'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, May 30, 2011

Camino de Santiago- Madrid na Leon

Ek sit nou op Chamartin stasie aan die buitewyke van Madrid. Ek het ´n kaartjie gekoop op die Renfe trein na Leon toe, wat so teen 16h00 behoort te arriveer. Kaartjie kos 33 euro. Vanoggend sover ´n koppie koffie en ´n croissant geëet. Ek het gister geskiedenis in my lewe gemaak, die eerste dag wat ek kan onthou wat ek geen koffie gedrink het nie. Die goed is net so deksels duur in die hoofstad. Maar by El Corte Englis, ´n supermarkreeks, kos ´n blikkie Coke so R5.30. En water is darem goedkoop in die supermarkte. So ek is op ´n uitgebreide dieet!

Ek het netnou nog ´n reuse oorwinning oor die self behaal. Op die stasie is ´n winkel wat my swaer Verwey sou gaande hê. Hulle verkoop sommer pistole en jaggewere oor die toonbank! En messe en sulke goed wat ´n man oor droom. En hulle het ´n reuse groot Casio G Shock horlosie op uitverkoping teen net R850, en ek het weggestap sonder om dit te koop. Ek gaan op die trein sit en huil daaroor!

EK begin nou baie lus raak vir die stap self, en begin oorweeg om more dalk al so 7 tot 12 km te stap, om aan die gang te begin kom. Al wat ek regtig in Leon wil sien, is die katedraal se loodglasvensters.

Lesse sover geleer op die EKspedisie:
  1. Ek mis al klaar my vrou baie! Veral as die bure so baklei 3 m van my af aan die oorkant van die woonstel!  Ek sou graag hierdie ervaring met JOU wou deel!
  2. Dinge kom altyd êrens reg, al sien jy nie dadelik die uitkoms nie. Ek het toe heel lekker in die ander akkomodasie gebly, baie nader aan alles.  Plan B, onvoorsiend, was toe baie beter as my plan A!
  3. Ek mis goeie koffie, wat bekostigbaar is! Ek het geen fasiliteite om dit self te maak nie, en om te koop is baie duur!
  4. ´n Mens pak altyd te veel in! Die rugsak was op die lughawe net 10.2 kg! Maar nou is daar water en seeppoeier by, en nat klere ook erens in, dit voel nogal swaar.
  5. Ek mis iemand om mee te gesels, niemand verstaan Engels nie, so ek praat Afrikaans met almal. Dis lekker om te voel ´n mens behoort erens, hier in Spanje kry ek daardie gevoel van ver van my mense en my huis af.
  6.  Ek mis my Internet, hierdie sessie van 45 minute kos my R22.50
Maar die lewe bly ñ reis!
Laat ek gaan kyk waar is my perron, voor die trein vir my wegry. Mooi bly!

1 comment:

  1. Ek kan nog nie fotos bysit nie, die internet kafees het nie daardie fasiliteit nie.

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?