'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label Potjiekos en Rooiwyn. Show all posts
Showing posts with label Potjiekos en Rooiwyn. Show all posts

Friday, April 26, 2013

Gee 'n vrou 'n Pinkie...

Gisteraand moes Annelie die ATKV Redenaarskompetisie in Pieterskwane gaan help beoordeel.  Sy sou eers na 9 tuiskom, en die drie monstertjies in die huis moet mos eet.
So is dit toe maar die pa van die huis se verantwoordelikheid om te sorg vir kos voor ek ook uit is op besoeke vir die aand.

EK kom net agter- al my kos lyk dieselfde! Ek het dringend nodig om ander goeters te leer maak. MAAR: die goed wat dieselfde lyk, proe darem altyd lekker vir my. Jammer vir al my vriende wat dalk al jare dit vrees dat ek vir hulle gaan nooi vir ete...

Gisteraand was dit: Beef Wellington! Ja, my Hollandse vriendin het my mooi saggies daarop gewys dat die regte Beef Wellington in 'n korsdeeg is, en myne is duidelik meer van die Potjiekos genre...

Maar dit is wat beskikbaar was in die huis gister, of goedkoop was by Pick 'n Pay.

Eers het ek die vleis in die beskikbare druiwesap van Wellington geweek.  Ek en my goeie vriend van Ellisras het toe nie die Hugenote Kollege verslag klaar bestudeer laas keer nie (interne ou grappie...)

Ek het die vleis mooi verbruin in die gietysterpot, en toe MIldelike Kerrie daarby gegooi. (Ek hoor Masterchef praat van "Caramelize"). Nog so bietjie Old Brown Sherry daarby. Dit is 'n hele ruk op die stoof gelos, om mooi sag te kook. Ek het aartappels in skywe gesny, nog met die skilletjie aan, en bygevoeg. Ook so 500 gram van Pick 'n Pay se naamlose groente.

OP die ander stoofplaatjie het ek Pick 'n Pay se Wilderys met songedroogde tamatie gereed gemaak.

Dit is aan die kinders bedien: Beef Wellington op 'n bed van Wilderys.

Ek dink ek sou punte verloor op Masterchef vir aanbieding- daar kort so bietjie kleur. Maar die smaak- dit was vir my baie lekker. Annelie het dit ook baie geniet om 'n bord warm kos te kry toe sy gisteraand moeg en honger by die huis instap.

Maar wat is die gevolg van sulke goeie dade? Dit word mos nie ongestraf gelaat nie...
Kyk die boodskappie wat vir my gelos word...

Nou vra ek met trane in my navy blou ogies... hoe gaan 'n man ooit wen?




Saturday, July 30, 2011

Om hard terug te kom aarde toe...

Van Standerd 9 af het ek redelik gereeld Potjiekos gemaak in my lewe. Ek het nogal gedink dat ek die kuns verstaan...

So is vanaand mos nou 'n baie koue wintersaand. En besluit ek om ou vriende oor te nooi vir 'n Potjie. Ons almal het mos maar op ons eie deur die Springbok nederlaag teen die All-Blacks geworstel (40-7!) en die dag het maar 'n paar beproewinge wat ook voorlê in die Currybeker. Soos toe ook met die Blou Bulle se nederlaag teen die WP waar geword het.

Ek het die vriende oorgenooi, en by Pick 'n Pay die nodige bestanddele vir die potjie gekoop. Van drie uur af het ons die Alva bokkie met die groot gasbottel voor die televisie geparkeer. Fyn gekapte uie is in Olyfolie gebraai. Daarna is die vleis, met 'n sprinkeltjie Captain Morgan en Coke oor, in die pot gebraai tot mooi bruin. Dit is gelos om sag te kook, met kerrie en braaisout, so sprinkeltjie komyn by. Later is aartappels in stukke gesny bygevoeg, en gemengde groente. Heel laaste het twee pakke sampioene gevolg, om op 'n bed met rys voor te sit.  My potjie het vir my te pragtig gelyk. Dit het heerlik geruik terwyl die Bulle so lelik pak kry daar op Nuweland. Die vriende het gearriveer, en ons het heerlik oor 'n bottel rooi gekuier voor die televisie.

