'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, June 7, 2011

Dag 7- Molinaseca na Ponteferada

Hallo julle almal,
soos julle uit my vorige "rambling"afgelei het, was daar wel al so ´n moeilike daggie of twee ook op hierdie reis. ´n Mens gaan nie vir ´n Bucket List Item en dink dit gaan net maklik wees nie.
Gisteroggend het ek die lang pad van Molinaseca toe na Ponferada aangepàk, ´n hele 8.5 km. Dit bring my totaal vir sewe dae se stap by ongeveer 105 km!
´n Mens kan Ponferada al van Molinaseca sien, eintlik al waar ´n mens oor die berg by die Ysterkruis kom. Dis ´n stad, en die eerste ding wat ´n mens sien is swaar industrie. Ek was nie baie lus vir Ponferada nie, op grond van eerste indrukke van ver af. Ons maak dikwels so met mense ook! En ´n mens kan so verkeerd wees!

Soos julle dalk op die weer gesien het, dit reën in Spanje. Bietjie verder suid van hier is daar groot oorstromings op die oomblik. So vertrek ek gisteroggend in die reën uit die pragtige Molinaseca. Met my poncho aan. Ek haat ´n poncho! Die goed wurg ´n mens altyd! In elk geval, dit was nog steeds die meeste van die tyd afdraende, wat nie goed was vir die blase op my voete nie. Maar die newe-effekte van die dag sonder water lyk darem nou verby, dit lyk of my kans op oorlewing so effens gestyg het, dalk sien ek julle weer!

Na so drie ure het ek in Ponferada ingekom. En toe bars daar ´n wolkbreuk los. Ek het dadelik in ´n koffieshop ingehardloop, en vir my ´n groot koffie bestel (café con leche) Die interessante hier in Spanje is dat koffie dikwels in glase bedien word. Myne kom toe in ´n melkskommelglas aan- dit was ´n eerste!
Reg oorkant die Godivah koffieshop is ´n reuse ou kasteel, wat nog aan die Tempelridders (Knights Templar)  behoort het, julle weet, daai wat die legende sê ´n aandeel gehad het in die Vrymesselaars se ontstaan. Ek kon nie ingaan nie, alles is toe op ´n Maandag! Maar hierdie ou deel van Ponferada is regtig baie mooi. Ek het ´n slim ding gedoen vir een maal in my lewe. Omdat ek so suffer, het ek gaan sit en voorraad opneem. Ek het besluit wat is regtig noodsaaklik om te kan klaarmaak. Die res het ek in ´n Stuffbag gegooi, en by die Poskantoor gaan pos Santiago toe- my rugsak is nou 2.5 kg ligter!  Ek het ook  vir ´n aand by ´n Hostal ingeboek (hotelkamer vir €25) om een nag weg te kom van snorkende Duitsers. En weer alles netjies te kan inpak.

Ek het in Ponferada begin soek na dunner kouse, want my kleintoontjies veral is besig om ´n lelike knock te vat. Ek het by ´n mall uitgekom, nie heeltemal so groot soos ons s´n in Pretoria nie. Daar het ek ´n winkel soos Sportsman´s Warehouse raakgeloop, en vir my twee ordentlike pare dunner kouse gekoop. Ek het toe alweer nog niks vir die dag geëet nie, so ek het vir my by Burger King ´n Whopper met tjips en Coke gekoop. Kos ´n hele €6.95, maar maak voller as die gemiddelde Pilgrim´s menu. Ek het daarna teruggewaggel, en gaan slaap. Laatmiddag weer deur die ou deel van die stad gestap, omdat dit so vrek mooi is, julle sal die fotos eendag sien.
Ek het by ´n Supermark vir my 4 jogurts en ´n liter appelsap gekoop om my maag weer te probeer reg kry. Lank gelê en Spaanse televisie kyk, daar was ´n Suid-Afrikaanse program oor buffels teel op, wat my baie huis toe laat verlang het.

Gister was ´n goeie rusdag, wat ek baie nodig gehad het om te hergroepeer en te herbeplan. Vandag sal ek dv vorder tot by Villafranca de Bierzo, so ongeveer 21 km. Ek het  gister baie ver gestap op soek na ´n Internetkafee, of ´n werkende wifi zone, en dit in ´n stad nie gevind nie! Nou, op pad verby die Busstasie, het ek hierdie masjien raakgeloop, en wou net my sewe getroue lesers laat weet ek is ok, en gaan nog aan...
Lekker dag daar vir julle!

2 comments:

  1. Net vir interessantheid, Lady Godivah was mos ´n adelike wat een dag kaalbas deur ´n Spaanse stad op ´n perd gery het- dit moes nogal aanskoulik gewees het!

    ReplyDelete
  2. Ewald, Geniet die stap. Sterkte en GOD bless!!.

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?