'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label Motorfiets stories. Show all posts
Showing posts with label Motorfiets stories. Show all posts

Monday, July 29, 2013

Word Riders 2013 Streekreunie

Die Word Riders van Nylstroom, Naboom en Potties het op Sondag 21  Julie 2013 by die Wimpy in Naboomspruit bymekaar gekom, en van daar af na die Dros in Potgietersrust toe gery vir 'n baie lekker middagete saam.  Danie Ueckermann kon nie daar wees nie.

Die groep van ons wat daar was:  Ek en my Geliefde!

Thomas en Ronel Freysen van Nylstroom

Philip en Marietjie van Niekerk van Naboomspruit

Hans en Theresa de Waal van Potties

Mense wat die Here, sy Woord en Motorfietse baie lief het. Ons het baie lekker gekuier (heel verantwoordelik ook!)

Saturday, April 20, 2013

Word Riders 2013 dag 1 Ek en Anja

 Op dag 1 van Word Riders 2013, op Saterdag 13 April, het Anja saam met my gery om die groep ryers by Warmbad te gaan ontmoet en te begelei na Weesgerus toe.
Ons het saam op ou Huisbesoek gery.

Soos 5 jaar gelede ook al...


Friday, April 12, 2013

DVDV...

Dank Vader dis Vrydag!!!

My afdag. My "private dag" volgens my Diensverhoudinge Bestuurder...

from: http://lifebeginsatretirement.blogspot.com/2011/01/tgif-in-65-hours-to-be-exact.html

Maar hierdie gaan 'n besige Vrydag wees!
More begin die Word Riders te ry! EK en kollega gaan saam op die 2000 km toer, van Kempton Park af deur ons dorp, na Louis Tricharddo, Tzaneen, Blyderivierspoort, Laeveld, Secunda... Ons sien baie uit.


  • VAndag moet my BMW nog gewas word! 
  • Vandag moet ek nog pak. 
  • Vandag moet ek nog by twee bejaarde dames uitkom wat my graag wil sien voor ek ry. 
  • Vandag moet ek nog die hout gaan haal vir die Word Riders se braai more by Weesgerus. 
  • Vandag moet ek nog seker maak die koelkamer by die kerk is aan, en die bakke is gereed om Spif Hoenders se uitstekende donasie van 75 halwe hoenders in ontvangs te neem.
  • Vandag moet ek nog saam met my dogter gaan brekfis....
  • Vandag moet ek nog seker maak die broodjies vir more is bestel, en botter aankopp
  •  Vandag moet ek nog seker maak ons orrelis het al die liedere vir Sondag se Word RIder erediens gekry. 
  •  Vandag gaan seker nog 'n paar ander interessante draaie met my maak. 
  • Vanaand wil ek graag braai saam met my gesin, beter as daardie Aussies op Masterchef gisteraand! 
Wat jy ook al doen vandag, maak die beste daarvan. Onthou, Vrydag kom net een keer per week! 

Friday, March 15, 2013

Op Roete 62 by Ronnie se winkel...

Ek sien nou eers hoe lank het ek hierdie blog van my afgeskeep! Jammer julle!

Ek wil dit darem nog oop hou.
So hier is so 'n fototjie uit my lewe uit...  Eendag lank, lank gelede (verlede week...)

Ronnie se Sex Shop is 'n PUB langs Route 62, êrens tussen Ladismith en Bonnievale. Dit is 'n bekende toeriste aantreklikheid, die toerbusse stop in massas daar deesdae...  Nee, daar dans nie kaal meisies rond nie...

Die binnekant van die Pub is baie interessant, met die bra's van wittebroodpaartjies en ander verliefdes wat daar in die dak hang. Al die binnemure is vol graffiti van almal wat al daar was.  Daardie deel van die Klein Karoo is baie, baie warm, en die bier is lekker koud...

Thursday, May 24, 2012

Nog 'n stappie nader aan grootword...

Nee, nie my seun nie, ekke...

Vanoggend het Bernard sy leerlinglisensie gekry vir 'n 125cc motorfiets...

 

Dit bring so baie mooi herinneringe terug. Ek het ook baie vinnig na my 16e verjaardag my leerlinglisensie gekry, vir my pragtige nuwe Honda MTX 50 motorfiets.

Daardie leerlinglisensie het vir my 'n nuwe wêreld oopgemaak: If you don't own wings you'll never fly...  Dit was so opwindend- daardie gevoel van absolute vryheid as jy daardie enjin aan die gang skop, en met 'n woeste draai van die regtergewrig laat wegtrek op die paaie van die lewe in, met 'n groot avontuur wat wag agter die horison. 

Daardie eerste leerlinglisensie, en my eerste motorfiets, het 'n passie begin wat seker lewenslank sal bly, en my dalk nog eendag deur die Jordaanrivier sal vat... Die vryheid, die roepstem van die pad, die onbekende plekke wat nog ontdek moet word. 

Ek kan dieselfde kyk in my seun se oë sien. Soos my teatersuster-ma wil ek waarsku: wees versigtig Seun, die goed is gevaarlik... maar die Bikerpa in my jubel en sê: welkom in ons wêreld! Mag daar altyd 'n pad wees om te gaan kyk wat agter jou horison lê, mag daar altyd 'n BIKE onder jou wees wat jou vinnig en veilig dra, mag daar goeie vriende wees om die ervaring mee te deel, en mag die regte Passasier (Sy!) eendag agterop jou bike klim, om saam met jou die mooi paaie te gaan ry! 

Draai  daai regteroor, my seun, maar onthou om betyds te briek. Kyk altyd uit vir almal rondom jou, veral hulle wat nie kan of wil dink en sien nie... 

