'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Thursday, June 30, 2011

Camino fotos deel 9- Sarria na Portomarin Dag 13

Van Sarria af raak die Camino skielik baie, baie besiger. Dit is omdat verskriklik baie mense net die minimum wil/ kan doen om 'n Campostela te verdien. Hier is my verhaal, waar die  laaste 110 km van die CAmino begin.

Vroegoggend bo in Sarria, op pad uit die stad uit:


Daar is weer ou, ou bruggies, waaroor baie geslagte se mense al loop. Ook baie miljoene pelgrims se voete is oor hierdie bruggie, insluitende myne...


Daar is weer pragtige ou bome, wat geslagte lank al kyk wie kom almal verby...


Daar is wonderlike gedeeltes deur ou ou bosse...



en soms moet jy ook op teerpaaie loop deur hierdie gebiede heen, met altyd 'n stapper of 'n fietsryer in sig...



Hierdie is om een of ander rede een van my gunstelinge:



Ek het in die blog geskryf oor my fantastiese ervaring van hierdie plek, waar die pad en die rivier mekaar se paaie gekruis het, en ek het dit " waters waar daar vrede is" genoem. Dit lyk dalk nie na veel op die foto nie, die atmosfeer op daardie plekkie was ongelooflik spesiaal, en hier het ek een van die hoogtepunt ervarings van my lewe ervaar.





Fotos vertel nie die verhaal van hierdie oomblik nie, jy sal jou eie reis moet onderneem om sulke oomblikke te kry, hulle kom nie voor die televisie of agter die rekenaar nie!

Daar was paaie deur gebiede wat muurtjies het soos die Engelse Lake District of Ierland...



'n Groot hoogtepunt vir my persoonlik was om by die 1oo km na Santiago bordjie langs die pad uit te kom:

"Die grafstene van kilometers suksesvol agter gelê"- Bileam se Donkie! (En my arme hoed!)

Ek het die Camino gestap juis om landskappe soos hierdie te kan geniet, mooi bosse, die sang van wilde kanaries en koekoeke...

Regtig mooi wêreld, hierdie Galicia provinsie van Spanje.

Net so 3 km buite Portomarin kry 'n mens 'n Suid- Afrikaner, Gordon se droom- die Suid Afrikaanse Alburgue wat besig is om te verrys. Nog nie oop nie, maar heerlik gekuier saam met hom, sy seuns en die Suid Afrikaanse groep dames wat daar voor my aangekom het. Die eerste ding wat waarsku, is geel letters in die pad wat sê "Stadig." En dan "net hier voor..." en om 'n draai-

Portomarin stap 'n mens binne oor 'n baie, baie hoë brug. (kyk hoe klein is die motor daar links op die brug. Dis BAIE hoog!) Dit is omdat daar glo 'n baie, baie groot dam hier êrens naby is, ek het dit nooit self gesien nie.


Op met die trappe reg voor jou, sal jy by die twee belangrikste Albergues uitkom(albei op die volgende foto, links die Mirador en regs is die Ferramenteiro). Ek het hulle aanvanklik gemis, omdat ek saam met die Suid Afrikaanse dames gestap het tot by hulle hotel, en toe aan die anderkant van die dorp reggekom het. Maar ons het aandete in die Mirador geëet, ek verstaan hulle is ook 'n baie lekker Albergue.

Wednesday, June 29, 2011

Camino fotos deel 8- Dag 12 Triacastellia na Sarria


Sommige dae in 'n mens se lewe loop so verkeerd, ander loop so ongelooflik reg. Soos my twaalfde dag van stap op die Camino. Skielik het die blase onder die tone sommer eelte geword, en nie meer gepla nie. Skielik was my bene nie meer so seer nie. En fotografies gesproke was dit een van my lekkerste dae ooit- ek moet myself keer om jou nie dood te verveel met 'n helse hoop fotos nie. Hierdie dag s'n was vir my mooi, weet nie wat Toast Coetzer van hulle sal maak nie...

