'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Friday, April 26, 2013

Gee 'n vrou 'n Pinkie...

Gisteraand moes Annelie die ATKV Redenaarskompetisie in Pieterskwane gaan help beoordeel.  Sy sou eers na 9 tuiskom, en die drie monstertjies in die huis moet mos eet.
So is dit toe maar die pa van die huis se verantwoordelikheid om te sorg vir kos voor ek ook uit is op besoeke vir die aand.

EK kom net agter- al my kos lyk dieselfde! Ek het dringend nodig om ander goeters te leer maak. MAAR: die goed wat dieselfde lyk, proe darem altyd lekker vir my. Jammer vir al my vriende wat dalk al jare dit vrees dat ek vir hulle gaan nooi vir ete...

Gisteraand was dit: Beef Wellington! Ja, my Hollandse vriendin het my mooi saggies daarop gewys dat die regte Beef Wellington in 'n korsdeeg is, en myne is duidelik meer van die Potjiekos genre...

Maar dit is wat beskikbaar was in die huis gister, of goedkoop was by Pick 'n Pay.

Eers het ek die vleis in die beskikbare druiwesap van Wellington geweek.  Ek en my goeie vriend van Ellisras het toe nie die Hugenote Kollege verslag klaar bestudeer laas keer nie (interne ou grappie...)

Ek het die vleis mooi verbruin in die gietysterpot, en toe MIldelike Kerrie daarby gegooi. (Ek hoor Masterchef praat van "Caramelize"). Nog so bietjie Old Brown Sherry daarby. Dit is 'n hele ruk op die stoof gelos, om mooi sag te kook. Ek het aartappels in skywe gesny, nog met die skilletjie aan, en bygevoeg. Ook so 500 gram van Pick 'n Pay se naamlose groente.

OP die ander stoofplaatjie het ek Pick 'n Pay se Wilderys met songedroogde tamatie gereed gemaak.

Dit is aan die kinders bedien: Beef Wellington op 'n bed van Wilderys.

Ek dink ek sou punte verloor op Masterchef vir aanbieding- daar kort so bietjie kleur. Maar die smaak- dit was vir my baie lekker. Annelie het dit ook baie geniet om 'n bord warm kos te kry toe sy gisteraand moeg en honger by die huis instap.

Maar wat is die gevolg van sulke goeie dade? Dit word mos nie ongestraf gelaat nie...
Kyk die boodskappie wat vir my gelos word...

Nou vra ek met trane in my navy blou ogies... hoe gaan 'n man ooit wen?




Saturday, April 20, 2013

Word Riders 2013 dag 1 Ek en Anja

 Op dag 1 van Word Riders 2013, op Saterdag 13 April, het Anja saam met my gery om die groep ryers by Warmbad te gaan ontmoet en te begelei na Weesgerus toe.
Ons het saam op ou Huisbesoek gery.

Soos 5 jaar gelede ook al...


Friday, April 12, 2013

Vrydagaand bly koning in die Pastorie!



More begin die Word Rider 2013, en ek is besig om in te pak daarvoor.

Maar op 'n Vrydagaand, as al my kinders tuis is, is dit vir my baie, baie belangrik om vir hulle lekker kos te maak. Met so bietjie hulp natuurlik! 

Gisteraand se episode van Australian Masterchef was so bietjie van 'n ramp, toe die finale 12 van die 2011 seisoen op 'n skaapplaas losgelaat is. Hulle moes op Matt Moran se pa se plaas 'n ete op die vuur voorberei. Hulle het die heerlikste vars lam tot hulle beskikking gehad, en baie netjiese giettyster potjies. En tog het die meeste van hulle maar goed drooggemaak, met 4 1/2 ure tot hulle beskikking... 

Ek hou van kos op die vuur maak.  Vanaand was daar hoenderdye beskikbaar. DIe hoenderdye se velle is afgehaal (net bloot omdat cholestrol glo nie goed vir 'n mens is nie, geen ander rede wat ek aan kan dink nie!) Dit is met so bietjie olyfolie gesmeer, en daar is growwe sout en speserye ingemasseer. 

Daarna is die hoendertjie in die Weber gebraai, met so bietjie eikehout wynvaatjie skaafsels om dit lekker te rook daarmee saam.  Baie keer vra my gaste my hoe ek weet wanneer dit gaar is. Ek weet nie wat om te antwoord nie. Ek het net die gevoel... As ek nie vir daardie gevoel luister nie, braai ek dit droog...  Die hoenderdye is die hele tyd ook bedrup met suurlemoensap. 

Vanaand was daar maar net Namibiese hardehout charcoal beskikbaar om dit op te braai, gewoonlik verkies ek 'n mengsel van sekelbos, en wettig geoesde hardekoolhout. 

So met die braaiery is 'n verdwaalde bottel Villiera Sauvignon Blanc opgespoor wat my vriend Bernard nog verlede jaar vir my gegee het. Daardie wyntjie het mooi geloop vanaand, Bernard! 

Die dames in die huis het aartappels gekook, met 'n suurroom op. Daar was gemengde groente in 'n romerige sous, en beetslaai uit die bottel. 

Die ete self het baie lekker afgeloop, met goeie geselskap, ons het maar die seuns se rapporte probeer vermy... 