As ek eendag groot is, wil ek graag saam met my seuns, elkeen op eie Bike, op 'n lekker roadtrip gaan. Hulle moet die regte dinge gaan studeer, ek droom van Route 66! 

Bernard: Yol Bolsun!

Monday, August 16, 2010

Motorfiets nommer 5: My Aprilia Pegaso 650!

Dit het so gebeur: Eendag, lank lank gelede was daar 'n dominee, wat altyd in sy hart die hunkering na stilte en vryheid het. So lank hy kan onthou, was sy gelukkigste tye op motorfietse gewees. Die tipe vriende wat hy in die motorfietswêreld gemaak het, was dié met wie 'n mens deur 'n oorlog sou kon gaan. Soms harde mense, soms rowwe kante, maar beslis nie soveel maskers en hang-ups as die algemene motorfietslose man op straat nie!

Weens finansies, en daardie een boeboe met die Honda CB 750 F was daar 'n dekade in sy lewe sonder 'n werkende, gewillige motorfiets. En soos in een van die vorige stories vermeld, daag vriend Sam Hoffmann nog boonop op met 'n uitnodiging na Buell se 2006 bekendstellingsdag. Wel, daar het die ou verslawing maar weer vasbytplek gekry. Julle ken natuurlik hierdie dominee, né?

Wel, op pad na die Buell dag toe stop ons by 'n motorfietswinkel in Zambesiweg, Pretoria. En daar op die vloer staan twee ou BMW 650 GS 'e. Dit was wat ek begin dink het om te koop. Maar langs hulle staan 'n Aprilia Pegaso, later model, heelwat minder geld, en dit lyk dieselfde vir my. Ek moet bieg, op hierdie oomblik het ek nog nooit regtig van Aprilia kennis geneem nie. Ek begin later soek op die Internet, en kom agter dat Aprilia die BMW 650 reeks vir BMW in hulle fabriek in Italië bou. Ek leer dat die Aprilia ook met 'n Rotax 648 cc enjin uitkom, daardie Oostenrykse staatmaker wat al verskeie toekennings gewen het vir die beste enkelsilinder enjin in die wêreld.

Laastens: dit het gegaan oor bekostigbaarheid. As geld nie 'n opsie was nie, het ek seker vandag 'n BMW 1200 gery- GS of RT, dalk selfs S soos 'n paar vriende...
Maar: geld was en is steeds 'n groot briek in my drome...

Daarna volg 'n paar weke: elke Donderdag die Junkmail koop. En op 'n goeie dag (eers die volgende Dinsdag) sien ek die advertensie raak: 2000 Model Aprilia Pegaso, net 10 000 km op die klok, R32 000 in Pretoria. Het julle al gesien hoe vinnig kan 'n mens afsprake rondskuif as jy regtig wil? Ek bel die ou: Ja, hy is nog steeds beskikbaar. Gryp Ouboet Bernard, en ry Pretoria toe. En toe die man sy garage oopmaak, en ons hierdie pragtige Italiaanse meisie met die oulike kurwes sien, toe is dit verby! Bernard sê : "Pa, koop hom!" En Pa dink: Watter besondere wysheid en insig is hierdie seun van my nie mee geseën nie!

In elk geval: ons vat hom vir 'n spin. Op daardie stadium het sy nie 'n enkele krappie op gehad nie, net 'n krakie in die windskerm. Ons kom terug en sê: Ons koop haar. In daardie week maar gaan reël vir 'n banktjekkie uit my huislening uit.

Met 'n lied in die hart die motorfiets vol petrol gemaak, en teruggery huis toe, met 'n Pavarotti lied in my hart, iets soos Nessum Dorma. Die eerste keer nie 'n Honda nie, die eerste keer nuwer as 1982! Hierdie motorfiets hanteer soos 'n droom, en was nou al 2 keer met my Kaap toe sonder enige probleme.  Die liefdesverhouding duur steeds voort. So nou en dan (deur die Karoo!) wens 'n mens steeds vir daardie een met die blou en wit propellertjie wat anderkant 200 kan gaan, want gelaai sukkel ons twee maar om verby 150 te kom met 'n wind van voor. Maar hier in die dorp, en vir 'n vinnige hospitaalbesoek in Pretoria deur die verkeer het: onverbeterlik!

Kyk mooi na haar naam: Huisbesoek. Dan kan Annelie eerlik sê: Ewald is uit op Huisbesoek!  Ek geniet Huisbesoek besonder baie!

Friday, July 16, 2010

Daardie dag met die Harley...

My vriende weet: die tweede naweek in Maart is ek altyd weg uit Nylstroom uit. Dan is dit tyd vir twee van die mees kosbare afsprake in my lewe. Die kleiner ene is om om Tafelberg met die fiets (trap) te gaan ry- so klein dingetjie genaamd die Argus, met sy 40 000 ryers, die Suid-Ooster ens. Maar die groter afspraak is met my vriend Marthinus en sy familie in Melkbosstrand- kosbare mense in my lewe. Dit kan dalk ook soms gebeur dat 'n bottel KWV 5 jaar oud per ongeluk sy *** sien, maar dis ook weer 'n ander storie.

Een van die liefdes wat ek en Marthinus deel, behels twee wiele en 'n enjin. So gebeur dit een jaar dat my foon lui een sonnige dag in Februarie. Dis Marthinus. En hy sê as ek weet wat is goed vir my siel, dan sal ek sorg dat ek al die naweek voor die Argus by hom is. Nou kyk, as daar een mens in my lewe is wie se aanbevelings ek dadelik vat sonder om vrae te vra, is dit Marthinus Britz s'n- 'n wyse man, voorwaar!

