'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Sunday, June 5, 2011

Dag 5- Rabanal na El Acebo

Liewe familie en vriende, as ek gesê het eergister was erg, gister was sewe keer erger. Ek dink dit was fisies die moeilikste dag in my hele lewe. Kon nie gister by internet uitkom om julle te vertel nie.

Toe ek gisteroggend opstaan, was ek nogal naar, dalk van die forel die vorige aand. Ek besluit toe om eers in die volgende dorp ietsie te koop om te eet. Ek het ook net 500 ml water saamgeneem, want die dorpe is mos naby aan mekaar. So begin die dag se stap toe met ´n stewige klim, tot by Foncebadon. Daar is nog geen winkels oop nie. En ek het nog 500 ml water, alles is reg. Toe is dit ´n reuse klim na die Ysterkruis, bo op die berg toe. (Cruz de Ferro) Daar aangekom, het ek die klippie en my seun se soldaatjie op die hoop geplaas, en vir my geliefdes gebid. En toe soek ek water. En daar is nie. Daar is ´n bordjie vir water, maar geen water nie. Ek stap toe nog 2 km na Manjarin toe- ´n baie eksotiese plekkie. Daar is so ´n kluisenaar wat in die dorpie woon, saam met ´n vrou- syne? Daar is sewentig katte in sig, en alles ruik na kat. Hy het wel water op donasiebasis, en ek sluk vinnig twee glasies weg, en los vir hom ´n Euro. Hy het ook so ´n tuisgemaakte heuningbrood, maar dit was glad nie lekker nie. En dit was al wat ek gister tot op daardie stadium geëet het. Ek sien toe nie kans om hier oor te slaap nie, daar is nie eers storte nie.  Ek sien in die gids dis net 7 km na die volgende plek toe- El Acebo. Wat ek nie geweet het nie, is dat dit minder as dit van Everest se basecamp boontoe is- km kan misleidend wees! En daar is nêrens water langs die pad nie. Die pad herinner daar waar ´n mens oor die Outeniquapas gaan George toe van Oudsthoorn af. En dis warm, en ek het nie water nie!
Niemand wou my oplaai langs die pad nie. Ek het later regtig begin dink ek gaan dood. My niere het baie seer begin word.Al wat ek kon doen, was om aan te hou stap.

Ek het so half vier eers in El Acebo ingestap. Ek het by die dorpsfontein neergeval en so 2 1/2 liter water gedrink. Toe was ek so geseënd om die laaste bed in die Alburgue te kry. Ek sou nie nog 4 sulke km oorleef het nie! Ek het dadelik gaan stort, want ek het myself uitgevrot. Daarna het ek ´n Boccadillo geëet, so ´n olierige tuna en kaas broodjie. Dit het my verskriklik naar gemaak. Later die aand het ek eers kans gesien om ´n ongegeurde jogurt te probeer. Dit was al wat ek vir gister geëet het.

Ek het lekker geslaap, maar gisteraand sou selfs ´n spykerbed gewerk het. Om op te maak, was daar 5 Franse meisies, so ongeveer 20 jaar oud, wat met fietse ry. En hulle was pragtig!
Gister het my droom nogal erg geskud. Ek kan swaarkry vat, maar nie sonder water nie. Dit maak my baie bang vir die volgende bergreeks wat so oor twee dae my gaan tref. Ek weet nie op die oomblik hoe om te dink oor die dinge nie. BAie deurmekaar. Die enigste les wat ek gister maar weer geleer het, is om aan te hou, want daar is nie altyd iemand anders wat jou gaan help nie.

2 comments:

  1. Hi Ewald. Hoeveel dae het jy vir die roete? Kan jy nie n dag rus tussen in nie? Dirk

    ReplyDelete
  2. Hi Dirk, ek het vandag net 8.5 gedoen, maar dis ook teen ´n helse afdraende. Net buite ´n stad, sal dalk daar maar ´n hotelkamer moet kry, ´n mens kan net een aand in ´n albergue bly, dan moet jy aanbeweeg. Ek dink ek het ´n redelike knock gevat gister, toe ek in die bed klim was my pols nog steeds anderkant 100, waar dit gewoonlik dan so 65 sou wees.

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?