'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label My Geliefde. Show all posts
Showing posts with label My Geliefde. Show all posts

Tuesday, August 27, 2013

Die ander drie ook... My kinders is 'n kosbare geskenk van Bo!

Net sodat die ander drie nie afgeskeep voel nie... daar was mooi fotos van elkeen van julle op my twee ontdekte CD's...


Dis MY mense daardie... nie almal is mal oor kamp nie...

Ek is MAL oor my dogter die Avonturieër, al hou sy nie van kamp nie... niks kry haar onder nie...


#3- Ou Spaarks! Kyk na daardie oë, dan weet julle- maar net ek mag hom Spaarks noem!  Nog onseker van homself, maar dié ou gaan baie ver kom, hou hom dop!


En dan nommer 4- Piet... Nog ALTYD dinge op sy eie manier gedoen...


Julle is my lewe!


Dankie vir my gesin! Ek is baie lief vir elkeen van julle! 
Wou dit nou maar van my hart afkry so voor ons vanmiddag Louwrens se diens gaan bywoon... 

Monday, July 29, 2013

Word Riders 2013 Streekreunie

Die Word Riders van Nylstroom, Naboom en Potties het op Sondag 21  Julie 2013 by die Wimpy in Naboomspruit bymekaar gekom, en van daar af na die Dros in Potgietersrust toe gery vir 'n baie lekker middagete saam.  Danie Ueckermann kon nie daar wees nie.

Die groep van ons wat daar was:  Ek en my Geliefde!

Thomas en Ronel Freysen van Nylstroom

Philip en Marietjie van Niekerk van Naboomspruit

Hans en Theresa de Waal van Potties

Mense wat die Here, sy Woord en Motorfietse baie lief het. Ons het baie lekker gekuier (heel verantwoordelik ook!)

Wednesday, July 10, 2013

Anja se 20e Verjaardag- Deel 2

Woordeloos- die twee dames in my lewe...

Saturday, June 22, 2013

Annelie en haar ma

Vanoggend het ek vir Vroulief en Skoonma vir ontbyt geneem by Koro Creek- die Gholflandgoed op Nylstroom.  Dit is so 'n mooi klubhuis, en ten spyte daarvan bly dit die goedkoopste restaurant in die dorp!
.

Sunday, June 2, 2013

Vanoggend se Philadelphia Preek

Ons geniet nou sulke lekker stormweer hier in die Kaap... Ons het die kaggel aangesteek, en sit nou met 'n glasie rooiwyn en geniet die vuur en mekaar se geselskap. Annelie sit en lees, ek sit en gesels met julle op my laptop...

Ag sommer net so bietjie meer oor vanoggend se preek:

Philadelphia is 'n klein gemeentetjie wat ek al 'n paar keer besoek het saam met my goeie vriend.
Op hulle uitnodiging het ek en Annelie vir die naweek afgevlieg, en vanoggend hulle erediens gelei.

Ek het gekies om oor Johannes 15:1-17 te preek, soos my Nylstroom-Oos vriende weet, een van my gunsteling teksgedeeltes. En reg oor die pad van die kerk in Philadelphia is die eerste wingerde...
God die Vader is die Boer. In liefde stuur Hy sy Seun na hierdie wêreld (Joh 3:16). Jesus bly in sy Vader se liefde. Hy is die Wingerdstok, en ons is die Lote.  Maar daar is twee soorte lote, vrugbare en onvrugbare lote.

Hierdie gemeente het die pragtige gebruik om die kinders aan die begin van die erediens na vore te laat kom, en dan word daar eers op hulle vlak met hulle gepraat. Ek het Anja gevra om my te help, om vir hulle prentjies te maak- die Hêppie Druif, en die Sêd Druif... (nou nie so genoem nie... :-) )

1. Sommige lote dra nie vrug nie...
" 'n Loot kan nie uit sy eie uit vrugte dra nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie...: Johannes 15:4

Dit gebeur mos nou so dat mense net vir hulleself wil lewe, sonder dat hulle lewens enige iets positiefs bydra tot hulle naaste. Dit is soos 'n loot wat al sy groei insit daarin om pragtige groot groen blare te hê- en dit lyk so weelderig en gesond! Maar dit waarvoor dit gemaak is, is nie daar nie- daar is nie druiwe nie...

