'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Thursday, June 16, 2011

Dag 17, Arzua na Pedrosa

Ek het nooit gister gesê waar ek gebly het nie. Dit was in die Albergue Ultreia in Arzua, wat ek baie sterk sal aanbeveel as iemand ooit die CAmino loop en raad sou vra.  Gisteraand het ek en die Kanadese meisie saamgespan om aandete te maak. Nee, dis glad nie soos wat julle stouterds dink nie! ´n Mens koop in Spane, net soos in Suid-Afrika, vermoed ek, redelik moeilik bestanddele om net vir een mens kos te maak. Macaroni pakkies is altyd gesin grootte. Jogurt en Flan kom net in hoeveelhede van vier. ´n Bottel wyn is te veel vir ´n normale mens. En ´n bottel salsa sous ook. Daarom maak dit net sin om so nou en dan iemand anders te kry, saam bestanddele te koop, en dan saam kos te maak. Wat ons gisteraand gedoen het.  En toe het iemand anders vir haar die oorblywende deel van hulle macaroni gegee, wat gemaak het dat ek eintlik maar vir myself gekook het. En dit was baie beter as daardie vorige kat/ seekat poging! Saam met macaroni het ek ´n blikkie mossels en ´n blikkie onbekende vis gekoop, wat toe uiteindelik hulle weergawe van Sardientjies was. Dit het ek in ´n pan warm gemaak in olyfolie. Dit keurig bo-op my macaroni geplaas, van die salsa oorgegooi, en ook so ´n sakkie van daai krummelrige kaas wat ´n mens oor pasta gooi, daaroor gestrooi. Saam met ´n glasie van Madeleine se rooiwyn was dit baie lekker. En ons kon vir ´n slag gesels- sy is ´n maatskaplike werker, besig met haar doktorale studies, want sy wil so gou as moontlik ophou met die normale maatskaplike werk. Dit lyk asof selfs die onskuldige Kanada maar sy hoeveelheid huismoles het, seker darem glad nie op die skaal van Suid- Afrika nie.

Ek het gisteraand redelik maklik aan die slaap geraak, maar van vroegoggend af baie sleg geslaap. Ek het weer so net na 7 vanoggend in die pad geval, nadat ek twee bakkies jogurt geëet het. Nou weet ek nie watter blinde sambok my slaan nie, maar my maag was vandag baie deurmekaar. Ek het nie verby ´n enkele openbare toilet geloop sonder om in te hardloop en hartlik van hulle dienste gebruik te maak nie.  VAndag se 22 km was redelik moeilik, maar onder normale omstandighede sou dit glad nie sleg gewees het nie. EK het heeldag baie pap gevoel met daai magie.

Vandag was weer een van daai dae wat daar letterlik niks koffieplekke of oorblyplekke vir die eerste 10 km is nie. Dit is goed ek het nie gister verder probeer vorder nie, ´n mens sou baie ver moes stap gister. En niks jaag my mos op die oomblik, behalwe my maag nie...

Ek het so eenuur in Pedrosa aangekom. Weer ´n keer was ek BAIE geseënd met blyplek, weer het ek in ´n baie mooi private Alburgue uitgekom wat vir my plek het- die Albergue Porta de Santiago. Hier speel die hele tyd die rustigste musiek. Daar is redelik baie spasie rondom die bunkbeddens. EN met hierdie blyplek het die onsekerheid oor waar ek bly, uiteindelik klaargemaak. Ek het gister oor die internet plek bespreek vir more aand in Santiago, en ook vir Sondagaand by ´n ander Albergue. Saterdag is ek vir ´n slag alleen in my eie hotelkamer in Finisterre, en ek sien BAIE daarna uit. Ek het gedink ek gaan so elke vierde of vyfde aand maar ´n hotelkamer kry op die reis om net weer privaatheid te hê en goed uit te rus. Maar ´n hotelkamer begin gewoonlik by € 25, ´n privaat Albergue is gewoonlik rondom €10. So ek het hierdie opsie al die pad uitgeoefen, en dit is vanaand seker al my negende aand in ´n ry in ´n Albergue.  As ek nou regtig baie geld wou spaar, kon ek die hele tyd in munisipale refugios gebly het vir €5 ´n aand, maar dit is heeltemal te raserig of te opeengehoop, ek hou nie daarvan dat vreemde Duitse mans nader aan my in die aand lê as wat my vrou gewoonlik aan my lê nie.

Vandag sal seker weer ´n lang dag wees om om te kry. My voete is seer van vandag se 22, en ek voel pap. Ek het nou ´n Coke gedrink en sal seker brood eet vir middagete.
Vaagweg begin dit in die agterkop groei dat die reis einde se kant toe begin staan. Die laaste bordjie wat ek gesien het, het gesê dis nog 18.5 km na Santiago toe. Die een belangrike ding wat ek òp hierdie reis geleer het, is dat enige ding moontlik is as jy hom stap vir stap doen. ´n Mens eet mos ´n olifant happie vir happie op, sê my liewe kollega. Die 317 km van Leon af was ook so gewees, dit was heeltemal te groot om aan te dink. Maar ek het net gedoen wat ek kon elke dag, en dag vir dag aangehou.

Ek gaan more seker so 06h00 probeer wegspring om more teen 12h00 in die pelgrimsmis in die Katedraal van Santiago te kan wees.  Ek verlang nou al baie huis toe, selfs vir die normale oorlog van die vier kinders!  Geniet julle vakansiedag in Suid-Afrika! Vriende, braai ´n vleisie, en dink aan my...

No comments:

Post a Comment

En jy daar, wat sê jy?