'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, May 9, 2011

Die vloek om vervelig te wees...

Foto deur http://djrazaq.blogspot.com/2007_11_01_archive.html
Vrydagaand gesels so 'n paar van my geliefdes om die braaivleisvuur. Mense wat regtig naby aan my hart lewe.  Mense wat ek met my lewe kan vertrou.


En hierdie goeie mense vertel vir my: hierdie blog van my is uiters vervelig. Dis seker hoekom ek net twee "followers" het!

Ek dink dit is die enkele ding wat ek nog altyd mee gesukkel het. Ek is 'n vervelige persoon. Punt.
Daar gebeur nooit regtig iets opwindends in my lewe nie, behalwe wanneer my vrou my die dag wel soen.  Of die kinders my beursie uitlos. Of die kat nie teen my bed piepie nie. Sulke dinge is baie opwindend in my lewe!

Ek is maar 'n doodgewone mens. Ek het nog nooit in sport presteer nie. Ek het gewoonlik reserwe vir die Hoërskool se derde span gespeel, behalwe wanneer daar genoeg ouens vir 'n vierde span was- dan het ek reserwe vir die vierde span gespeel.

Ek het ook nie op skool in die kring van die nerds tuisgekom nie, met 'n C- gemiddeld in matriek kan jy nie as akademiese reus gereken word nie.
Ek het nog nooit valskerm gespring nie. Ek het nog nooit 300 km/h op 'n motorfiets gery nie. Ek het nog nooit in 'n regte, egte Ferrari gery nie, wel 'n kit-car ene. Ek het lanklaas 'n donut met my kar of motorfiets gespin. Ek is die stadigste fietsryer in die dorp, en ry ook die stadigste motorfiets van almal wat verder as die Pick 'n Pay ry.


Ek is nog altyd met dieselfde vrou getroud, het nog nie eers ogies gemaak vir 'n ander man se vrou nie. Ek het nog steeds dieselfde kinders wat ek soms help grootmaak. Nog nie ander op 'n ander dorp gaan maak nie.

Ek is nie die handsomeste ou in die dorp nie. Ook nie in die straat nie. Nie eers in my eie huis nie.
Ek kan nie ander tale praat nie, selfs die Engels kom krom en skeef uit. Ek kan nie die Bybel in Grieks of Hebreeus aanhaal nie.

Opwinding in my lewe is om my hare anders te kam. Om nuwe onderbroeke by Woolworths te gaan koop, is vir my exciting! Ek hou van 'n nuwe boek, om daar eenkant op die party te sit en lees. Vakansie is om die Weg op die toilet te sit en lees. Die diepste lewensfilosofie wat ek verstaan, is Bart Simpson, nie Karl Barth nie. My gunsteling stokperdjie is om in die veiligheid van my studeerkamer ander mense se opwindende lewens op die blogs op die internet te volg.

Ek is 'n pliggie in my werk- sal nooit stir nie, en nooit moeilikheid maak nie. Ek sal alles presies doen soos my kerkraad van my vra. Ek het nog nie op 'n sinode opgestaan en iets gesê wat die gang van die geskiedenis verander het nie.

Die tagtigs se musiek is vir my mooi.
Die mooiste vrou in my wêreld is 45 jaar oud.

As my lewe so boring is, dan is daar ook nie iets opwindends om oor te skryf nie. En as ek iets boring skryf, is daar net twee lewendige mense wat dit lees.
So, haal jy nog asem?

http://dimensionministries.com/blog/?m=200904

10 comments:

  1. Ha-ha! Wel, ek sien jou 'followers' het verdubbel - daar's nou 4! As 'n mede blogger wat verstaan hoe lekker dit is om ander blogs te lees (kyk hier 'comment' ek nou op een wat ek lees...)verstaan ek hoe lekker dit is om te sien IEMAND lees wat jy skryf! As hulle iets te se het oor jou stellings of net wil saampraat of 'n ietsie mooi se, wel, wat 'n bonus!

    So ek dink nie jou blog is vervelig nie, ek dink jy't nie so baie 'followers' nie omdat jy in afrikaans skryf, so dit beperk wie dit gaan lees en soos 'n skrywer van 'n boek ook maar moet doen - jy moet mense laat weet dat die blog bestaan!

    Ek moet eerlik wees, ek sal liewers 2 mense wil he wat my blog rerig volg as 'n 100 wat nooit daarna kyk nie. Dis mos maar soos om 'n koffietjie met mense wat belangstel in 'n mens se siening, oor watookal, te geniet!

    Nog 'n ding - nie almal los 'comments' nie maar hou wel daarvan om net te lees, so jy weet dalk nie eers hulle het kom kuier nie!!

    Ek vind ook dat as ek 'n blog kry wat ek baie geniet, los ek gereeld 'comments', op 'n kol kom kuier daai blogger weer op my werf en so begin 'n mens 'n blogging gemeenskap wat dit die moeite werd maak om gereeld te blog!

    Jy't nou seker lekker tong-in-kies geskryf hierbo, maar anyway, hier's my 5 sent werd!

    Voorspoed met die Camino voorbereiding - min dae!

    ReplyDelete
  2. Dankie Emilene! Nou voel ek beter! :-)
    Maar ek verstaan mos nie Engels nie, ook nie Mandaryns of Swahili of Russies of Spaans of Hindi nie, so al die menigtes het my nog nie ontdek nie. Maar jy het! Thanks!

    ReplyDelete
  3. Ek geniet jou manier van vertel en mens-stories is nooit vervelig nie :-)

    ReplyDelete
  4. Ag, ek is darem ok redelik gereeld hie om te sien wat jy kwytraak... darem een follower by, hoor!

    ReplyDelete
  5. Gaan kyk bietjie op my site - ek het die Google 'Translate' funksie opgelaai - hy vertaal sommer jou hele site in 'n hele string tale...

    Sit amper heel bo op die blad aan die regterkant. Dis nie altyd 'n perfekte vertaling nie maar 'n mens kry darem 'n idee van waaroor dit gaan!

    www.caminosantiago2012.blogspot.com

    ReplyDelete
  6. Emilene- daardie vertaalfunksie skryf partykeer baie gevaarlike goed! Dit lees nie altyd dieselfde nie...

    although I am not able to understand English, it would also entail me trying to express myself in a very unfamiliar vernacular, and it would lead to existentialistic crisis of an immense magnitude trying to make myself understood to the average specimen of homo sapiens, with the possible outcome to reach a level of mutual understanding of meaning, or, alternatively, of no comprehension at all. Understand? Nee, dit was nou nie die vertaalfunksie nie, dit was sommer net ek wat nonsens praat. Sorry- weird bui vanaand!

    ReplyDelete
  7. Dit was nog altyd die vervelige intelligente ouens wat my aandag getrek het...

    ReplyDelete
  8. Ewald - ek het 'n paar weke terug 'n Camino werkswinkel in die Kaap bygewoon - sal vir jou die notas met 'n menigdom informasie stuur as jy belangstel. Stuur net vir my 'n email adres en faks nommer.

    ReplyDelete
  9. Jys nie te boring nie ou man
    xx Anja

    ReplyDelete
  10. Sjoe! Ek lees ook darem hier. so dis nog een by! Terloops, JY het by MY gelees en toe ontdek en JOU en nog 'n hele paar ander! :)
    Soms sukkel mens net om 'n comment te los, dat ek by die 3e of 4e poging maar los. Ek wonder of daar nie 'n verstelling is wat jy kan maak om dit te vergemaklik nie??

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?