'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, February 28, 2011

My hunkering na 'n veilige hawe vir 'n rukkie...

Houtbaai- 25 Februarie 2011 om 12 uur

Wanneer die Atlantiese oseaan se koue water lank genoeg  deur die Suid-Ooster deurmekaar geroer word, daar by die Kaap van storms, wanneer die nimmer-eindigende deining die horison verswelg, wanneer die visserskuit se ruim nie meer kan vat nie,  wanneer die verlange na huis en haar te veel word, dan is dit tyd om hawe toe terug te keer. Om vas te meer teen die kaai, om weer op terra firma voetspore in die sand te los.
Daar is 'n tyd vir storms, en daar is 'n tyd vir rus. Daar is 'n tyd om te huil, en 'n tyd om te lag.

Here, ontmoet my in die storm. Bestuur my skippie na 'n veilige hawe. Of leer my om op water te loop.  Here, wees U...

Sunday, February 20, 2011

Die dood van 'n baie spesiale vriendin...

'n Mens het baie kennisse in die lewe. Jy het minder pêlle, saam met wie jy sommer gou 'n bier of 'n koffie kan gaan drink. 'n Mens het nog minder ware vriende, saam met wie jy 'n bottel rooiwyn om 'n kampvuur kan drink. Maar in my lewe is daar net enkele mense vir wie ek kaalvoet oor kole sal loop, en dadelik gewillig sal wees om my lewe voor te gee. Daardie enkele vriende wat jy drie-uur in die more kan bel as die lewenstorme woedend oor jou neuk. Vriendskappe wat oor jare kom, wat al 'n paar groot seerkrye hanteer het.

My hart breek vanaand oor so 'n vriend, wat gisteraand sy vrou (so 'n vriendin) verloor het.
Marthinus Britz is my broer, al het ons nie dieselfde ma nie.  Ons vriendskap het oor jare al hoe dieper gegroei, en ons het menigte kere met seer harte om 'n bottel KWV 5 jaar oud op die ys oor baie diep dinge gesels. Ons vriendskap gaan so ver terug dat ons in die kraamsaal gaan kuier het toe sy dogter Anlé gebore is. En vir daardie meisiekind is ek so lief soos my eie dogter. Ek ken haar al van haar eerste dag in die lewe af. Ons was saam met hulle toe hulle aankondig dat hulle tweede een op pad is, en Annelie sê: ek moet dalk ook maar die ou toetsie doen. Anja en Cornelius verskil 'n week- ons het saam feesgevier oor hulle swangerskappe, en hulle geboortes. Ek is so trots op Cornelius soos my eie seuns- ek is mal oor die man wat hy besig is om te word.

Elke jaar was dit die een hoogtepunt in my bestaan om by hulle tuis te gaan vir die Argus. Die fietsry is eintlik 'n bysaak- dit het gegaan oor die vriendskap, wat vir my so ontsettend baie beteken.

Ek stap vanoggend na kerk by my huis in. En sien dat Marthinus my drie keer al vanoggend probeer bel het. Ek bel hom dadelik terug. My vriend is stukkend. Elna, wat vir hom so ongelooflik baie beteken, wat hom so gevorm het tot die man wat hy is, was gister in 'n motorongeluk. Die kar waarin sy 'n passasier was, het gerol. Sy het dit nie gemaak nie.

My hart is baie, baie seer vanaand. Maar my vriend is stukkend. Sy kinders sal ook wees.
Die Bybel sê daar is 'n vriend wat nader as 'n broer is. Hy is dit vir my, ek hoop ek kan ook iets daarvan vir hom wees. Ek vlieg moreaand af Kaap toe. Ek hoop ek kan hulle las net so 'n klein bietjie ligter maak.  Ek wil so graag iets doen om dit beter te maak. Maar ek weet self nie wat om te doen nie. Soos Marthinus sê- ons kan altyd ander mense help in sulke tye. As dit met ons gebeur- dan breek ons ook.

Ai Elna, ek het nog so gehoop eendag op die ouetehuis se stoep gaan ons Britze en Schmidte kan sit met bewende kieries, en met ons kleinkinders kan spog. Die hemel is seker vandag 'n beter plek, maar ek was wragtag nie hierop voorbereid nie. My lewe is baie skielik baie, baie armer vandag.  Ek weet nie hoe Marthinus hier deur gaan kom nie. Maar ons gaan hom help, wat dit ook al vra.

My vriend, more aand twaalfuur is ek daar, ek bring die KWV, hou die ys reg...
Here Jesus, dra vir Marthinus, en Anlé, en Cornelius, deur hierdie donker diepte, asseblief. Moenie my vriend laat val nie...