Alles sou redelik mooi verloop het (behalwe nou vir al my spanne se rugbytellings!)
Toe haak klein Ewald af met die woorde: Hy hou baie van my Potjiekos.  Dit gee hom altyd maagwerkings maar dit bly steeds lekker...

En hier dog ek ek kan lekker kosmaak! Ek hoop nie my ander familie en vriende beleef my kos ook soos my naamgenoot nie...
Vanaand se Potjie

Vandag het 'n paar belangrike dinge lelik in die hek geduik!
Ek het nogal gedink vanaand se kos was lekker...

Monday, April 11, 2011

Vrydagaand se Lamskerriepotjie in die Pastorie

'n Week in die Pastorie is nogal baie, baie besig. Dwarsdeur die week hardloop elkeen van die inwoners in hulle eie rigting. Pa hardloop rond tussen huisbesoeke, huwelikskategese, huwelikspanning, sterfgevalle, vergaderings wat baie sinvol is, vergaderings wat na nêrens lei, en soms net agter mense se doodgewone nonsens aan.  Ma hardloop rond agter skoolwerk aan, en speel algemene Taxi vir al die inwoners wat nog nie scooters op die pad mag ry nie. Ousus is in matriek en het 'n scooter- sy word net nou en dan opgemerk in die wandelgange. Ouboet is te vinde naby die naaste spieël, soos hy van nog 'n oefensessie af terugkom. En die jongste twee is maar êrens besig om te baklei, of oor die algemeen te KKNK.

Omdat elkeen 'n stywe dagboek het, is die een, enkele aand waarna ons geweldig baie uitsien, Vrydagaand. Saterdagaand werk nie in die Pastorie nie. Dan is Pa gestress oor Sondag se preek. Saterdagaand is nooit 'n goeie kuieraand in die pastorie nie.

Maar Vrydagaande is ons aand. Dan probeer ons die gesin bymekaar hou, en saam iets lekkers eet. Dit is hoekom hierdie Dominee nooit baie gelukkig lyk as een of ander gemeentelid 'n visie kry om op 'n Vrydagaand 'n gemeentefunksie te reël nie. Daar was selfs al van hulle wat so oorywerig was om 'n gemeenskapsbiduur op 'n Vrydagaand te probeer reël- gee jou beste tyd vir die Here, sien? Maar as Dominee nou nog daarby ingeskakel het, dan was hy nie meer vandag gelukkig getroud nie. Daar kom 'n tyd wanneer gesin eerste moet kom. Vrydagaand, met die hoogste uitsondering, is so 'n aand in ons huis.

Op 'n Vrydagaand sal ons soms vriende oornooi. Mense wat waarde toevoeg tot ons gesinslewe. Mense wat die lewe vir ons lekkerder maak, hulle is welkom op 'n Vrydagaand. Maar mense wat ons aan diens laat voel- hulle is welkom op 'n ander werksgerigte aand.

Die afgelope ruk het ek dikwels verby restourante gestap wat Lamskerrie op die menu het. Toe die jongste twee rugby gespeel het in Volksrust, het die mammies van daardie skool die heerlikste lamskerrie en rys bedien- die beste wat ek nog ooit geproe het. En toe ek nou die dag by Meatrite verby ry, is daar C graad skape beskikbaar teen 'n uitstekende prys. Kyk, deesdae kos 'n skaap meer as 'n motorfiets! As 'n mens 'n skaap op 'n eerbare manier in jou vrieskas kan kry, dis nou te sê nie soos agter in die ambulans nie, dan het jy 'n stuk lewensgeluk beleef.

Vrydagaand was dit weer so. Vroeër in die week het 'n vriend 'n bottel Chateu Libertas daar agter gelos. Daar was 'n pakkie skaap oor. Darem nog twee uie te sien in die spens.  Ons gaan koop 'n pakkie klein aartappeltjies, en 'n sakkie bevrore groente.

Vir 'n slag was ek sommer net lus om in 'n skottelskaar op die grond vuur te maak, en net op my blaker daar te sit, niks fênsie nie. En terwyl ek die vuur aan die gang kry, potjie warm maak, olie ingooi en uie braai, kry ek lekker kans om met my naamgenoot te sit en gesels. Of ek gesels, en hy luister na sy musiek op sy selfoon!  Maar ons sit langs mekaar en geniet die middagson, en mekaar se teenwoordigheid.