Ter wille van my sondige siel sorg ek toe dat ek al die naweek voor die Argus by sy huis in Melkbosstrand inklok. Die saak staan nou so: Marthinus en 'n paar vriende het 'n verjaardagklub gehad. Elke maand betaal elkeen so iets in. En as dit jou verjaarsdag is, dan maak hulle een van jou drome waar, solank dit nou nie Pamela Anderson of so iemand behels nie...

Marthinus se vriende het vir hom gehuur: 'n Haley Davidson Electra Glide- die oumeneer van die HArley's.
So ry ons na Kaapstad se middestad toe, en gaan boek die Harley uit. So 'n vormpie word ook geteken dat as jy hom beskadig, gaan dit jou R10 000 kos. Marthinus teken braaf, daarna trek hy en Elna weg met die Harley, en ek agterna in sy Tiburon (die dae voor hy BMW kon bekostig!)

Nou ja, om uit die familie uit te praat- daardie eerste draai om die eilandjie was amper rampspoedig. Want Marthinus sit hom netjies, versigtig op sy kant neer. Ek lag niks nie- ek belowe. Hardloop om hom te gaan help.

Die Saterdagoggend was pret. Die Suid-ooster het so liggies gewaai, nie te kwaai nie. Marthinus en Elna is op die Harley, ek in die Tiburon, en ons gaan Hermanus toe. Maar die ou windjie waai. Marthinus spook maar met die fiets. En ek sit lekker in die Tiburon, musiek kliphard. Lekker geëet in Hermanus, terug Melkbos toe. Daardie middag het die vriende wat help betaal het, ook kom saamspeel.

Sondag moes Marthinus preek. Maar ek was nie in sy diens nie! Een van my drome het toe ook waar geword. Lucy Jordan se ballade het mos gesê dat sy toe nooit deur Parys met 'n sportmotor gery het, met die wind in haar hare nie. Wel, ek het toe deur Kampsbaai se hoofstraat met die grootste Harley gery, geparkeer voor 'n koffieshop, en met so lekker windgat houding daar ingestap, asof die plek aan my behoort. Een ding van die Bucket List af!

Twee goedjies wat ek graag wil noem- kyk daardie helmet op die foto. Marthinus vat seker 'n Medium helmet. Ek het 'n XXL nodig. Ek moes my bakore so netjies opvou en probeer indruk. Toe die helmet met 'n tienpondhamer slaan om op my kop te pas. En dadelik hoofpyn gekry soos die ding my druk. Maar vir sekere sake is ek bereid om te ly! Drome waar maak is een van hulle.

Tweede ding: ek verstaan toe hoekom die Harley so maklik gaan lê het in die eerste draai. Die blêrrie ding weeg seker 'n halwe ton! En in die verkeer bestuur hy amper soos 'n Olifant tenk.  Dis verseker nie 'n fiets wat ek sal koop om mee te "commute" nie! Maar daardie "potato-potato" klank, en die bleek outjies in hulle Merc's en Shitty Golfs se gesigsuitdrukking maak die intimidasie faktor so heerlik macho!

Ten spyte van die gewig was dit baie, baie lekker om Chapman's Peak se draaie te gaan vat met hom. En ja, hy pas in by Kampsbaai se hoofstraat (-strand!) Image het hy verseker.

So het Marthinus een van my drome waar gemaak. Thanks Pal! Wat nou van Route 66 in Amerika met twee sulke menere? (Onttrekkings by Nedbank met balaklavas en ons 9 mils sal seker dit kan finansier?)

Tuesday, June 22, 2010

2005- Buell bekendstelling- die vonk vat weer flam!

Op 'n goeie dag in 2005 kom my goeie vriend Sam Hoffmann met hierdie blink voorstel: Buell gaan hulle 2006 reeks motorfietse op Gerotek bekend stel, en hy het kaartjies. Sou ek dalk belang stel? SOU EK BELANG STEL!!!?  Op hierdie stadium was ek nou al jare lank sonder 'n werkende motorfiets, en die uitnodiging was dieselfde as om vir 'n alkoholis te vra of hy dalk 'n dop wil hê! 

Natuurlik het ek belang gestel, en so is ek, en Sam, en sy seun Wouter (Aprilia tegnikus van formaat!) met onse motorfiets kleertjies na Gerotek toe.

Eers gou 'n ou vrywaringsvormpie geteken wat sê as ek my vrek val, ek nie 'n hofsaak teen Harley Davidson sal maak nie. Dapper teken ek. 

Ons begin die dag met die Ulysses. Buell se destydse poging om die BMW 1200 GS aan te vat. Tot my skaamte moet ek erken: ek is te kort vir hierdie fiets! As ek op hom sit, raak my tone net-net grond. Die fiets het heel skaflik op daardie kronkelpad teen die berg uitgery. Maar toe die moeilikheid, hulle neem ons na 'n steil helling, met 'n klipperige grondpad. En een na die ander sit die manne die fietse neer. Maar ons Nylstromers was geseënd- nie een van ons het omgeval nie. Genade, nie vernuf nie! Die fiets was net te hoog om grond raak te trap as ek gly. 

Tweede sessie was met die Lightnings om die baan. En hier was ek maar bietjie "nervous in the service..." DIt was die eerste keer in jare wat ek regtig op 'n motorfiets gery het. En die selfvertroue was maar min met die "cornering" op die baan. Van die skoolseun wat met genot sy MB se "footrests" in die draaie skuur, was daar niks te sien nie. Maar dit het stadig al beter begin gaan. Die vrees het verdwyn, die glimlag het verskyn, ek was weer in die hemel...! 

