'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!

Saturday, June 18, 2011

Dag 19 Finisterre

Liewe vriende,
Party dae (ongelukkig heeltemal te min van hulle!) loop heeltemal perfek. VAndag is een van hulle in my lewe.
Miskien net ietsie oor gisteraand by die Seminario Belvis- dit is regtig ´n lekker plek om in oor te bly in Santiago. Miskien het dit iets te doen met die afwesigheid van bunkbeddens, en vreemde bedmaatjies...
Die kombuis en internet is onder in die kelder. Daar is heelwat van daardie twee plaat elektriese stofies. Ek het baie ver gestap om ´n supermark te kry. Terug by die Seminario het ek besluit: aangesien ek in so baie Albergues ekstra macaroni en ander bestanddele vir volgende mense gelos het, gaan ek vir een maal ook gebruik wat ander voor my agter gelos het. Gewoonlik is dit vir my baie beter om te gee as om te neem. Maar daar was heelwat ekstras in die kombuis na ander met hulle Caminos klaargemaak het. Ek het ´n pot gevat, bietjie olyfolie en sout ingegooi, en dit op die stoof gesit. Na ´n hele ruk se wag kom ek agter dat die goed eintlik ingeplug moet word. Terwyl ek toe wag dat die water begin kook, raak ek aan die gesels met ´n vrou, wat duidelik soos iemand van Asiatiese (Viet-Nam?) afkoms lyk. Maar haar naam is Anne, en sy kom van New Mexico in Amerika af. Sy maak cous-cous nadat sy knoffel en stukkies ham gebraai het in olyfolie. En sy lag haar dood vir my, want nie een van die 10 stoofplate wil genoeg hitte gee om my macaroni te kook nie. Langs ons staan ´n Duitse omie, wat ´n kitspizza in ´n supermark gekoop het. Hy gooi die ding op hoog in die mikrogolf vir 5 minute, dat dit later soos popcorn klink in daardie mikrogolf. Julle moes die eindresultaat en sy gesig gesien het! Priceless...

Na ´n hele ruk se gesukkel kom die geleende macaroni tot kook. Toe die water kook, is die macaroni klaar al denté! EK het van my ham en blokkies kaas bygevoeg, en Anne het vir my van haar botteltjie Salsa gegee. Dit was ´n lekker ete! Vroeg in die bed geklim, so teen halftien.

VAnoggend eerste in die kamer opgestaan, my rugsak so saggies as moontlik gepak om nie die ander wakker te maak nie, en toe die lang pad na die Autobus stasie aangepak. Soos ek s♪, sover het alles mooi uitgewerk vandag. Die eerste plek wat ek vra in die stasie, verkoop die retoerkaartjies Finisterre toe. Die retoerkaartjies is €23. Toe die bus kom, is dit een van daardie mooi dubbeldekkers soos wat Greyhound in Suid-Afrika ook soms gebruik. Die pad hiernatoe, s♪ die gidse, is iets tussen 78 en 84 km. Dit neem oor die twee ure met ´n bus, maar meer as die laaste uur loop langs die kus verby. EDk weet nou nog nie hoe die mense sê ´n mens stap van Santiago na Finisterre toe in 3 of 4 dae nie, dit voel baie ver in die bus!

Ek het in die week by die Hotel Finisterre ´n kamer bespreek op die internet vir €36. Ek het gesit en wonder: hoe op aarde gaan ek die Hotel kry. Toe stop die bus reg voor die hotel! Die dorpie self is pragtig, en die hotel ook (dalk het dit iets met die eie dubbelbed en badkamer te doen! Maar ek glo die balkon wat op die hawe uitkyk, het ook iets daarmee te doen. En dit vir R360 per aand! Ek sou dit nooit in Suid- Afrika gekry het nie.)

