'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, June 5, 2011

Dag 6- El Acebo na Molinaseca

VAnoggend so bietjie later ingelê, gelukkig was daar baie ander wat ook so gevoel het na gister se wrede dag. Ons het eers so half agt in die pad geval. Dié keer was daar 1 1/2 liter water aan boord, en ´n kitkat, en so gebakte jemtertjie.
VAndag was net afdraende, wat nogal baie erg is as ´n mens swaar is, en swaar gepak is. Maar dit was pragtig vanoggend, die natuur is verskriklik mooi hier in die berge. Die eerste 4 km na Riego de Ambros het baie vinnig gegaan. Ek het nie ´n kafee oopgekry nie, en sommer op die brug in die dorpie my Kitkat en Jemtertjie geniet.

Daarna sê die gids dis nog net 4.5 km na Molinaseca toe, maar dit voel baie verder. Hier gaan ´n mens van die pad af, deur die veld, sterk afdraende. Dis verskriklik mooi, maar die grondpad steil afdraende is nie so maklik nie. Ek het so half elf in Molinaseca aangekom. Ek het besluit om na gister se nagmerrie ´n baie kort dag vandag te hê, om te probeer rus. Molinaseca is ´n pragtige dorpie, met die mooiste strate en rivier en brug. Ek het nou vanmiddag al my Pilgrim´s Menu gaan soek, want ek is so 30 etes agter op die oomblik! Ek het vir voorgereg ´n Groenteslaai gekies ! (ek het nou alle hulp nodig wat ek kan kry!) Hoofgereg het ek met my baie mooi Spaanse aksent vir Steak gevra, en vis gekry, met chips. Nagereg was ´n heerlike roomys, met die gebruiklike halfbottel wyn en brood saam met die ete. Terwyl ek die Moto 2 motorfietswedren van Spanje aandagtig volg.

Ek kon nou eers 1 uur inboek in die Albergue Santa Marina. Dit lyk weer na ´n lekker plek, gelukkig met Internet. Terwyl my pensie dikgevreet is, gaan ek nou siesta. Dan klere was. En daarna moet ek ernstig myself moed inpraat, want my voete is flenters na die baie afdraande. Ek sal dalk more weer net 8 loop tot in Foncebadon, en kyk of ek dunner kouse kan koop. 

Hierdie is regtig ´n beproewing- hoe ver kan ek myself verby my limits druk? Wanneer is dit wyser om op ´n bus te klim en ´n dag te rus? Ek het so baie onsekerhede op die oomblik, en wens van julle was makliker bereikbaar om my raad te gee.

Ek verlang my ook dood huis toe, selfs na al die geraas en baklei en skop en skree en slaan van die normale elke dag se lewe!

1 comment:

  1. Hou moed en bly weg van die busse af!! Hoop jy neem baie fotos - voorspoed vir die res van die trippie!

    Groete hier van die Kaap af!

    Emilene

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?