'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, May 31, 2011

Camino de Santiago- Dag 1 se Stap

Vandag is waaroor die Camino droom nou eintlik gegaan het. Ek het gister op die trein al baie opgewonde geraak toe ek so 20 minute uit Leon uit ´n voetpaadjie met die Camino teken opgesien het. Die Camino het regtig ´n roepstem wat ´n mens kan hoor!  Ek het gisteraand baie lekker gebly in die Hostal Don Suero, en die Camino stap by sy voordeur verby.
Gisteraand nadat ek ingeboek het, het ek na die katedraal toe gehaas, om hom hoop te kry. Ek kon my eerste Camino sello (stempel) in my Pelgrimspaspoort kry, en daarmee het my Camino begin. Ek het ´n hele ruk in die katedraal gesit, daar het die mooiste chant musiek gespeel, en die loodglasvensters is toe so mooi soos wat hulle sê. Ek het daarna na die Kapel van San Isidoro toe gestap, wat glo ´n verpligte stop op die antieke Camino was.  Heel heilig, al werk hulle met jackhammers buite en bid binne!

VAnoggend so half agt in die pad geval- ek was nie lus om nog ´n dag in Leon te verwyl nie. Het heel vinnig gevorder tot by Virgin del Camino, wat ´n stuk semi-industrieële gebied deurgegaan het.
Daarvandaan is daar ´n keuse- 24 km na Hospital de Orbigo toe langs die snelweg, of 26.5 km deur die veld. Wat kies ek toe? Die laaste een. Baie verder tussen plekke! Maar beter as om langs ´n besige pad te stap? Eers stap ñ mens 3.5 km tot by Oncina, baie klein dorpe waar almal reeds weggeraap is op 21 Mei!  Dan ´n lang 5.5 grondpad na Chozas de Abajo toe, waar drie persone die wegraping oorleef het!
Nog 4 km en ´n mens is by Villar de Mazarife. Van baie ver af adverteer Tio Pepe sy Auberge, en dit is ´n baie lekker een vir net 7 Euro per nag.  Ek is in ´n kamer met 2 bunkbeddens, en ´n Duitser wat lyk of hy gaan snork, is langs my. Ek gaan vanaand tog maar vir die eerste keer uiteet, pelgrims menu is 9 Euro en ek is nou moeg vir brood en salami, en hier is nie ´n supermark nie!

Ek het vandag net 20 km gestap, maar ek is baie styf en seer. Die rugsak voel vrek swaar, ek dink nat wasgoed het iets daarmee uit te waai. Regtervoet het 4 blase. EK het nou klaar gestort, en toe my klere gewas.  Vroeë dag, ek weet, maar die volgende dorp is 9 km weg- vandag sou dit te ver gewees het!
Alles hier is net in Spaans, ek gaan niks kan lees in die biblioteek nie! Sal moet werk aan my sondige siel, dis waarvoor ek tog hier is.

Die vraag vandag is: hoekom is ek hier?  En vandag se gebedspersoon langs die pad is Annelie.

Monday, May 30, 2011

Camino de Santiago- Madrid na Leon

Ek sit nou op Chamartin stasie aan die buitewyke van Madrid. Ek het ´n kaartjie gekoop op die Renfe trein na Leon toe, wat so teen 16h00 behoort te arriveer. Kaartjie kos 33 euro. Vanoggend sover ´n koppie koffie en ´n croissant geëet. Ek het gister geskiedenis in my lewe gemaak, die eerste dag wat ek kan onthou wat ek geen koffie gedrink het nie. Die goed is net so deksels duur in die hoofstad. Maar by El Corte Englis, ´n supermarkreeks, kos ´n blikkie Coke so R5.30. En water is darem goedkoop in die supermarkte. So ek is op ´n uitgebreide dieet!