Sê my eerlik, vertel hierdie huis nie ook vir jou 'n storie nie? Hy lyk op die rand van bouvallig, maar iemand het pienk malvas in die vensterbank geplant... Wat sou die storie van hierdie woning wees?


Hierdie volgende een is ook vroegoggend geneem- weer die ou fokusprobleempie waarmee my Powershot D 10 in vroegoggend lig mee sukkel. Toast sal baie kan fout vind, en ek sien dit raak. Maar hierdie is nou nie 'n foto blog nie, ek vertel 'n reisverhaal, dat julle ook die prentjie kan sien. Nie ver uit Triacastellia uit op die korter roete (in teenstelling met die Samos kloosterroete)  is hierdie plek. Dit is 'n gebedshuis. En dit was beman deur 'n paar Skotte, wat graag vir pelgrims bedien het met gebed soos jy verby kom. Die binnekant van die huis is mooi, warm gemeubileerd, baie gasvrye atmosfeer. Ek hou baie van Christene wat ander mense dien, sonder om die hele tyd rede te soek om hulle te veroordeel of hel toe te stuur. Soos hierdie mense- geen bybedoelings nie, net 'n opregte stuk omgee vir elkeen wat die Pad kruis...



Die volgende een kan julle maar vir Toast wys- ek is regtig nie skaam vir hom nie! Lyk dit nie lekker om daar te bly, op hierdie ou se plaashuis nie? Onthou- die sentrale tema is Die Pad.


Daar is 'n Camino poel op die roete, wat in elke gids verskyn, hier is my weergawe daarvan:



Daar is weer ervarings van op die bergpieke van die lewe loop, met die mis wat ver onder in die valleie lê.



Hier is die enkele rede hoekom jy moet vergeet van gister se bunkbed foto, en die blikkieskos foto, en begin spaar vir jou vliegkaartjie- kan jy jou hele lewe lank aangaan sonder om hierdie pad self te gaan stap?


(Lufthansa kaartjie R6200 retoer Madrid toe, 8 maande voor die tyd bespreek, R200 per dag op die roete- maak 'n plan!)

Vier vliegtuie op pad Amerika toe- hoe weet ek dit? Want ons is hier naby die Westekant van Europa- dan die Atlantiese oseaan, dan Amerika.  Hierdie omgewing is asemrowend mooi!


Ken jy daardie gevoel, soos Louie Giglio dit so mooi kan sê: Wow oh wow oh wow!




As 'n mens bereid is meer as die minimum te doen, dan kry jy hierdie dag, net voor jy by Sarria uitkom. Van Sarria af is die kortste Camino wat jy kan loop, en nog steeds 'n Campostela (sertifikaat dat jy dit gedoen het) kan kry. As jy die minimum doen, mis jy hierdie fantastiese dag in jou lewe, en dit kan mos nie!



Na 'n heerlike dag sien jy Sarria nader kom:



In Sarria moet jy nog 'n groot stel trappe klim om by die lekker Albergue's uit te kom, soos die Internacional. As jy hierdie trappe kry, kyk dadelik regs. Daar is 'n kampeerwinkel, wat goed soos John Brierley se gids in Engels verkoop! Luister nou na my, moenie soos ek dit eers hier koop nie, stap die hele ding met John se gids- dis die beste een! Stapskoene, kouse, rugsakke, alles wat jy nodig het, is in die winkel regs aan die onderkant van hierdie trappe.



