'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label My roeping. Show all posts
Showing posts with label My roeping. Show all posts

Sunday, June 2, 2013

Vanoggend se Philadelphia Preek

Ons geniet nou sulke lekker stormweer hier in die Kaap... Ons het die kaggel aangesteek, en sit nou met 'n glasie rooiwyn en geniet die vuur en mekaar se geselskap. Annelie sit en lees, ek sit en gesels met julle op my laptop...

Ag sommer net so bietjie meer oor vanoggend se preek:

Philadelphia is 'n klein gemeentetjie wat ek al 'n paar keer besoek het saam met my goeie vriend.
Op hulle uitnodiging het ek en Annelie vir die naweek afgevlieg, en vanoggend hulle erediens gelei.

Ek het gekies om oor Johannes 15:1-17 te preek, soos my Nylstroom-Oos vriende weet, een van my gunsteling teksgedeeltes. En reg oor die pad van die kerk in Philadelphia is die eerste wingerde...
God die Vader is die Boer. In liefde stuur Hy sy Seun na hierdie wêreld (Joh 3:16). Jesus bly in sy Vader se liefde. Hy is die Wingerdstok, en ons is die Lote.  Maar daar is twee soorte lote, vrugbare en onvrugbare lote.

Hierdie gemeente het die pragtige gebruik om die kinders aan die begin van die erediens na vore te laat kom, en dan word daar eers op hulle vlak met hulle gepraat. Ek het Anja gevra om my te help, om vir hulle prentjies te maak- die Hêppie Druif, en die Sêd Druif... (nou nie so genoem nie... :-) )

1. Sommige lote dra nie vrug nie...
" 'n Loot kan nie uit sy eie uit vrugte dra nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie...: Johannes 15:4

Dit gebeur mos nou so dat mense net vir hulleself wil lewe, sonder dat hulle lewens enige iets positiefs bydra tot hulle naaste. Dit is soos 'n loot wat al sy groei insit daarin om pragtige groot groen blare te hê- en dit lyk so weelderig en gesond! Maar dit waarvoor dit gemaak is, is nie daar nie- daar is nie druiwe nie...

Dit is hoekom die ou wêreld so stukkend is- so baie mense wat net vir hulle eie groei lewe...

Maar, daar is 'n baie beter alternatief!
En dis wat Jesus mos met ons kom deel het in Johannes 15
" Ek is die Wingerdstok, en julle is die Lote... wie in My bly, en Ek in Hom, dra baie vrug..."

Hoe lyk daardie vrug?  Jesus sê dit self- ons sal baie vrug dra as ons in Hom bly en sy opdragte gehoorsaam. En wat is daardie belangrike opdrag? "Julle moet mekaar LIEFHê"! So eenvoudig. Maar dit is wat die wêreld nodig het, dis in elke mens se lewe die vrug wat lewe bring: Liefde!  Dit maak van ons gelukkige druiwe:
Om lief te hê. Prakties. Nie net woorde nie!

Dit was vir my baie lekker om daar te preek so in die reën.  Dit was so kosbaar dat 'n hele klompie van my Kaapse vriende daar kon uitkom vandag, dankie julle! Ek is so geseënd met die kaliber vriende wat ek in Nylstroom en in die Kaap het!

En nou? Nou waai die wind. Dit reën. Dit sneeu in Adderley straat. Dit gaan rof in die weer. Dis nou die een aand wat ek nie graag op 'n motorfiets wil ry nie...

En tog... selfs in die storms is daar mooi oomblikke!
Kyk net hierdie foto wat ek enkele minute terug kon neem, ek kon dit nie waag om die venster te probeer oopskuif nie...


Ons was nou te lui/bang/moeg om ons goeie vriende van Bloubergstrand se aanddiens te gaan bywoon. Wat gebeur vanaand in ons lewe? Die kaggel brand, vroulief lees, ek speel op my laptop met julle, en ons drink saam rooiwyn-  Raka Pinotage...  'n 2011 Michelangelo bekroonde wyntjie...
Dis 'n absolute fantastiese aand, ten spyte van die weer...


Ek hoop jy het ook 'n fantastiese aand daar waar jy ook al mag wees...

Saturday, July 3, 2010

Reis soms buite die gemaksone...

Om op reis te wees, is nie altyd maklik nie. EK hou baie van my eie bed. Ek geniet dit as die stort 3 m weg is, en die naaste toilet nie verder as 10 m nie.

Maar van kleins af was daar ook 'n ander stem wat soms diep in die nag fluister. Daardie stem van die natuur, om te gaan waar my kar nie kan loop nie. Om onder die sterretjies te slaap. Om nie te bad nie, water uit die rivier te drink. Terug na die basiese ding van menswees.

Die een goeie ding wat ek by my vorige kollega geërf het, is die belydenisklas- daardie jong manne en dames in Graad 11, wat gereed maak om die grootmenswêreld self aan te durf.  En Sondag na Sondag sien ek of my vriend Danie hulle na kerk. Sondag na Sondag het ons 40 minute om hulle rustig te kry, om die gejaag van die normale lewe stil te kry, en ietsie van 'n Hemelse Vader se liefde met hulle te deel. Amper onmoontlik. Maar in die Julievakansie kry ons die geleentheid van 'n leeftyd. Die goeie tradisie is dat ons almal wat kan, saamneem na die Drakensberge toe. Hoekom in Julie? Want ons is bang vir die weerligseisoen! Hoekom die Drakensberge? Want dit is 'n baie spesiale plek om die Here te ontmoet. 'n Plek waar jy nie anders kan as om stil te word, en oorweldig te word deur die grootheid van die mooi nie.

Voorheen was ons by Cathedral Peak- en dit lyk mos regtig mooier as enige katedraal! Deesdae gaan ons by Monk's Cowl- net veiliger, en net so mooi. Ons slaap die eerste aand onder, soos julle my op die foto kan sien. 'n Mens klim mos nie in daai tentjie in nie, jy trek hom aan! In elk geval, hier lyk ek op my mooiste, net voor alles in die rugsak kom. Dan klim ons teen eie pas op tot bo by Blindman's Corner. 'n Gepaste plek om outjies heen te vat, sodat hulle oë kan oopgaan...

Maandag 5 Julie sal my amptelike derde toer wees wat ek gereël het. Ek gaan weer self die Kinderhuis se bus bestuur. Ek gaan baie moeg wees as ons daar aankom! Die volgende dag gaan ek my onfikse bas teen die berg opsleep, en probeer om nie te lyk asof Saffas my enige oomblik gaan kom haal nie.  Bo gaan ons kamp opslaan, kos maak, en dan net.... WEES!!! Ons gaan stil wees, ons gaan mens wees, ons gaan DAAR wees... Wat gaan ons doen? Ek weet nie regtig nie. EK gee ook nie om nie. EK het nie hierdie jaar 'n gedrukte program nie. In ons stil wees vertrou ek dat ons die sagte fluistering van die Heilige Gees, en die lied van die wind, en die teenwoordigheid van die berg sal beleef.

Vrydag 9 Julie sal ons waarskynlik, DV, teen sononder weer by die huis aankom. Ons sal warm kos eet, warm bad, skoon klere aantrek, en in 'n warm bed klim. Die jonge manne en dames gaan hopelik 'n nuwe waardering vir hulle Hemelse Vader, vir hulle eie huise, ouers, kos, menswees hê. Ek vertrou dat dit vir my net so blywend gaan aanraak- 'n nuwe stuk dankbaarheid gaan losmaak, net om weer te kan WEES...