Dis vir sulke oomblikke dat ek lewe. Oomblikke saam met my geliefdes. Oomblikke wat ons maar net die lewe se mooi saam kan geniet.

Later die middag het goeie vriende by ons aangesluit by ons glad-nie-fensie viering van die lewe.
Ons het heerlik gekuier. Groot dinge gesels. En dit was 'n baie mooi aand. Ook ma en dogter kon tot laat sit en filosofeer oor die lewe rondom die kampvuurtjie na ete.

Wel, dit was die vinnigste wat een van my potjies nog ooit opgeëet was. Skaap doen dit aan 'n mens!

Wil jy ook probeer? Hier is so effense aanduiding van wat gebeur het, maar soos in enige selfrespekterende potjie is alles maar na gedagte bygevoeg, en nie in presies afgemete hoeveelhede nie.

Bestanddele:
Skaap
Aartappels
Gemengde groente
Rys
Twee uie

Speserye:
Mild kerrie. 1 teelepel en 'n bietjie koljander. 1 teelepel komyn. 1 teelepel gemmer. Bietjie ou rooiwyn, wat jy nie die vorige keer kon klaarmaak nie (sou dit moontlik wees!)

Metodologie:
Kry 'n nommer 3 potjie op 'n stabiele hitte. Gooi alles bymekaar. Los tot skaap sag is. Eet.
Bietjie fyner?

Verhit die potjie oor die kole. Gooi kookolie in en laat dit warm word. Kap die uie in fyn stukkies, soos Jamie Oliver dit in die Bosveld sou doen met 'n Okapi mes. Braai die uie tot bruin in die olie. Voeg die kerrie, gemmer, komyn en koljander by. Jou skaap is in blokkies gesny, of in hanteerbare stukkies gebreek, soos jy dit verkies. Laat die skaap lekker bruin braai in die pot vir 'n ruk. Hy maak sy eie sous. Later kan jy vir hom so bietjie rooiwyn (enige iets tussen 100 ml en 1 l- dis jou pot!) byvoeg vir ingeval die hitte die skapie dors maak. Los lekker lank, so lank soos wat dit neem om die Blou Bulle se wedstrydstrategie teen die Crusaders (27-0 verloor) te ontleed en beter alternatiewe vir die afrigter saam te stel.

As die kok goed gemarineerd is, en die skaap begin sag word, voeg jy die aartappeltjies by. Gooi 'n stewige handvol Marina Braaisout bo-oor. Los vir nog 'n ruk, terwyl jy of jou geliefde elders 'n pot rys gereed maak, veral Basmati rys werk lekker vir kerriepotjies.  As die aartappels amper sag is, dan voeg jy die gemengde groente by, en los hulle tot dit net lekker deurwarm is. As dit nou net anderkant Payday is, dan kan jy ook klein sampioene bo-op gooi- dit maak dit baie lekker.

As alles nou eers gereed is (en jy bepaal dit, dis jou pot, onthou. Moet nou nie vir wetenskaplike tydsberekeninge vra volgens Greenwich se Mediaantyd nie- as jy dit soek, bel vir Jamie of Ainsley of Gordon), dan bedien jy dit op 'n bed van rys. Jy pak dit baie netjies op die bord, en neem 'n foto, en stuur vir Huisgenoot se wenresepte en vir jou ouma. Of jy begin 'n blog oor die ervaring. Wie sou nou so iets wou blog?

As jy hierdie potjie maak, maak seker dat jy omring is met mense wat jy werklik voor omgee. Mense saam met wie jy 'n botteltjie rooi kan deel. As jy dit nie in jou lewe het nie, gaan  koop eerder KFC en gaan sit voor die TV, en drink Savannah Light. 'n Potjie en 'n bottel rooiwyn is bedoel om gedeel te word, sodat dit deel kan word van die mooi ervarings van jou lewe. Dit is nou LEWE! KFC en Savanna Light het jy al klaar twee dae later vergeet. Dit is net bestaan. Tot volgende Vrydag!