En dan die baie goeie nuus- daar is 'n winkel in Spanje wat vir jou jou eie, persoonlike Malema kan verkoop! Kyk net daar, derde artikel:



Ten slotte- het jy al ooit voorheen 'n wonderlike preek op 'n enkele padteken gesien? Volg hierdie raad-

Tuesday, June 28, 2011

Camino Fotos deel 7- dag 11 O Cebrero na Triacastellia

Dis eenvoudig 'n basiese beginsel van die lewe- jy kan nie vir altyd op die bergpieke bly nie. Soms werk jy baie hard om bo uit te kom, en soms is die uitsig van daar bo af baie mooi. Maar aan die anderkant van elke bergpiek is 'n afdraande, wat ook maar deel van die reis is. So moes ek van O Cebrero af die volgende dag- 22 kilometer na Triacastella toe. Ek het oor hierdie dag sommer 'n tweede keer geblog.

'n Mens begin die dag in plantasies, dit voel baie soos op die Oos Transvaalse staproetes vir so drie kilometer. Dan begin 'n mens alweer klim.




Ja, dit is 'n redelike klim tot hier! Daardie standbeeld vertel nogal baie van die afgelope twee dae se Camino- hier is hy om meer te kan geniet...


Soms is die lewenspad mos maar so, en die Camino versinnebeeld dit net beter vir ons- soms beur 'n mens maar teen die elemente, die natuur, en dikwels ook teen jouself, om vorentoe te beweeg.

Maar soos altyd is die uitsig ongelooflik, en dit maak die reis die moeite werd.


Soms het 'n mens weer deur klein dorpies gegaan, sommige van hulle maar baie vervalle...


Ja, kerkgeboue in Spanje het gewoonlik twee klokke, 'n grote en 'n kleintjie. Dan speel hulle dikwels nog deuntjies ook daarmee.

Net buite Triacastellia kry 'n mens hierdie pragtige boom. Ek dink dis 'n Kastaiingboom (Horse Chestnut) maar moet my nie te veel op hierdie diagnose vertrou nie...


Triacastellia beteken "Drie kastele". En daar was lank lank gelede wel drie kastele daar gewees, maar daar is niks daarvan oor nie.
Net 'n waarskuwingtjie vir dié wat baie van privaatheid hou- soms lyk dit soos hier waar jy oorbly. En 'n mens raak selfs dit gewoond. John Brierley sê dit so mooi in sy gids- die Pelgrim leer dankbaarheid aan, dankbaarheid vir enige sagte bed en warm bord kos wanneer jy dit in die hande kan kry.



En soms, as die begroting nie groot genoeg is nie, of 'n mens net uitgeëet is aan 'n Pelgrimsmenu, dan eet 'n mens snaakse goeters uit 'n blik uit- alles vir energie na 'n lang dag se stap. Hierdie was toe nie te sleg op brood saam met 'n lang bier nie, dit was toe botterboontjies, en iets soos varkpense?

Monday, June 27, 2011

Camino Fotos deel 6- O Cebrero, dag 9 en 10

Wanneer 'n mens die Franse roete van die Camino stap, is daar sekere legendariese klimme ingebou. Die eerste een, vir die mense wat die hele pad van St Jean af stap, begin dit sommer met 'n "bang" met die Perenië wat die eerste dag al oorgesteek word na Roncesvallez toe.  Daar is 'n baie lang plat vlakte tussen Pamplona en Leon wat die Meseta genoem word, amper soos om die Vrystaat te deurkruis. (Dit het die ander my vertel wat ek ontmoet het, ek het eers in Leon begin agv tydsgebrek.)

Na die Meseta is die meeste mense baie gelukkig om weer te kan klim, soos daardie een verby die Cruz de Ferro. Maar die volgende grote is O Cebrero, waar die Leon Castillia provinsie ophou, en Galicea begin. En die oomblik wat 'n mens uit Villafranca del Bierzo uitstap, begin die klim na O Cebrero toe. Maar dit is ongelooflike mooi omgewing, dit maak die klim die moeite werd. Van Villafranca af klim jy vir baie lank langs die Rio Valcarce (rivier) wat vreedsaam naby jou kabbel en vir jou fluister dat enige iets moontlik is.  Vandag wy ons aan O Cebrero. Met groot respek.



