'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, May 8, 2011

Om eendag met waardigheid te gaan deur die Jordaan...

Ek was vanoggend by 'n baie besondere troosdiens. My pa is al in 1993 oorlede. My ma het nooit weer getrou nie. Die afgelope sewe jaar (ongeveer) het sy 'n Engelse vriend in haar lewe gehad.  Hulle twee was baie goed vir mekaar, en dit het die eensaamheid in albei se lewens weggejaag.

Die Engelsman is Saterdagoggend aan kanker dood. Hy was op pad 72 toe.

By die troosdiens vanoggend het baie mense geleentheid gehad om te sê hoe hy hulle lewens aangeraak het. Ja, ek het geweet hy was in sy jonger dae maar baie bedonnerd gewees, en het nie altyd goeie verhoudings met sy gesinslede gehad nie. Ja,  ek weet dat die verhouding tussen sy kinders ook nie altyd so lekker is nie.

Dié Engelsman was baie eksentriek. Hy was skatryk- het bv twee maande gelede 'n Prado 4l splinternuut gekoop met al die ekstra lekker dinge in, en hy self het seker nie 100 km in hierdie wa gery nie. Hy het elke Desember sy uitgebreide familie, en my ma, na 'n luukse oord in die Drakensberge toe geneem oor Kersfees. Baie geld gehad. Maar hy het nog steeds vir elke mens wat sy pad gekruis het, gevra wie hulle is en waar hulle vandaan kom.  Dit kon ons soms ernstig irriteer. Dan eet ons in 'n restourant, en hy vind die kelnerin se hele geskiedenis uit- wanneer sy uit Zimbabwe uit gekom het, of sy kans gehad het om verder te leer, of dit goed gaan met haar ouers of sy haar mooi glimlag by haar pa of ma gekry het. Soos sy eie seun sê: soms baie cheesy!

So totaal anders as ek. Maar ek het vandag na getuienis na getuienis geluister oor sy lewe. Hoe so baie mense getuig hoeveel sy gasvryheid vir hulle beteken het- hy het graag by sy kerk se deure gestaan en mense verwelkom. Hy kon dadelik sien as iemand nuut daar inkom. En met sy persoonlikheid kon hy hulle dadelik laat welkom voel.  Hy was dieselfde teenoor hooggeplaastes en motorwagte. Ek voel skuldig dat dit my kon irriteer dat hy so was- ek dink hy het iets verstaan wat ek nog moet leer in die lewe- elke mens wil net so graag raakgesien word, en bietjie erkenning kry vir hulle lewensverhaal.

Op sy sterfbed het ek hom ook besoek wanneer ek ook al vinnig in Pretoria 'n draai gemaak het. En in die hospitaal kon hy nog steeds sy humorsin behou, en ook sê daar is nog altyd iets om voor dankbaar te wees.
Toe hy sterf, was sy versoek om in die eenvoudigste kis moontlik geplaas te word, en veras te word. En hierdie was vir my, wat al baie mense se afskeidsdienste gelei het, 'n eerste. Die kis is Woensdagoggend by sy huis afgelaai, (leeg natuurlik!) Al sy kleinkinders het gekom, en hulle het sy kis versier soos hulle dit graag wou hê. 'n Eenvoudige dennekis het 'n wonderlike familiestorie begin vertel, van kleinkinders wat werklik lief is vir hulle oupa. Elkeen het deel gehad aan die versiering van die kis- hulle almal is omtrent nog voorskools.

Elkeen van ons het maar ons eie kwota klonte. Elkeen van ons jaag maar aan in ons lewe, niemand van ons het die volmaakte storie met ons lewensverhaal geskryf. Maar waar daar liefde is, daar is God die Heer! (Ubi caritas est, et amor, ubi caritas est, Deus ibi est.)

Dankie Robbie, dat ek jou ook kon ken, met jou klonte en al, met jou irriterende gewoontjies, met jou eksentriekheid. Jy was eg jy, sonder om maskers op te sit. En dit waardeer ek die heel meeste van iemand op hierdie stadium van my lewe.
Ek hoop daar waar jy nou is, kan jy baie mooier sing, en 'n lekker dansie dans!

Ter herinnering aan Robert James Douglas Macintosh- 6 September 1938- 30 April 2011

2 comments:

  1. Dis nou die mooiste kis wat ek nog gesien het. As ek in ´n here geglo het sou ek dink dat hy met trane in sy oé na die kis van liefde gekyk het en geweet het dat dit ´n kis van liefde was en nie ´n somber kis wat so traditioneel moet wees soos al die kiste wat ´n mens al die jare gesien het nie. Maak nie saak hoeveel die kis gekos het nie, dis nie die duur kis wat jou na waar-ook-al bring nie. hehehe ek wonder wat dou hierdie tradisionele duitsers doen as jy so ´n kis moet opdollie. Ek dink hulle sou ´n aanval kry. Hier betaal jy vir ewig vir daai stukkie plot(graf) En as jy nie meer kan betaal vir dit nie, grou hulle die oorblyfsels uit en moker dit weg. Watse christene is dit nou? En ek dag christendom bstaan uit liefde??? No wonder I´m a non-believer!!!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?