'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Monday, June 20, 2011

Spanish Train...

Aan die agterkant van ń opwindende reis begin ń mens gewoonlik ook jou agterkant sien.  Eergister was so ń wonderlike dag in Finisterre. Maar ek moet bieg- daardie dubbelbed het my oorweldig! Niemand anders in die kamer nie, en my eie badkamer. Met niemand wat snork in die kamer nie, niemand wat ander snaakse geluide maak in die nag nie. En die verlange huis toe... Ek het toe nie so lekker geslaap nie.

Gister, op die heilige Sondag, het ek vir oulaas ń koppie koffie gaan drink by die plek wat die mooiste internettoegang in Spanje het. Toe moes ek gaan sit en wag vir die bus- wat eers 11h45 vertrek op ń Sondag. Dit was ń LANG sit en wag! Op die bus het ek weer vir Petro van Warmbad raakgeloop, en ek het langs haar gesit, dat sy haar Caminostories vir my kan vertel. Sy het by St Jean PdP begin, en reg deur gestap Finisterre toe. Dis 1000 km!

In elk geval, die bus vat 3 ure om die 89 km kuslangs tot naby Santiago te ry. As ń mens eers weet waarvoor om te kyk, kan ń mens Finisterre eintlik al van baie ver af sien.
By die Autobus stasie het ek Petro gegroet, sy sou nog tot 21h30 daar sit en dan die oornagbus Madrid toe neem, en dan op die lughawe vandag gaan sit tot twaalfuur vanaand, voor die Iberia vlug haar huis toe neem.
Ek het ń plaaslike bus gekry om my treinstasie toe te vat. Toe ek daar aankom, hoor ek die oornagtrein is vol. Maar daar is ń plan te maak. Daar is een plek oop tot in een stad, en dan word twee treine aanmekaar gelas, en daarvandaan kan ek ń ander plek op dieselfde trein kry. Maar dit gaan my €12 meer kos as die normale treinkaartjie. Ek was nie lus vir die bus idee nie, want ek het in my kop daardie prentjie gehad van ń trein met beddens. Ek betaal toe maar die €64 vir die treinkaartjie. Nou is daar ń probleempie- daar is nie lockers op die stasie nie, en die trein vertrek eers om 22h33. Ek het toe maar, met my rugsak en al, die opdraande terug katedraal toe aangepak. Met die Pelgrimsmis was dit so vol dat ek nooit die plek kon bekyk nie. Ek het afgegaan na waar Jakobus se bene vermoedelik in ń silwer kis le.  Dit het nou nie regtig iets vir my geestelike lewe beteken nie!

Ek het maar teruggestap stasie toe, en by ń kafee daar naby ń bogadillio en koffie geeet.  Toe gaan sit ek op die stasie en wag. Vir vier ure lank. Santiago is nie net ń katedraal nie, daar is ń baie moderne universiteit daar. En trein na trein spoeg studente uit wat huis toe was vir die naweek. Pragtige meisies, die mannetjies lyk deur die weer...
Daar was snaakse episodes. Spaanse ouma klim uit die trein uit, en stop dood in die deur. Sy groet nou eers haar hele familie, al kan niemand uit die trein uit klim nie. ń Ander trein stop, vertrek, en stop skielik aan die einde van die perron. Staan lank stil, en dan word ń man en sy vrou van die trein af begelei- hy is duidelik ontsteld en probeer vir almal sy kant van die storie verduidelik.

Uiteindelik, ń ewigheid later, kom my trein aan, die hoteltrein. Verrassing- net die eersteklas (wat net €5 duurder is as wat ek betaal het, maar daar was nie meer plek nie) kry beddens. Die res van ons sit regop. En probeer slaap. En agter my sit Spaanse tienermeisies- regte bakvissies, wat giggel en histeries lag...

Ek het toe gelukkig 00h15 in die regte trein oorgeklim, anders sit ek dalk nou in Berlyn... Ons het vanoggend 08h05 aangekom in Madrid. Ek het eers ń koffie gaan drink, toe ń twee dae Metrokaartjie vir die moltreine en busse gekoop. Ek het dadelik gaan bevestig ek het hierdie keer ń plek om te slaap, en hulle was so vriendelik om my rugsak te hou tot hulle 13h00 oopmaak.
Ek soek nou ietsie vir die vrou en kinders, maar my rugsak het regtig GEEN plek om iets saam te bring nie, dis ń probleempie. Asook die budget hy es nie meer nie...

Dis maklik om my op die oomblik in Madrid te vind. Ek is daardie ou wat so stink dat almal wye kringe om my loop. Ek het rooi oe van niks slaap nie, en is heel grumpy teenoor alle Spanjaarde... Ek wil nou huis toe gaan. Ek gaan eenuur inboek, stort, en dan slaap. Sal laatmiddag weer ń draai stap in Madrid, more die trein vat lughawe toe, en dan vlieg ek 13h55 Frankfurt toe. En van 15h55 tot 23h00 sit ek alweer op die lughawe...

Dis die prys van ń lekker reis... dis nie altyd so maklik om klaar te maak, en huis toe te gaan nie. Ek kan sien ek is gereed vir die huis, elke Spanjaard herinner my nou aan iemand tuis wat ek ken... 

2 comments:

  1. emilene- skryf êrens neer- as jy ´n @ gaan soek in Spanje, gaan jy hom baie soek. Die @ kry jy net op een manier- langs die spacebar heel onder, net langs hom regs, is ´n Alt Gr knoppie- in Spanje druk jy hom en 2 bo die qwerty letters. Dog ek deel dit net met jou voor ek vergeet en jy sukkel!

    ReplyDelete
  2. Ek voel darem heelwat beter na die stort en die slapie. Die hostalkamer is baie mooi, met aircon en flatscreen. Aircon is nodig vir Madrid se 40 grade vandag, en die televisie help niks, op 40 kanale wys nie veel nie...

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?