'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label My geskiedenis. Show all posts
Showing posts with label My geskiedenis. Show all posts

Tuesday, August 16, 2011

'n Hartseer bladsy uit my fotoalbum... Ilse Schmidt 16 Augustus 1970- 10 Desember 1985


Toe ek in Standerd nege was, en verjaar het, het my jongste sussie hierdie verjaarsdagkaartjie vir my gemaak.  Sy was deeglik bewus van my liefde vir motorfietse en karre...  Dit is een van my gunsteling besittings, en ek kan dit nie waag om dit uit die album te haal nie, uit vrees dat dit sal disintergreer.
Net na my 18e verjaardag is sy met kanker gediagnoseer. Sy het dapper daarteen baklei, maar die stryd uiteindelik verloor op 10 Desember 1985. Sy was vyftien jaar oud. (standerd 7).

So dikwels dink ek aan wat alles moontlik kon wees. Sy wat volwasse kon word, kon studeer, kon liefhê en trou en kinders hê.

So dikwels dink ek aan hoe ek as matriekseun glad nie geweet het hoe om haar siekte te hanteer nie.  Hoe ek dit maar probeer ignoreer het in die hoop dat dit net sal weggaan.  Hoe ek nie geweet het hoe om te sê dat ek eintlik hel baie omgee, en nie geweet het hoe om dit te wys nie. Dat daar 'n helse stuk seer in my hart was, wat net op my motorfiets soms uitgeklim het as ek roekeloos deur die draaie van die dorp gejaag het, en soms afgebliksem het in die proses.  Hoe ek nie geweet het hoe om na haar te luister nie, dat ek te bang was om te vra omdat ek nie die antwoorde geken het nie... (nog steeds nie...) 

 Ek het al baie gewonder hoe het ons, as gesin wat lief is vir fotos neem, niks beter fotos van haar het as hierdie een in die Newcastle Advertiser se berig nie. 

Haar dood het in my eie lewe 'n geweldige leemte gelos.  Dit het vir my nog altyd daardie vrees gegee om iemand lief te hê- kyk hoe seer is dit as so iemand weggevat word.  Dit het vir my van al my onskuld beroof- skielik gebeur slegte dinge nie net met IEMAND ANDERS nie.  Die spook van kanker in ons familie maak my steeds bang... 

In ons gesin van oorsprong het dit elkeen van ons nog meer in ons eie hoekies toegeverf.   Na Ilse se dood was niks meer dieselfde nie. 

En enkele weke later moes ek die ouerhuis verlaat, en my pad gaan oopveg in die universiteit. Skielik moes ek die grootmenslewe hanteer, die ontgroening in die koshuis, om skielik 'n kamermaat te hê, om Grieks en Hebreeus te probeer deurkom. Ek het net nooit die tyd gevat om behoorlik oor Ilse te rou nie...  En daardie seer kom nog steeds elke nou en dan uit. Verlede jaar sou sy 40 gewees het, dit het my baie hard geslaan.  Elke jaar op 16 Augustus onthou ek... 

Ek wens ek was 'n beter ouboet. Ek wens ek het meer gehad om te gee. Ek is jammer. Jy was baie spesiaal! En ek was te fucked up om jou so te behandel.  Ons ander sussie kry swaar op die oomblik. En weer weet ek nie hoe om te wys ek gee om nie, en weer weet ek nie hoe om te help nie...


Friday, July 22, 2011

Fourty Days in Matriek- 1985

Vandag is 'n historiese dag in my lewe. Vandag begin ek amptelik verstaan dat ek nie meer onder die jeug van Suid-Afrika gereken kan word nie. Want vandag is my oudste se 40 Days by Hoërskool Nylstroom. En dit is een moederse skok vir my. Want dit was eergister toe die 10 A's van Hoërskool Newcastle (1985 klas)  onse 40 Days gehad het...

