'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Wednesday, March 27, 2013

Voorbereiding vir Goeie Vrydag

In die kerklike wêreld dink ons nou saam aan die Lydingstyd van ons Here Jesus. Ek het die verantwoordelikheid om die Goeie Vrydag diens te lei. 

Vandag is die dag wat ek in my studeerkamer verdwyn. 
Op my rekenaar speel die CD- His Passion- a Worshipful journey to the Resurrection (net foto, moenie kliek nie!)

Die fondament vir die diens wat ek gaan lei, is die sewe Kruiswoorde van Jesus. 
Dit bly so aangrypend- ek lees op die oomblik op die internet oor wat die kerklike wêreld oor die algemeen daaroor te sê het. Uit die verskillende Christelike tradisies- Ortodoks, Katoliek, Gereformeerd, Charismaties, Pinkster, Kopties... vir almal bly die Goeie Vrydag boodskap belangrik. 

Ek het nie die behoefte om in die detail van hoe Jesus gekruisig is, in te gaan vanjaar nie.  Ek het daardie behoefte om te fokus op sy Middelaarsrol.  Hoe Hy die kloof tussen God en mens kom oorbrug het.  Hoe sy woorde aan die kruis gespreek het van sy mensheid- "Ek het dors". Oor vergifnis- "Vader, vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie..." terwyl hulle besig was om Hom dood te maak. Oor die versorging van sy moeder "Daar is u seun- daar is jou moeder".  Oor sy intense ervaring van die afwesigheid van genade- die dieptepunt van lyding waar die verhouding met God afgebreek het "Eli Eli lema sebagtani"- "My God, my God, waarom het U my verlaat?". Sy boodskap van hoop vir 'n sterwende moordenaar langs Hom "Dit verseker Ek jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees". En uiteindelik- die oorwinning oor die gebrokenheid- "Dit is Volbring!" En die finale oorgawe- "Vader in U hande gee Ek my gees oor..." 

Op die oomblik speel Kyrie- van die Integrity Worshipo Singers wat vra "Restore to me the joy of your salvation... Kyrie Eleison, Lord have Mercy..."

Dit is vir my aangrypend hoe diep die versoening is wat moontlik is in ons Here Jesus. 

Terselfdertyd wil ek soms huil oor hoe min die Here se kinders hiervan verstaan. Ons is so duur gekoop. Daar is so absoluut niks wat ons kon bydra vir genade nie. En tog kan die Here se kinders so geestelik hoogmoedig wees, en dink party is beter as ander. Party het so al die antwoorde en al die wysheid (dink hulle). Kerkmense byt en verskeur mekaar nog steeds. Die kerk is nog steeds nie die plek van liefde en aanvaarding vir almal nie. Dis nie altyd 'n veilige adres om na toe te gaan as jy stukkend is en hulp nodig het nie. Een van die dinge wat my die meeste vang, is hoe die Here se kindertjies van mekaar kan skinder, soms selfs in gebed!  Kyrie Eleison! 

Ons kan ons ook so met vroom dinge besig hou, en geen verskil in ons gemeenskap maak nie. Ons kan so lekker in ons omgeegroepe saam groei , dat niemand anders by ons welkom voel nie. Ons kan so ons eie opinies oor die reg en verkeerd in ons naaste se lewe hê- daardie ding van die splinter in ons naaste se oog, dat ons soms die hele balk in ons eie oog miskyk. "There is no Shadow in Your presense..." (The Offering- Paul Baloche) "I bring an offering of worship to my King..."  Hoe kan ons die Here worship as ons hande nie uitreik na ons naaste toe nie?  Hoe kan ons dink ons glo as ons nie mekaar liefhet, soos Jesus in Joh 15 beveel het nie- ons bly in sy liefde as ons sy opdragte uitvoer- dit is die opdrag- ons moet mekaar liefhê (Joh 15: 12)  Die Here het ons duur gekoop om mekaar lief te hê, as dit in ons lewe ontbreek, dan probeer ons verniet aanbid, dink ek. Kyrie Eleison... 

Die afgelope ruk is ek weer oorval met boeke en idees. Iemand wat weer vir ons almal wil vertel hoekom ons verkeerd doop. Ander wat weer vreemde name vir die Here uit die Ou Testament verkeerd aanhaal en wil hê ons moet Hom net so noem, nog ander wat wil hê ons moet terugkeer na die Sabbat toe. EN so kom die stemme- ek is reg, jy is verkeerd, glo net soos ek, anders is jy nie gered nie... So baie tradisies, so baie kerke, so baie opinies...  So baie baklei in die Naam van Jesus... Kyrie Eleison!!!

Uiteindelik hou ek maar net vas aan wat Jesus self gesê het in Joh 6:37- "Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom, en ek sal Hom wat na my toe kom, nooit verwerp nie... "

Ek weet nie of ek alles in die Bybel reg verstaan nie. Ek weet nie of ek dalk ietsie mis wat ek moes gedoen het nie. Maar ek weet dat Jesus gesterf het aan 'n kruis, as die Middelaar wat God en mens versoen het. EK weet Hy het dit ook vir my gedoen. Ek weet Hy het verhoudings kom herstel. Ek dink nie Hy is so omgekrap oor wanneer en hoe ek gedoop is, of ek in tale kan praat of nie, of ek hom as Jesus of Jahoeahh (die Hebreeuse uitspraak is eintlik Jahweh...) aanspreek nie, ek dink nie Hy is so tense oor Sabbatviering nie, en ek hoop regtig die besnydenis het verval!  Ek verstaan nie alles nie. Maar ek soek na sy genade... Kyrie Eleison. . 

Ek dink die Here se kindertjies maak geloof heeltemal te complicated. Ek is moeg vir boekies in die pos wat die eenheid tussen God se kinders net nog verder versteur deur mekaar verdag te maak. 

Ag so baie op die hart vandag hier agter die rekenaar...  Heaven knows how much it costs, to see my sin upon the cross... Eughan Heaslip... 

LAat ek nou maar verder werk aan Vrydag se boodskap- Jesus het alles kom nuut maak, deur ons uit die donkerte na die lig toe te kom lei! 

Kyrie Eleison! 

Ek weet nie by wie het ek hierdie skildery van Ruth Counsell van Darkness into Light gesien nie, dis die fondament van Vrydag se diens... 


"Worthy is the Lamb..." Angel Cruz... "Thank you for the Cross..."

Kyrie Eleison... 
  

7 comments:

  1. Ewald, ons ken ten dele, verstaan ten dele. Jy's reg oor die mense wat met soveel oortuiging 'hulle' waarhede vasklou. Ons soek pad, en die Heilige Gees lei - dis net dat die geraas van die wêreld 'n manier het om ons van spoor af te bring. Die oomblik as 'ek' groter word as 'jy', is ons verdwaal. Ek dink jou gemeente is geseën om 'n eerlike predikant te hê - iemand wat nie alles verstaan nie, maar vashou aan die beginsels van sy geloof. Mag jou boodskap oor Paasfees spreek van hierdie eerlikheid, God se groot liefde, en Jesus se genade-lewe. Sterkte...

    ReplyDelete
  2. sjoe ewald - i'm sooo with you on this. flippen mooi geskryf hoor ..!!

    ReplyDelete
  3. Wow...........dis so spyker op die kop! Dankie Ewald.....as almal dit ook maar net so wil insien, wow wat 'n wonderlike plek sal SA nie wees nie. Mooi beskryf en inspirasie!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?