my oom en susters beteken, maar is oorlede in my pa se matriekjaar, of kort daarna. My pa het nooit oor hierdie seer stukke geskiedenis met my gepraat nie, en so baie stories van waar ek vandaan kom, het net verdwyn. Die ouma wat ek as Ouma Schmidt geken het, is na haar heengaan veras, en my oom en familie het haar as by hierdie graf gestrooi.


As die familie ooit na hierdie graf wil gaan soek- gaan na die Onderpapegaaiberg begraafplaas toe op die pad uit Stellenbosch na Kuilsrivier toe... soek die Hebreeuse begraafplaas, wat redelik prominent is. Parkeer voor dit. Loop dan na die linkerkant van die Hebreeuse begraafplaas (bokant) toe, en stap daar verby tot aan die agterkant. Nog so drie rye in die gewone begraafplaas in, reg in lyn met die boonste draad van die Hebreeuse begraafplaas, lê die Schmidt grafte, dit is in blok GG maar die mense by die kantoor het geen idee waar dit is nie. Die bordjies is al byna heeltemal verroes.

Ek sou so graag meer oor hierdie mense se lewens wou weet.  As familie en vriende iets kon aanstuur, sou dit baie waardeer word.
Die familie se onthou sê dat hierdie oupa Jimmy Schmidt by die Zonderwater gevangenis by die Italiaanse krygsgevangenes betrokke was, sommige gerugte wil dit hê dat hy die kampkommandant was. Ek sou so graag meer oor hierdie dinge ook wou weet...

Enige inligting of fotos sal baie waardeer word!

Sunday, February 5, 2012

Die verjaarsdag wat ek nooit weer wil oorhê nie...


Ek het op 'n manier so uitgesien na my 45e verjaarsdag. Ons het die seuns uit die skool uit gehaal, en die vorige dag al deurgery Pretoria toe.
Die beplanning was om lekker as gesin saam ontbyt te eet, en dan vir my dogter te help met die finale inskrywings by haar plek van studie, en om al die materiale wat sy nodig het vir haar grafiese ontwerpkursus te gaan koop.


Vroegoggend skakel; ons die jonge dame- sy is nie dadelik gereed om te gaan nie. Die res van ons gaan solank Menlyn toe met 'n paar aankope.
Die volgende oomblik lui my foon. Dis my dogter, en sy klink in 'n verskriklike toestand. Sy het nou net 'n groot ongeluk gemaak. Waar? Skuins agter Menlyn. Gelukkig was die res van ons minder as 'n kilometer weg, binne Menlynsentrum self.  Ons is binne minute op die toneel.  Daar blyk dit dat sy 'n motor kort agter haar dopgehou het,  en toe sy voor haar kyk, het die lig rooi geslaan. Sy sê sy kon nie veilig stop nie, en die volgende oomblik het 'n man met 'n splinternuwe Jetta in haar passasiersdeure getref, en die kar meer as negentig grade op sy wiele tot op die middelmannetjie laat skuif. Indrukwekkende wegtrek om so 'n impak te maak!

In elk geval, toe ons op die ongelukstoneel opdaag, was daar al drie insleepwaens. Net enkele minute is daar 'n privaat ambulans op die toneel. Hulle vra watter hospitaal toe ons wil hê sy moet gaan, en ons kies dadelik die Wilgers, aangesien ons familie daar rondom woon.  Intussen staan ek witgeskrik met my makelaar ook en praat op die selfoon om te hoor wat om nou te doen.  Ek het 'n kar vol witgeskrikte seuntjies wat eenkant sit en wonder wat nou aangaan.

Annelie het saam met die ambulans gery, en ek agterna met ons ander Corolla.
By die Wilgers is sy by die ongevalle eenheid ingeboek, en moes toe vir X-strale gaan.
Die trauma dokter kom ondersoek haar, en daar kry ons toe 'n verrassing- sy is die skoondogter van een van my ma se oudste vriendinne, en hulle eet baie Sondae saam.  Gelukkig is sy baie goed in wat sy doen. en kort daarna kon ons Anja uit die hospitaal uit vat- baie styf maar gelukkig ongeskonde verder.