Ons het nog nie, soos onse kiddies vandag, daardie Cross-dressing gedoen nie.  Ons was toe nog 'n redelike soet klomp kinders gewees.  Ons het daardie dag nog met regte Fanta en braai by die skool se swembad gaan uitspan. Dis eers op Universiteit wat ons die Suid Afrikaanse Brouerye goed sou begin ondersteun met sulke groot geleenthede en mylpale. (Dalk was daar 'n after-party met baie dop en strippers wat ek tot vandag toe nie van weet nie, ek was redelik onskuldig op skool)

Kyk daar, regte Fanta en Lollipops. ( Nie Fantasia en die Lollypop Lounge nie...) Daar in die agtergrond steek my ma se Silwer Golfie uit, NN 408, wat ek baie ernstig in matriek tot die limiete toe getoets het. Volkwagen het gesê die Golf sal nie so maklik rol soos die Beetle nie. Hoe sal ons nou weet as ons nie kyk nie? Daardie Golf kon in draaie sit soos mis in 'n wolkombers...  Ek dink nie my ma het ooit geweet hoe stewig daardie karretjie op die pad kan sit nie...


Ek moet die fotos sommer so in my album scan, anders as ek dit uithaal, disintegreer die album. Lyk my dit was dalk 'n rukkie van toe af tot nou...



 Ek weet ook nog nie hoe om 'n Collage te maak van verskillende fotos langs mekaar nie.


Ai, lekker gejol daardie dag. Lekker gebraai. Lekker met ma se Golfie rondgery. Die volgende dag was dit weer terug klas toe. Engels en Wiskunde Standaardgraad was baie lekker... 
En kort daarna, die eksamens. En toe die groot hartseer in die familie. En toe sê my eerste meisie my af. En toe moes ek universiteit toe gaan. Dinge het darem net van hierdie dag in ons lewe af baie spoed opgetel, en nog nooit weer laat los nie. 
Nou wonder ek net, my kind, gaan jou lewe ook nou so spoed optel?  En gaan ons oormore my kleinkinders se 40 days beleef, en dink hoe vinnig die tyd met elkeen van ons op pad is?


Sunday, April 24, 2011

My Universiteitskamermaat- Heinrich Eksteen


 Dit is Opstandingsondag. Ek kyk na kerk deur 'n ou fotoalbum. En skielik sien ek weer die fotos van my ou kamermaat. EN soos die afgelope paar jaar al, begin ek verlang na hom.

Van die wonderlikste tye in 'n mens se lewe beleef jy op universiteit.  En dit is regtig 'n voorreg om in 'n Universiteitskoshuis te kan woon.

Ek het dit baie geniet om 'n Kovsie te wees. Universiteit van die Oranje Vrystaat.  Ek het ook die voorreg gehad om in die Huis van Meesters te woon, Huis J.B.M. Hertzog.

My eerste jaar was so bietjie van 'n gemors (om dit lig te stel!). Net so voor Geloftedag aan die einde van matriek is my jongste sussie aan kanker dood. 'n Maand later moet ek die grootmenswêreld aandurf, as eerstejaar in 'n koshuis. Ek het baie issues gehad, ek weet dit vandag.

My eerstejaar kamermaat het ook issues gehad, en aan die einde van ons eerste jaar die koshuis verlaat. Dit was nie 'n goeie match gewees nie.

Van my tweede tot my vierde jaar het ek die ongelooflike voorreg gehad om Heinrich Ostwald Peters Eksteen (soms bekend as HOP in sekere kringe) as kamermaat te hê. Maar ek dink dalk sy ergste nagmerrie het waar geword toe hy my as kamermaat gekry het.  Maar Heinrich is 'n mens met ongelooflike uithouvermoë.

Heinrich het saam met my begin teologie studeer. Maar waar ek pas uit die Hoërskool en nat agter die ore daar in Bloemfontein aangekom het, was Heinrich reeds in die weermag, twee jaar as Korporaal by Pantserskool.  Die een ding wat 'n mens dadelik van Heinrich kan sê: Hy is 'n baie netjiese mens.  Die een ding wat 'n mens van my kan sê: ek is nie 'n netjiese mens nie. Ons was behoorlik twee teenpole.
Heinrich se klerekas sou enige dag 'n weermaginspeksie kon deurstaan. Sy klere was in sulke netjiese blokke gestapel. Sy boeke was baie netjies gepak in die boekrak. En ander besittings in sy weermag staaltrommel aan die voetenend van sy bed.