DIe derde sessie was genoemd "Battletrack"- 'n sport wat in Amerika op die Malls se parkeerterreine ontstaan het. Jy vleg tussen kegels deur teen die stophorlosie, die doel van die oefening is om jou bestuursvernuf te toets. EN ek moet sê: hierdie Buells het deksels lekker hanteer! Hulle is baie korter as 'n gewone motorfiets tussen sy aste, en die swaartepunt is ook lekker laag. Ek dink hierdie moet omtrent die ideale fiets wees om deur die verkeer te vleg op die Ben Schoeman snelweg. Hierdie sessie was regtig lekker- die ou "skills" het stadig weer begin terugkeer. 

Na ons drie sessies het ons lekker geëet  op Harley se rekening. En toe is ons terug baan toe, waar Craig Jones (internasionaal bekende waagkunstenaar) vir ons gewys het wat kan 'n mens alles met 'n Buell doen. Wheelies, fronties, donuts spin... al die dinge op meesterlike gebied. Waar ek regtig respek vir hom gekry het, was toe hy 'n Harley V-Rod gewheelie het. Dan was daar ook so klein Thai mannetjie wat met custom handvatsels op die voorwiel van 'n Buell sit. Craig doen 'n frontie, en dan druk daardie mannetjie sy helmet teen die grond dat die vonke spat! Gelukkig het hy nie volunteers gevra nie, ek sou myself bevuil het! 

Dit was 'n wonderlike dag in my lewe. Die probleem is dat die ou, sluimerende monster diep in my weer wakker gemaak is. Ek het toe geweet ek moet weer 'n motorfiets in my lewe kry. DIe lewe is net te kort om nie een te hê nie! En dit is wonderlik hoe vriende soos Sam jou weer op die regte pad kan help in die lewe! 


Foto
Craig Jones en die Thai mannetjie in aksie. Hy draai om, en dan raak sy kop die teer. Foto bietjie klein, geneem met klein digitale kameratjie!

Wednesday, June 9, 2010

Honda CB 750 F- net te oud!

My vierde motorfiets, glo dit as jy wil, was my vierde 1982 model Honda! Dit het so gebeur...

Ek het met groot trane in my hart my Honda CB 400 N aan my vriend verkoop. Dit was in 1992. Ek was deur die weermag, deur die tyd in Kroonstad as Dienspligkapelaan en Proponent. Ek het my eerste beroep gekry in Nylstroom, later my tweede beroep, ook in Nylstroom. Vier kinders is gebore. Daar was eenvoudig net nooit weer geld vir 'n motorfiets nie.

MAar die honger het nooit verdwyn nie. Elke keer het ek daardie ver af uitdrukking in die oë gekry as die motorfietse deur ons dorpie brul. Daardie sirkusleeu wat so op en af in sy hok loop, en met dooie oë na die maan staar- ek ken sy hart se gevoel.

Op 'n dag  (min  of meer, ongeveer, by benadering, plus minus 2002) staan ek in my vriend Jimmy se fietswinkel. Ek vra hom of hy nie weet van enige tweedehandse scooters in 'n redelike kondisie nie. Op daardie stadium staan oom Kleyntjie in die winkel, en hoor my versoek. Hy nooi my om saam te kom kyk wat in sy motorhuis staan.

Hierdie Honda CB 750 F het 'n hartseer storie. DIt was ook Kleintjie se seun se fiets. Sy seun was toe al twee jaar oorlede in 'n motorongeluk, en die fiets staan intussen net in die motorhuis. Hy soek 'n goeie baas vir die fiets. Die motorfiets was pragtig opgepas, ook nie 'n krappie nie, soos julle op die foto kan sien. Die Cowley 4-1 uitlaatpyp was indrukwekkend. Die enigste moeilikheid is: die fiets het baie lank gestaan.  Ek het die motorfiets by oom Kleintjie gekoop vir R8 000.

Ek was een keer Poison Rally toe met die motorfiets- toe dit nog in Potgietersrust aangebied is. Op pad terug het daar vuilgoed in die tenk losgekom, en in die vergassers verstop geraak. Dit het veroorsaak dat die fiets petrol teen 'n redelike spoed by die oorvloeipypie uitgegooi het.  Ek het begin soek na 'n motorfietshandelaar wat die vergassers kon regmaak. Maar oral het ek gehoor: Jammer- hulle werk nie aan sulke ou fietse nie. Hulle ken nie die Carbs nie. En daar is spesiale sinkronisasie of kalibrasie nodig tussen die vier verskillende vergassers, wat hulle nie kan doen nie.

Hierdie arme ou dame het vir 'n jaar in my motorhuis gestaan, waarin ek net nie die regte antwoord kon kry vir haar geriatriese toestand nie. Ek het in totaal minder as 1000 km met haar gery. Ek was later so gefrustreerd. Op 'n dag het 'n jong man by my gestop, en gevra na die motorfiets in die garage. Ek het hom die hartseer verhaal van haar spysverteringsprobleme vertel. Die jong man het gesê hy ken hierdie fietse. Hy het my R7500 vir haar aangebied, voetstoots, wat ek dadelik aanvaar het. 

Ek het hierdie motorfiets nog een keer gesien. Die jong man het die vergassers reggekry, en die motorfiets silwer geverf, met 'n blou potloodstrepie. Die fiets was te koop vir R14 000. Ek gun hom enige wins, want ek kon die fiets nie tot haar reg laat kom nie. Ander eienaars van hierdie model motorfiets het getuig van groot betroubaarheid en jare se vreugde. Myne het net te lank gestaan.  "I did own the wings, but I never flew..."