Ekskuus, ek weet hy is so effens uit fokus uit, my kamera het vroegoggend partykeer gesukkel daarmee. Hier is hoe 'n mens vir lank uit Villafranca uit stap, reg langs die pad op 'n spesiale voetslaanroete, wat vir ver gedeeltes nog geel tartan ook is. Reg langs die riviertjie op.



Ten minste was die rivier altyd pragtig om na te kyk!

Soms was die beskawing en moderne lewe so ontstellend naby...


Daar is verskillende maniere om die Camino te doen. Stap is die oudste, jy kan ook te perd of donkie dit doen. Of met 'n fiets, maar niks met 'n enjin nie. Hierdie jong dame het dit in styl gedoen, met pappakrag. Ek wens net die pragtige, fikse mamma was ook in hierdie foto!


Baie mense vra wat is die een Albergue wat 'n mens nie moet mis nie. Die een antwoord wat ek gekry het, was die een in Ruitelan. Toevallig was dit die enigste plek waar die "bedbugs" my beetgekry het! Maar die diens was uitstekend in Ruitelan, baie gasvry, baie lekker aandete en ontbyt, alles saam met die bed vir E 15!
Hierdie foto van Ruitelan beskryf Spanje vir my so mooi: Landelik, baie, baie beeste (en beesmis!) plattelands, maar die moderne is altyd naby- kyk daardie helse hoë brue! As so groot lorrie 20 m lank is, dan moet daardie brue ten minste 60 meter hoog wees! Die Albergue is net links van die pad, daardie gebou met die terracotta fondasie en wit bokant.



Uit Ruitelan uit raak dit harde werk, maar ook steeds verskriklik mooi! Daardie ou bruggies doen dit ook vir my!


In hierdie gedeelte is volop water, en dit is lekker dat so baie van hulle toeganklik vir die pelgrims gemaak word. Baie soet, heerlike water.


Ja, hierdie fontein is ook na DAAI ridder van Hospital de Orbigo se brug vernoem, die een wat 300 ouens op die brug van hulle perde af laat val het vir sy meisie... Ja, daardie is 'n braaiplek langs die fontein, die Spanjaarde hou ook baie van braai en bier en jag- goeie mense...

Later die oggend begin die roete so lyk na 'n plek waar bobbejane dit net met kieries sal waag...


Maar saam met al die sweet word die uitsig ook al hoe mooier!


Ja, netnou was ons nog doer onder!

Kort voor bo gaan 'n mens oor die grens van die Galicia provinsie van Spanje, en dit lyk my almal het iets te sê daaroor- gekke en dwase was ook hier...


As jy hier uitkom, dan is jy in die laaste 100 meter van O Cebrero se klim...


Die Munisipale refugio bo op O Cebreiro is maar baie basies, en baie beknop, en tog ook netjies. Dit gee 'n warm stort en 'n warm bed, wat meer wou jy gehad het? Privaatheid? Nie op hierdie reis nie...



Vir die gebrek aan privaatheid maak die uitsig meer as dubbel en dwars op!


Hier bo op die berg het die windjie maar gewaai, en dit was koud. Maar daar is 'n paar restourante in O Cebreiro. Die een wat ek baie geniet het, was Meson Carolo, langs die onderste pad. Op die koue somersaand was daar 'n warm kaggelvuur, warm kos, en 'n gevoel van huislikheid.


Ja, na 'n uitputtende dag, as jy net koud binne bly selfs na die warm stort, dan is 'n warm bord kos, en 'n glasie rooiwyn, en 'n lekker warm hartlike plek, al verstaan niemand 'n woord wat jy sê nie, 'n baie mooi ervaring!



Net so notatjie vir dié wat wonder of hulle dit kan maak- ek het! En ek is sekerlik een van die wêreld se 10% swakste stappers agv jare se belegging in Castle lager en die gemeentetannies se koeksisters! Ja, jy kan dit maak, tree vir tree kom 'n mens teen enige bult uit, ek belowe!