Dit bly vir my so lekker, die kere wat ons as gesin saam kan wees en om 'n tafel kan aansit. Sonder enige selfone aan tafel.. Met al die kinders hier. Ons was vir soveel jare so gewoond daaraan, en skielik is selfs dit nie meer vanselfsprekend dat almal teenwoordig is nie. 

Ons het lekker gesels oor more se Super 16 finaal van ons Hoërskool teen Louis Trichardt, en Bernard wat vir die eerste keer in die begin uitdraf in die 1e Span, 'n baie groot geleentheid in ons gesin... 

My pa het glo 1e spanne gehaal, die talent vir rugby was helaas heeltemal afwesig by my gewees, ek was maar 'n benchwarmer vir die 3e span, en daarom ook nie te hoog gereken as positiewe bydrae tot die Hoërskool Newcastle se sportman van die jaar nie... 
Ek is net baie bly Bernard hoef my nooit te tackle nie, ek vermoed dit kan baie seer wees. Ons het ook gesels oor die Word Riders waarby ek more aansluit, vir die reis om Bybels te gaan plaas, en die Bybelgenootskap so bietjie beter bekend te stel. 

Maar die hoogtepunt van die aand, selfs beter as my hoender, was die nagereg! Anja was lus vir 'n Roly Poly, en het dit die eerste keer in haar lewe gebak.  Sy het dit meesterlik gedoen! 


Met so 'n poeding kan die aand mos net lekker wees!  Bedien met 'n heerlike warm vla. 

Na die tyd was daar filterkoffie, en toe 'n glasie van Calitzdorp kelders se Rooi Muskadel om die ete mee af te rond... 'n Heerlike aandjie in die Pastorie- ons eet byna nooit so luuks nie, maar ek is op pad van die huis af vir 'n week, en Anja Maandag terug universiteit toe. 

Daarom vier ons die lewe, familiewees, en soveel genade wat ons ontvang. 

En nou MOET ek regtig gaan pak vir die Word Riders...  Lekker aand by jou! 

DVDV...

Dank Vader dis Vrydag!!!

My afdag. My "private dag" volgens my Diensverhoudinge Bestuurder...

from: http://lifebeginsatretirement.blogspot.com/2011/01/tgif-in-65-hours-to-be-exact.html

Maar hierdie gaan 'n besige Vrydag wees!
More begin die Word Riders te ry! EK en kollega gaan saam op die 2000 km toer, van Kempton Park af deur ons dorp, na Louis Tricharddo, Tzaneen, Blyderivierspoort, Laeveld, Secunda... Ons sien baie uit.


  • VAndag moet my BMW nog gewas word! 
  • Vandag moet ek nog pak. 
  • Vandag moet ek nog by twee bejaarde dames uitkom wat my graag wil sien voor ek ry. 
  • Vandag moet ek nog die hout gaan haal vir die Word Riders se braai more by Weesgerus. 
  • Vandag moet ek nog seker maak die koelkamer by die kerk is aan, en die bakke is gereed om Spif Hoenders se uitstekende donasie van 75 halwe hoenders in ontvangs te neem.
  • Vandag moet ek nog saam met my dogter gaan brekfis....
  • Vandag moet ek nog seker maak die broodjies vir more is bestel, en botter aankopp
  •  Vandag moet ek nog seker maak ons orrelis het al die liedere vir Sondag se Word RIder erediens gekry. 
  •  Vandag gaan seker nog 'n paar ander interessante draaie met my maak. 
  • Vanaand wil ek graag braai saam met my gesin, beter as daardie Aussies op Masterchef gisteraand! 
Wat jy ook al doen vandag, maak die beste daarvan. Onthou, Vrydag kom net een keer per week! 

Sunday, April 7, 2013

Wat 'n Kaapse Draai!

Hierdie week het in ons gesin gegaan oor drome waar maak. Dit het begin met ons Huweliksherdenking, wat ons so graag by die Blue Peter Hotel wou uitkom, waar ons destyds ons grootste gedeelte van ons wittebrood gevier het: 

Dit het gegaan oor familiebande sterker bou...

Dit het gegaan oor vriendskap...
 En nog meer vriendskap...
Daar was ook tyd vir verhoudingsbou... 
En drome het waar geword...
Ons het mooi plekke besoek...
En sommer baie pret gehad...

Dit was so lekker om my seuns op Route 62 te neem! 
In dit alles het ons ook die plek van Broederliefde besoek...  ons het daardie ene nie sien kom nie...

Ons het Baie pret gehad! Maar vir Anja en Bernard baie gemis in die reis...

Thursday, April 4, 2013

Clifton se strand...

So is ons mos nou in die Kaap om my BMW te kom haal, wat Francois so mooi herstel het. Die vakansie is maar 'n vinnige enetjie
Maar 'n mens was nie in die Kaap as jy nog nie op Clifton se strand was nie. Ten spyte van die plek se wonderlike reputasie het AL die dames hulle buitengewoon goed gedra gister. Ek dink die seuns was so effens teleurgesteld. En ek? Nee, soos my niggie my op facebook herinner- ek het nog steeds die mooiste ene aan my sy...

Clifton bly vir my een van die mpoiste strande in die hele wye wêreld. Daardie poeierfyn spierwit sand, die pragtige blou van die see en die lug op 'n helder dag- dis mooi. Baie, baie mooi...