Liewe familie en vriende,
Die woord wat my op die oomblik die beste beskryf, is daai woord wat my ma my mond nog steeds met seep oor wil uitspoel. Ek is f.....up! Dit, moedertjie van my, is Spaans vir baie, baie moeg.
Hierdie was ´n baie lang dag op die voete. Ek het weer sewe-uur weggekom, ´n mens kan nie later as 6 uur aan die slaap bly soos wat almal inpak nie. Die eerste twee kilometer was gelyk. Daarna het dit stelselmatig begin klim, maar die roete is nou regtig mooi. Ons is op pad berge toe, en die sneeu lê nog steeds bo-op die berg, soos ook die Alpe en die Perineë toe ek hiernatoe gevlieg het.
Die eerste dorpie vandag was Murias de Rechivaldo, baie mooi dorpie. Daarna het dit regtig begin klim, die res van die dag. Volgende dorpie was Santa Catalina de Somosa, net so mooi omgewing. Maar wat regtig opvallend is, is hoe stil die dorpies is, lyk my almal het stad toe getrek. Daar is ook baie bouvalle, party te koop. Ek kan al die advertensie sien: "Restoureerder se droom- benodig effens aandag!"
Ek het aanvanklik beplan om net tot by El GAnso te stap, siende dat dit so opdraende is. Maar El Ganso is piepklein, en ek was al 11 uur daar. Ek sou heeltemal mal geraak het om die res van die dag daar deur te bring. Toe die moeilike keuse- Rabanal del CAmino is nog ´n hele 7 km verder, steil opdraende. MAar dit was vroeg, en ek is mos jonk en fiks, so het ek gedink. Ek het toe maar in die Cowboy bar in El GAnzo eers ´n lekker Draught gedrink vir ekstra moed, en toe die bult in een sitting geklim tot in Rabanal. Hoekom het ek nie gerus nie? Want my voete is gaar- albei het nou lekker kwaai blase, en dit voel of ´n mens op glas loop. Ek was regtig doodmoeg toe ek hier inkom. Gelukkig weer ´n fantastiese privaat Alburgue raakgeloop vir €5! Albergue Senora Pilar. Ek wou eers vir haar vra... maar toe het ek nie.
In elk geval, dié Spaanse tannie dring daarop aan om ´n mens se rugsak vir jou in te dra. En sy praat net Spaans. Maar ek is baie seker, toe sy my rugsak optel, het sy ¨"Liewe Bliksem!" gesê. Ja, Senora Pilar, ek het dit ook ´n paar keer vandag gesê. Nou weer deur die normale ritueel van die dag gegaan- stort, klere was. Dan gou blog, dan siesta. Ek het alweer die winkels toe gevang, maar dis hierdie lang dag se skuld.
Ek is nou net 5.7 km van die bopunt af, daar waar die Ysterkruis is waar jy die klip van jou land kan los, en vir jou mense bid. En my seun se soldaatjie se nuwe basis! As ´n mens eers bo-oor gaan more, by Foncebadon, kom die grootste nagmerri- ´n mens daal baie vinnig 600 meter. Op ´n fiets sou dit pret wees, met die rugsak is dit GROOT moeilikheid, en ekstra blase.
Vandag se lessie vir my was dat ´n mens altyd ´n bietjie verder kan kom as wat jy dink jy kan. Vandag was baie pynlik, en tog voel ek al klaar baie beter na die stort en nadat ek met julle gepraat het. Dalk was daai ou gister reg! Anything is possible! Siestatyd, baai!
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sê jy?