'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, June 12, 2011

Dag 13- Sarria na Portomarin

Vandag is nou die een dag wat dinge presies uitgewerk het soos ek my Camino verwag het. Dit was ´n fantastiese dag in my lewe!

Ek het vanoggend eers half sewe opgestaan.  Die dag het so amper somber begin- dit het so bietjie reënerig gelyk. En die stap begin met ´n baie kwaai afdraende, verby die begraafplaas van Sarria. Nou kan ek nie onthou of ek al vir julle iets van Spaanse begraafplase vertel het nie. Dit werk glad nie soos by ons nie. Dink nou aan ´n gedenkmuur soos wat ons in Suid- Afrika ken. Die nisse is net heelwat groter, ´n hele kis kom daarin! So amper ´n woonstelblok vol kiste, niemand gaan in die grond in nie, lyk dit vir my, almal word mooi netjies gestoor vir die oordeelsdag...
Terwyl ek daar verby stap, is dit nog half skemer en reënerig. En die enigste geluid is die gekrys van ´n kraai... Spooky!

Maar dit het heelwat beter uitgedraai net daarna. Alhoewel ´n mens vandag weer heelwat geklim het, was ´n groot deel van die roete onder skaduwees- die reën het toe ook wegbeweeg, en heerlike sonskyn het ons getref.

Net eers hierdie een deel met almal wat nog die Camino gaan stap- van O Cebreiro af is die Camino in die Gallicea provinsie van Spanje, en daarvandaan word die kilometers elke halwe kilometer op ´n sement blok aangedui. Die Alburgue was by km 111, maar as jy uit Sarria uitstap, by kilometer 108, is die mooiste blyplek wat ek nog gesien het sover, vir €9 per nag! As dit nie so naby was nie, en my tyd nie so vinnig uitgehardloop het nie, het ek wragtag oorgebly. Skryf neer:  Casa Barbedelo- km 108. EK het daar ´n Café con Leche Grande gedrink, en die musiek net baie geniet. Die plek is nuut, baie netjies,  dit lyk baie lekker om daar te bly!

Omtrent die tyd wat al die goeie mense in die kerk sit, het ek DIE ervaring van die CAmino gehad! Daar is ´n stukkie wat die pad lyk of dit ´n rivier word. Daar is net klippe om te loop op langs die rivierbed. Daar kabbel ´n stroompie daar deur, en dit is asemrowend mooi. Ek het net daar gestop, die rugsak afgehaal, en die oomblik geniet. En daar het ek die woorde van Psalm 23 skielik op ´n baie intense manier beleef: Waters waar daar vrede is...  En op daardie oomblik het ek een van die lewe se piekervarings gehad. Alles het skielik, vir een oomblik, net bymekaar uitgekom. Skielik was daar totale vrede- met God, my naaste, myself, die natuur... Ek weet nie hoe om dit regtig in woorde te beskryf nie. Maar dit was AWESOME!!!  Dis wat ek gesoek het, en ek het dit gevind...

Dit het my diep geraak, en  ek het lank daaroor loop en dink. So het die roete ook vandag op en af, deur plaasopstalle en klein dorpies, oor landerye en deur skilderagtige landskappe beweeg. EK neem verskriklik baie fotos, daar behoort ´n klompie mooi desktops te wees...

Toe, op km 95, nadat ek nou al 16 vir die dag gedoen het, kom ´n mens skielik op ´n draai af by Mercadoiro. En daar is ´n restaurant en Alburgue. Die restaurant speel die mooiste musiek. Ek het daar `n Paella geëet met ´n bier by vir €4. Die eienaar vertel my toe in gebroke Engels van ´n Suid- Afrikaanse Alburgue 2 km verder. En sowaar, 2 km verder sien ek dit in geel letters op die pad: "Stadig..." en ´n paar tree verder ¨net om die draai...¨ en as ´n mens om die draai kom, is daar ´n poort waar ´n Suid-Afrikaanse vlag groot wapper. Toe ek ingaan, is die Alburgue nog nie operasioneel nie. Maar die eienaar (Gordon) en sy seuns sit saam met drie Suid- Afrikaanse dames daar en wyn drink. En dadelik skink hulle vir my ook enetjie. Ek het baie lekker vir so ´n uur daar gekuier, en ek dink Suid-Afrikaners op die Camino sal hierdie Alburgue baie geniet as hy klaar is, so 2 km voor Portomarin.

Ek het saam met die Suid Afrikaanse dames (Linda, Kim en Sally)  ingestap na Portomarin toe, hulle is in ´n hotel, en ek het plek gekry in ´n privaat Alburgue, dit lyk asof die dorp se blyplek vinnig besig is om vol te raak. Die klomp Suid-Afrikaners het ´n tentatiewe aandete afspraak by Alburgue Mirador se restaurant. Ek sal ook daar probeer uitkom, dis lekker om vir ´n slag met ons mense te praat...

Laaste dingetjie, as ´n mens in Portomarin instap, stap jy oor ´n HELSE hoë brug die dorp in. Ek het sommer hoogtevrees begin kry. Dorp self is baie mooi, en dit lyk of die Camino sy enigste rede vir bestaan is.

VAndag was ver, 22.4 km. Maar dit was opwindend. ´n Mens weet net nooit wat om die volgende draai vir jou wag nie...
Km oor tot in Santiago- 89 km.

3 comments:

  1. Fantasties Ewald!! Ek ken daai gevoel en se dankie vir die Here dat jy dit op so 'n spesiale manier en plek kon ervaar - elke blaas werd!

    ReplyDelete
  2. Wat 'n belewenis, net om jou blog te lees!

    ReplyDelete
  3. Het gisteraand gou by Mirador hulle pelgrimsete geëet, maar ´n mens raak uitgeëet aan Pelgrimsmenu´s!

    Die Suid-Afrikaner met die nuwe Alburgue se naam is Gordon. Die Suid-Afrikaanse dames is Linda, Sally en Kim, en ook by die restaurant ´n Eugenie raakgeloop. Nog Suid-Afrikaanse dames van daardie groep is vanoggend verby my op pad Palas del Rei toe.

    Net om my feite so bietjie meer akkuraat te maak!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?