'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label My seuns. Show all posts
Showing posts with label My seuns. Show all posts

Sunday, September 7, 2014

Bernard se Belydenisaflegging

Amper 18 jaar gelede het ek hierdie jong man gedoop, en belowe om Hom groot te maak met die Here se liefde. 
Ek het baie foute langs die pad gemaak. EK was nie altyd 'n goeie voorbeeld vir hom nie. 
Elke dag was daar maar baie genade nodig. 

Maar vanoggend het hy opgestaan voor die hele gemeente en sy geloof bely. Vir baie mense is dit onsin, en nog meer verstaan dit glad nie meer nie.  In ons gemeente is daar geen druk op 'n kind om dit te doen nie, en ons doen dit ook nie in groepe nie. Na al die jare van sondagskool en by die ouerhuis van die Here se liefde leer, gee ons hulle die verantwoordelikheid. Party kom nooit terug om te kom sê dat hulle die Here liefhet nie. Ons plaas geen druk op hulle nie. Wanneer hulle gereed is, kom sê hulle dit in hulle eie woorde; Ek is lief vir Jesus. Ek wil graag deel van sy kerk wees, en 'n verskil help maak in die wêreld rondom my. (Ek gaan ook nie in allerhande argumente hieroor betrokke raak nie. Hier baklei ek met niemand oor teologiese/ godsdienstige/ ateïstiese verskille nie...) 

Dit was vir my as pa baie kosbaar toe my seun vandag, in sy eie woorde, gesê het wat in sy hart leef. 

Vandag was daar vir my genoeg rede om fees te vier. Ons gesin het 'n heerlike braai saam gehad, met rumpsteaks op die Weber, medium rare met 'n sampioensous. 
Maar vir Bernard was die mooiste van die dag maar steeds "die besondere mense in sy lewe" of te wel: 
Die jong man het BAIE goeie smaak in die lewe... 





Sunday, March 2, 2014

Eerste Hoërskool Rugbywedstryd vir die jongste...


Dis so lekker, nadat hy so baie op die reserwebank geparkeer is in die Laerskool, om te sien hoe hy homself geniet het daar in die agterlyn! Dis dalk net 'n pa se opinie, maar hy het vir my baie mooi gespeel!


Wednesday, February 19, 2014

Valentynsbal 2014

Gisteraand het die Hoërskool hulle jaarlikse Valentynsbal gehou. Vrydagaand die 14e sou nie gewerk het nie, want daar was 'n groot atletiekbyeenkoms.

Die Valentynsbal begin nou al amper 'n klein matriekafskeid hier by ons raak. Dit maak regtig saak wie jy vra, en hoe julle aantrek.

Ouboet het op Valentynsdag die eerste keer in sy lewe, in matriek, 'n meisie gevra om met hom uit te gaan. Ek het nie 'n idee wat die jongmense dit deesdae presies noem nie!

Vir gisteraand se Bal kon Ousus die Fotograaf nie in die middel van 'n akademiese week huis toe kom nie, daarom moes ek maar die fotos neem. Hier is net twee van die 90 wat ek geneem het. En ja, ek is baie in my skik met my seun se goeie keuse, sy is baie oulik!



Wednesday, January 15, 2014

2014 Skop af...

So is die lang, lang, lang Desembervakansie uiteindelik verby.  Die elfuur in die oggend opstaan. Die heeldag op die rekenaar en die Playstation rondlê. Die tye van absoluut niks oefen nie, net eet tot jy vaak is en slaap tot jy honger is.  En dis net ek- nou die kinders...

Vanoggend is almal weer netjies gekoller en getaai...
Die drie broers op pad... 

Wil darem nog 'n foto saam met sy ma hê in sy laaste skooljaar...


Soos daardie eerste dag 12 jaar gelede

Saam met die hoofseun en onderhoofseun- die Mafia het die skool oorgeneem....

En nou begin die jaar weer volspoed van voor af. Die atletiek. Die boeke oortrek. Die romanse wat by twee blom... die blydskap en die trane en die Wiskunde... 

Nog 'n jaar op die Roller Coaster van die lewe... 

Monday, October 28, 2013

Ons lewe nog, dankie!

 Ons het die naweek weer ons jaarlikse karavaan kampeer gehad saam met ons gemeente. Ek begin regtig wens ek kon my karavaan nou meer as een keer per jaar gebruik!

Die naweek by Klein Paradys buite Nylstroom was baie lekker gewees. Maar dit was ook 'n tragiese naweek. Twee jong manne van ons gemeenskap is oorlede, een na 'n motorongeluk Vrydagaand, en die ander in 'n skietongeluk êrens in Amerika. Ons gemeenskap is stil geskok vanoggend. 


Friday, September 13, 2013

Ewald word 15 volgende week!

So herstel 'n man van Duitse Masels...

Tuesday, August 27, 2013

Die ander drie ook... My kinders is 'n kosbare geskenk van Bo!

Net sodat die ander drie nie afgeskeep voel nie... daar was mooi fotos van elkeen van julle op my twee ontdekte CD's...


Dis MY mense daardie... nie almal is mal oor kamp nie...

Ek is MAL oor my dogter die Avonturieër, al hou sy nie van kamp nie... niks kry haar onder nie...


#3- Ou Spaarks! Kyk na daardie oë, dan weet julle- maar net ek mag hom Spaarks noem!  Nog onseker van homself, maar dié ou gaan baie ver kom, hou hom dop!


