'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, June 26, 2011

Camino Fotos deel 5- dag 7 en 8, Molenaseca na Villafranca del Bierzo


Dag 7- Molinaseca na Ponferada. Ek is op pad na 'n stad toe, en net 8.5 km daarvandaan.  En dit reën, so 'n mens sou nie kon verwag dat dit 'n interessante dag gaan wees nie.

Wag, is dit 'n plakkershut daar voor in die pad? As dit is, is dit die eerste een wat ek in Spanje sien. Selfs met al hulle onwettige immigrante, swemkampioene van Marokko af, sien 'n mens nooit plakkershutte nie!



Nee, dis toe net 'n boer wat sy winter vuurmaakhoutjies wil droog hou met die baie reën van hierdie gebied.

Redelik vorder die pad na Ponferada toe. Dis maar deur maplottergebiede, heen en weer deur straatjies met huisies, ligte industrie, radarbeheerde karretjies en vliegtuigie speelplekke.
Dan kom 'n mens in ou Ponferada in. Die een groot "claim to faim" is die baie goed behoue kasteel van die Tempel Ridders- Knights Templar, uit die 13e eeu. Hierdie ouens het nie nonsens gevat nie, was gewoonlik beide monnike en ridders, en het nooit oorgegee of omgedraai nie. Hulle het internasionale bankwese begin, hulle het die Kruisvaarders op die kruistogte na Jerusalem toe beskerm, asook uit hierdie kasteel uit die pelgrims na Santiago toe. Ja, dis hoe oud die Camino is- eerste tekens daarvan is reeds in 1088 in dokumentasie gevind.



Ek sou so graag binne wou gaan kyk. Maar dit was Maandag, en byna alles is toe in Spanje op Maandag, soos op Sondag, Saterdag, Siestatyd... Noudat ek daaraan dink, wanneer werk die Spanjaarde?

Soos julle kan sien, ou Ponferada is beide vervalle, en steeds baie mooi.

Ponferada beteken "Ysterbrug", en hier was al in Romeinse tye 'n ysterbrug oor die rivier.  Dit is intussen vervang met groter brue, en later nog meer moderne brue.



Net duskant die rivier, met die Ridderkasteel in die agtergrond, is die standbeeld van die koplose engel. Dit word opgedra aan almal wat hulle lewens in onverdraagsaamheid verloor het. Onverdraagsame mense, van watter ras ook al, is 'n vervloeking op die aarde. Né Julius?



Die stadsvaders van Ponferada het 'n wonderlike idee, wat ek nie in Suid-Afrika voorsien dat dit sal werk nie. Op 'n hele paar strategiese plekke in die stad is 'n fietsrak, met hierdie geel fietse. Neem een, ry jou ry waar jy wil gaan, en sit hom weer terug in enige van die ander fietsrakke in die stad.



In Ponferada het ek my enigste besoek in Spanje aan 'n groot Mall gebring. Nou nie Menlyn of Canal Walk nie, heelwat kleiner, maar by die ingang op die foto is 'n groot sportwinkel, soos Sportman's Warehouse, waar jy jou kampgereedskap ook kan aanvul, soos nuwe kouse en waterbottels vir dié wat jy uit frustrasie langs die pad weggegooi het.





Dag 8- Ponferada na Villafranca del Bierzo.

Van Ponferada na Villafranca kon 'n mens in die Boland gewees het- wingerde en vrugteboorde, op en af. Villafranca is ook een van die baie mooi dorpe langs die pad. En as 'n mens die fotos van die plek sien, dan weet jy die volgende groot klim van die Camino is baie vinnig besig om nader te storm...


Villafranca del Bierzo se brug.



Om een of ander rede wil almal hierdie Camino aanduiders steel. Hulle is nogal regtig baie mooi, maar ek dink nie hy kan heel uitgehaal word nie. Waarom nie net fotos neem en die goed daar los nie? Die mensdom is 'n virus, het Agent Smith in die Matrix gesê. Soms is hy reg!

Die kersies van Spanje, oral langs die roete, is baie, baie lekker. Soms staan daar 'n boom langs die pad waar jy jouself kan help. Ander kere verkoop boere dit in die dorpe. Hierdie is so 1 Euro s'n, nadat ek al so vier geëet het.


Soms was daar tyd om te rus,



en bestek op te neem van die koste...


En  ook weer tyd om batterye te herlaai...



In die tydskrif van die Camino-gasvryheidsbedryf het ek net gesien hoe hulle daarvan bewus is dat almal in die heelal graag die Camino wil stap, en aanmeld met hulle Pelgrims paspoorte om gestempel te word dat hulle ook daar deur is...

2 comments:

  1. Ek hoop die comment setting is nou makliker vir julle! Laat weet gerus... as dit sukkel, sê my op facebook.

    ReplyDelete
  2. Ek geniet dit om vir die eerste keer camino fotos met eg afrikaanse beskrywings/chirps/verduidelikings te sien!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?