Dit is hoekom die ou wêreld so stukkend is- so baie mense wat net vir hulle eie groei lewe...

Maar, daar is 'n baie beter alternatief!
En dis wat Jesus mos met ons kom deel het in Johannes 15
" Ek is die Wingerdstok, en julle is die Lote... wie in My bly, en Ek in Hom, dra baie vrug..."

Hoe lyk daardie vrug?  Jesus sê dit self- ons sal baie vrug dra as ons in Hom bly en sy opdragte gehoorsaam. En wat is daardie belangrike opdrag? "Julle moet mekaar LIEFHê"! So eenvoudig. Maar dit is wat die wêreld nodig het, dis in elke mens se lewe die vrug wat lewe bring: Liefde!  Dit maak van ons gelukkige druiwe:
Om lief te hê. Prakties. Nie net woorde nie!

Dit was vir my baie lekker om daar te preek so in die reën.  Dit was so kosbaar dat 'n hele klompie van my Kaapse vriende daar kon uitkom vandag, dankie julle! Ek is so geseënd met die kaliber vriende wat ek in Nylstroom en in die Kaap het!

En nou? Nou waai die wind. Dit reën. Dit sneeu in Adderley straat. Dit gaan rof in die weer. Dis nou die een aand wat ek nie graag op 'n motorfiets wil ry nie...

En tog... selfs in die storms is daar mooi oomblikke!
Kyk net hierdie foto wat ek enkele minute terug kon neem, ek kon dit nie waag om die venster te probeer oopskuif nie...


Ons was nou te lui/bang/moeg om ons goeie vriende van Bloubergstrand se aanddiens te gaan bywoon. Wat gebeur vanaand in ons lewe? Die kaggel brand, vroulief lees, ek speel op my laptop met julle, en ons drink saam rooiwyn-  Raka Pinotage...  'n 2011 Michelangelo bekroonde wyntjie...
Dis 'n absolute fantastiese aand, ten spyte van die weer...


Ek hoop jy het ook 'n fantastiese aand daar waar jy ook al mag wees...

Ek en Annelie ALWEER in die Kaap...

So gebeur dit toe mos dat die vriendelike gemeente in die Kaap vir my nooi om vanoggend by hulle te kom preek. Hulle sê Annelie moet saamkom. Hulle koop selfs vir ons vliegkaartjies... Hoe kan 'n mens dan nee sê vir sulke wonderlike geleenthede in die lewe. So ek en Annelie is in die Kaap op die oomblik. 

Ek het vanoggend my heel beste probeer met die preek. So ligte ou glipsie of twee gehad langs die pad, daar was so effense misverstandjie oor op wie die liedere op Powerpoint moes hê... maar niks ernstig nie. In die Kaapse stormweer was daar nou nie so baie mense in die kerk nie.  Maar ek het dit geniet om in die historiese ou geboutjie te mag preek... 

Onse kinders is veilig by ons huis, en ek en Annelie geniet 'n paar dae saam, soms met goeie vriende, soms lekker alleen. Ons het bv gisteroggend baie lekker ontbyt saam geëet by die ou Farmstall by die Total garage net buite Melkbosstrand, so skuins agter Atlantic Beach se Golflandgoed.  Dis koud en nat in die Kaap. Maar dit maak dit so lekker voor die kaggelvure... 


Hierdie reis doen ons sommer baie goed!  Ons eet baie interessante disse op baie interessante plekke, niks Wimpy of Spur nie, net lekker onafhanlike plekke wat hulle bes doen om goeie kwaliteit voor te berei.

Maar more is die pret alweer verby, dan moet ons alweer op die vliegtuig spring, en 'n verskil gaan maak waar ons geroep is om te wees...  Ek geniet net hierdie wegbreekkansie saam met my vrou geweldig baie!

Friday, April 26, 2013

Gee 'n vrou 'n Pinkie...

Gisteraand moes Annelie die ATKV Redenaarskompetisie in Pieterskwane gaan help beoordeel.  Sy sou eers na 9 tuiskom, en die drie monstertjies in die huis moet mos eet.
So is dit toe maar die pa van die huis se verantwoordelikheid om te sorg vir kos voor ek ook uit is op besoeke vir die aand.

