'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Friday, August 27, 2010

En toe koop Oom 'n plaas! Of- hoogmoed kom tot 'n val?

So wen die jongste, Stephan, mos toe hierdie pragtige Silverback Reno bergfiets op NG Kerk Springbokvlakte se basaar.  En nou hou hy aan by sy pa, wat darem al 16 Argusse voltooi het: Kom ons gaan ry Vrydagmiddag in die Braksloot. Nou die Braksloot is enige 4X4 entoesias se droom: baie hektare vol grondpaadjies, bulte, draaie, slote, dongas, canyons... nou ja- jy kry seker die prentjie?
Net buite Nylstroom, twee kilometer van die huis af. Nou het Pa mos nog sy Trek 800 Trial, met voorste skokbrekers, wat darem 7 Argusse voltooi het. Ja, Pa het nou wel vier maande laas fiets gery, maar vir liefde se onthalwe gaan ons Vrydagmiddag Braksloot toe. Toe was daar so klein berekeningsfoutjie êrens langs die pad. Stephan se fiets het knobly bande op. Pa het Continental Town & Countries op- lekker op die teer, orraait op 'n grondpad, nag in die sand en op klippe.

Ons twee ry in by die Braksloot. Hy is lekker lig, en sweef oor die sand. Pa is, sal ons maar sê so bietjie duideliker, en met my bande sak ek net weg in die dik sand. Toe kom ons op wat lyk soos 'n moto X baan. Lekker hobbels, skerp draaie. Ou Stephan seil deur hulle- hoe moeilik kan dit nou wees as jy 9 jaar oud is, drie weke voor 10? Pa hyg en suig en probeer sy pose hou.

Tot in die eerste draai. Dit lyk darem so maklik! 90 Grade draai na regs, goeie pypvorm, klipperig- soos ek op skool met my "scrambler" van hulle gehou het. Pa verstaan mos hierdie goed. EN die volgende oomblik toe lê pa en klippies uit sy linkerbeen uit grawe, terwyl  hy sy bes probeer om nie te donker Afrikaans te besig wat vir die res van die seun se lewe in sy gedagtes sal bly nie!

Deksels- ek sal nuwe tires moet opsit as hierdie 'n gereelde speletjie gaan word. En ek sal beter maniere moet kry om te briek in die draaie. Nou ja, ten spyte van die bloed en die donker gedagtes was dit nog steeds lekker om saam met Stephan te gaan fietsry. Ek hoop net volgende keer is hy nie so wit geskrik vir die helse slag hier agter hom nie!



Linkerbeen gebruik as remskoene is nie 'n goeie idee nie!

Monday, August 16, 2010

Motorfiets nommer 5: My Aprilia Pegaso 650!

Dit het so gebeur: Eendag, lank lank gelede was daar 'n dominee, wat altyd in sy hart die hunkering na stilte en vryheid het. So lank hy kan onthou, was sy gelukkigste tye op motorfietse gewees. Die tipe vriende wat hy in die motorfietswêreld gemaak het, was dié met wie 'n mens deur 'n oorlog sou kon gaan. Soms harde mense, soms rowwe kante, maar beslis nie soveel maskers en hang-ups as die algemene motorfietslose man op straat nie!

Weens finansies, en daardie een boeboe met die Honda CB 750 F was daar 'n dekade in sy lewe sonder 'n werkende, gewillige motorfiets. En soos in een van die vorige stories vermeld, daag vriend Sam Hoffmann nog boonop op met 'n uitnodiging na Buell se 2006 bekendstellingsdag. Wel, daar het die ou verslawing maar weer vasbytplek gekry. Julle ken natuurlik hierdie dominee, né?

Wel, op pad na die Buell dag toe stop ons by 'n motorfietswinkel in Zambesiweg, Pretoria. En daar op die vloer staan twee ou BMW 650 GS 'e. Dit was wat ek begin dink het om te koop. Maar langs hulle staan 'n Aprilia Pegaso, later model, heelwat minder geld, en dit lyk dieselfde vir my. Ek moet bieg, op hierdie oomblik het ek nog nooit regtig van Aprilia kennis geneem nie. Ek begin later soek op die Internet, en kom agter dat Aprilia die BMW 650 reeks vir BMW in hulle fabriek in Italië bou. Ek leer dat die Aprilia ook met 'n Rotax 648 cc enjin uitkom, daardie Oostenrykse staatmaker wat al verskeie toekennings gewen het vir die beste enkelsilinder enjin in die wêreld.

Laastens: dit het gegaan oor bekostigbaarheid. As geld nie 'n opsie was nie, het ek seker vandag 'n BMW 1200 gery- GS of RT, dalk selfs S soos 'n paar vriende...
Maar: geld was en is steeds 'n groot briek in my drome...

Daarna volg 'n paar weke: elke Donderdag die Junkmail koop. En op 'n goeie dag (eers die volgende Dinsdag) sien ek die advertensie raak: 2000 Model Aprilia Pegaso, net 10 000 km op die klok, R32 000 in Pretoria. Het julle al gesien hoe vinnig kan 'n mens afsprake rondskuif as jy regtig wil? Ek bel die ou: Ja, hy is nog steeds beskikbaar. Gryp Ouboet Bernard, en ry Pretoria toe. En toe die man sy garage oopmaak, en ons hierdie pragtige Italiaanse meisie met die oulike kurwes sien, toe is dit verby! Bernard sê : "Pa, koop hom!" En Pa dink: Watter besondere wysheid en insig is hierdie seun van my nie mee geseën nie!

In elk geval: ons vat hom vir 'n spin. Op daardie stadium het sy nie 'n enkele krappie op gehad nie, net 'n krakie in die windskerm. Ons kom terug en sê: Ons koop haar. In daardie week maar gaan reël vir 'n banktjekkie uit my huislening uit.

