'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Saturday, March 23, 2013

Saterdagmiddag in die Dominee se lewe

Hier sit ek nou in my studeerkamer op 'n Saterdag middag 15h30.  Ek het 'n heerlike oggend gehad, met van die mooiste skolerugby wat 'n mens kan verwag, sommer net hier by ons Hoërskool gespeel. Oor 'n uur draf my oudste seun weer op vir die 2e span.

Maar nou is dit eers studeerkamertyd.  Ek preek more oggend.

Dit bly een van die onbeskryflikste voorregte wat ons het, om op 'n Sondagmore voor amper 500 mense te kan staan, en vir hulle te kan sê: "So spreek die Here..."

Dit plaas 'n geweldige groot verantwoordelikheid op my skouers.  Ek kan nie net vir mense my eie storietjies vertel nie. Ek kan nie net 'n mooi sedelessie gaan uitpluk oor hoekom mense sekere sondes moet vermy nie. Uiteindelik moet ek iets regkry van om mense in God se teenwoordigheid in te lei. Om God se woorde te hoor. Om God se droom te hoor, van 'n ander wêreld as die een wat ons op die oomblik sien. 'n Wêreld vol liefde. Liefde wat hande en voete kry, liefde wat opoffer, liefde wat lewens positief kom verander.  Wanneer mense in die kerk 'n ontmoeting met God gehad het, moet hulle daar uitstap met nuwe hoop, dat die wêreld kan verander deur liefde. God se liefde. En ons liefde.

Dit is die Sondag voor Goeie Vrydag 2013. Ek wil dit waag om te preek oor die gebed van Jesus die aand voor sy kruisiging in Johannes 17.  Daarin het Hy gevra dat sy Vader verheerlik word, deur die oorwinning oor die stukkendheid van hierdie wêreld. Vir die mensdom is die kruis die grootste vernedering- om nakend voor die skare vasgespyker te wees, en wreed te sterf terwyl die inwoners van Jerusalem jou koggel en spot.   Maar wanneer Jesus daaroor praat, word dit "verheerliking"- die oorwinning oor self, die prysgee van self, die alles gee vir 'n baie groter saak.

Gaan die gemeente more dit hoor? Gaan hulle die prentjie sien wat in my kop is vanmiddag in my studeerkamer? Gaan Jesus se voorbeeld hulle inspireer om tot die uiterste toe te gaan liefhê?

'n Preek hou dalk so 20 minute aan. Maar mense onthou na die tyd omtrent net 2-3 beginsels.  Wat gaan mense oor more se preek onthou?  Gaan hulle lewens beter af wees na hulle daar was, of sou die Maleisiese Grand Prix meer beteken vir die ewigheid?

EK loop al die hele week en dink oor more se preek. Nou skryf ek enkele gedagtes neer op 'n stuk papier, wat more gebruik kan word, dalk ook nie...

Om te preek is 'n waagstuk, dit is moeilik, en dit vat lank om reg voor te berei.
En tog is dit ook lekker, as iemand se lewe vir 'n oomblik daardeur aangeraak is...
Picture from www.bible.ca




1 comment:

En jy daar, wat sê jy?