EK kom net agter- al my kos lyk dieselfde! Ek het dringend nodig om ander goeters te leer maak. MAAR: die goed wat dieselfde lyk, proe darem altyd lekker vir my. Jammer vir al my vriende wat dalk al jare dit vrees dat ek vir hulle gaan nooi vir ete...

Gisteraand was dit: Beef Wellington! Ja, my Hollandse vriendin het my mooi saggies daarop gewys dat die regte Beef Wellington in 'n korsdeeg is, en myne is duidelik meer van die Potjiekos genre...

Maar dit is wat beskikbaar was in die huis gister, of goedkoop was by Pick 'n Pay.

Eers het ek die vleis in die beskikbare druiwesap van Wellington geweek.  Ek en my goeie vriend van Ellisras het toe nie die Hugenote Kollege verslag klaar bestudeer laas keer nie (interne ou grappie...)

Ek het die vleis mooi verbruin in die gietysterpot, en toe MIldelike Kerrie daarby gegooi. (Ek hoor Masterchef praat van "Caramelize"). Nog so bietjie Old Brown Sherry daarby. Dit is 'n hele ruk op die stoof gelos, om mooi sag te kook. Ek het aartappels in skywe gesny, nog met die skilletjie aan, en bygevoeg. Ook so 500 gram van Pick 'n Pay se naamlose groente.

OP die ander stoofplaatjie het ek Pick 'n Pay se Wilderys met songedroogde tamatie gereed gemaak.

Dit is aan die kinders bedien: Beef Wellington op 'n bed van Wilderys.

Ek dink ek sou punte verloor op Masterchef vir aanbieding- daar kort so bietjie kleur. Maar die smaak- dit was vir my baie lekker. Annelie het dit ook baie geniet om 'n bord warm kos te kry toe sy gisteraand moeg en honger by die huis instap.

Maar wat is die gevolg van sulke goeie dade? Dit word mos nie ongestraf gelaat nie...
Kyk die boodskappie wat vir my gelos word...

Nou vra ek met trane in my navy blou ogies... hoe gaan 'n man ooit wen?




Wednesday, November 28, 2012

Kos vir my geliefde...


Annelie het haar Ma by haar huis gaan aflaai, en Maandagmiddag teruggekom. 
Ek wou nou nie graag hê dat sy na 'n lang dag honger by die huis aankom, en dan moet kosmaak nie. Soms is dit net nodig om vir 'n vrou te wys hoeveel sy waardeer word, en so het ek besluit om dit 'n feesgeleentheid te maak. Met 'n lekker bottel Bubbly om 'n punt te maak- ons moet ook die klein dingetjies in die lewe vier, soms net die ander een se teenwoordigheid in ons lewe is mos genoeg rede...

Ek is nou nie Masterchef gehalte nie, nie eers naastenby nie. Maar ek kan darem met liefde 'n pakkie macaroni kook, maaklvleis met gemengde groente en 'n Pakkie Pasta & Sauce voorberei, en dit keurig in 'n pot gooi. Glipsie- ek vat toe mis in die rak en vat die Tamato & Chilli pakkie raak, en Mevrou hou nie so baie van brandgoeters nie. Maar met die gemengde groente saam was dit darem hanteerbaar... 

Stephan het die tafel mooi gedek vir sy ma (nie sleg vir 'n 12 jarige seun nie...!) 


Die resultaat? Een gelukkige moeder in ons huis!







Sunday, October 16, 2011

Die Ma van ons huis is terug- business as usual...

Een van die spreekwoorde tussen my en Annelie is: "Too much reality, too soon..."