Honda CB 400 N- vat my na my meisie toe!

My hart was gebreek oor my gebreekte Honda MB5.  Maar dit was seker maar bedoel om my in die grootmenswêreld in te dwing- 'n mens kan ook nie by 50cc bly vir die res van jou lewe nie!

Ek het elke Desember vakansie by Yskor se aanleg in Newcastle vakansiewerk gedoen. Die Desember van my 1e Universiteitsjaar beland ek toe by Hoogoond no 5. Daar het ons 12 uur skofte gewerk, en baie goeie geld verdien.  Ek het met my pa oor die universiteitsgelde onderhandel, en hy het uiteindelik gesê dis reg- koop maar weer vir jou 'n motorfiets. Een van my vriende in Bloemfontein het my vertel dat sy buurman 'n Honda CB 400 N wil verkoop, vir die fenominale bedrag van R1400. En ek het dit toevallig in my bankrekening. Hy het my die fiets gaan wys, en ek was dadelik verlief. Daardie kurwes! Daardie kleur! Nie 'n krappie op nie! En so het een van die mooiste verhoudings in my lewe begin!

As 'n man gewoond is aan 'n 50 cc, dan was hierdie 400 'n stukkie hemel op aarde. Ek het met haar my groot motorfietslisensie gedoen. Die Spietkop wat my getoets het, was nog wit geskrik in die gesig nadat 'n medelandsburger hom met 'n 3 ton lorrie vir die ry van sy lewe gevat het! In elk geval, die man het net vir my gesê: "Boet, sien jy daardie stopteken daar (so 75 m weg!) As jy tot daar en terug kan ry sonder om jou nek te breek, dan skryf ek jou lisensie uit." Boet se nek is nou nog heel, en nou ry ek wettiglik groot motorfietse- in elk geval wat lisensie aanbetref, spoed is dalk 'n ander kwessie.

Hierdie tweesilinder was 'n droom. Nie vinnig nie, ek kan nie onthou dat ek ooit veel meer as 160 met haar gery het nie. Maar ek het byna nooit moeilikheid gehad nie.(Daar was die een keer met die "crankshaft", maar Rhenier Nel het dit mooi reggemaak.) Sy het soos 'n droom om die sirkels op Kovsiekampus gegaan. Sy het my veilig huis toe in Newcastle gevat as geen studente kon saamry met die motor nie. En toe ek en Annelie begin uitgaan, en sy soms soos 'n vrou maak, dan het die motorfiets my weer gekalmeer daar op die Bainsvlei pad uit.

Annelie kan mos soms 'n idee in haar kop kry... In my 3e jaar maak sy uit, en gaan hou skool in Oos- Londen. En Februarie in my 4e jaar vra sy my weer om uit te gaan- maar dis 'n storie vir 'n ander keer. In elk geval- nou is ek woes verlief. My meisie sit 560 km weg in Oos- London. Ek leer ken al die Oos- Londen studente op kampus, en ry amper elke naweek met die Passat af, hulle betaal die petrol. Maar as niemand wil saamgaan nie, dan ry ek met die motorfiets Vrydag na klas. En ry Sondagmiddag so 16h00 weer terug Bloemfontein toe.

So gebeur dit dat dit een naweek begin reën, en ek skryf Maandag 'n toets. Ek moét terug. En dit reën. Ek weet nie veel wat van Queenstown af gebeur het nie, want toe is ek al klaar nat deur my reënpak. En dit hou aan en aan met reën. Heelwat later nader ek die groot en indrukwekkende Vrystaatse dorp Smithfield. Smithfield het die fluksste Spietkop in die land... Sondagaand agtuur sien ek net buite Smithfield so vae liggie in die pad waai. Kan ook nie mooi sien nie- die water loop oor die Lafé se "visor" en dit is nog half toegewasem ook. Ek het eers 'n hele interne debat aan die gang oor wat my oë sien, en wat my gepaste reaksie behoort te wees. DIt skop toe in dat die liggie dalk aan die spietkop se arm verbind is, en dat ek DADELIK moet begin rem. Wat ek toe ook doen, en so amper op sy bruin gepoleerde skoen tot stilstand kom. DIe omie wou toe net sien of my lisensieskyfie op datum was. Amper 'n groot gemors! Hier is wyse raad vir elke Spietkop: as dit katte en honde reën, moenie met 'n flou liggie in die pad gaan staan en motorfietse probeer aftrek nie. Ons kan byna niks sien nie, veral nie vir jou nie, jy gaan seerkry. Maar erger as dit: ek gaan seerkry, en dit gaan ons vriendskap ruïneer!

Die Honda CB 400 N het my baie goeie diens gegee. Ek was baie lief vir daardie motorfiets. Toevallig ook 'n 1982 model, nes my eerste twee motorfietse!

In my weermagjaar het dinge begin skeefloop met my finansies. My ouers is ook deur 'n moeilike finansiële krisis getref. OP 'n dag moes ek noodgedwonge die motorfiets verkoop, want ons eersteling was skielik op pad. Gelukkig het my goeie vriend Marthinus Britz haar gekoop, sy het darem nie in 'n vreemdeling se hande beland nie. Ongelukkig het 'n kar voor Marthinus ingery, en het hy bo-oor die bonnet gevlieg. Gelukkig is hy nog met ons, vandag nog my vriend, en nog meer mal oor motorfietse as ek.