My klere was enige plek van die kas tot onder die bed, al die pad tusssenin, in verskillende grade van skoon. My boeke het op die lessenaar gelê in hope. Ek was regtig slordig! Vandag voel ek baie skaam daaroor! (Heinrich, as jy dié dalk ooit lees- ek is toe gestraf- my oudste is 'n rooikop dogter, en sy is drie keer erger as ek!) Mense het altyd baie opmerkings gemaak as hulle in ons kamer instap. Maar Heinrich het dit geduldig aanvaar.

In ons tweede jaar het Heinrich die Universiteit se mobiele klankstelsel gereeld ge"operate". So nou en dan het daardie klankstelsel oornag in ons kamer, in JBM se gang 3, wat so mooi uitkyk op Verwoerd en De Wet. So nou en dan, na 23h00, is die luidsprekers uitgedra, en dan het  Heinrich vir die manne in stereo byklanke gespeel, soos 'n trein wat verby kom. Dit het ook so nou en dan amper tot koshuisgevegte gelei- seker omdat De Wet en Verwoerd vol akademiese reuse was wat hulle slaap nodig gehad het! 

In ons derde jaar het ons 'n kamer gehad by trappe in Gang 7, wat afloop na die universiteit se muurbalbane toe. Ons het baie gereeld na 22h00 in die aande vinnig afgehardloop, en 'n paar balle gaan slaan.
Die koffies saam met Heinrich in die aande is iets wat ek regtig baie mis. Heinrich is 'n diep mens, met wonderlike insigte.

Die Grieks en die Hebreeus het hom egter bietjie gepootjie. Ek het die goed net-net deurgekom, Heinrich het altyd daardie een of twee punte gekort. Dit was eintlik vreeslik snaaks om te sien hoe goed Heinrich kon beplan. Hy kon baie mooi studieskedules opstel met die bietjie tyd wat oor was voor 'n toets. Dan is daar ook ruimte vir 'n muurbal, ruimte vir koffie, saam met my of saam met 'n dame. Dan ruk die kuier bietjie hande uit, dan is sy skedule deurmekaar, en dan herbeplan hy weer. Hy het verskriklik baie tyd aan beplanning afgestaan. Ek het nooit beplan nie, net in die laaste minute soveel as moontlik inligting in my deurmekaar verstand probeer inprop. En dit het daai 2% verskil gemaak tussen ons.

Heinrich was altyd 'n galante heer met die dames. Hy sou altyd verskriklik belang stel in iemand, haar soos 'n regte dame laat voel, en absoluut soos enige skoonma se droom optree met die skoner geslag. Hy het nooit soos baie van ons 'n dop te veel gevat nie, hy het 'n reguit pad as gelowige gestap.

Ons paaie het ongelukkig geskei na ons koshuistyd. Heinrich het sy droom laat vaar om dominee te word. Hy het vir die SAUK gaan werk. Ek het uit die koshuis uitgegaan om te gaan trou. Ons het kontak verloor, iets waaroor ek verskriklik jammer is.

Ek het klaargemaak met universiteit, en ook maar deur die weermag gaan worstel. Heinrich sou geglimlag het om te hoor dat die luitenant wat ons opgelei het in basies, eendag die ander manne in die bungelow geroep het om na my kas te kyk- dit was die standaard wat hy graag by hulle almal wou sien! (Dit het egter nie gehou nie!)

Soos ek ouer word, mis ek my kamermaat baie. EK het hom op facebook raakgeloop, maar hy is nie baie aktief daar nie. Hy het, 21 jaar na my, uiteindelik 'n kamermaat gekry met wie hy die langpad kan saamstap. Ek het die facebook fotos van sy huweliksmaat gesien- Mercia is 'n pragtige vrou!

Ek het ook onlangs 'n CD raakgeloop wat hy opgeneem het, met sy selfoonnommer op. Maar ek is nog half huiwerig om hom te skakel.

Heinrich, jammer vir die kere wat ek 'n drol was! Jammer vir die onnetjiese kamer wat jy in moes bly. Baie dankie vir jou geduld, jou humorsin, en dat jy regtig daardie tyd 'n great ou was, ek hoop jy is dit nog steeds. Dankie vir jou aanvaarding, jy het regtig 'n baie groot rol in my lewe gespeel, en ek kon dit nie destyds regkry om dit te wys of vir jou te sê nie. Dankie vir sulke wonderlike tye saam!

Ek verlang verskriklik na 'n koppie koffie saam met jou. Ek sal so graag vir Mercia wil ontmoet.