Met 'n lied in die hart die motorfiets vol petrol gemaak, en teruggery huis toe, met 'n Pavarotti lied in my hart, iets soos Nessum Dorma. Die eerste keer nie 'n Honda nie, die eerste keer nuwer as 1982! Hierdie motorfiets hanteer soos 'n droom, en was nou al 2 keer met my Kaap toe sonder enige probleme.  Die liefdesverhouding duur steeds voort. So nou en dan (deur die Karoo!) wens 'n mens steeds vir daardie een met die blou en wit propellertjie wat anderkant 200 kan gaan, want gelaai sukkel ons twee maar om verby 150 te kom met 'n wind van voor. Maar hier in die dorp, en vir 'n vinnige hospitaalbesoek in Pretoria deur die verkeer het: onverbeterlik!

Kyk mooi na haar naam: Huisbesoek. Dan kan Annelie eerlik sê: Ewald is uit op Huisbesoek!  Ek geniet Huisbesoek besonder baie!

Monday, August 2, 2010

Die droom kom nader!

Foto: Jill and David se blog 1 Augustus 2010
Is dit die besef van die middeljare wat my in die spieël begin bekruip? Is dit die vrees vir 2012 en die eerste kuiken wat uit die nes uit moet vlieg? Is dit die gevoel van die mak sirkusleeu wat net te lank agter tralies is, en begin dowwe oë kry?

Iets in my skreeu dit uit: dis tyd vir 'n MOERSE avontuur! Tyd om totaal uit die groef uit te breek. Doen iets wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie.

Wel, so paar jaar gelede het ek en Marthinus Britz 'n lesing bygewoon in die Kaap, waar 'n groep mense opgewonde vertel het van die CAmino de Santiago in die Noordweste van Spanje. Destyds net so effens kennis geneem daarvan: Ja, Ja, dis net vir julle Bloubergstrand rykgatte bedoel! Van verlede jaar af begin die roepstem saggies fluister, tot dit nou in my kop begin skreeu: gaan loop 'n deel van die Camino, dit sal jou baie goed doen!

Die pelgrimsreis is al bekend van ten minste die 12e eeu af. Die oorspronklike bedoeling daarvan was om te voet/perd en later ook fietse te reis van jou huis af na CAmpostelo, waar die legende lui dat Jakobus, die broer van Jesus, begrawe sou lê. Iets te make met ikone en ander heilige goeters van die Rooms Katolieke. Nou wel, die legende klink maar baie effentjies, siende dat Jakobus in Jerusalem tereg gestel is. Die mite sê die ander dissipels het sy liggaam geneem, en 'n boot sonder seile of roeispane het by die Middellandse See verskyn, die liggaam geneem, en daar by die einde van die wêreld gaan aflaai, waar dit in latere eeue deur spesiale openbaring aan 'n priester uitgewys is.

Nou kyk, ek het nie 'n saak met heiliges of hulle bene nie. Maar wat my trek, is daardie fisiese uitdaging. Dit lyk of dit 'n baie mooi deel van die wêreld is. Daar is verskriklik baie "refugio's" langs die roete- spesiale "backpackers lodges" net vir pelgrims. Dit kan taai raak- een skof is bv 38 km lank. Daarom moet 'n mens fiks wees, en lig pak, verkieslik nie meer as 10 kg rugsak nie. Dis wat my trek. Ek is tans goed oorgewig, ernstig op pad na 'n hartaanval toe, en sukkel om van die bed af toilet toe te loop sonder om te hyg. Ek voel vasgevang tussen 'n oormaat aardse besittings wat elke dag om aandag vra, en dreig om uitmekaar te val as daar nie DADELIK iets herstel word nie. En die roepstemme van 1700 mense wat almal dadelik huisbesoek wil hê, anders gaan hulle per ongeluk hel toe of so iets, maar net 200 wat rerig iets groter tot stand wil bring wat 'n verskil in die wêreld kan maak. (Oeps- hierdie een moes dalk op my anonieme blog verskyn het! :-) )

Dis die droom: kry iets om weer fiks voor te word. Kom vry van die aardse dinge. Kom in die natuur, kom in aanraking met mense wat my glad nie as DOMINEE ken nie. Weet nie presies waar ek vanaand slaap, of wat ek gaan eet nie. Ag, ek dink die enkele woordjie waarna ek soek, is 'n stukkie VRYHEID! En hoor dalk net weer die Here se fluisterstem in die storms en die wind, die son en die see.

Waar anders in die wêreld kan jy vir amper verniet deur 'n mooi land stap, waar jy as pelgrim met groot gasvryheid behandel word, en tyd kry om weer stil te word, sonder selfone wat lui, en mense wat dringend 'n klomp nonsens goeters met jou wil bespreek?

En die droom begin nou vlerke en voete kry. Verlede week my nuwe paar Wolverine Fortis skoene op die kredietkaart gekoop. Gisteraand my vliegkaartjie met my huislening betaal. Lufthansa via Frankfurt na Madrid: 27 Mei 2011. Terug na die realiteit 20 Junie 2011. Wens ek kon nog langer wegraak. Maar Annelie kan nie saamgaan nie, en ek verlang te veel na 3 weke- die nadeel van 'n gelukkige huwelik!

Het nou al 10 km op my nuwe skoene gesit. Blase: 3.
Nog baie ver na 39 km/dag af, maar ons het 'n begin gemaak. Campostelo, hier kom ek!


Foto: Wolverine Fortis ICS Hiking Boots- van hulle website af. Hulle waarborg dit is die lekkerste skoen wat jy nog ooit gedra het, of jou geld terug na 'n maand.