Ek het netnou nog ´n reuse oorwinning oor die self behaal. Op die stasie is ´n winkel wat my swaer Verwey sou gaande hê. Hulle verkoop sommer pistole en jaggewere oor die toonbank! En messe en sulke goed wat ´n man oor droom. En hulle het ´n reuse groot Casio G Shock horlosie op uitverkoping teen net R850, en ek het weggestap sonder om dit te koop. Ek gaan op die trein sit en huil daaroor!

EK begin nou baie lus raak vir die stap self, en begin oorweeg om more dalk al so 7 tot 12 km te stap, om aan die gang te begin kom. Al wat ek regtig in Leon wil sien, is die katedraal se loodglasvensters.

Lesse sover geleer op die EKspedisie:
  1. Ek mis al klaar my vrou baie! Veral as die bure so baklei 3 m van my af aan die oorkant van die woonstel!  Ek sou graag hierdie ervaring met JOU wou deel!
  2. Dinge kom altyd êrens reg, al sien jy nie dadelik die uitkoms nie. Ek het toe heel lekker in die ander akkomodasie gebly, baie nader aan alles.  Plan B, onvoorsiend, was toe baie beter as my plan A!
  3. Ek mis goeie koffie, wat bekostigbaar is! Ek het geen fasiliteite om dit self te maak nie, en om te koop is baie duur!
  4. ´n Mens pak altyd te veel in! Die rugsak was op die lughawe net 10.2 kg! Maar nou is daar water en seeppoeier by, en nat klere ook erens in, dit voel nogal swaar.
  5. Ek mis iemand om mee te gesels, niemand verstaan Engels nie, so ek praat Afrikaans met almal. Dis lekker om te voel ´n mens behoort erens, hier in Spanje kry ek daardie gevoel van ver van my mense en my huis af.
  6.  Ek mis my Internet, hierdie sessie van 45 minute kos my R22.50
Maar die lewe bly ñ reis!
Laat ek gaan kyk waar is my perron, voor die trein vir my wegry. Mooi bly!

Sunday, May 29, 2011

Verdwaald in Madrid, maar dis lekker!


Gister was nogal n baie rowwe dag. Die Luftwaffe vlug het 1 3/4 uur laat opgestyg omdat die crew se bussie gebreek het. Dit het gemaak dat ons n uur laat geland het. Die vlug Madrid toe was anderkant die paspoortbeheer, en ek moes agter n lang tou mense inval om my paspoort na te gaan. Toe het die vriendelike Duitse offisier in beheer baie behae daarin gevind om eers my terugkeerkaartjie te vra, en baie geduldig my paspoort deur te blaai. Wat gemaak het dat ek die aansluitingsvlug gemis het met vyf minute. Toe moes ek eers weer met die lugredery gaan baklei om my op die volgende vlug te sit Madrid toe. Ek het om twaalfuur in Madrid aangekom in plaas van sewe uur.  Ek het n lekker Metro kaartjie vir drie dae vir 13 euro gekoop.

Die volgende skok, die hostal waar ek ingeboek het in September, weet niks van my bespreking nie, al het hulle euro 7.50 geneem vir n deposito. Die plek is vol, en sy vat my toe na n vriendin toe, wat toe vir een  aand wil he wat ek vir twee aande sou betaal op die oorspronlike bespreking. Skelm blerrie Spanjaarde, ek wens Obelix het hulle harder gemoer!

Ek het rondgeloop met die rugsak, en eers teen 5 uur plek gekry in n Hostal.  Redelik sentraal, redelik skoon, bure skree en slaan op mekaar.  Maar dit is alles OK!. More ry ek per trein/bus Leon toe, en sal Dinsdag met die Camino begin. Hier is verskriklik baie dronk mense en bedelaars op straat, nie gewoond daaraan in Europese stede nie.

Gister die volgende vir R85 gekoop om te eet: drie blikkies Coke, 1.5 l water, Franse brood, een groot pak salami, een pak met ongeveer 15 snye kaas in, 6 Flambys en 1 l wyn_ glad nie sleg nie!

