'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Saturday, June 29, 2013

Drie geslagte dink saam tee...

Verlede week was die een ouma in ons dorp, nou die ander ene...

Al die dames in my lewe met dieselfde van as ekke...

Saturday, June 22, 2013

Annelie en haar ma

Vanoggend het ek vir Vroulief en Skoonma vir ontbyt geneem by Koro Creek- die Gholflandgoed op Nylstroom.  Dit is so 'n mooi klubhuis, en ten spyte daarvan bly dit die goedkoopste restaurant in die dorp!
.

Sunday, June 16, 2013

Vadersdag 2013 Soet en suur sover...

Die een ding wat ek in ons huishouding geniet, is die geleenthede wat ons soek om fees te vier. Ons vier verjaarsdae, heilige dae, onheilige dae soos Vaaltyn se verjaardag, en dan Moedersdag en Vadersdag...  Dit maak net seker dat ons die lewe in al sy fassette voluit geniet.

Maar hierdie Vadersdag het rof begin; een van ons gemeentedames is gisteraand in 'n motorongeluk oorlede.  Sy het twee klein dogtertjies, die jongste het my hart gesteel toe sy so mooi vir my glimlag toe ek haar doop...  Hulle almal het net hier skuins oorkant ons huis by hulle ouma gebly.  Dis 'n gesin waarvoor ek regtig baie lief is, en sulke nuus is baie traumaties.

Nadat ek daar gaan draai het, het ek op familieorders weer terug in die bed gaan klim. Die oudste twee kinders is nie hier nie, Anja werk deesdae by 'n restaurant in Pretoria, en Bernard is saam met Arno Botha se familie daar na Nelspruit toe om die toetsrugby op Mbombela Stadion  te gaan kyk. Daar kry Arno in die 3e minuut van sy 2e toets as Springbok seer...

Maar Annelie en die jongste het vir my 'n heerlike ontbyt in die bed bedien. Ek waardeer hulle omgee so baie!  Dis wat Gesin 'n lekker belewenis maak!  Sien met verwagting uit na middagete!


Saturday, June 8, 2013

Go Ahead, make my day...

Reeds in 2006 was die jongste maar lief vir sy gevaarlike speelgoed...

Sunday, June 2, 2013

Vanoggend se Philadelphia Preek

Ons geniet nou sulke lekker stormweer hier in die Kaap... Ons het die kaggel aangesteek, en sit nou met 'n glasie rooiwyn en geniet die vuur en mekaar se geselskap. Annelie sit en lees, ek sit en gesels met julle op my laptop...

Ag sommer net so bietjie meer oor vanoggend se preek:

Philadelphia is 'n klein gemeentetjie wat ek al 'n paar keer besoek het saam met my goeie vriend.
Op hulle uitnodiging het ek en Annelie vir die naweek afgevlieg, en vanoggend hulle erediens gelei.

Ek het gekies om oor Johannes 15:1-17 te preek, soos my Nylstroom-Oos vriende weet, een van my gunsteling teksgedeeltes. En reg oor die pad van die kerk in Philadelphia is die eerste wingerde...
God die Vader is die Boer. In liefde stuur Hy sy Seun na hierdie wêreld (Joh 3:16). Jesus bly in sy Vader se liefde. Hy is die Wingerdstok, en ons is die Lote.  Maar daar is twee soorte lote, vrugbare en onvrugbare lote.

Hierdie gemeente het die pragtige gebruik om die kinders aan die begin van die erediens na vore te laat kom, en dan word daar eers op hulle vlak met hulle gepraat. Ek het Anja gevra om my te help, om vir hulle prentjies te maak- die Hêppie Druif, en die Sêd Druif... (nou nie so genoem nie... :-) )

1. Sommige lote dra nie vrug nie...
" 'n Loot kan nie uit sy eie uit vrugte dra nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie...: Johannes 15:4

Dit gebeur mos nou so dat mense net vir hulleself wil lewe, sonder dat hulle lewens enige iets positiefs bydra tot hulle naaste. Dit is soos 'n loot wat al sy groei insit daarin om pragtige groot groen blare te hê- en dit lyk so weelderig en gesond! Maar dit waarvoor dit gemaak is, is nie daar nie- daar is nie druiwe nie...

