'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, June 15, 2011

Dag 16- Melide na Arzua

Ek weet, ek weet, ek kan alweer nie vir julle vertel van honderde kilometer vir die dag, en sewentig blase op elke voet nie!  Vandag was eintlik so ´n doodgewone dag in die lewe van die gemiddelde mens. Vandag insluitend ekke.  EK het gisteraand baie vroeg ´n slaappil gedrink, dat ek redelik vinnig kan uitklok.

Ek het nie geweet hoe ver om vandag te stap nie. EK is bv glad nie meer op John Brierley se skedule nie, maar was eintlik bitter min dae gewees. Dis mos ook nie nodig nie, ek het my vasgestelde tyd vir Spanje, en my liggaam sê ook vir my baie. Soos dat dit lyk asof die gemiddelde afgetrede Europese burger op die Camino fikser as ek is...  Dis nogal erg om daaraan te dink. Die jong Europeërtjies het in elk geval hulle oorfone in, en maak asof dit ´n wedloop vir die eindstreep is.

En ek? Ek moes mooi gaan sit en dink presies wanneer ek wil klaarmaak, en wat ek nog alles wil doen voor ek volgende Dinsdag op die vliegtuig huis toe kan klim. EK kan nie die trein Berlyn toe haal, of Lissabon toe nie, daarvoor is daar heeltemal te min tyd en geld. Op die Camino self is dit baie goedkoop, die oomblik as ek afklim daarvan, raak dit baie duur.

Die issue gisteraand was: tot in Arzua van Melide af is dit weer net 15 km. Van Arzua af tot by die volgende noemenswaardige blyplek is nog 11 km, en dan is ´n mens net 19 van Santiago af. As ek vandag bv tot by Santa Irene geloop het, kon ek moreaand in Santiago gewees het.

Die gedagterigting wat gewen het is hierdie een: Ek het vanoggend half sewe al begin stap. Gister se dag volgens John Brierley se boek sou in Ribadiso geëindig het. Ek het vanoggend begin deur te verdwaal. Uit Melide uit stap ´n mens in ´n bos in. En ek het te vroeg begin loop, dit was nog donker. In die bos het ek ´n afdraai gemis. Ek het wel geel pyltjies op bome gesien, en toe ek dit volg, kom ek by ´n snelweg uit met ´n Ultra City tipe plek, hulle het toe op die geel pyle geadverteer dat hulle 24 uur ´n dag storte beskikbaar het. (donker Afrikaanse bromwoorde volg...) Ek het maar met die snelweg aangestap vir so 2 km, tot ek weer die Camino se pyltjies gekry het. By die eerste dorp, Boente, het ek koffie gedrink by Os Alburgue, daar was die vriendelikste jong man wat Engels praat, en self die Camino al ´n paar keer gestap het. Hy kon vir my baie raad gee. Deur Boente heen het ek die pad gevat Ribadiso toe. Dit is soos die gidse hier sê, ´n mens moenie afdraende alleen verwag eindpunt toe nie. Die Camino gaan hier deur ´n hele paar riviere se valleie, wat elke keer ´n steil afdraande en dan weer opdraende insluit.

By Ribadiso gaan ´n mens weer oor ´n ou Romeinse bruggie, met die groot munisipale albergue net daar langsaan, waar baie pelgrims op die Brierley skedule sou oorbly. Net langs die Albergue is ´n nuwe restourant. En ek het alweer nog niks geëet nie, brekfis is vir my ´n moeilike saak op die Camino! Ek het ´n ham en kaas bogadilleo bestel, en koffie. Met iets in die maag voel ´n dag darem ook baie beter.
Van Ribadiso is dit net 3 km na Arzua toe, maar dit is ´n skotige opdraande! (ek weet nooit of op- en afdraende met ´n ae of aa is nie!)  Ek het gedink aan my skedule, en besluit om in Arzua oor te bly by ´n privaat Albergue vir €10. Hierdie een is baie mooier as gisteraand s´n, en ook baie minder opmekaar.

Nou vir een van die interne grappies van die Camino. Eergisteraand het daar so ´n Spaanse omie met min tanne onder my in die bunkbed geslaap. Ek het gesien gisteroggend kyk hy my so skeef aan.  Toe ek gisteraand besluit om in Melide oor te bly, wie lê op die bed reg langs my? Dieselfde omie. En hy lei aan slaap-apnee of iets, hy maak die weirdste geluide as hy slaap. En hy snork verskriklik.  Ek het besluit om wye kringe om hom te loop vandag. En toe ek in Arzua inkom, en in die privaat Albergue inboek, wie sit daar? Einste. Ek het eers omgedraai, en by die een langsaan gaan hoor of hulle nie plek het nie. Maar hulle het daardie gevreesde woord gebruik: Completo. Hulle is klaar vol bespreek. Toe moes ek maar weer saam met oom Snorkie in die kamer inboek. Vanaand gaan dit seker weer twee slaappille vat om hom te oorleef!

Arzua is ´n groterige plek, so ongeveer 8000 mense. Ek het maar by die Supermark vir my weer pasta en ´n blik vis vir vanaand gekoop, ek is nie lus vir die pelgrimsmenu nie.
Ek het agtergekom as ´n mens stort, dan kan jou ou klere so per ongeluk onder jou voete beland. En as jy nou nog boonop sjampoo daarop mors, en dan die spul net so bietjie trap, dan spaar dit baie moeite later aan- spoel uit en hang op...

Ek het netnou baie lekker met ´n Ierse gesin gesit en gesels wat ook vir die Albergue gewag het om oop te maak. Hulle van is Cullinan, en die man het in 1976 vir so vier jaar in Johannesburg gewerk. So lekker om met mense te kan gesels vir wie ek verstaan. En die Ierse meisies het so mooi aksent!

Nou wag daar weer ´n lang dag, niks om te lees in Engels nie, sal seker na ´n kort poging tot siesta gaan kyk hoe dit by die plaaslike priester en kerk gaan...
Sterkte met jou reis!

1 comment:

  1. Ek het nou vir my man die stuk oor oom Snorkie gelees en ons het nou behoorlik gesit en lag vir die prentjie!! Voorspoed vir vannag, hoop daai pille is ekstra sterkte!

    Groete van 'n stormagtige Kaap!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?