Die foto hier bo is waarskynlik geneem op een van die vele Oos-Londen trippies. Soos ek gesê het- daardie blou kleur het dit altyd vir my gedoen! Ek mis daardie fiets, ek het van my heel gelukkigste tye in my lewe op haar geniet, en 'n goeie 5 1/2 jaar se diens uit haar gehad. Ek het nooit met haar geval nie. Ek hoop daar is 'n hemel vir soet motorfietse wat hulle kant in hierdie lewe gebring het, want hierdie een het dit regtig verdien om daardie kronkelpad tussen die wolke mee te maak!

Friday, June 4, 2010

Honda MB5 en die "footrests" skuur op die pad!


Ek het vertel hoe ek die eerste trotse, en later gefrustreerde eienaar was van die heel eerste MTX in Newcastle. Later, heelwat later, sou Honda 'n waterverkoelde MTX 50 uitbring, wat darem amper met die Yamaha DT kon meeding.  Die een groot frustrasie was as my vriende 100 km per uur ërens heen kon ry, en ek net 80. Dis sleg om altyd die agterste ou te wees! (Ek dink êrens in my toekoms lê ten minste die nuwe BMW R100RR!)

Die eerste motorfiets wat ek uit my hart uit voor lief was, was die Honda MB5.  Myne het na my kant toe gekom deur die leed van 'n goeie vriend. Nicky Samwell se ma was ons wiskunde onderwyseres, en sy pa 'n wetenskaponderwyser van formaat. Hierdie egpaar was slim verby! Maar Nicky het nou nie soveel in die akademie belang gestel as sy ouers nie. En hy was die trotse eienaar van die pragtige MB hier bo op die foto. Sy punte het kwaai geduik in een van sy ouers se vakke. (Dalk 2%, ek kan nie meer so mooi onthou nie!) Toe besluit sy pa- dis sy motorfiets se skuld. Hoe op aarde kan 'n motorfiets 2% by akademiese prestasie steel, wonder ek deesdae. Dit maak dan juis dat jy vinniger by jou boeke kan uitkom!


Nicky besluit toe dat sy motorfiets darem in goeie hande moet wees. EN hy verkoop die motorfiets toe aan my vir R330, R10 minder as wat ek vir die MTX gekry het. Dit was die eerste groot bargain in my lewe. Want Nicky het hom mooi opgepas. DIe foto hierbo is op die Memelpad geneem, net nadat ek hom gekry het. Hoe weet ek dit? Hy het nog die standaard uitlaatpyp op.

Kyk, maak geen fout nie- die MB was 'n fantastiese fiets. Maar hy was nog steeds stadiger as die MBXe en RZ's, hy was darem 'n generasie ouer as hulle, en steeds lugverkoeld. Maar in Newcastle was daar 'n oplossing. Corrie Victor Motors het vir ons Expansion Boxes gebou! Free flow exhaust systems!  Magiese woorde, wat my hart nou nog warm laat klop. Eerstens het die goed ordentlik geraas. Een van die groot vreugdes was om daar deur die besigheidsdeel in die aand van die koor af huis toe te jaag, en daardie fantastiese geraas te hoor- pure musiek in 'n skoolseun se ore. Vandag is ek so dankbaar my bure het nie sulke goeters op die erf nie!  In elk geval, dié Expansion Box het my MB darem saam met die standaard MBX laat loop. Vir die eerste keer kon ek ook gemaklik 100 km/h haal, en dit was vir my soos wat daardie sub 4 myl vir Roger Bannister moes gevoel het. Ander ouens het nog kasterolie met die "two-stroke" gemeng, maar al my geld het in petrol ingegaan. As ek reg onthou, was dit so rondom R3 om die tenk vol te maak!

Die groot vreugde was om met hierdie motorfiets te "corner". Ons het gereeld daaroor gespog om ons "footpegs" te skuur in die draaie, veral daardie lang, slap draai in Gemsboklaan in (is dit sy naam, kan nie meer Newcastle so mooi onthou nie)

Met my MB het ek matriek klaargemaak. EK moes hom aan die begin van my eerste jaar in Bloemfontein kry, want eerstejaars mag nog nie karre op kampus aangehou het nie. Daar was net een manier. My ouers het my Beetle vir my deurgery, en by my oom in Bloemfontein geparkeer. Ek het die vorige dag die 500 km op die motorfiets deurgery. My ma was seker dood van bekommernis, drie weke tevore het ons my sussie begrawe wat aan kanker dood is. Dit was deel van die rede hoekom ek bietjie tyd op die motorfiets wou deurbring- hartseer en vrees vir die nuwe fase in my lewe wat so skielik gekom het.

Daardie MB het my hart verstaan, en was altyd gewillig om my te troos. Sy voetpegs het so lekker geskuur om die sirkels in die hoofpad van Kovsies se kampus. (Ek vermoed die spoedgrens daar is 40 km/h, maar dit kon nooit bevestig word nie.)

My MB het maar 'n hartseer einde gehad. As eerstejaarstudent in 'n manskoshuis leef jy maar in vrees vir die seniors. En jy moet hulle altyd groet, oral waar jy gaan. Ek het een Sondagmiddag by my familie gaan eet. Op pad terug huis toe het een van ons HK lede hand aan hand met sy meisie gestap. Ek het vir hom gekyk, om hom te groet. EN nie gesien dat 'n polisiebakkie van baan verander, en voor my stop om regs te draai nie. Toe ek weer voor my kyk, staan die bakkie doodstil enkele meter voor my- heeltemal te laat. Ek het hom ordentlik "connect". Lekker gelê en kreun in die teerpad, en vaagweg onthou dat 'n ander polisievoertuig my by Unitas Hospitaal se buitepasiente gaan afgooi het. Daarhet hulle my  'n jodium inspuiting gegegee, om op die X-strale te kyk of my organe heel is .  Gelukkig was ek nie ernstig beseer nie, en dieselfde aand was ek nog by die koshuis gewees. Maar ek was vir 'n paar dae so styf ek kon nie beweeg nie. Ek dink koshuisouens het my motorfiets gaan oplaai. En later het die polisie my vir roekelose en,of nalatige bestuur aangekla. Ek het dit selfs reggekry om albei die bakkie se agterligte uit te haal. Ek moes R50 skulderkenning betaal, en nog 'n paar R100 om die bakkie te herstel.


