'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Friday, May 27, 2011

Camino de Santiago- D- Dag Zero, H- Hour 11 ure presies!

Die aftellingshorlosie op my blog, wat ek 74 dae terug opgesit het, het nou afgetel na ZERO dae toe. Vandag is die dag! Volgens die horlosie styg ek, hopelik met 'n Lufthansa vliegtuig onder my alie, om 18h45 op.
 More-oggend net na vyf besoek ek Frankfurt in Duitsland, maar net vir twee ure. Toevallig, toe ek die eerste keer as skoolseun op 'n koortoer in Europa was, het ons van Frankfurt af teruggevlieg. Daar was nog sulke ou vliegtuie in die dak opgehang. Maar ek sal nie tyd kry om eers te gaan loer daarna nie, net hardloop, en die Spanair vliegtuig gaan soek. Sewe-uur vlieg ons Madrid toe. Ek het gisteraand weer mooi gekyk hoe Madrid se Metro werk, om by my hotel uit te kom.

Ek sien baie uit na Sondag- daar is 'n baie interessante mark aan die gang by die La Latina seksie van Madrid (El Rastro). En op Sondae, sê die reisgids, is die Prado museum gratis oop vir die publiek. En dit is nog nie hoogseisoen nie, dalk kan ek ongestoord kyk na Velzques, en Dega, en Goya, en El Greco, sowel as 'n paar Italiaanse en Flaamse en Duitse en Hollandse Meesterstukke.  Daar is ook die Museo Thyssen- Bornemisza,  en die Centro de Arte Reina Sofia om te besoek, maar die tyd gaan te min wees. Saterdag of Sondag sal daar 'n draai gemaak moet word in die Parque del Retiro, 'n pragtige park, wat ook spog met 'n standbeeld van die duiwel (El Anglo Caido- the Fallen Angel). So baie om te sien, maar so min tyd. Want Maandag moet ek of per bus of per trein na Leon vertrek. Ek is mos maar 'n sissie, ek het gisteraand alweer 'n hotelkamer teen Euro 24 op die internet bespreek, net om nie te sukkel nie. Dinsdag gaan ek eers die katedraal van Leon se loodglasvensters bewonder, glo van die heel mooiste in Europa. Dis 'n antieke stad, baie om te sien. Daardie aand gaan ek die eerste Camino Auberge opsoek, en vir 3-8 Euro oorslaap tussen 100 mense in een groot saal. Ek het slaappille en oorpluisies.  Woensdagoggend begin ek werk aan die blase op my voete.

Van Woensdag af is die tyd absoluut vloeibaar, ek dink ek moet selfs die horlosie afhaal, en net in die ritme van die Camino begin inval. Alles is dan oop, tot die aand van die 20e, wanneer ek weer 'n hotelkamer in Madrid het, en die 21e vlieg ek terug Suid-Afrika toe.

Ek sal so nou en dan probeer by 'n internet kafee uitkom, en my 9 getroue lesers opdateer waar ek is, en wat ek doen.  Ek weet nie hoe maklik dit gaan wees om ook 'n fototjie of twee op te sit nie.
Ek weet dis my eie skuld dat ek so lank van die huis af gaan wegwees. Maar dink asseblief aan my, ek is eintlik baie meer huisvas as wat julle dink. Dis die nadeel van 'n baie gelukkige huwelik! Ek wens so Annelie kon nou al hierdie ervaring meemaak. Dit was nie nou moontlik nie. En ek gaan verskriklik baie verlang as ek mooi dinge sien, en nie met haar dit kan deel nie.  Na 'n dag of twee verlang ek my ook dood na my kiddies, na Anja wat die deur so kan toedonder, en dan 'n rukkie later bel om te sê ons moet asseblief veilig ry. Na Bernard se humorsin, na Ewald se verstrooidheid en opregtheid, en na Stephan, wat soveel insig kan hê, en wonderlike vrae kan vra.  Twee dae nadat 'n mens tuis gekom het, is dit gewoonlik alweer bloed en bottelstukke wat waai. Maar dis my mense, en hulle maak my lewe!

Ek gaan in die groot oomblikke ook my vriende mis. Daar is soveel van julle wat deur julle vriendskap regtig my lewe baie lekker maak, en volgende keer kom julle saam, dat ons saam kan suffer en blase probeer fix, saam kan moan en groan, en saam feesvier in die aande om 'n botteltjie Spaanse rooi!

Familie en vriende, ek gaan julle baie mis! Julle is vir my kosbaar, en soos vier dae terug sê ek vir elkeen van julle: Baie, baie dankie vir wat julle in my lewe beteken. 'n Mens is mens deur mense, sê die Sotho's. Julle menswees maak my lewe die moeite werd.  Seën en liefde vir julle elkeen!


Mag daar 'n pad wees... (Yol Bolsun- Turks)
Ewald die Geseënde

3 comments:

  1. Naskrif- Ek het gister my rugsak gaan weeg by Jimmy se fietswinkel, en hy is net 10.3 kg- ek is baie dankbaar!
    Tweede stukkie blydskap- Grimsvotr gaan ons nie vir die volgende 48 ure pla nie, sê die webwerwe.

    ReplyDelete
  2. Voorspoed! Onthou om 'n afskrif van jou paspoort en vliegkaartjie te scan en na jouself te email sodat jy dit maklik kan 'print' as jy moet. Neem ook 'n plastiek Jiffy sakkie met 'n ziplock vir jou dokumente en geld/kredietkaart en 'n Checkers sakkie of iets waarin jy dit kan hang agter die handoek as jy gaan stort - jy kan nooit te versigtig wees nie!! Albergues lyk my is oop vir almal... (Jammer, ek is ma en gewoond om jare al vir my kinders instruksies te gee!! :)

    Voorspoed, ek sien uit daarna om al jou stories te hoor!

    Buen camino!

    ReplyDelete
  3. Geniet elke oomblik en ek sien ook uit na die verslaggies en miskien 'n foto of twee :-)

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?