'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, May 18, 2011

Die roem en die eer in John Knox se kerk

John Knox en Mary, Queen of Scots
Die een ding wat ons mense graag wil hê in hierdie wêreld, is so bietjie erkenning vir dit wat ons ons lewe voor opoffer. 

John Knox (1514-1572) was die leier van die Skotse Reformasie.  Hy is in die Universiteit van St Andrews opgelei as Roomse priester en georden in 1536.
Hy het met baie groot persoonlike opofferings weggebreek van die Roomse Kerk, om eers by die Church Of England aan te sluit.  Hy was bv nie baie gewild onder die invloedryke Rooms Katolieke adel van sy dag nie, omdat hy uit Daniël 7 die Pous met die Antichris vergelyk het. (tydens sy intreepreek in een van die gemeentes wat hy bedien het.) Twee van die belangrikste konsepte waar hy van die Roomse Kerk sy lewe lank verskil het, was die outoriteit van die Bybel alleen (Sola Scriptura) en die redding deur geloof alleen (sola Fidé). In die prediking hieroor kon hy nogal baie hard oorkom.


Op 29 Julie 1547 het 'n vloot van Franse galleie St Andrews binnegeval, en hom saam met ander protestantse adellikes gevange geneem. Hy het vir 'n tydperk (19 maande) as galleislaaf geroei vir die Franse. Dit het sy gesondheid 'n ernstige knou gegee. Hy is in 1549 vrygelaat, hoe dit gebeur het is nie heeltemal seker nie.

Toe Mary of Tudor koningin van Engeland word en die Rooms Katolieke kerk in Brittanje in ere herstel, moes Knox land-uit vlug, onder andere na Genéve en later na Frankfurt toe. (In Genéve het hy vir Calvyn 'n harde tyd gegee.) Hy het later met die Church of England gebreek oor meningsverskille rondom liturgie.

Hier rondom 1560 het die Skotse Reformasie ernstig aan die gang gekom. Knox is in hierdie tyd terug in Edinburgh, waar hy vir Mary, Queen of Scots, ('n Rooms Katoliek) 'n verskriklike doring in die vlees was. Hy het soms openlik gevra dat die Koningin tereggestel word vir haar Roomse geloof! Hy het onder andere gesê hy is bereid om haar heerskappy te aanvaar, net soos wat Paulus Nero se heerskappy aanvaar het. Van 1560- 72 was hy by die St Giles Church in Edinburgh die leraar, en gedurig besig om te karring aan die Britse koningshuis.  Hy was vir geen mens bang nie, en sou die hel met 'n emmer water bestorm as hy kon! Hy is op 24 November 1572 oorlede terwyl sy jong vroutjie vir hom gelees het uit 1 Korintiërs.

John Knox was revolusionêr, en het selfs geweld goedgepraat om sekere doelwitte te bereik. Hy het hard baklei vir die vryheid van mense, en het ernstig gepreek teen 'n onregverdige regeringstelsel wat mense onderdruk.  John Knox het die Rooms Katolieke invloed in Skotland omver gewerp, en het die vader van die Presbuteriaanse kerkstelsel wêreldwyd geword. Hierdie stelsel het hy verkies bo die meer algemene Anglikaanse kerk van sy tyd.

Hy was 'n baie groot invloed in die Gereformeerde Kerkgeskiedenis. Watter erkenning sou hy daarvoor kry by sy eie kerk- St Giles in Edinburgh? Kyk bietjie hierna: Hierdie is nie sy graf in die kerk nie, dis  'n moeilikheidmaker van 'n eeu later s'n.  (James Graham, die 1e Markies van Montrose- 1612-1650)
Sir James Graham, Markies van Montrose se graf binne die kerk. 

En wat het van John Knox se graf geword daar by St Giles kerk?

John Knox se graf- onder parkeerplek nommer 23.
Dit is die ironie van die lewe- John Knox is baie meer bekend in die kerklike wêreld, as wat James Graham ooit kon hoop om te wees.
 Miskien is die belangrike lessie hierin dat ons nie altyd in hierdie wêreld die erkenning gaan kry, of die vrug gaan sien van ons jare se harde werk nie!  Is dit nie dalk wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het mot en roes gaan ons skatte hier op aarde vreet nie, ons moet skatte in die hemel vergader, waar mot en roes dit nie kan bykom nie?

2 comments:

  1. you are invited to follow my blog

    ReplyDelete
  2. Loodglas venster heel bo op Wikipedia gesien, hier is sy plekkie op aarde as jy graag daarna wil gaan kyk:
    From Covenant Presbyterian Church, Long Beach, California, USA

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?