Hierdie familievriende van baie jare het vir ons nog verder baie beteken. Hulle het in die familie 'n ou Beetletjie, wat in 'n baie beter toestand as myne is.  En hulle het hierdie karretjie vir ons geleen, tot al ons moeilikheid uitgesorteer is, waaroor ons baie dankbaar is.

Intussen het die persoon in die ander voertuig ons ook al 'n paar keer gebel en woes gedreig. Hy sê Anja het in haar polisieverklaring gelieg, en ons probeer hom op allerhande maniere skuldig maak aan die ongeluk.

Praat van gemengde gevoelens.
1. Groot dankbaarheid dat nie sy of die ander persoon ernstig beseer is nie.
2. Groot skok dat so iets voor ontbyt op 'n mens se verjaardag toeslaan.
3. Paniek oor die finansiële implikasies van hierdie ongeluk- die verlies aan 'n baie betroubare voertuig.
4. Bekommernis oor die jonge dame se bestuursvernuf of gebrek daaraan in stadsverkeer.  En daardie vrees vir haar wat nou elke oggend in spitsverkeer moet regkom tussen haar blyplek en studeerplek.
5. Groot dankbaarheid vir vriende se ondersteuning, veral vir die Beetle se leen. Maar ook vir verskeie vriende, 'n hele paar is goeie  blogvriende, wat my baie deur die dag ondersteun het- baie dankie julle!!!
6. Kwaad wees oor sy oor 'n rooi lig gery het en so onnodige ongeluk veroorsaak het.
7. Voel klein oor sy op pad was om vir my 'n verjaardaggeskenk te gaan koop.
8. Geloofskrisis- waar is die beskerming wat Psalm 91 van praat...
9. Groot bekommernis, eers was Annelie amper in 'n reuse ongeluk, en 'n week later Anja wel in een...
10. Groot dankbaarheid weer 'n keer- my hele gesin leef en is gesond vanaand...

My emosies is regtig deurmekaar oor hierdie saak. Ek stoei oor hierdie ding, en al wat ek wil sê is dat ek nooit ooit weer so 'n verjaardag wil hê nie.
Gelukkig het die dag heelwat later bietjie beter gedraai, toe my ma vir my en Anja by Rustica in Moreletapark vir ete gevat het. Lekker spareribs het darem uiteindelik so klein, klein bietjie vreugde voorsien op 'n andersinds baie slegte dag in my lewe. Maar my kind lewe. En alles anders maak nie soveel saak soos dit nie!

Ouma en kleindogter in Rustica...


Spareribs wat weer hoop gebring het...

Tuesday, January 17, 2012

Nommer Drie op pad Hoërskool toe!

Ons is so besig om te fokus op nommer 1 wat die huis verlaat, dat ons amper, ampertjies vergeet van die ander ritus van oorgang: klein Ewald is vanmiddag twee uur op pad Hoërskool toe, om te hoor van alles wat vir hom voorlê. More begin sy nuwe fase as Hoërskoolseun.

Dit voel so onwerklik. Gister stuur ons vriendin Adriani vir ons hierdie foto van Ewald en WJ op die een konsert voordat hy laerskool toe is:
Ewald en WJ op die kleuterskoolkonsert
 En so gou is sewe jaar se Laerskooljare verby. Ek hoop net die jong man gaan soos sy ousus blom in die Hoërskool, sy voete in die lewe vind en werklik gelukkig wees! 

Twee naamgenote... en ons naam is nie Derek nie!
 Onthou Donderdagnag, seun, dis net 'n groot geraas... hulle kan niks aan jou doen nie. Geniet die Hoërskool, en sprei jou vlerke!