Ek het my rugsak in die kamer gelos, en toe die pad aangedurf na die vuurtoring by die mees Westerlike punt van Europa toe- volgens die Romeinse keisers in elk geval, as die satelietfotos dalk iets anders sou sê.  Ek het seker die neiging om plekke te vergelyk met ander plekke wat reeds aan my bekend is. Maar hierdie plek lyk verskriklik baie soos Valsbaai, daar waar ´n mens op die Argus verby Simonstad en Millers Point na Smitswinkelbaai toe ry. Daar is ook ´n reuse baai hier. Dis ook Atlantiese oseaan. En die pad klim omtrent soos Smitswinkelbaai na die vuurtoring toe. VAndag het ek besef dat ek fikser geword het die afgelope drie weke. Sonder die rugsak het ek daardie klim nie gevoel nie, dit het gevoel asof ´n mens daar uitsweef! Vir ´n slag was die lug blou, en ek het my sonbrandroom vergeet. Maar baie vinnig tot bo gekom, by ´n baie mooi vuurtoring. Daar is baie mense. Maar daar is ook ´n pragtige uitsig! Die een legende is toe waar, baie mense verbrand simbolies ´n stuk pelgrimsklere hier. Dit is verbode, maar die owerhede kyk duidelik anderpad.  Die ander legende is toe nie so maklik nie. Dit is baie hoog bo die see, met baie rotse. ´n Mens spring toe nie sommer net kaalgat hier in die see nie. As jy dit doen, gaan jy bereid moet wees om Amerika toe te swem, of dalk gooi die seestroom jou poedelnakendkaal in Ierland uit...

DIe pad afdraande was ook baie lekker, net weer besef my stewels pas nie reg nie. Ek het ´n stort gaan vat, en toe ´n klomp wasgoed in die bad gegooi, en met Head & Shoulders shampoo gewas (wat goedkoper in hierdie kusdorpie as in Suid-Afrika is!)  Dit hang nou oor my balkon, maar ek weet nie of die son ooit daar gaan bykom nie.

Na ´n kort siesta het ek besluit om hierdie dag ten volle te benut. Toe ek uitstap, hier op die hawe, kry ek ´n restourant met internet. Soos ek hier sit, is daar ´n geel heiningtjie, met tafels en stoele reg buite die venster voor my. DAn is dit die pad, en dan die kaai. Ek is omtrent so 20 meter van ´n klomp (see-) bakkies in die water, anderkant hulle lê ´n paar vissersbote, en dan die kaai, met die oop see agter dit. Aan die oorkant van die baai lyk dit soos die Outeniqua berge by George, met daardie reuse groot windturbines oral op die rante, soos hare op ´n hond se rug.

Hier is glo ´n 2 km lange strand links van Finisterre, ek gaan dit netnou soek. Ek dink om hierdie perfekte dag af te sluit, moet ek weer ´n seekosplek soek wat daai heerlike Pulpo (seekat) verkoop.
More kan ek lekker laat slaap, en dan 11h30 die bus buite my hotel terug Santiago toe kry. EK het ´n nuywe opsie ontdek, en dit is om moreaand om 22h30 die nagtrein yerug Madrid toe te vat. Dan kom ´n mens 08h05 in Madrid aan, en het ek nog ´n dag om ietsie vir die vrou en kinders te soek. Die alternatief- die treine en busse Madrid toe neem amper 9 ure, as ek Maandagoggend vertrek, kom ek eers na 21h00 in Madrid aan, niks tyd om iets te soek nie, want Dinsdag vroeg moet ek die metro lughawe toe vat.

Daar is julle alweer op hoogte met my bewegings. As iemand nou net vir my kan sê waarom my vrou se dekselse selfoon nie geantwoord word nie...

1 comment:

  1. Dankie Emilene, Finisterre is MEER as wat ek verwag het. Jy MOET beplan om hier te kom draai, dis regtig lekkerder as die katedraal in Santiago vir ´n eindpunt!

    ReplyDelete

En jy daar, wat sê jy?