'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label Kennisgewingbord in die Pastorie. Show all posts
Showing posts with label Kennisgewingbord in die Pastorie. Show all posts

Friday, April 12, 2013

Vrydagaand bly koning in die Pastorie!



More begin die Word Rider 2013, en ek is besig om in te pak daarvoor.

Maar op 'n Vrydagaand, as al my kinders tuis is, is dit vir my baie, baie belangrik om vir hulle lekker kos te maak. Met so bietjie hulp natuurlik! 

Gisteraand se episode van Australian Masterchef was so bietjie van 'n ramp, toe die finale 12 van die 2011 seisoen op 'n skaapplaas losgelaat is. Hulle moes op Matt Moran se pa se plaas 'n ete op die vuur voorberei. Hulle het die heerlikste vars lam tot hulle beskikking gehad, en baie netjiese giettyster potjies. En tog het die meeste van hulle maar goed drooggemaak, met 4 1/2 ure tot hulle beskikking... 

Ek hou van kos op die vuur maak.  Vanaand was daar hoenderdye beskikbaar. DIe hoenderdye se velle is afgehaal (net bloot omdat cholestrol glo nie goed vir 'n mens is nie, geen ander rede wat ek aan kan dink nie!) Dit is met so bietjie olyfolie gesmeer, en daar is growwe sout en speserye ingemasseer. 

Daarna is die hoendertjie in die Weber gebraai, met so bietjie eikehout wynvaatjie skaafsels om dit lekker te rook daarmee saam.  Baie keer vra my gaste my hoe ek weet wanneer dit gaar is. Ek weet nie wat om te antwoord nie. Ek het net die gevoel... As ek nie vir daardie gevoel luister nie, braai ek dit droog...  Die hoenderdye is die hele tyd ook bedrup met suurlemoensap. 

Vanaand was daar maar net Namibiese hardehout charcoal beskikbaar om dit op te braai, gewoonlik verkies ek 'n mengsel van sekelbos, en wettig geoesde hardekoolhout. 

So met die braaiery is 'n verdwaalde bottel Villiera Sauvignon Blanc opgespoor wat my vriend Bernard nog verlede jaar vir my gegee het. Daardie wyntjie het mooi geloop vanaand, Bernard! 

Die dames in die huis het aartappels gekook, met 'n suurroom op. Daar was gemengde groente in 'n romerige sous, en beetslaai uit die bottel. 

Die ete self het baie lekker afgeloop, met goeie geselskap, ons het maar die seuns se rapporte probeer vermy... 

Dit bly vir my so lekker, die kere wat ons as gesin saam kan wees en om 'n tafel kan aansit. Sonder enige selfone aan tafel.. Met al die kinders hier. Ons was vir soveel jare so gewoond daaraan, en skielik is selfs dit nie meer vanselfsprekend dat almal teenwoordig is nie. 

Ons het lekker gesels oor more se Super 16 finaal van ons Hoërskool teen Louis Trichardt, en Bernard wat vir die eerste keer in die begin uitdraf in die 1e Span, 'n baie groot geleentheid in ons gesin... 

My pa het glo 1e spanne gehaal, die talent vir rugby was helaas heeltemal afwesig by my gewees, ek was maar 'n benchwarmer vir die 3e span, en daarom ook nie te hoog gereken as positiewe bydrae tot die Hoërskool Newcastle se sportman van die jaar nie... 
Ek is net baie bly Bernard hoef my nooit te tackle nie, ek vermoed dit kan baie seer wees. Ons het ook gesels oor die Word Riders waarby ek more aansluit, vir die reis om Bybels te gaan plaas, en die Bybelgenootskap so bietjie beter bekend te stel. 

Maar die hoogtepunt van die aand, selfs beter as my hoender, was die nagereg! Anja was lus vir 'n Roly Poly, en het dit die eerste keer in haar lewe gebak.  Sy het dit meesterlik gedoen! 


Met so 'n poeding kan die aand mos net lekker wees!  Bedien met 'n heerlike warm vla. 

