Vanoggend, reg by die buitewyke van Hospital de Orbigo, het ´n mens toe weer twee keuses gehad. Dis altyd lekker as jy kan kies hoe jy jou alie gaan sien, linksom of regsom. Regs is korter, net 15 km vir die skof, maar dit loop langs die snelweg. Gewoonlik kies ouens met seer voete hierdie opsie, maar nie ek nie. "There I was, two roads diverged in the road, and I took the one less travelled by, and it has made all the difference..." met effense apologie aan Robert Frost. Die langer pad loop deur ´n baie mooier gebied. Eers volg twee dorpies kort op mekaar, Villares de Orbigo en 2.7 km verder Santibanes de Valdegleisa. Die pad loop deur ´n ou se melkplaas, dan oor ´n koppie, deur ´n woud, en dis prentjiemooi. Na Santibanes is dit´n lang 9 km na San Justo de Vega toe. En op hierdie stukkie pad wens ek ek kon fotos oplaai. Langs die teerpad wat ´n mens kruis, langs ´n vervalle ou plaasskuur, staan ´n jongman met lang hare, hy lyk soos ´n hippie van ouds. Hy het ´n vuil oranje sweater aan, die broek se naaste beskrywing sou ou SA Weermag browns wees. Kaalvoet en poniestert. Maar hy het daar ´n stalletjie, met omtrent dertig verskillende soorte vrugtesap op. Daar is ook ´n wye reeks van tee. Hy het ´n ou vuil seil opgeslaan, en as jy nader kom, sê hy: Welcome in Paradise, nothing is impossible. ´n Mens kan kies wat jy wil drink, en as jy so sou voel, kan jy vir hom ´n donasie gee. Dit was nou baie nice! Ek het dit op foto, sal eendag by die huis dit hier bysit.
Dan stap ´n mens oor die teerpad deur nog ´n pas geplante plantasie. En voor mens by die hoofpad na Astorga toe kom, sit daar ´n Engelse omie in ´n Campervan. Hy het koffie daar, en ´n hele stalletjie wat pelgrims se seer voete versorg. Maar daar was baie mense, so ek het aangestap. ´n Mens kan van ver af, (6km) Astorga sien, maar dit voel ´n ewigheid om daar uit te kom. Ek het dadelik weer plek gekry in nog ´n fantastiese Albergue- San Javier dié keer. Die opsigter is ´n Skot, en sy vrou is Duits. Antieke ou plek naby die katedraal, ons slaap ongeveer 80 in een vertrek vanaand. EK herken ´n hele paar gesigte van gister af. Hulle sê die pelgrimsmenu by die een restaurant is €12. Basta, besluit ek na gisteraand se ervaring. Ek stap na die naaste supermark toe (vandag is ek betyds! ´n Mens leer dalk stadig, maar ek leer tog uiteindelik!) Ek koop die volgende vir € 7.50- ´n pak spaggeti, ´n pak salami, ´n bottel pesto sous, ´n pak kaas, ´n groot sjokelademousse ter ere van my vrou! 1.5 l water, 1 l bier, ´n groot brood en ´n bottel salmpatee.En ´n blikkie Suurlemoen Fanta- baie lekker!
Ek het nou vir my die pasta gemaak met die pesto en salami, met so bietjie van die Albergue se olyfolie en balsamiese asyn. Ek het twee MOERSE borde pasta geëet (vanoggend 17 km gestap op een milka tjoklit, onthou?) Ek het nog ´n bord oor vir vanaand, en eintlik was aandete die brood en die salmpatee. Ek eet vandag vir drie dae se honger, en dit kos nog steeds 3/4 van die pelgrimsete vanaand. Daardie vriendin wat so bekommerd was oor ek die gemeente se geld so steel met hierdie reis, vandag se verblyf en kos kos my minder as R160. Ek kan nie eers ´n dag in Pretoria rondloop vir minder as dit nie.
Ek het vandag baie lekker gesels met ´n Spaanse meisie wat saam met haar pa loop. Ek het met ´n Hongaarse jongman gesels. My lyf? Nee, sy los my uit, ek is ´n getroude man. O, die bene bokant die enkels is baie beter, dankie! My rug is ook beter vandag. Maar my voete met die blase maak my dood! Ek hoop regtig die blasefase wil nou verbygaan, want dit raak regtig seer om daarop te loop.
More is korter in km as vandag- maar dit gaan 14 km se klimmery wees. Ek sal ook moet sien waar ek blyplek gaan kry. So, liewe vriende, more bars ek! En ek slaap dalk in die veld. Maar dis alles deel van die reis.
Wat het ek vandag geleer? Pyn is tydelik, "humiliation lasts a lifetime..." ´n Mens kyk met begerige oë na die treinstasie en busse hier in Astorga. Wie gaan weet as ek die kortpad vat, en op die bus klim en die volgende 50 km se klim en seerkry mis? Wie gaan regtig omgee as ek dit doen, dit gaan niemand seermaak nie. Maar ek gaan weet. En ek gaan oneerlik teenoor myself, en my droom wees. Ek glo dat as ek in hierdie situasie op ´n hopie gaan sit en huil, gaan niks verander nie. Of ek kan tree vir tree, ten spyte van voete wat vir my vloek, aanhou tot bo by die Ysterkruis, waar ek my klippie vir my vriend wil sit, en my seun se plastiese soldaatjie. O, julle weet nog nie van daai een nie. Op die lughawe het ek een van sy plastiese soldaatjies gevat. Ek het gesê ek dra hom saam, en los hom by die Ysterkruis, sodat hy hom eendag self daar kan gaan haal. Toe gee hy my nog een saam, wat moet terugkom SA toe, dan kan hy vir sy pelle sê die soldaatjie was in Spanje. Ek kyk elke dag in my liewe dogter se ontwerp van van die Camino embleem op my klere, en sien op facebook sy verlang. Ek het netnou my wonderlike vrou se stem vir die eerste keer van Vrydag af gehoor. En ek verlang na die ander twee manne daar by my huis ook, ek kyk elke aand na julle fotos op die kamera, wat ek daar op die lughawe geneem het!
Hierdie reis is rof, maar dit doen my baie, baie goed. Ek kry baie tyd vir dink, vir stil word, vir bid. En ek besef hoe wonderlik geseënd is my lewe eintlik, met so baie mense wat vir my lief is. Ek vergeet dit partykeer in die Ratrace! Ek kan so maklik vaskyk in die negatiewe. Ek is jammer daaroor. Hierdie reis gaan oor losmaak van alles wat negatief is, alles wat te swaar in my lewe is om self te dra, alles wat so onnodig is. En dit gaan oor nuwe waardering vir dit wat die lewensreis die moeite werd maak. Dankie vir elkeen wat my familie en vriende is, julle is in my hart elke tree op die Camino de Santiago! Maar veral vir JOU! Jou liefde dra my baie meer as wat enige iemand besef!
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sê jy?