Met die skade en die koste van studies saam het ek nooit geld gehad om die MB reg te maak nie. My ouers het wat oor was, ook aan 'n YSkor Appy verkoop, wat hom reggemaak het, en nog vir jare met hom in Yskor se aanleg ingery het.

Vandag wens ek ek kon hom terugkry, vir my seuns om mee te leer ry. Ek het verlede jaar gaan kyk hoe Bernard in Volksrust rugby speel (op my Aprilia deurgeskiet!) Een dag het ek "for old times sake..." in Newcastle gaan rondry, net weer in Drakensbergweg gaan afjaag. EN daar êrens naby Amajuba, by 'n winkelsentrum, staan toe 'n wit MB. Het ek darem heimweë gekry! Gelukkig was daar nie Eks Ferrum ouens met Suzuki GSX 1000's in die kruisings nie (sien die MTX storie vroeër)!

Ek het die MB seker omtrent net 15 maande gery. Maar daardie dapper klein motorfietsie sal altyd 'n ereplek in my gedagtes koester. Ek het op die Internet op hierdie pragtige foto van 'n Europese MB 5 afgekom, en die enigste verskil tussen hom en myne is dat hy die MBX styl rims het.

Wednesday, June 2, 2010

Honda MTX 50- 'n Motorfiets maniak word gebore!

" Fifties" was groot in Newcastle, soos Jaco Kirsten ook in die Weg geskryf het.  "If you don't own wings, you'll never fly" sê die Honda advertensie van die dag.

Maar hoe gemaak as jou ma 'n teatersuster is, en sien hoe die manne lyk wat nie meer aan die regte kant van die rubber verkeer nie? Ma sê: "Oor my dooie liggaam sal jy eendag  'n motorfiets ry..." Pa brom: "Koop hom self!"

Maar ons het 5 km van die Hoërskool af gebly, met 'n skotige opdraende op die Memelpad uit op pad huis toe. En fietsry het dit nie meer vir my gedoen nie, nie vir die image nie, en ook nie vir die sosiale lewe nie. Ek begin toe maar in St 6 om koerante af te lewer, en Dinsdae- die Huisgenoot. In die somer heel skaflik, in die winter met die Natalse Ryp nie so lekker op die baaisiekel nie! Standerd 6 en 7 soos 'n slaaf vir Mammon gewerk. En uiteindelik- Desember 1982, net voor my 16e verjaarsdag, is die geld min of meer gereed.

Nou die keuse: Al my vriende ry Honda's. Maar die MBX is net te duur. (Eerste groot fout met voertuigaankope net hier gemaak). Die Suzuki Gamma is ook baie vinnig, om van die Yamaha RZ  nie te praat nie. Die Kawasaki was so bietjie verouderd.

Maar ek het 'n streep Moto-Cross weg- dit was so lekker om daarna te kyk op SAUK! Eerder 'n Scrambler- dan kan ek vir my vriende op die plase gaan kuier ook.  Vandag weet ek ek moes eerder die Yamaha DT gekoop het. Maar almal wat saakmaak ry Honda. Die ou MT was verouderd. Die nuwe MTX het uitgekom, en hy het net soos die XL 185 gelyk. Ek was die eerste een in Newcastle met hierdie model! Maar hy was 'n DUD!!! Steeds lugverkoelde enjin, nes die MT en MB. Haal die fenominale spoed van 80 km/h waar my vriende die magiese 100 km/h kon haal.  ( Dalk 85 in die legendariese "Panty valley" af, met my voete ingehaak agter die flikkerligte, en die wind van agter!)Was ek teleurgesteld!

Wel, met hierdie eerste motorfiets het ek in Std 8 en 9, en 1e kwartaal van matriek 30 000 km gery!
Om die waarheid te sê was ek op skool maar 'n redelike "loner"- ek het net baie moeilik tussen mense aangepas.  Vandag weet ek daar was destyds maar ook 'n goeie skoot depressie ingemeng in my menswees. Maar ek het dit nie toe verstaan nie.  Ek kon net nie maklik inpas nie! Maar op my motorfiets het ek vry gevoel. Die adrenalien van daardie eerste reise het opgemaak vir die dopamien en ander breinjuices wat te min was. Op my stadige motorfiets was ek die koning van die wêreld. (Hy was darem vinniger as die meeste meisies se scooters, behalwe miskien Anél se Yamaha Jog!)