Na die tyd was daar filterkoffie, en toe 'n glasie van Calitzdorp kelders se Rooi Muskadel om die ete mee af te rond... 'n Heerlike aandjie in die Pastorie- ons eet byna nooit so luuks nie, maar ek is op pad van die huis af vir 'n week, en Anja Maandag terug universiteit toe. 

Daarom vier ons die lewe, familiewees, en soveel genade wat ons ontvang. 

En nou MOET ek regtig gaan pak vir die Word Riders...  Lekker aand by jou! 

Monday, September 3, 2012

Die Paralimpiese Atlete inspireer ons!

Ek en my gesin kyk in die aande met presies dieselfde vlakke van toewyding na die Paralimpiese spele in Londen.  Dikwels het ons 'n traan in die oog en 'n knop in  die keel.
Dit is aangrypend mooi hoe mense wat al baie seergekry het, of anders as ons gewone mense gebore is, hulle lewens nog steeds voluit aanpak. Om met daardie stukkende liggame met soveel entoesiasme vir jare lank te oefen, om steeds die heel beste te kan wees wat hulle kan wees- hulle droom ook oor Olimpiese Goud! En hulle elkeen verdien dit. Hulle het ons onverdunde ondersteuning- hulle is die ware kampioene in die lewenswedloop!

Vroulief merk nou die dag op- die gees van sportmanskap is baie mooier hier as in die ware Olimpiese spele. Hier is die atlete nie so vol van hulleself nie- hier is baie meer medelye en empatie met jou mededingers.

Saturday, July 21, 2012

Moederloos- brekfis en rugby...

My vrou het my ALWEER verlaat.  Ousus is terug na haar plek van studie toe.

Vanoggend is dit net ons manne by die huis.En hier gaan dit rof. Ons was nie skorrelgoed nie. Ons trek nie onderbroeke aan nie. Ons borsel nie tande nie. Daar is net nie tyd vir sulke sissie goed nie. Want vanoggend is dit RUGBY! Ons maak gereed vir die Bulle teen die Crusaders, Maar net ek en Stephan is Bulle- ons lewe met HOOP!

Net daarna is dit die Sharks teen die Reds, Bernard en Ewald se span (al was hulle omtrent nog net drie keer in hulle hele lewe in Natal- hulle was nog nooit op Kings Park nie.  Of Gapsa stadion of Moses Mamparra stadion- kan nooit meer bybly met al die name nie. Sommige dae wonder ek sommer wie ekself is, met al die veranderinge rondom my.

Nou kyk, vanoggend is uitdagende tye. Twee rugbywedstryde direk na mekaar is uitputtend! Ek onthou! Daar was daardie een roemryke dag in my eie persoonlike glorieryke rugbyloopbaan as derdespan haker van Hoërskool Newcastle. Toe ek met daardie game klaarmaak, is die haker van die 2e span net MIA. Toe moes ek maar opgetrek word groot rugby toe- 2e Span! Ek het skoon hoogtevrees gekry- die roem het amper na my kop toe gegaan. Ek wou net begin handtekeninge uitdeel by die Game sentrum, maar ek was bang om daar te staan met al die bomme wat al daar ontplof het naby die Wimpy...

Om twee wedstryde na mekaar te kan oorleef, is voeding baie belangrik.  Met Mammie wat nie vandag met ons is nie, en die seuns wat te lui is, en lanklaas hande gewas het, moes ek maar self die Naakte Kok gaan wees in die kombuis.

Ek het eendag op 'n sinodesitting in Pretoria daar in die Manhatten hotel mooi gekyk hoe die chef my omelet maak. Van toe af kan ek darem ook.  VAnoggend het ek weer probeer:
Daardie pan is een van my heel gunsteling besittings! Ek het hom jare gelede baie goedkoop by Checkers Hypermark in Klerksdorp gekoop. Let op die handvatsel. Hy het eenkeer geval, en soos gietyster maar maak, het die handvatsel afgebreek. Ek is heel trots daarop- kyk daardie nuwe handvatsel- ek het self geleer om gietyster te sweis, en dit net hierdie een keer reggekry, met 'n stuk roundbar  wat in die tuin rondgelê het. Geldwaarde- sal seker so R20 kan kry vir die pan op die kerkbasaar se veiling. Waarde vir my: Priceless! Hierdie pan laat net nooit 'n omelet vassit nie.  Soos dit maar gaan hierdie tyd van die maand gooi 'n mens by wat nog beskikbaar is, so kort voor payday. Rapsie kaas, 2 Weenseworsies opgekerf, 'n skud Tabasco Smoked Peppersous, klein bietjie growwe seesout, en Bob is nog steeds in Zim...

