'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, June 29, 2011

Camino fotos deel 8- Dag 12 Triacastellia na Sarria


Sommige dae in 'n mens se lewe loop so verkeerd, ander loop so ongelooflik reg. Soos my twaalfde dag van stap op die Camino. Skielik het die blase onder die tone sommer eelte geword, en nie meer gepla nie. Skielik was my bene nie meer so seer nie. En fotografies gesproke was dit een van my lekkerste dae ooit- ek moet myself keer om jou nie dood te verveel met 'n helse hoop fotos nie. Hierdie dag s'n was vir my mooi, weet nie wat Toast Coetzer van hulle sal maak nie...

Sê my eerlik, vertel hierdie huis nie ook vir jou 'n storie nie? Hy lyk op die rand van bouvallig, maar iemand het pienk malvas in die vensterbank geplant... Wat sou die storie van hierdie woning wees?


Hierdie volgende een is ook vroegoggend geneem- weer die ou fokusprobleempie waarmee my Powershot D 10 in vroegoggend lig mee sukkel. Toast sal baie kan fout vind, en ek sien dit raak. Maar hierdie is nou nie 'n foto blog nie, ek vertel 'n reisverhaal, dat julle ook die prentjie kan sien. Nie ver uit Triacastellia uit op die korter roete (in teenstelling met die Samos kloosterroete)  is hierdie plek. Dit is 'n gebedshuis. En dit was beman deur 'n paar Skotte, wat graag vir pelgrims bedien het met gebed soos jy verby kom. Die binnekant van die huis is mooi, warm gemeubileerd, baie gasvrye atmosfeer. Ek hou baie van Christene wat ander mense dien, sonder om die hele tyd rede te soek om hulle te veroordeel of hel toe te stuur. Soos hierdie mense- geen bybedoelings nie, net 'n opregte stuk omgee vir elkeen wat die Pad kruis...



Die volgende een kan julle maar vir Toast wys- ek is regtig nie skaam vir hom nie! Lyk dit nie lekker om daar te bly, op hierdie ou se plaashuis nie? Onthou- die sentrale tema is Die Pad.


Daar is 'n Camino poel op die roete, wat in elke gids verskyn, hier is my weergawe daarvan:



Daar is weer ervarings van op die bergpieke van die lewe loop, met die mis wat ver onder in die valleie lê.



Hier is die enkele rede hoekom jy moet vergeet van gister se bunkbed foto, en die blikkieskos foto, en begin spaar vir jou vliegkaartjie- kan jy jou hele lewe lank aangaan sonder om hierdie pad self te gaan stap?


(Lufthansa kaartjie R6200 retoer Madrid toe, 8 maande voor die tyd bespreek, R200 per dag op die roete- maak 'n plan!)

Vier vliegtuie op pad Amerika toe- hoe weet ek dit? Want ons is hier naby die Westekant van Europa- dan die Atlantiese oseaan, dan Amerika.  Hierdie omgewing is asemrowend mooi!


Ken jy daardie gevoel, soos Louie Giglio dit so mooi kan sê: Wow oh wow oh wow!




As 'n mens bereid is meer as die minimum te doen, dan kry jy hierdie dag, net voor jy by Sarria uitkom. Van Sarria af is die kortste Camino wat jy kan loop, en nog steeds 'n Campostela (sertifikaat dat jy dit gedoen het) kan kry. As jy die minimum doen, mis jy hierdie fantastiese dag in jou lewe, en dit kan mos nie!



Na 'n heerlike dag sien jy Sarria nader kom:



In Sarria moet jy nog 'n groot stel trappe klim om by die lekker Albergue's uit te kom, soos die Internacional. As jy hierdie trappe kry, kyk dadelik regs. Daar is 'n kampeerwinkel, wat goed soos John Brierley se gids in Engels verkoop! Luister nou na my, moenie soos ek dit eers hier koop nie, stap die hele ding met John se gids- dis die beste een! Stapskoene, kouse, rugsakke, alles wat jy nodig het, is in die winkel regs aan die onderkant van hierdie trappe.



En dan die baie goeie nuus- daar is 'n winkel in Spanje wat vir jou jou eie, persoonlike Malema kan verkoop! Kyk net daar, derde artikel:



Ten slotte- het jy al ooit voorheen 'n wonderlike preek op 'n enkele padteken gesien? Volg hierdie raad-

3 comments:

  1. Jy't definitief klaar al daai seer tone vergeet! Bly om te hoor hoe jy net al die mooi en lekker goed nou met jou saamdra! 'n Amerikaanse camino vriendin van my het dieselfde tyd as jy gestap en sy is ook nou reg om haar fotos op haar blog te sit. Sy't bietjie raad gevra en ek het haar na jou blog toe verwys - gaan kyk bietjie na www.ksamsontheroad.blogspot.com. Groete!

    ReplyDelete
  2. Sal gaan kyk, dankie! Ja, 'n mens vergeet die seer en die sukkel, en dan kom die grootsheid van die ervaring eers tuis. Nou al sommer weer jaloers op jou- geniet elke oomblik se voorbereiding vir volgende jaar!

    ReplyDelete
  3. OP my ander blog het 'n vriendelike persoon van Spanje gesê 'n Mampara is daardie glaspanele waarmee storte gemaak word.

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?