Gelukkig is Julius nie hier op die nuus nie!

Mooi bly!

Ewald

Friday, May 27, 2011

Camino de Santiago- D- Dag Zero, H- Hour 11 ure presies!

Die aftellingshorlosie op my blog, wat ek 74 dae terug opgesit het, het nou afgetel na ZERO dae toe. Vandag is die dag! Volgens die horlosie styg ek, hopelik met 'n Lufthansa vliegtuig onder my alie, om 18h45 op.
 More-oggend net na vyf besoek ek Frankfurt in Duitsland, maar net vir twee ure. Toevallig, toe ek die eerste keer as skoolseun op 'n koortoer in Europa was, het ons van Frankfurt af teruggevlieg. Daar was nog sulke ou vliegtuie in die dak opgehang. Maar ek sal nie tyd kry om eers te gaan loer daarna nie, net hardloop, en die Spanair vliegtuig gaan soek. Sewe-uur vlieg ons Madrid toe. Ek het gisteraand weer mooi gekyk hoe Madrid se Metro werk, om by my hotel uit te kom.

Ek sien baie uit na Sondag- daar is 'n baie interessante mark aan die gang by die La Latina seksie van Madrid (El Rastro). En op Sondae, sê die reisgids, is die Prado museum gratis oop vir die publiek. En dit is nog nie hoogseisoen nie, dalk kan ek ongestoord kyk na Velzques, en Dega, en Goya, en El Greco, sowel as 'n paar Italiaanse en Flaamse en Duitse en Hollandse Meesterstukke.  Daar is ook die Museo Thyssen- Bornemisza,  en die Centro de Arte Reina Sofia om te besoek, maar die tyd gaan te min wees. Saterdag of Sondag sal daar 'n draai gemaak moet word in die Parque del Retiro, 'n pragtige park, wat ook spog met 'n standbeeld van die duiwel (El Anglo Caido- the Fallen Angel). So baie om te sien, maar so min tyd. Want Maandag moet ek of per bus of per trein na Leon vertrek. Ek is mos maar 'n sissie, ek het gisteraand alweer 'n hotelkamer teen Euro 24 op die internet bespreek, net om nie te sukkel nie. Dinsdag gaan ek eers die katedraal van Leon se loodglasvensters bewonder, glo van die heel mooiste in Europa. Dis 'n antieke stad, baie om te sien. Daardie aand gaan ek die eerste Camino Auberge opsoek, en vir 3-8 Euro oorslaap tussen 100 mense in een groot saal. Ek het slaappille en oorpluisies.  Woensdagoggend begin ek werk aan die blase op my voete.

Van Woensdag af is die tyd absoluut vloeibaar, ek dink ek moet selfs die horlosie afhaal, en net in die ritme van die Camino begin inval. Alles is dan oop, tot die aand van die 20e, wanneer ek weer 'n hotelkamer in Madrid het, en die 21e vlieg ek terug Suid-Afrika toe.

Ek sal so nou en dan probeer by 'n internet kafee uitkom, en my 9 getroue lesers opdateer waar ek is, en wat ek doen.  Ek weet nie hoe maklik dit gaan wees om ook 'n fototjie of twee op te sit nie.
Ek weet dis my eie skuld dat ek so lank van die huis af gaan wegwees. Maar dink asseblief aan my, ek is eintlik baie meer huisvas as wat julle dink. Dis die nadeel van 'n baie gelukkige huwelik! Ek wens so Annelie kon nou al hierdie ervaring meemaak. Dit was nie nou moontlik nie. En ek gaan verskriklik baie verlang as ek mooi dinge sien, en nie met haar dit kan deel nie.  Na 'n dag of twee verlang ek my ook dood na my kiddies, na Anja wat die deur so kan toedonder, en dan 'n rukkie later bel om te sê ons moet asseblief veilig ry. Na Bernard se humorsin, na Ewald se verstrooidheid en opregtheid, en na Stephan, wat soveel insig kan hê, en wonderlike vrae kan vra.  Twee dae nadat 'n mens tuis gekom het, is dit gewoonlik alweer bloed en bottelstukke wat waai. Maar dis my mense, en hulle maak my lewe!