Dit is hoekom die ou wêreld so stukkend is- so baie mense wat net vir hulle eie groei lewe...

Maar, daar is 'n baie beter alternatief!
En dis wat Jesus mos met ons kom deel het in Johannes 15
" Ek is die Wingerdstok, en julle is die Lote... wie in My bly, en Ek in Hom, dra baie vrug..."

Hoe lyk daardie vrug?  Jesus sê dit self- ons sal baie vrug dra as ons in Hom bly en sy opdragte gehoorsaam. En wat is daardie belangrike opdrag? "Julle moet mekaar LIEFHê"! So eenvoudig. Maar dit is wat die wêreld nodig het, dis in elke mens se lewe die vrug wat lewe bring: Liefde!  Dit maak van ons gelukkige druiwe:
Om lief te hê. Prakties. Nie net woorde nie!

Dit was vir my baie lekker om daar te preek so in die reën.  Dit was so kosbaar dat 'n hele klompie van my Kaapse vriende daar kon uitkom vandag, dankie julle! Ek is so geseënd met die kaliber vriende wat ek in Nylstroom en in die Kaap het!

En nou? Nou waai die wind. Dit reën. Dit sneeu in Adderley straat. Dit gaan rof in die weer. Dis nou die een aand wat ek nie graag op 'n motorfiets wil ry nie...

En tog... selfs in die storms is daar mooi oomblikke!
Kyk net hierdie foto wat ek enkele minute terug kon neem, ek kon dit nie waag om die venster te probeer oopskuif nie...


Ons was nou te lui/bang/moeg om ons goeie vriende van Bloubergstrand se aanddiens te gaan bywoon. Wat gebeur vanaand in ons lewe? Die kaggel brand, vroulief lees, ek speel op my laptop met julle, en ons drink saam rooiwyn-  Raka Pinotage...  'n 2011 Michelangelo bekroonde wyntjie...
Dis 'n absolute fantastiese aand, ten spyte van die weer...


Ek hoop jy het ook 'n fantastiese aand daar waar jy ook al mag wees...

Ek en Annelie ALWEER in die Kaap...

So gebeur dit toe mos dat die vriendelike gemeente in die Kaap vir my nooi om vanoggend by hulle te kom preek. Hulle sê Annelie moet saamkom. Hulle koop selfs vir ons vliegkaartjies... Hoe kan 'n mens dan nee sê vir sulke wonderlike geleenthede in die lewe. So ek en Annelie is in die Kaap op die oomblik. 

Ek het vanoggend my heel beste probeer met die preek. So ligte ou glipsie of twee gehad langs die pad, daar was so effense misverstandjie oor op wie die liedere op Powerpoint moes hê... maar niks ernstig nie. In die Kaapse stormweer was daar nou nie so baie mense in die kerk nie.  Maar ek het dit geniet om in die historiese ou geboutjie te mag preek... 

Onse kinders is veilig by ons huis, en ek en Annelie geniet 'n paar dae saam, soms met goeie vriende, soms lekker alleen. Ons het bv gisteroggend baie lekker ontbyt saam geëet by die ou Farmstall by die Total garage net buite Melkbosstrand, so skuins agter Atlantic Beach se Golflandgoed.  Dis koud en nat in die Kaap. Maar dit maak dit so lekker voor die kaggelvure... 


Hierdie reis doen ons sommer baie goed!  Ons eet baie interessante disse op baie interessante plekke, niks Wimpy of Spur nie, net lekker onafhanlike plekke wat hulle bes doen om goeie kwaliteit voor te berei.

Maar more is die pret alweer verby, dan moet ons alweer op die vliegtuig spring, en 'n verskil gaan maak waar ons geroep is om te wees...  Ek geniet net hierdie wegbreekkansie saam met my vrou geweldig baie!