Op my ander blog het ´n paar vriende gewonder of ´n mens ooit kans kry om werklik stil te word op hierdie reis.
Die een baie belangrike motivering vir die Camino se stap was juis vir my om ´n breuk uit die normale lewe te maak, en weer terug te gaan na fondamente in my lewe toe. In die alledaagse lewe van ´n groot gemeente, en ´n groot gesin, kom ´n mens tog dikwels agter dat daar net te veel dinge gelyk gebeur. So dikwels kan ons predikante op ander mense se nood en behoeftes fokus, dat ons so maklik ons gesinne en onsself afskeep in die proses.
Om werklik my roeping as leraar te kan uitleef, het ek dit vir myself nou weer op die Camino uitgemaak, is dit dringend belangrik dat ek self geestelik gesond sal wees. Dat my eie verhouding met die Here regtig dieper sal groei, en dat ek uit sy liefdevolle genade in my lewe sal kry wat ek nodig het om ook my bediening vir Hom te kan doen. ´n Mens dien geen ander mens tog na behore as ´n mens nie eerste in Jesus se voetspore volg nie? Ek kan nie Sondag preek as ek nie in die week gehoor het wat die Here graag vir sy mense wil sê nie. Ek kan nie mense in hulle seer help, as ek nie self die Geneser ken nie.
Daarom, hierdie Camino het vir my baie sterk gegaan om met baie meer sensitiwiteit na die Here se stem te luister. Mense wonder: kry ek tyd daarvoor? En die antwoord is: Ja, verseker!
´n Dag begin gewoonlik met die baie vinnig opstaan, slaapsak oprol, rugsak pak, en so vinnig as moontlik onderweg kom. Ek eet nie ontbyt waar ek bly nie, probeer gewoonlik by ´n supermark ietsie vir dié doel koop. Verreweg die meeste dae het in klein dorpies begin. Binne minute is ek uit die dorp uit. En as ek uit die dorp uit beweeg, begin daar ´n stilte in my neerdaal. Dikwels sal ek by ´n mooi plek soos ´n waterstroompie gaan sit, en my ou weermagbybeltjie uithaal. Ek lees nogal baie Psalms op die oomblik! Hulle praat net van soveel verskillende menslike emosies en die hele saak van op reis wees. Ek loop en dink oor wat ek gelees het, of oor wat die Here vir daardie entjie pad op my hart plaas. Elke dag is daar ook iemand vir wie ek spesifiek bid. Op die oomblik is daar een van my kinders wat baie swaar trek in die lewe, en hy is baie in my gedagtes.
Van die begin af was die Camino vir my ´n metafoor (beeld) van my eie lewe- soos ek al so dikwels gepreek het, dat ek dit sien as ´n reis. As daar mooi gebiede is, dan loof ek die Here daarvoor. As daar moeilike dele kom, soos dekselse steil AFdraendes, dan smeek ´n mens om hulp. As daar gevaarlike gebiede is, waar die roete soms op ´n teerpad saam met verkeer loop, is ´n mens baie meer intens bewus van ons behoefte aan die Here se beskerming.
Die Here praat normaalweg die meeste met my deur die Bybel. Maar op hierdie reis praat Hy nogal meer deur die natuur en die roete self! ´n Lang dag se stap is so sewe tot agt ure, wat gewoonlik al sewe uur die oggend begin het. Dit beteken dat ek gewoonlik hier rondom drie-uur al klaar ´n slaapplek het vir die aand, gewoonlik al gestort het (en die volgende dag se klere aangetrek het, onthou, ek het net 3 stelle hier, en op die oomblik is twee nat!) Ek kry nie regtig reg om in die middag te slaap nie, daarvoor raas dit te veel in die Alburgues. Maar weet julle wat? Elke liewe dorpie in Spanje het ´n oorvloed kerke, en die meeste van hulle staan oop in die dag. Dit gebeur omtrent elke dag dat ek vir ´n hele ruk in die kerk gaan sit. En bid. En dink. En wees. Ek was netnou weer in Melide se groot kerkgebou vir ´n hele ruk.
