'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, May 9, 2011

Camino de Santiago- D-dag minus 18

Die horlosie tik genadeloos af- Nog 18 dae 04 ure voor ek daar agter in die Lufthansa vliegtuig kan klim, en saamry tot by die ander kant van die wêreld.

Die senuwees begin nou nog meer te knaag. Verlede Maandag het ek 12 km gestap met 'n ligte rugsak. Dit was die laaste keer. Ek het netnou, net na 12h00, besluit om 'n vinnige 8km te gaan stap, met die volle rugsak op.  Ek kom nie eers by daardie halfuur uit daagliks wat aanbeveel is nie.

Dit was nogal baie warm in die son in ons ou dorpie met vanmiddag se stappie. Met die ekstra gewig in die rugsak voel ek weer my bene pla. My tone wil-wil begin blase maak onder, van die afdraende stap met die gewig op die rug. My lae rug pla so bietjie, ek weet nog nie of die nuwe 55 liter sak reg gestel is nie.

Al die toerusting is gereed, ons moet nog net die embleem opwerk,   dan is alles reg vir die vertrek. Alle papierwerk is gereed, moet net bymekaar gesit word. Vliegtuigkaartjie, paspoort en visum, reisversekering, en daardie eerste twee nagte in Madrid se hotelbespreking- al die papiere moet nou bymekaar uitkom en saam in die rugsak gebêre word.

Ek moet nog by die tandarts uitkom om daardie gebreekte tand van September laas jaar te fix. Ek moet by my huisdokter uitkom, self 'n ywerige stapper, en die verkorte kursus kry oor hoe om blase te behandel op my voete.

Dit voel net of daar so baie dinge in die gemeente is wat net nie wil klaar kom nie. Sekere groot projekte mis op die oomblik kernleiers.  Dié goed laat my deesdae wakker lê in die nag. Ek hoop as 'n mens eers begin stap op die Camino sal ek in daardie ritme van net bestaan kom, waarvan so baie ander op hulle blogs en in hulle dagboeke praat. Ek hoop 'n mens sal vinnig kan afskakel van die normale lewe,  wat in elk geval weer vir my wag as 'n mens die dag terugkom.

Ek is ook op die oomblik besig om reisgidse op te som in 'n klein A6 grootte sakboekie, om ekstra gewig te spaar.  Die reis kom nou so vinnig nader, maar dit voel so onwerklik. En die klok tik al hoe vinniger... 18 dae 3 ure 55 minute...

1 comment:

En jy daar, wat sê jy?