Met dit in gedagte het ek vanoggend weggespring in Triacastella. Daar is dadelik ´n keuse. Aan die een kant kan jy die roete oor Samos vat, waar daar ´n reuse groot Benediktynse klooster is. Dit maak die roete so ongeveer 7 km verder vir die dag. Of daar is die ander roete, oor San Xil, wat so 18.5 km vir die dag meebring. Vir die eerste keer het ek die korter roete gekies. Omdat ek regtig bekommerd was oor akkomodasie in Sarria, dis nog Saterdag ook.
Dit was toe nie gelyk van Triacastella af nie. Daar was ´n redelike fris klim uit die dorp uit, na ´n bergspits met die naam Alto Riocabo. Maar dis absoluut die moeite werd, die omgewing maak op vir alle pyn wat jy ekstra in jou lewe ingenooi het om die roete te doen. Daar was weer die mooiste stukke woud, met antieke ou "horse-chestnut" bome, wat verskriklike dik stamme het- hulle moet regtig baie eeue oud wees. Daar was die uitsig van bo op die berge af, met die son wat opgekom het met die mooiste pastel kleure landskap. Daar het mis in die valleie gelê, met die son wat bo dit skyn, prentjiemooi. Ek wens ek kon vir julle fotos laai!
Voor ek weg is vanoggend, het ek die laaste twee van gisteraand se Flamby´s geëet. Daar was ook so 500 ml Coke in die bottel oor. Daarmee het ek die tog aangedurf. Wees gewaarsku as jy die roete wil loop en dalk net my blog volg: Dit is 10 km van Triacastela af na die eerste bar toe (Casa Francés of so iets), waar jy koffie kan kry! Daardie Café Con Leche Grandé was soos moedersmelk toe ek by hom uitkom. Want sien, my sweater is nog steeds nat! (K Way Termilator, word dekselswil nie droog as jy hom was nie!!! Toets AL jou klere voor jy gaan om te sien hoe lank vat dit om droog te word.) Omdat dit so koud in die oggende in die berg is, het ek maar my reënjas aangetrek. Maar hy laat ook nie sweet so maklik ontsnap soos wat KWay belowe nie! Na 90 minute was ek papnat gesweet, en het ek hom uitgetrek. Toe is ek deurnat en dis nog steeds koud. Daarom was die koffie met melk, groot size, baie welkom!
Met die akkomodasie in gedagte, het ek weer die pad gevat, en die volgende 8.5 km ook omtrent in een sessie gestap. ´n Mens kan Sarria al van baie ver sien. ´n Stad wat op ´n berg gebou is, kan ´n mens nie wegsteek nie, het Iemand baie slimmer as ek eendag gesê- gaan myk maar in Matteus 5 êrens. Die probleem daarmee is- dit voel dan nie of die plek nader kom nie. My St James gids het my ook goed die hel in gemaak, praat van ´n plek wat net 3 km uit die stad uit sou wees, dan is dit 7 km!
Maar uiteindelik het ek in Sarria aangekom. My eerste keuse vir Akkomodasie was die Albergue International, omdat die St James gids so sê. En die plek is alweer ´n aangename verrassing, baie mooi modern, baie skoon, en nog glad nie vol nie. Die kamers bestaan net uit 4 bunkerbeddens, ver uit mekaar uit, wat ´n luukse op hierdie roete is, dit tel al amper as privaat! Kos bietjie meer as die ander (€10) maar dit lyk die moeite werd.
Na ingeboek gou weer gestort en klere gewas, die ou routine. Teruggestap vir so 500 m waar ek ´n kampwinkel gesien het. En hier het ek ´n lekker verrassing gekry. Ek wens al lankal vir ´n goeie gids. Dat ´n mens dit nou in Spanje, so in die pylvlak moet raakloop. As jy ooit die Camino wil stap, kry vir jou John Brierley se gids. Jy gaan betaal, maar dis die moeite werd- hy gee selfs elke dag se roeteprofiel. Dié boek het my €19.95 geruk, maar dit is elke sent werd. Sal maar twee Pilgrims menus skip en self kosmaak!
Nou vir die goed waaroor ek vandag geloop en wonder het:
- Hoeveel inligting wil ´n mens werklik hê van die stuk pad wat voor jou lê? Op hierdie roete is dit nogal baie belangrik, dit bepaal waar jy gaan bly, of selfs meer basies, hoe ver jy van drinkwater is. Maar die res van die lewe, hoe belangrik is dit om te weet wat kom?
- Opdraendes is goed vir jou, dit gee jou sexy boudjies. Maar dis nie altyd lekker nie. Dit toets ´n mens partykeer, maar dan is dit ook weer lekker om bo uit te kom en te voel jy het iets bereik.
- Te veel afdraendes maak jou seer. Vandag weer beleef. Op ´n fiets is ´n afdraende ´n seën, as jy goeie remme het. Met ´n rugsak op is dit waar ´n mens die maklikste seerkry. Dis seker hoekom die Camino van die lewe ook nie net uit afdraendes bestaan nie...
- AS ´n mens hard gewerk het daarvoor, is ´n bier darem baie lekker!
- ´n Mens kan soms op onverwagte plekke skielik hulp kry, wat jy nie sien kom het nie (die reisgids op die roete- ek het nou vir twee weke nog NIKS in Engels te lese gesien nie. En die een boek wat ek regtig op soek is na, spring so op my!)
Mooi dag daar by jou! Geniet jou reis, waar jy ook al is!
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sê jy?