Ek weet die Rooms Katolieke weergawe van die Christelike geloof is vir ons moeilik om te verstaan. In lande soos België maak hulle bv baie meer van Maria, soos in die katedraal in Brussels waar Maria met haar voet die slang se kop trap. Ek weet in ´n groot deel van Europa is die kerkbywoning in elk geval daarmee heen, en is kerkgeboue net museums. Dalk in Spanje ook, maar in ´n baie kleiner mate as Frankryk of België.
Vir my gaan dit nie nou om reg of verkeerd te soek van die Rooms Katolieke kerk nie. Weet julle wat is besonders? Ek was in kerkgeboue wat al in die 1200´s in gebruik geneem is. Ek het al in Ken Follett se boeke gelees hoeveel geslagte dit kon neem om ´n katedraal te bou. Ek is verstom oor die argitektuur wat vir soveel eeue steeds die dakke bo gehou het. Maar bo alles, ten spyte van al die bagasie- dit is plekke waar mense vir God gesoek het deur eeue heen. En daar is ´n stuk heiligheid, ´n stuk gewydheid daaraan. Nee, ek maak nie ´n kruis as ek in die kerk instap nie. Nee, ek sprinkel nie heilige water nie, ek verstaan dit nie. Ek betaal ook nie €1 om ´n rooi kers aan te steek nie. Maar in daardie heilige ruimtes is daar stilte. Daar kan ´n mens God ontmoet. Net soveel soos langs die riviertjie. Maar dis juis die punt van hierdie reis- God reis oral saam met ons. Heilige plekke is enige plek waar ek stil word om God te hoor. ´n Mens gee dalk net meer aandag in ´n antieke gebou. Daardie besef dat die aanbidding van God baie ouer as ek is. Dat baie geslagte hier bely het: Jesus is die Here.
Nee, ek gaan nie ´n Rooms Katoliek word nie. Maar ek dink ons kan so ietsie by hulle leer oor die meer mistieke (misterieuse?) deel van aanbidding. Om nie alles dood te wil verklaar nie, maar soms net stil in God se teenwoordigheid te kan wees. In enkele geboue, soos in die katedraal van Leon, of in die kerkie bo-op O Cebrero, het daar Taize musiek gespeel. En dit doen iets aan ´n mens se gees... As ´n mens ´n hele ruk daarna sit en luister, dan kom daar ´n baie diep gevoel van vrede in jou op. Ek dink ek moet meer daarvan maak by die huis- meer sulke musiek in die hande kry, meer tyd maak vir stil word in die Here se teenwoordigheid.
En ja, ek is gewoonlik so moeg dat ek net na 8 in die aand uitklok vir die dag. En terwyl ´n mens so in die bed lê, dan kom die verlange na Annelie en die kinders. En dan praat ´n mens maar weer baie spesiaal met die Here oor elkeen van hulle.
Ek kry so min mense wat my kan verstaan, bitter min Engelssprekendes so ver. Wel die verrassings die afgelope ruk van die Suid- Afrikaners. En die ontmoeting met die Duitse Tannies. En ´n Franssprekende Kanadees wat so elke derde woord van my Engels verstaan. Maar die priesters hier rond verstaan nie eers Engels nie... Ek praat min met mense. ´n Dag in Europa is lank. So ek hoop dit antwoord die vraag: Daar is BAIE stilte in my lewe op die oomblik. En dit doen my baie goed. Ek kry waarna ek op soek was. Dankie vir jou gebed ook vir my!
Liefde!
Vir interessantheidshalwe, wie sit so in Ysland van alle plekke en lees my blog?
ReplyDeleteHet gister weer aan't lese gegaan, lank nadat jy klaar gestap het. Wonder vandag of die Camino ervaring nog sterk in jou bewussyn saamreis.
DeleteKlink vir my of die Suid Afrikaners wat jy ontmoet het Sil se groep is - hulle blog ook oor hulle stap, hier is hulle adres: http://amawalkerscamino2011.blogspot.com/.
ReplyDeleteEn toe - jy't op 'n kol gedink niemand lees wat jy skryf nie, daar's Ysland ook al aan die lees!
Ons sit en wag vir die storms hier in die Kaap, so geniet maar die Spaanse weer daai kant!
Ja, ek dink dit is hulle wat ek ontmoet het, ´n paar van die name klink bekend...
ReplyDelete