'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, October 26, 2010

Die sêd, sêd storie van 1 Oktober 2010

So baie mense het gehoor, en my gevra wat gebeur het met my Drifter op 1 Oktober. Hier is die volle, hartseer verhaal...

Dit was 'n sonnige Vrydag, en my afdag. My vrou wou graag iets by Pick 'n Pay gehad het (enkele dae voor Nylstroom s'n oopgemaak het!)

Ek het rustig die oggend deurgery, en haar inkopies gaan doen. Daarna het ek nie, soos gewoonlik, by 'n koffieshop gestop nie. Ek het uitgery op die Warmbad dampad, want ek het gehoor van 'n Engelse pub so 7 km verby die dam. Julle sal dit nie glo nie, ek het die pub gekry, en nie eers ingegaan nie. Ek het rustig verder gery- die lugversorging aan, mooi musiek op die radio, pragtige kameelperde en bokkies langs die pad. Die tipe dae waaroor 'n mens mos net droom in die "ratrace" ...

So entjie verder draai die Loubad pad uit na regs. Dadelik is daar 'n stewige S- kurwe, wat nie mooi aangedui is met padtekens nie. Die pad was ook pas geskraap. Ek het die tweede draai teen so 40 km/h genader, en toe ek my stuurwiel draai, het die agterkant baie skerp na regs weggebreek. Dan draai 'n mens mos in die gly in, en trap die versneller... maar my voorwiel het die walletjie getref, en die bakkie in die lug in opgeskiet.  Ek dra nie graag hierdie bakkie se veiligheidsgordel nie, want dit sit oor my nek. Maar ek moes toe vir lewe en dood aan die stuurwiel vasklou. Nie veel gehelp nie, want toe die bakkie so lê, toe lê ek op die stukkende venster van die passasiersdeur. As dit vinniger was, dan het die bakkie bo-op my beland!

Nou sit ek in die bakkie, en probeer my selfoon vind. EK kry dit in 10 minute se soek glad nie. Al die aankopies lê die hele wêreld vol, en geen selfoon in sig nie. Normaalweg bel so 3 miljoen mense my elke dag. Hierdie oggend- geen oproepe nie! Ek klim toe uit die bakkie uit by die boonste deur. Dis vrek warm, en al wat in die bakkie is, is 'n bottel wyn. Ek kan nie dit begin drink nie, netnou kom die polisie daar aan. Ek stap na die naaste plaashuis toe- en dis verlate. Besef my bakkie lê sleg in 'n draai, en iemand kan dalk in hom vasjaag en seerkry. Gaan wag by die bakkie vir die eerste voertuig wat verby kom. Dit neem toe meer as 'n uur, voor een van die naweekboere daar verby ry. Binne vyf minute is daar skielik nog vier voertuie verby- hoe werk dit? Dié Pieter bel van sy bure in die omgewing, die gesin Swart. Hulle kom met 'n trekker en 'n "winch", en ons katrol die bakkie tot terug op sy wiele. Ons bel vir Annelie, en sy bel terug. Waar kry ek my selfoon? Bo-op die passasiersitplek, teen die grond, met 'n bottel Achar wat oor dit gebreek het. Ek koop nooit Achar nie- dié was die eerste een in my lewe!

In elk geval, ek het stadig teruggery Nylstroom toe, en die bakkie gaan ingee by B+S paneelkloppers, op die versekering se aanbeveling. Nou wag ek maar geduldig-die skade beloop R45000. Om die Achar uit my selfoon te gaan haal- R350. My versekering gaan my verseker nou looi op die premies.

Maar om ongeskonde hier te kon uitklim, nadat van my gemeentelede op soortgelyke wyse dood is of nekke gebreek het, is regtig net genade. Ek wonder egter nog steeds wat die les was wat ek gedurende hierdie Oktober moes leer. Want kort daarna het die weerlig my rekenaar uitgeslaan. 'n reuse moerbeitak het net langs my geval. My dogter het twee keer geval met die scooter. Wat aangaan, is ek nie meer seker nie. Net dankbaar om nog hier te wees...