Dis hoekom hierdie pan so geliefd is- Toyota kon hom gemaak het! Alles loop reg, altyd reg...
En die omelet was toe baie lekker, beter as die meeste ontbyte by restaurante in ons omgewing- hiervoor sou 'n mens in elk geval anderkant R45 betaal het!  Ek wens net daar was filterkoffie en nie Ricoffy in die huis nie.

Nou is ek gereed om op te draf teen die Crusaders... hulle gaan bars! (Geloof is veronderstel om deel van my werk te wees, onthou!)
Vroulief, gedra jou daar by Skoonma, en berei jou maar geestelik voor vir die terugkoms huis toe!

Sunday, July 15, 2012

Die einde van die vakansie...

bring groot depressie in die Pastorie mee! By die Onderwyseres en die drie seuns...


Monday, August 15, 2011

Ma, luister tog as die kinders praat...

 Dis interessant as 'n moeder 'n bemoedigende boodskap vir die gesin wil skryf, en dit so lelik op haar kan backfire... Dit lyk my die Vrug van die Gees van Vriendelikheid is so bietjie in Short Supply in die pastorie op die oomblik...

Saturday, July 30, 2011

Om hard terug te kom aarde toe...

Van Standerd 9 af het ek redelik gereeld Potjiekos gemaak in my lewe. Ek het nogal gedink dat ek die kuns verstaan...

So is vanaand mos nou 'n baie koue wintersaand. En besluit ek om ou vriende oor te nooi vir 'n Potjie. Ons almal het mos maar op ons eie deur die Springbok nederlaag teen die All-Blacks geworstel (40-7!) en die dag het maar 'n paar beproewinge wat ook voorlê in die Currybeker. Soos toe ook met die Blou Bulle se nederlaag teen die WP waar geword het.

Ek het die vriende oorgenooi, en by Pick 'n Pay die nodige bestanddele vir die potjie gekoop. Van drie uur af het ons die Alva bokkie met die groot gasbottel voor die televisie geparkeer. Fyn gekapte uie is in Olyfolie gebraai. Daarna is die vleis, met 'n sprinkeltjie Captain Morgan en Coke oor, in die pot gebraai tot mooi bruin. Dit is gelos om sag te kook, met kerrie en braaisout, so sprinkeltjie komyn by. Later is aartappels in stukke gesny bygevoeg, en gemengde groente. Heel laaste het twee pakke sampioene gevolg, om op 'n bed met rys voor te sit.  My potjie het vir my te pragtig gelyk. Dit het heerlik geruik terwyl die Bulle so lelik pak kry daar op Nuweland. Die vriende het gearriveer, en ons het heerlik oor 'n bottel rooi gekuier voor die televisie.

Alles sou redelik mooi verloop het (behalwe nou vir al my spanne se rugbytellings!)
Toe haak klein Ewald af met die woorde: Hy hou baie van my Potjiekos.  Dit gee hom altyd maagwerkings maar dit bly steeds lekker...

En hier dog ek ek kan lekker kosmaak! Ek hoop nie my ander familie en vriende beleef my kos ook soos my naamgenoot nie...
Vanaand se Potjie

Vandag het 'n paar belangrike dinge lelik in die hek geduik!
Ek het nogal gedink vanaand se kos was lekker...

Tuesday, July 26, 2011

Wat sê die Pastoriemoeder nou eintlik vir ons???


In ons kombuis is daar 'n kennisgewingbord, bokant die stoof.  Daarop skryf ons die menu van die dag, of persoonlike boodskappe.

In die Pastoriemoeder se handskrif het hierdie een vandag verskyn- sien bo!

Ek is mos nou nie eintlik altyd so Clued- Up oor wat in 'n vrou se hart aangaan nie.  Wat sou julle sê is hier aan die gebeur?