Dit gebeur basies elke keer wat een van die ouers alleen moes weggaan, en dan terugkeer.  Die ander ouer neem die vrag van verantwoordelikheid vir die huishouding op hulle skouers, soos die klere was in die wasmasjien, die daaglikse pendeldiens waarin almal getaxi moet word waar hulle moet wees, die daaglikse brood en melk koop en kos maak.  Die ouer wat weg is, geniet gewoonlik die stukkie rus en vrede sonder die res van die gesin se aandrang op behoeftes wat vervul moet word. Vir 'n ruk. En dan begin 'n mens verlang na jou mense, as jy lank genoeg van die huis af is, begin jy selfs verlang na die normale konflik van die gesin. Die verlange bou op- en dan uiteindelik kan jy by die gesin aansluit. Maar die res van die gesin se lewe het volgens ou patrone aangegaan. Die normale  wrywing en baklei vir persoonlike ruimte het onverpoosd voortgegaan. En as ma of pa terugkom, dan bars die fontein van ingehoude frustrasie oop. In plaas van 'n heerlike familiereunie word dit 'n moddergooiery- nommer 4 wil eerste sy storie van persoonlike leed met die afwesige ouer deel. Die gevolg: Too much reality too soon...


Donderdagoggend het Annelie om 10h18 geland, en saam met swaer en skoonsuster huis toe gery by die Wilgers... Ek het haar daar opgelaai. Die ma van ons huis wou vreeslik graag so vinnig as moontlik tuis kom. Dit het iets te doen met 24 uur op reis wees van ander skoonsus se huis af Dublin toe, eerste vlug Frankfurt toe, vyf ure oorstaan, tweede vlug Johannesburg toe. Al drie lughawens is gekenmerk deur onvriendelike doeanepersoneel.  Onpersoonlike wagplekke (net die rykgatte sit op die leerbanke met die flatscreen teevees en die Douwe Egberts koffie en petite pasteitjies.)  Toe ek haar oplaai, wou sy net by die huis wees...

Ons het vinnig ietsie gekoop om te braai by Food Lovers Market, en toe huis toe gegaan. Die eerste uur was heel lekker- geskenkies is uitgedeel, vreemde tjoklits is opgevreet.  Kort daarna wou die ou griewe begin kop uitsteek.

Ons het darem 'n heerlike aandete gehad. Ek het vir twee vergaderings afgevra, en vir my vrou op die Weber 'n hoender flattie en varktjoppies gebraai. Ons het dit geniet saam met Panini brood, en 'n lekker slaai. Ek wonder nou nog wie van die kiddies het die Bessiesap opgesuip wat ek vir haar tuiskoms gekoop het.

In elk geval, Ma is weer terug by die huis. Die kinders baklei steeds onverpoosd voort. Die Pa is steeds bedonnerd... Business as usual...

Die Fourie Ma en Dogters neem Ierland op horings...

Tuesday, October 4, 2011

Wat is 'n huis tog sonder 'n moeder?

Dit was nou al vier slapies sonder jou.  En ek het klaar weer my les geleer. Ek kan nie sonder jou lewe nie.  Dis net nie lekker om tuis te kom en jy is nie hier nie. Dis nie lekker om aandete te maak, en jy is nie hier nie. Dis nie lekker as die kiddies so baklei, en jy is nie hier nie. Dis nie lekker in die bed in die aand, en jy is nie hier nie...

Ek weet nie hoekom ons so kan vassit by tye nie. Ek weet net die goeie tye is baie meer as die slegte tye. Ek verlang na jou...

Ek is so bly jy kom volgende week terug!

Thursday, March 31, 2011

Vir Jou- baie, baie dankie...



In my lewe is daar heelwat dinge waaroor ek onseker is. Ek is baie dikwels onseker oor watter kar ek moet ry, oor watter motorfiets vir my beskore is. Ek is dikwels onseker oor myself en my eie identiteit. Ek is onseker tussen mense. Ek is dikwels onseker oor my beroep, en wonder of ek iets daarin regkry. Ek is selfs dikwels onseker oor God, oor geloof, oor gebed... 

Maar ek het baie lank terug sekerheid oor een ding gekry- daar is net een mens wat ek langs my op die lewenspad wil hê. Ander kan saamstap, en hulleself ons kinders noem. Nog 'n paar besondere ander kan saamstap, en hulle ons vriende noem. Elkeen van hulle is vir my baie kosbaar.