En dan nommer 4- Piet... Nog ALTYD dinge op sy eie manier gedoen...


Julle is my lewe!


Dankie vir my gesin! Ek is baie lief vir elkeen van julle! 
Wou dit nou maar van my hart afkry so voor ons vanmiddag Louwrens se diens gaan bywoon... 

Die lewe stap sy paaie met ons almal...

Ek soek vanoggend iets in my studeerkamer, en kom af op twee CD's van Photolab, wat nog saam met 35 mm filmontwikkeling gescan is van 2002 en 2003...

Hierin kom ek weer af op Bernard se eerste dag in Graad 1:

.
Dit was nog so groot dag vir ons, veral vir sy ma...

En dan is dit so moeilik om te dink hoe vinnig die tyd met ons vlieg! 11 jaar later- die leiers van Hoërskool Nylstroom word aangewys... 

En van hierdie mannetjie
.
Het dit geword...

Ek skryf hierdie nie om te spog nie...

Saam met ons, verlede week, was die voorsitter van ons skool se Beheerliggaam, Louwrens van Aswegen, omdat sy dogter ook op die VLR gekies is. Die volgende dag is hy geopereer, want kanker is by hom gediagnoseer. Die vorige Woensdagaand het ons nog saam in 'n vergadering gesit, en niks geweet nie. Donderdag is die kanker gediagnoseer.  Dis more drie weke terug. Ons begrawe Louwrens vanmiddag...

'n Mens weet net nooit hoe lang tyd jy op aarde het nie. 'n Mens weet net nooit of jy ooit kans gaan kry om vir jou mense eendag tot siens te sê nie.

Hopelik oor baie jare, as my kinders dalk eendag hierna terugkyk, wil ek so graag hê hulle moet weet hoe trots ek op hulle elkeen is, en dat hulle my lewe elke dag baie, baie beter gemaak het. Al moan ek so oor die stukkende fietse en die weggeblxmde goeters...

Bernard, ek is trots op die man wat jy besig is om te word!

Saturday, June 8, 2013

Go Ahead, make my day...

Reeds in 2006 was die jongste maar lief vir sy gevaarlike speelgoed...

Tuesday, May 14, 2013

Bernard 17 vandag!

Liewe Bernard,

Voor jou geboorte was ek bang om die pa van 'n seun te wees.  Ek het nie broers gehad nie. Ek het op skool nogal gesukkel met vriendskap.  Ek was nie baie goed in rugby nie, alhoewel ek my bes gegee het vir Newcastle Hoërskool se 3e span.   Ek was bang dat ek nie vir jou 'n goeie voorbeeld sou kon stel in die lewe nie.

Maar met jou vriendelike geaardheid het jy van die begin af diep in my hart gekruip. Ek het 'n belangrike ding van vaderskap geleer- dit gaan nie oor die abstrakte idee om 'n pa te wees nie, maar die verhouding met 'n spesifieke seun, wat die verskil maak.

Ek is baie trots op jou.  Ek bewonder die man wat jy besig is om te word. EK bewonder jou sagte hart, en die mooi manier waarop jy met mense werk. Ek bewonder jou talent op 'n rugbyveld, en waar jy hard maar eerlik speel, jou beste gee sonder om ander doelbewus te beseer.

Ja, nou kan jy 'n leerlinglisensie vir 'n kar kry. En ek hoop en bid dat jy in hierdie opsig ook meer verantwoordelik as ek gaan wees.  Ek dink jy gaan...

Mag jy ook eendag die regte meisie ontmoet, wat die mooi in jou gaan raaksien, en mag jy haar soos 'n prinses behandel, maar dis hoe ek jou ken- jy sal...

Geniet jou verjaardag. Dis baie lekker om jou pa te wees, ek is baie trots op jou!

Jou Pa...




Sunday, August 21, 2011

The Legend of Sparky...!

Ek stap verby my naamgenoot se kamer, en sien hierdie teen sy muur...

Hoekom Sparky? Van baie kleins af het sy ogies so mooi geblink, daar was nog altyd so onnutsige kyk in sy oë, en so ondeunde glimlaggie. Van BAIE kleins af. Soos op hierdie foto.

Hy het nog altyd 'n wonderlike sin vir humor gehad, en is baie lief vir lag. Hy het 'n ongelooflike fyn waarnemingsvermoë, en kan mense baie fyn namaak.

Maar asseblief, julle mag hom nie Sparky noem nie! Hy hou niks daarvan as enige iemand anders as ek vir hom dit sê nie. 




My legendariese seun het so klein dopamientekort in sy brein. Dit maak dat hy soms sukkel om te fokus.  En daarom het hy nie altyd die beste akademiese punt nie. Hy kan ook op die sportveld soms aandag verloor.

 Hierdie goetertjies in sy lewe kry aandag op die oomblik. En eendag gaan hy agterkom dat daar niks verkeerd met sy brein is nie, dat daar eintlik 'n ongelooflike kreatiewe instrument daar binne skuil. Eendag gaan sy fokus mooi reg kom, en dan gaan hy sy droom waar maak, en  'n krieketbal oor die grens slaan dat mense vir weke lank gaan soek vir die daardie bal.

Eendag gaan hy sy kop optel, en in homself begin glo. En daardie dag gaan niemand hom weer stop in die lewe nie.  En ek beplan om elke tree van die pad saam met hom te wees, om hom aan te moedig...