'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, June 14, 2011

Dag 15- Palas de Rei na Melide

Ek is nou vyftien dae ononderbroke aan die stap. Party dae was wel erg, met bitter min kilometer vir die dag. Maar die afgelope week was baie hard op my lyf. Veral gister se skof het my erg verinneweer.

Gisteraand daar in Albergue Meson de Benito was toe regtig lekker, dis ´n mooi plek, met baie goeie diens. Toe ek gisteraand gaan eet, nooi twee ou Duitse dames, Karen en Elizabeth, wat ek al vir meer as 1 1/2 weke gereeld raakloop, om saam met hulle te sit en eet. Ek was so dankbaar! Hulle kan gelukkig Engels gesels, en het albei baie lekker met my gesels. Die gebrek aan Spaans was alweer sigbaar, want ek wou eintlik die menu sien (onthou nou dis ´n "carta", ´n menu is die vaste keuses wat ´n mens soos vir pelgrims gee.  Uiteindelik eet ek toe maar weer die Pelgrims menu saam met die Duitse tannies. Die macaroni was vir ´n slag regtig baie lekker. Hoofgereg was Spare ribs. Maar moet nou asseblief nie Spur dink en borde vol kos sien nie. Nee, vyf ribbetjies, of eerder, halwe ribbetjies. Nou sit ek saam met dames, ek kan nie soos in Suid- Afrika die ding met die hand gryp en skoonvreet nie. Nee, met ´n mes en ´n vurk. Ek dink meer as die helfte het agtergebly. Nagereg was al weer ´n flan (ons flamby). MAar die kelnerin het hierdie keer nie die bottel wyn weggeneem nadat ons halfpad is soos gewoonlik nie. Nee, ons het nou lekker gekuier, ek en die twee Duitse oumas. Hulle is terloops baie fiks, hulle stap die hele CAmino van St Jean af!

In elk geval, gisteraand was my bene baie seer. Ek het toe maar twee Stopaynes en ´n slaappil gedrink. En redelik vinnig uitgeklok, dit was nou ´n lekker slapie. Dit het net omtrent dadelik gevoel wat ek weer moes wakker word.

Vanoggend toe ek in die pad val, was daar nogal frustrasies. Die Camino is nie so duidelik uit Palas de Rei aangetoon nie, dit het ´n rukkie gevat om die eerste geel pyl te vind. Vanoggend se landskap was weer pragtig, met golwende heuwels, boomryke lanings, sommer net baie mooi. Die eerste koffieshop was alreeds op 2 km, maar hy was so vol dat ek aanbeweeg het. Die tweede een kom toe eers op 8 km.Ek het by Casa de Somoza koffie gedrink. Die plek was baie vol. Daar was net ´n rugsak by een tafel, en ek het toe maar daar gaan sit. Na so rukkie kom ´n blonde meisie wat ek al van Sarria af langs die pad sien, en ek sien dis haar rugsak. Ek sê in Engels ek is jammer, ek het seker haar plek gevat. Toe antwoord sy in Afrikaans dis nie moeilikheid nie, ek kan by haar sit. Haar naam is Liezel, en sy het so pas opgebreek met ´n Fransman, Omdat dit nou ongemaklik is waar hulle gewoon het, het sy binne twee dae besluit om die Camino te stap, want sy het ´n oop week voor sy elders in Europa moet werkswinkels aanbied.  Daar was ´n oomblik van groot spanning, haar sigarette en haar pelgrimspaspoort het op die tafel gelê toe sy badkamer toe is, en skielik is dit weg. ´n Mens se pelgrimspaspoort is op hierdie stadium baie, baie belangrik. ´n Mens kan nie sommer net ´n ander een kry nie, jy het nou twee stempels per dag van Sarria af nodig om uiteindelik die CAmpostelo te kry. Dit bly toe dat die oorywerige Spaanse tannie wat daar werk, sommer gou alles in die asblik gegooi het. Gelukkig was die pelgrimspaspoort ongeskonde.

Van Casa de Somoza is dit nog so 7 km tot in Melide. Van ver af is ´n mens al in hulle nywerheidsgebied, 5 km uit kry ´n mens al motorhandelaars (en ja, karre is baie goedkoper in Spanje as in Suid-Afrika!) en ook Jimmy se Sportwinkel- genuine, ek sal vir julle die fotos wys! 
Die laaste kilos na Melide is nie mooi met al hierdie handelsaktiwiteite nie, maar die laaste kilo is wel. Dan stap ´n mens oor so antieke, seker Romeinse nog? bruggie die dorp binne. Reg anderkant die brug is die kerkie waar ´n mens jou paspoort kan gestempel kry. En langs die kerk is die bar, waar ek ´n biertjie kon nuttig. Vir ´n slag was daar lekker lewendige Spaanse musiek in die bar.

Die een ding wat ek my voorgeneem het- Die Gallicea provinsie is wêreldberoemd vir hulle seekos. En Melide is wêreldberoemd vir hulle resep seekat. En van al die restourante beveel al die gidse Pulperia Exequiel aan.  En vir een maal wou ek by so ´n plek eet. Die plek lyk maar baie basies. As jy by die deur instap, is daar ´n paar baie groot koperpotte op gasbranders. En binne in die potte is baie duidelik seekatte. Die restourant is niks fênsie nie, maar hy is groot, met BAIE houttafeltjies en stoeltjies. Wat sê hy is suksesvol.

Ek het toe vir my ook ´n porsie Pulpa en Vino Tinto bestel.  Hulle bring sommer ´n hele bottel rooi aan, met sulke pottery kommetjies wat jy wyn uit drink. Met die gebruiklike porsie Spaanse brood. En dan, so ´n kleinerige bergie seekat in stukke opgekap op ´n houtbord tentakels, lyf, enige deel. Maar weet julle, dit is verskriklik lekker.  Die seekat word bedien in olyfolie, met paprika? op. Dit smelt in die mond, en is regtig een van daai goeters wat ´n mens net moes doen. Vir €9. Ek vermoed hulle het my vir die hele bottel wyn laat betaal, maar ek het soos gebruiklik net ´n halwe een gedrink.

Hier moes ek nou groot besluite neem. Die volgende blyplekke is so ongeveer 11 km weg. MAar my bene bly regtig seer. Die afgelope paar dae het ek elke dag oor die 20 km gestap.  Maar dit maak regtig nie saak of ek nou oormore of eers Vrydagoggend in Santiago aankom nie. Ek het niks om te bewys om nou ekstra hard te probeer, en dan nog ´n aand duur in Santiago te moet slaap nie. So ek het die hartverskeurende besluit geneem om nie vandag deur te druk met die beplande 26 km nie, maar met 15 te volstaan tot by Melide. Ek het by ´n privaat Albergue langs die Camino ingeboek, Alburgue Aquador of so iets. Dit raak nou duurder- €12.  Hierdie een is BAIE beknop. Ek het darem ´n warm stort gekry, en kon my klere was en uithang. Dis deel van vandag se sukkel, met die reën van gister is baie van my klere nat, en daarmee saam baie swaarder.

Die Albergue het darem ook drie rekenaars vir Internet.  Ek weet nie presies hoe ek die dag gaan omkry tot 8 uur vanaand as ek ´n slaappil kan neem nie. Ek gaan nou ´n supermark soek, met ´n Coke.  Het klaar ´n rukkie gesiësta. As ek net ietsie in Engels kon kry om te lees...

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?