Maar die kosbaarste een van almal bly Jy wat vir my ja gesê het. Jy wat gekies het om met jou hele menswees deel van my lewe te word, en my toegelaat het om deel van jou lewe te word. Jy wat vir my nog altyd so mooi is. Jy wat so kalm kan bly as ek dit verloor langs die pad. Jy wat met soveel wysheid kan redeneer, en soveel opsies kan onderskei vir die keuses wat ek moet maak. Jy wat met soveel humor daar binne jou sit, en met ogies wat so kan vonkel groot waarhede kan kwytraak in 'n grap. 

Jy wat so 'n uitstekende moeder vir ons kinders is. Jy wat soveel van jouself kan gee, en so bitter min vra. Jy wat die groot seer met soveel geloof kan dra, en met soveel hoop deur moeilike tye kan gaan. 

Dankie dat jy verby al my nonsens kan kyk, en my ken vir wie ek werklik is. 
Dankie dat jy in my glo, selfs al sukkel ek so dikwels om dit self reg te kry.
Dankie vir die potensiaal wat jy in my sien, en wat jy met jou menswees en jou daarwees al soveel vorm help gee het. 
Dankie dat jy my nooit gelos het nie, al het ek jou al soveel keer moedeloos gemaak. 
Dankie dat jy glo, in dae wat ek nie die Here se stem kan hoor nie. 
Dankie vir jou humorsin, al het ek al jou grappies so verkeerd verstaan.
Dankie dat jy so opreg is, en so eerlik is, dat almal weet waar hulle met jou staan. 

Dankie vir daardie pragtige oggend in Bloemfontein se klipkerk, toe jy met daardie bewende bossie blomme aan jou pa se sy in die gang afgestap het, om jou lewe met my te deel. 
Dankie vir ons vier pragtige kinders, wat elkeen ietsie van jou wonderlike eienskappe het. Dankie vir ons twee kinders wat in die hemel gebore is, waar ons saam seergekry het, en in mekaar se arms troos kon vind.

Dankie dat jy my beste vriend is, met wie ek alles kan deel. Dankie dat ek na jou kan verlang wanneer ek weg van jou af is, dat ek nooit 'n sonsondergang soveel waardeer as jy nie langs my is om dit saam te geniet nie. 
Dankie dat jy my beminde is, in jou arms kan ek in die hemel glo. 
Dankie dat jy met soveel liefde vir my kos maak, dat elke ete saam met jou 'n baie spesiale ervaring is. 
Dankie dat ek altyd seker van jou liefde is, dankie dat ek altyd op jou kan staatmaak, dankie dat ek jou nog altyd met my diepste hartsgeheime kon vertrou, dankie dat jy my so goed ken dat ek niks vir jou kan wegsteek nie, jy lees my gesig soos 'n kinderboek!
Dankie dat my grys hare vir jou sexy is, dat dit nie 'n bedreiging vir jou is dat ek ouer word nie. 

Dankie vir 21 jaar met al die seer, en vreugde, wat ons kon deel. Dankie dat ons saam geliefdes se dood, en nuwe geliefdes se geboortes kon deurmaak. 

Ek is so ongelooflik dankbaar dat jy my lewensmaat is. Ek is so onbeskryflik lief vir jou na al die jare, en op een of ander Goddelike manier word dit net al hoe sterker soos ons ouer word. 
Ek is so jammer vir die kere wat ek jou hartseer gemaak het. Ek is so jammer oor die kere wat ek lelike dinge vir jou gesê het, wat ek jou goeie bedoelings so kon misverstaan en in jou gesig kon teruggooi. 

Dankie vir die dans van die lewe wat ons twee saam kan dans. Ek hoop regtig ons word gespaar om eendag ons 50e huweliksherdenking oor 29 jaar saam te kan vier. 31 Maart 2040.  Ek weet as dit so uitwerk, gaan jy vir my sê: "Sien, ek het jou mos gesê alles gaan reg uitdraai, waaroor het jy jou so bekommer?" Ek hoop daardie dag is ons weer in die Blue Peter, derde kamer in die gang af, met die wonderlike uitsig oor Tafelberg en Robbeneiland. As ek dit nie tot daar maak nie, sal ek in die see jou naam saggies roep... 

Soos 21 jaar gelede sê ek vandag weer: Hier is my hart, en my hand. Ek gee myself vir jou, vir altyd.