'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, May 16, 2011

Maandag is nie vir sissies nie!

Kom ek bely sommer heel eerste: ek het vanoggend eers 08h00 my karkas met groot moeite uit die bed gesleep. Fisies voel ek op. Dit kan die naweek se stappery wees, en die feit dat ek nie op die oomblik enige vitamine aanvullings gebruik nie. Ek dink dit kan die week se vol dagboek wees, vanaand gaan weer tot na 9 aanhou met alles wat gedoen moet word. Daar is so baie klein dingetjies wat aandag vra.

Ek dink die probleem is dat Maandag net te kort op Sondag se hakke volg. Na Sondag se aanddiens is daar net die M-Net fliek om jou te help verstaan een week is verby, en die volgende een het begin. Maandag bring soveel nuwe probleme, 'n nuwe siklus van routine. Maandagoggend is so ver van Vrydagaand se braai saam met my geliefdes af.



Ek het gister gesien een of ander baie bright spark is nog steeds baie ongelukkig dat weeksdae na Romeinse afgode vernoem is. Dit is glo die vroeë kerk se skuld. Sommige dae wil ek net histeries begin huil in my hande oor alles wat die kerk se skuld is. Maar in elke bondel nonsens is daar gewoonlik een waarheid, en die betrokke persoon het 'n punt beet, met Maandag. Daarom wil ek hom vriendelik vra om die volgende met die Illuminatie en die Pous in Rome te gaan reël, sommer die Vrymesselaars en die Blinde Taxibestuurdersvereniging van Gauteng ook:
Kan ons nie maar Maandag afstel, en direk oorgaan na Dinsdag toe nie? Maandag is nie bevorderlik vir die geestelike welsyn, psigiese ontwikkeling en fisiese groei van enige mens nie.  Maandag foeter elke mens tog net op. Kom ons stel hom af!


http://www.ginside.com/2007/867/comics-garfield-on-mondays/

1 comment:

En jy daar, wat sê jy?