Ek gaan in die groot oomblikke ook my vriende mis. Daar is soveel van julle wat deur julle vriendskap regtig my lewe baie lekker maak, en volgende keer kom julle saam, dat ons saam kan suffer en blase probeer fix, saam kan moan en groan, en saam feesvier in die aande om 'n botteltjie Spaanse rooi!

Familie en vriende, ek gaan julle baie mis! Julle is vir my kosbaar, en soos vier dae terug sê ek vir elkeen van julle: Baie, baie dankie vir wat julle in my lewe beteken. 'n Mens is mens deur mense, sê die Sotho's. Julle menswees maak my lewe die moeite werd.  Seën en liefde vir julle elkeen!


Mag daar 'n pad wees... (Yol Bolsun- Turks)
Ewald die Geseënde

Wednesday, May 25, 2011

Camino de Santiago- D- Dag minus 2 dae 10 ure- steeds vulkane

Die afgelope paar ure het ek met belangstelling my oë op Ysland gerig, waar ene Grimsvötn probeer om my vlug Spanje toe te steel. Die nuus op die oomblik lyk darem meer gerusstellend- die vulkaniese as word oor die noordelike deel van Skotland en boontoe gevoer deur die lugstrome.


Gisteraand se skets op CNN se website is ook baie meer gerusstellend, die wind sal darem woes suidwaarts moet draai om Spanje te beïnvloed.  Intussen tik die horlosie stadig maar seker af- vandag ek bespreek het en dit nog 200 dae was, het dit afgekom na "oormore" toe.

Ek het gisteraand my rugsak, polar fleece en moonbag teruggekry met die embleem van hierdie ekspedisie opgewerk, dit lyk pragtig, dankie Anja, Ronel en Neeltje- ek gaan dit met trots dra! Dié wat nie onthou nie, so lyk Anja se ontwerp:

Vandag gaan baie besig wees. Ek sou die Interkerklike biduur sewe-uur gelei het, maar niemand het opgedaag nie- iemand se dagboek êrens was deurmekaar. Toe kry ek kans om gou-gou hierdie neer te pen.  Ek moet nog heelwat mense sien voor my verlof more begin.  Mooi dag daar by jou!

Tuesday, May 24, 2011

Camino de Santiago- D- Dag minus 3 dae 07 ure- vulkane en dankies...

Elke silwer randjie het ook 'n donker wolk. Nee, ek wil nie negatief klink nie, maar daar is so 'n effense donker wolkie op die horison, alweer uit Ysland uit.  Die skuldige is dié keer die  Grimsvotn vulkaan, wat honderde kubieke meter se as op hierdie oomblik in die lug inblaas, en die winde waai dit oor Europa.  In Engeland is daar alreeds weer 100e vlugte op die grond gehou, en Parys se Charles de Gualle lughawe is toe tot Vrydag 14h00.  Ek sit nou maar in spanning en hou Grimsvotn se partytjie dop, en hoop dinge bedaar teen Vrydagaand, anders gaan my reëlings lelik deurmekaar begin loop!

Maar hopelik gaan dinge mooi uitwerk, die engeleleër gaan hulle vlerke klap en die vulkaniese as gaan noordwaards begin waai.

Vanoggend was vir my 'n baie spesiale ervaring. Die dames van die Bybelstudiegroep wou graag meer hoor van die CAmino, en my beplanning daarvan. Hulle het vir my gebid, en vir my die Here se seën toegesing. Hierdie groepie mense is werklik baie spesiaal in my lewe, en ek het dit nou weer so waardeer vanoggend. Hulle het ook weer 'n pragtige kaartjie gemaak wat elkeen 'n boodskappie geskryf het. Daardie kaartjie gaan verseker saam! Julle elkeen ook, in my hart.

