'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Tuesday, May 31, 2011

Camino de Santiago- Dag 1 se Stap

Vandag is waaroor die Camino droom nou eintlik gegaan het. Ek het gister op die trein al baie opgewonde geraak toe ek so 20 minute uit Leon uit ´n voetpaadjie met die Camino teken opgesien het. Die Camino het regtig ´n roepstem wat ´n mens kan hoor!  Ek het gisteraand baie lekker gebly in die Hostal Don Suero, en die Camino stap by sy voordeur verby.
Gisteraand nadat ek ingeboek het, het ek na die katedraal toe gehaas, om hom hoop te kry. Ek kon my eerste Camino sello (stempel) in my Pelgrimspaspoort kry, en daarmee het my Camino begin. Ek het ´n hele ruk in die katedraal gesit, daar het die mooiste chant musiek gespeel, en die loodglasvensters is toe so mooi soos wat hulle sê. Ek het daarna na die Kapel van San Isidoro toe gestap, wat glo ´n verpligte stop op die antieke Camino was.  Heel heilig, al werk hulle met jackhammers buite en bid binne!

VAnoggend so half agt in die pad geval- ek was nie lus om nog ´n dag in Leon te verwyl nie. Het heel vinnig gevorder tot by Virgin del Camino, wat ´n stuk semi-industrieële gebied deurgegaan het.
Daarvandaan is daar ´n keuse- 24 km na Hospital de Orbigo toe langs die snelweg, of 26.5 km deur die veld. Wat kies ek toe? Die laaste een. Baie verder tussen plekke! Maar beter as om langs ´n besige pad te stap? Eers stap ñ mens 3.5 km tot by Oncina, baie klein dorpe waar almal reeds weggeraap is op 21 Mei!  Dan ´n lang 5.5 grondpad na Chozas de Abajo toe, waar drie persone die wegraping oorleef het!
Nog 4 km en ´n mens is by Villar de Mazarife. Van baie ver af adverteer Tio Pepe sy Auberge, en dit is ´n baie lekker een vir net 7 Euro per nag.  Ek is in ´n kamer met 2 bunkbeddens, en ´n Duitser wat lyk of hy gaan snork, is langs my. Ek gaan vanaand tog maar vir die eerste keer uiteet, pelgrims menu is 9 Euro en ek is nou moeg vir brood en salami, en hier is nie ´n supermark nie!

Ek het vandag net 20 km gestap, maar ek is baie styf en seer. Die rugsak voel vrek swaar, ek dink nat wasgoed het iets daarmee uit te waai. Regtervoet het 4 blase. EK het nou klaar gestort, en toe my klere gewas.  Vroeë dag, ek weet, maar die volgende dorp is 9 km weg- vandag sou dit te ver gewees het!
Alles hier is net in Spaans, ek gaan niks kan lees in die biblioteek nie! Sal moet werk aan my sondige siel, dis waarvoor ek tog hier is.

Die vraag vandag is: hoekom is ek hier?  En vandag se gebedspersoon langs die pad is Annelie.

2 comments:

  1. Ewald, Geniet die stap. Ons weet dit sal goed gaan. Cloete groete

    ReplyDelete
  2. Hi Ewald! Klink wonderlik sover - hoop jy't daai Compeed by die apteek gekry vir die blase... Als van die beste vir die res van die stap!

    Groete hier van die Kaap af!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?