'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, September 14, 2011

DAARDIE boek oor wie niemand my glo nie...

Daar was vriende wat my nie geglo het dat hierdie boek bestaan nie...  Moet nooit met my oor boeke stry nie...


Dog ek wou net sê...

Saturday, September 10, 2011

Die tragiese verhaal van die einde van 'n Droom...

Eendag lank, lank gelede, verlede Saterdag om presies te wees, het die jongste prins in die Koninkryk van Schmidt besluit om 'n boer te word. Tydens die kerk se fees het hy twee kuikens gekoop.  Hulle name is dadelik gegee as Mollie en Wors. Die vader van die huis was diep geskok- hy het nie eers geweet dat die jongste weet wie is  Mollie en Wors nie.

En so is die droom van Stephan's Fried Chicken gebore. Nou nie in die prins se gedagtes nie, hy is lief vir diere. Hy sien net groot hoenders en baie kuikens in die agterplaas in sy gedagtes... Maar sy ouers sien Barrells en Nuggets!

Saam met Mollie en Wors het 'n sakkie kuikenkos gekom, en gelukkig is daar 'n leë voëlhok in die agterplaas.

Die hele week het ons die gerusstellende tweet tweet tweet uit die hok gehoor. Die boerdery was op koers, die toekoms blink.  Maar Woensdagaand het die doodsengel van klein kuikentjies die eerste keer opgedaag. Wors is wreed uit hierdie wêreld weggeruk. Sy plek is leeg, sy stem is stil. Sy nageslag sal nie meer 'n reuse besigheid kan oplewer nie. Donderdagoggend lê Wors bones in de lite in sy kosbak. Daar is ook geen waardigheid in die dood nie! Daar is plegtig begrafnis gehou, en Wors is te ruste gelê onder die ou Kareeboom in die pastorie.

Mollie het diep getreur. Die lewe sonder haar Wors was vir haar net te veel om te hanteer. Sy is gediagnoseer met Major Depressie. Die lied in haar hart was weg. Die toekoms het soos 'n eindelose reguit pad deur die woestyn voor haar gelê. Is daar Prozac op die mark vir 'n twee weke oue kuiken sonder 'n mammie of 'n pappie, en sonder haar lewensmaat?

Die las was net te swaar om te dra. Die dekselse doodsengel van klein kuikentjies was weer in die omgewing. Gisteraand het Mollie nog verwese gepiep...piep... piep. Maar dit het al swakker geword. Die vonk van lewe het al laer gebrand. Die prinses van die koninkryk het dit gehoor, en vir 'n slag haar ontferm oor die swakkere. Sy het Mollie in die donkerste duisternis gaan haal, en in die huis in 'n boks kom sit...
Helaas- die skok was te veel. Vanoggend, toe die son opkom, was Mollie nie meer met ons nie...


Die hartseer eindig ongelukkig steeds nie hier nie...

Gisteraand, tydens die noodbehandeling, het die mediese personeel 'n inspuiting gebruik om die moeë Mollie te rehidreer.
Vanoggend, na die hele treurspel in die lig gekom het, het Stephan oudergewoonte die inspuiting gegryp, en vol water getrek, en in sy mond gespuit. Kort daarna het die skokkende nuus gekom: daardie inspuiting het dan Mollie probeer help...

Stephan was dadelik in 'n toestand. Hy weet genoeg van kieme en besmetting om dadelik in sy gemoed die prentjie te sien van 'n dodelike hoendervirus wat Mollie geëis het, wat nou ook op hom vatplek gekry het.
Sy prognose, selfgediagnoseer, is dat hy nou vyf maande oor het om te lewe. En dadelik is hy depressief...

 Sy suster gebruik natuurlik die geleentheid om hom te verseker dat hy nou hondsdolheid het...
Dis die einde van die Wêreldwye Hoender Franchise droom- Stephan's FC sal nooit KFC inhaal nie.

Nou is Stephan baie depressief. En as hy depressief is, haal hy sy kitaar uit. Hy verwoord sy pyn in musiek, in die tradisie van Leonard Cohen, of Ella Fitzgerald, of Edith Piaf.  Die lewe se pyn word melodie en rym... ongelukkig kon ek nou nie presies die woorde hoor daar in die tuin nie.


So geliefdes, dink asseblief vandag aan hierdie huis van smart...  Ons pyn is diep...
Maar met die genade sal ons dit seker maak...