So kort voor die reis is ek baie diep dankbaar vir wat reeds gebeur het.

Ek is regtig dankbaar teenoor die Here, wat alreeds soveel deure oopgemaak het om die reis moontlik te maak. Die "bargains" wat na my kant toe gekom het met vliegkaartjie, toerusting, en die onverwagse ondersteuning van mense het my absoluut oorweldig!  Ek sien uit na die tyd van stilte saam met die Here, in daardie mooi land!

Ek is so dankbaar teenoor Annelie en die kinders, wat my met soveel liefde hierdie droom gun, en bereid is om sonder my aan te gaan vir so lank.  Ek is so dankbaar vir so 'n wonderlike eggenote, en vir my kinders, elkeen met hulle eie besondere stukkie menswees. Ek is baie meer geseënd as wat ek soms raaksien!

Ek is so dankbaar teenoor kollega Danie, wat ook vir my hierdie ervaring gun, en wat 'n swaarder vrag gaan dra omdat ek nie tuis is nie. Vir die liefde en ondersteuning van ons kerkraad en gemeentelede, nie een was nog ooit negatief oor my droom nie, ek ervaar groot ondersteuning, en daarvoor is ek baie dankbaar. Ek is so dankbaar vir Anja se embleem, en Ronel wat dit vir my met haar masjiene uitwerk, en Neeltje wat dit op die rugsak en hoed en moonbag vaswerk.

Die mense van ons omgeegroep is fantasties- hulle het gisteraand spesiaal 'n afskeidsbraai vir my so op 'n weeksaand gereël. Hulle sal mooi help kyk na my gesin, en dit waardeer ek baie!

Hierdie jaar sover was 'n baie moeilike jaar in ons familie. Maar in hierdie jaar se storms het ek ook weer agtergekom watter groot seëninge daar in ons lewens is, en hoe bevoorreg ons is met die kaliber vriende wat ons het. Julle is baie kosbaar vir ons!

Ek het maar 'n klein rugsakkie, en min geld, maar elkeen van julle sou 'n reuse geskenk uit Spanje gekry het as dit moontlik was- julle verdien dit!

Heel laaste: my goeie vriend Marthinus Britz, wat my van die Camino vertel het, en my saamgevat het na 'n bekendstelling.  Ek het al soveel wonderlike goed in die lewe by hom gehoor en geleer, hy is vir my die broer wat ek nooit gehad het nie.  Marthinus, toe ek en jy laas saam op Melkbosstrand rondgeloop het, het ek 'n klip op die strand opgetel. Op die Camino, bo-op 'n berg,  is daar 'n ysterkruis, waar pelgrims elkeen 'n klippie van hulle land neersit.  Daardie Melkbos klippie dra ek saam vir jou, jou kinders en vir die altyd onthou van Elna.  Ek weet dit is net 'n klein stukkie tradisie, maar agter dit lê die gebed dat die Here julle sal dra en heel maak! Ek hoop jy gaan volgende jaar tyd kry om daardie klippie by die ysterkruis te besoek. Moet ek hom neongeel verf dat jy hom maklik sal sien? Nah! Ek weet, en jy weet, en dis genoeg- hy sal daar wees.

Dankie, baie, baie dankie vir elkeen van julle, uit my hart uit!

Monday, May 23, 2011

Camino de Santiago- D-Dag minus 4 dae en 06 ure!

Nou is die reis besig om ernstig 'n realiteit te word. Ek is besig om alles bymekaar uit te pak en alles te heroorweeg. Die rugsak, moonbag, fleecetop en die hemde kry Anja se Camino Embleem op op die oomblik.