O ja, ek het 'n paar groot valle ook aangeteken, om by te dra tot my ma se grys hare. Een oggend het dit vreeslik gereën. Ek het afgery in die Memelpad, tot waar dit doodloop in die Volksrust- Ladysmith pad. Die lig was groen vir my. Van die dorp se kant af het 'n man van Ferrum Hoërskool op 'n Suzuki gesit en wag vir die robot. Destyds het ons nie van Ferrum se manne gehou nie, en ook nie van Suzuki's nie. Ek besluit toe om vir hom so in die draai 'n middelvinger te gooi (was in my ou lewe- verstaan! Ek doen dit nie meer... nie)  Wel, in die draai het my gladde agterband 'n oliekol getref, en die volgende oomblik ruineer ek my grys langbroek op die teer. Maar wat die seerste gemaak het, was daardie Ferrum ou se gesigsuitdrukking. EK is so bly ek het nie gehoor wat alles by Ferrum se parkeerterrein gesels is nie!  Seker maar die blinde sambok! 
Ek het geleef vir motorfiets ry. EK het gewerk vir petrolgeld
Maar omdat ek tien duime het, het ek nie so baie geweet van die ding diens nie. Op 30 000 km het sy enjin bietjie moeilikheid begin gee, dalk van al die sludge in die oliesump!  Gelukkig kon ek hom vinnig aan 'n Yskor "Appy" verkoop- net 50 cc's mag ingery het byYskor se hekke na die aanleg toe. Vinnig geleer van waardevermindering- ek het die fenominale bedrag van R1000 neergesit by Hannes Strydom se pa- die Toyota garage het ook die Honda handelaars gehuisves. Met die enjinmoeilikheid het ek R330 vir die motorfiets gekry. Maar dit was toe ook nie so sleg nie, want die selfde dag het ek geleer om op te gradeer na 'n ouer model toe. Dit sal die volgende storie wees.

Daardie Honda MTX 50 was mooi, hy was stadig, maar hy was myne. My eerste voertuig met 'n enjin in. Ek dink die Honda het my gehelp om deur baie moeilike tienervrae te worstel. As daardie Ferrum ou op die Suzuki Gamma ooit hier lees: Sorry, boet!

Foto- Die spieëls is altwee afgeval...

Die vreugde en die vryheid- 'n Motorfiets

As jy elke dag met mense werk, dan raak mense soms een te veel.  Elke mens het maar daardie basiese, onbewuste idee dat hy of sy die middelpunt van die heelal is. Selfs ek dink baie keer dat net ek reg dink. Almal wat van my verskil moet êrens iets verkeerd verstaan. Maal dit nou met 'n gemeente van 1700 mense, wat elkeen 'n idee het wat Dominee nou eintlik moet doen vir hulle- goeie diens is belangrik

Wel, soms raak al die stemme te veel. Soms lui die telefoon daardie een keer te veel op 'n dag. Soms is dit net nie lekker om in jou baan te bly, en al die reëls gehoorsaam en slaafs te volg nie. 
Hier binne in die dominee is 'n biker wat wil uit.  Ek is baie dankbaar vir my 5e motorfiets in my lewe, my Aprilia Pegaso 650 Cube. Hy kan oral ry, maar hy kan dit nie vinnig doen nie. Baie soos ek! 
Vir die Argusse van 2009 en 2010 het ek gereël dat my fiets met vriende afgaan Kaap toe. Ek self het met die motorfiets afgery, hierdie jaar saam met 'n baie goeie vriend van jongdae af.  

Om met 'n motorfiets te toer, is nie om te jaag om by jou bestemming uit te kom nie. Daarvoor is my Italiaanse meisie met die mooi kurwes in elk geval nie gebou nie. 'n Reis op 'n motorfiets bly 'n avontuur. Om dit reg te doen, moet jy eintlik nie eers 'n idee hê waar jy vanaand wil slaap nie. Jy volg jou voorwiel. Jy stop by elke interessante koffieshop langs die pad. Jy draai af op die minder bekende paadjies, en die meer "scenic route".  Eers laatmiddag begin 'n mens wonder in watter dorp gaan jy 'n wonderlike gastehuis ontdek.  Watter restourant gaan vir jou daardie unieke dis voorsien, wat so ligjare verwyderd is van Micky D of Wimpie. Soos die skaaptjops wat 'n mens ekstra kan bestel vir R9-00 by die Travalia Padstal, 1 km verby Drie Susters.  Of die hamburger van die Merino Restaurant in Victoria Wes. Of die vetkoeke van daardie vriendelike geel  kafee reg oor die NG Kerk in Trompsburg.

Op die motorfiets kan die selfoon jou nie pla nie. Jou bankbestuurder wil nie saamry nie. In die draaie van die Huishoekpas sit die tandarts se rekening nie in jou kop nie.  Dis net mens en masjien, rubber op die teer, loutere genot. Op die motorfiets skakel jou "worry" deel van die brein af. Dalk werk net die reptielbrein- absolute oorlewing, absolute ekstase.  Jy is weer mens, deel van die natuur, reisiger in die wind, die reën, die son.  Jy oorleef ou tannies met Corollas in klein dorpies, bye wat in jou baadjie invlieg, vlakvarke op die pad tussen Marken en Ellisras.  Bo in Botswana, anderkant Nata, kan jy selfs tussen die olifante deurvleg!

En soms raak die pad op, soos op hierdie foto hier bo. Ewan MacGregor en Charlie Boorman het van bo in Skotland die lang pad af gevat, om ook hier te eindig. Hier by Kaap Agulhas kan jy nie verder Suid nie. Wel, nie in Afrika nie. Hier sit 'n mens en droom oor die pad wat jy afgelê het om hier uit te kom. Hier sit jy en geniet die oomblik van hier en nou. Eers heelwat later begin jy dink om weer op te klim, en verder te ry. Na die Backpackers op Struisbaai. Die pragtige sandsteen gastehuis in Baron van Rheede van Oudtshoorn straat in Oudtshoorn.


'n Motorfiets is in jou bloed. Soms is jou bloed ook op die motorfiets- maar dis 'n ander storie! 'n Mens lewe net een keer. Elke mens het daardie een ding nodig wat ons herinner- ons kom net een maal hierlangs verby. Hoekom nie maar op die agterwiel nie?