  • Paspoort en visum is gereed.  Pelgrimspaspoort met Credential is reg.
  •  Toerusting is gereed: rugsak (K-Way Alpine 55) , slaapsak (First Ascent Travelite en opblaaskussing, en 'n paslaken) , stapskoene (Wolverine Fortis) en reënklere (K-Way reënbaadjie en broek, en kamaste) is uitgesorteer. Een paar fake Crocs. Een lekker boshoed.
  • Klere is reg- maar ek dink ek vat te veel saam: Een aanzip reis-langbroek met reishemp, van First Accent. Twee First Ascent Aqua stapbroeke, en een gewone FA stapbroek. Drie Dri-sport hemde van Mr Price Sport. Een K-Way Fleece top. Een liggewig sweetpakbroek. Vier pare Timberland stapkouse. Een "large" moonbag vir die reisgidsie en beursie.
  • Medisyne is gereed: anti-naar, anti- diaree, anti-biotika, merchurochrome en watte, pleisters by dosyne, anti- histamiene.Sonbrandolie en voetpoeier.
  •  Was by die tandarts, en die dokter, om seker te maak alles loop reg. Gaan netnou haarkapper toe vir 'n nommer 2 sny, ek wil nie sukkel met hare nie!
  • Buitelandse valuta is nog 'n probleem, daar is nog geen! Ek wou Vrydag 'n paar Euros koop, met my paspoort en visum in die hand. Nee, hulle soek die vliegkaartjie ook, en 'n bewys waar ek bly. Nou sal ek maar in die laaste minute op Jan Tambo vlughawe moet ruil.
  • Moet nog tou en wasgoedpennetjies inpak- sal seker daai kant eers seep koop. 
  • Moet nog badkamersakkie inpak, en klein botteltjies kry vir die shampoo. Klein buisie tandepaste koop. Tandeborsel se handvatsel afsaag... nee wag, dalk nie. First Ascent sport handdoekie.
  • Bord en Swiss Army Knife (onthou- rugsak, nie handbagasie nie!) en 'n SPORK. 
  • Petzl koplampie. Notaboekie en pen. 
  • Stapstok- my getroue Bushbaby wat ek 4 jaar gelede by Shoprite gekoop het vir R99, werk baie lekker. Waterbottel- 2 l. 
Ek dink dit is dit. Nou besig om verwoed in die gemeente rond te hardloop om 'n klompie siekes te besoek, en seker te maak my projekte gaan loop. Twee weke na my terugkeer vat ek ons belydenisklas weer vir vyf dae Drakensberge toe. Dié jaar behoort ek fiks te wees!

Ek lees verwoed blogs en websites oor die Camino, maar ek dink dit is nou tyd om te begin ontspan, en te vat soos dit kom. Deel van die oefening is tog juis om nie altyd in beheer te wil wees wat in my lewe gaan gebeur nie, sodat ek verras kan wees met die uitkoms.  Ek het wel die eerste twee aande in Madrid, en ook die laaste aand voor ek terugvlieg, goedkoop dog (hopelik!) netjiese hotelle bespreek. 25 en 30 Euro per nag is seker nie te sleg nie, en veral as ek terugkom van die Camino se auberges af gaan die enkelkamer met 'n stort, tv en warm water soos 'n paleis voel.

Die horlosie tik genadeloos vinnig af...

Thursday, May 19, 2011

Camino de Santiago- D-Dag minus 7 dae 19 ure...

Dit is nou 7 dae en 19 ure en 38 minute voordat ek op die vliegtuig klim na Spanje.

'n Hele paar mense het begin vra hoe lyk die afstande wat ek wil stap. Ek is nog nie seker hoe ver ek elke dag gaan kom nie, die plan is om van Léon na Santiago toe te stap. Dit is BAIE ver vir 'n lui ou soos ek! Hier is vir julle 'n rowwe kaart, en die afstande tussen dorpies. As ek kan, sal ek op facebook of op hierdie blog ietsie probeer skryf, soos ek asem terugkry en 'n internetkafee raakloop.



Plek
km
Hoogte
hoogte vt
Km na Santiago
Leon
0
822
2696
317.6
Virgen del Camino
8
905
2968
309.6
Oncina
3.5
887
2909
306.1
Chozas de Abajo
5.5
880
2886
300.6
Villar de Mazarife
4.5
875
2870
296.1





Villavente
10
870
2854
286.1
Hospital de Orbigo
8
819
2686
278.1
Villares de Orbigo
2
919
3014
276.1
Santibanez
3
845
2772
273.1
San Justo de la Vega
9
855
2804
264.1
Astorga
3
869
2850
261.1
Murias de Rechivaldo
5
882
2893
256.1
Santa Catalina
5
977
3205
251.1
El Ganso
4.5
1020
3346
246.6
Rabanal del Camino
7
1149
3769
239.6
Foncebadon
6
1495
4904
233.6
Cruz de Ferro
2
1504
4933
231.6
Manjarin
2
1451
4759
229.6
El Acebo
7
1156
3792
222.6
Riego de Ambros
4
920
3018
218.6
Molinaseca
4.5
595
1952
214.1
Campo
2.5
560
1837
211.6
Ponferrada
5.5
543
1781
206.1
Columbrianos
4.9
540
1771
201.2
Fuentesnuevas
2.7
535
1755
198.5





Camponaraya
1.9
490
1607
196.6
Cacabelos
5.5
483
1584
191.1
Villafranca del Bierzo
7
511
1676
184.1
Pradela
8.2
930
3050
175.9
Trabedelo
2.9
600
1968
173
La Portela de Valcarce
4.2
630
2066
168.8
Vega de Valcarce
2.4
630
2066
166.4
Ruitelan
2
690
2263
164.4
Herrerias
1
680
2230
163.4
La Faba
4
917
3008
159.4
Laguna de Castilla
2
1098
3601
157.4
El Cebreiro
2.5
1300
4264
154.9
Linares
3
1270
4166
151.9
Alto do Poio
3
1337
4385
148.9
Ponfria del Camino
3.5
1290
4231
145.4
Triacastela
9
665
2181
136.4
Samos
11
532
1745
125.4
Sarria
12.3
420
1378
113.1
Barbedelo
5
580
1902
108.1
Morgade
7.5
580
1902
100.6





Ferreiros
1.5
600
1968
99.1
Portomarin
9
330
1082
90.1
Gonzar
7.5
550
1804
82.6
Castromajor
1
550
1804
81.6
Hospital de la Cruz
2.6
550
1804
79
Ventas de Naron
1.5
550
1804
77.5
Ligonde
3
550
1804
74.5
Eirexe
1.5
610
2001
73
Palas do Rei
7.5
565
1853
65.5
Casanova
6
490
1607
59.5
Leboreiro
3.5
500
1640
56
Furelos
4
500
1640
52
Melide
2
454
1489
50
Boente
5.5
440
1443
44.5
Castaneda
2
440
1443
42.5
Ribadiso de Baixo
3.5
230
754
39
Arzua
3
389
1276
36
Calle
8
389
1276
28
Salceda
3
370
1214
25
Empalme
3
370
1214
22





Santa Irene
1.5
405
1328
20.5
A Rua
2
405
1328
18.5
Arca
1
290
951
17.5
Lavacolla
7
300
984
10.5
San Marcos
4
300
984
6.5
Monte del Gozo
2

0
4.5
Santiago
4.5
264
866
0






Ek wil graag van Santiago af na Finisterre toe stap/ bus ry- die mees westerlike punt van Spanje, op die Atlantiese kus (Baie, Baie ver bokant Bloubergstrand...)

Ek begin ook ernstig wonder wat om alles weg te gooi by die huis om die rugsak nog ligter te maak.
Die vlinders op die maag neem steeds toe.