'n Mens kry een geleentheid om te lewe- vier dit!
Showing posts with label My dogter. Show all posts
Showing posts with label My dogter. Show all posts

Tuesday, August 27, 2013

Die ander drie ook... My kinders is 'n kosbare geskenk van Bo!

Net sodat die ander drie nie afgeskeep voel nie... daar was mooi fotos van elkeen van julle op my twee ontdekte CD's...


Dis MY mense daardie... nie almal is mal oor kamp nie...

Ek is MAL oor my dogter die Avonturieër, al hou sy nie van kamp nie... niks kry haar onder nie...


#3- Ou Spaarks! Kyk na daardie oë, dan weet julle- maar net ek mag hom Spaarks noem!  Nog onseker van homself, maar dié ou gaan baie ver kom, hou hom dop!


En dan nommer 4- Piet... Nog ALTYD dinge op sy eie manier gedoen...


Julle is my lewe!


Dankie vir my gesin! Ek is baie lief vir elkeen van julle! 
Wou dit nou maar van my hart afkry so voor ons vanmiddag Louwrens se diens gaan bywoon... 

Wednesday, July 10, 2013

Anja se 20e Verjaardag- Deel 2

Woordeloos- die twee dames in my lewe...

Saturday, April 20, 2013

Word Riders 2013 dag 1 Ek en Anja

 Op dag 1 van Word Riders 2013, op Saterdag 13 April, het Anja saam met my gery om die groep ryers by Warmbad te gaan ontmoet en te begelei na Weesgerus toe.
Ons het saam op ou Huisbesoek gery.

Soos 5 jaar gelede ook al...


Thursday, March 21, 2013

Pasop, die Ou Katte se naels is nog skerp...

More begin die Nylieweek in alle erns. Dit is die Hoërskool Nylstroom se sportweek in die Paasvakansie. Vanmiddag het die ander gasteskole in alle erns begin opdaag. Ons sien uit na baie lekker dae van sport, en ek hoop almal gaan dit baie geniet, en heel anderkant uitkom.

Maar die wedstryd wat ek die meeste na uitsien, is more middag 17h00.  Dan speel Hoërskool Nylstroom se Eerste Hokkiespan teen... drumroll... Hoërskool Nylstroom se eerste Hokkiespan... van so paar jaar gelede. Daar is 'n span saamgestel uit 'n paar oudskoliere, en ek het hulle netnou bietjie gaan dophou. Daar is 'n paar plaaslike legendes in daardie span!

Maar die een wat my oog natuurlik sal vang, is die Legendes se doelwagter- die Goallie met die rooi hare. Sy mag dalk vaagweg bekend lyk- 2 jaar gelede se 1e span Goallie:

Mag daar genade in oorvloed op die veld more middag wees!

Tuesday, July 10, 2012

Anja het 19 geword...

Raai wie het Sondag 19 geword?  Jammer oor die fotokwaliteit, my geliefde Canon Powershot D10 is uit my huis uit gesteel... my dogter het my Canon 350D vir haar studies. Vir die eerste keer van Standerd 7 af is ek sonder 'n behoorlike kamera in my besit :-(

In elk geval, Anja, baie welkom in die grootmenswêreld van stywe begrotings, nuwe liefdes, karre wat gestamp word, min slaap voor groot eksamens, gesels saam met vriendinne by die Square, misverstande met jou ouers...

Al hierdie dinge maak die lewe net meer interessant, en hierdie dae van jou lewe sal jy nog onthou as van die mooiste tye ooit.  Sweef soos 'n arend...

Saturday, July 9, 2011

Vir Anja, op haar 18e verjaarsdag

Liewe Anja

Vandag, presies 18 jaar gelede, het twee baie jong mense met ‘n geleende ou Mercedes na ‘n Provinsiale Hospitaal in die Vrystaat toe gery.   In ‘n sekere sin was dit baie spannende tye in ons lewens. My pa is dood twee maande voor jou geboorte, en jy sou sy eerste kleinkind gewees het. Hy het so uitgesien na jou koms. Net twee weke voor hom is my oom oorlede, wat my mentor in die lewe was, en vir my gewys het hoe lyk Jesus se liefde baie prakties.  Jou ma het ‘n goeie werk gehad, maar ek was op daardie stadium ‘n Proponent, wat vir ‘n beroep gewag het.  Geld was maar skaars. Dit was soms baie rof op ons in hierdie dae met al die onsekerhede van hierdie tyd. Ek hoop nie daardie spanninge het jou lewe negatief beïnvloed voor jy nog hier aangekom het nie.

Want ek wil weer vir jou vandag sê: Jou koms in ons huis was so ongelooflik welkom!  Ek het jou ma baie lief, en jy is uit ons liefde vir mekaar gebore.  Ons was baie opgewonde vandat ons gehoor het jy is op pad, en ons het so uitgesien na jou koms! Jy was vir ons die simbool van HOOP, van ‘n nuwe toekoms wat binnekort sou aanbreek.


Die dag van jou geboorte was redelik rof op ons, veral op jou ma en jou. Dit was ‘n yskoue Vrystaatse wintersdag toe ons kraamsaal toe gery het. Ma se dokter was al klaar in die buiteland, want jy was ‘n week laat…  Die sustertjie aan diens in die Provinsiale hospitaal het maar pas klaar gestudeer. Jy was haar eerste bevalling in haar professionele loopbaan.  En sy was baie senuweeagtig, het selfs gesukkel om ‘n drup in jou ma se are te kry. Dit het ons ook nou nie baie gerus gemaak nie…  Die dokter se vennoot het uiteindelik opgedaag, en toe is jy gebore. Met ‘n tangverlossing. Dit was vir my verskriklik.  Ek weet nie hoeveel ‘n baba kan onthou van ‘n geboorte nie, maar ek kan glo dit het ‘n invloed op ‘n mens. Dit was vir my baie wonderlik om by jou geboorte te wees, en saam met die dokter die eerste mens te wees wat jou gesiggie gesien. Ek wou die dokter amper slaan, want dit het gelyk of hy jou koppie gaan afbreek met daardie tang van hom.

Ek was al lief vir jou die dag toe die swangerskaptoets twee strepies vir positief gewys het. Daardie liefde het nog baie dieper geword die oomblik toe ek vir die eerste keer in jou oë kyk.
Ek weet regtig nie of die geboorte ‘n invloed het nie, of dit krampe was of wat nie, maar jy was ‘n koliekbaba.  Dit was vir ons ‘n groot aanpassing.  Ons het so dom gevoel.  Ek het so magteloos gevoel as ‘n mens jou vashou, en nie weet wat dit is wat jou seermaak nie.

Eendag, lank lank gelede...


Op ‘n manier het ons dit saam oorleef. En jy het deel van ons lewe geword, soos dit hoort- dit is wat ons nog altyd wou hê.
Daar was baie kere wat ek dalk oorbeskermend teenoor jou opgetree het.  As ek ‘n kans sou gehad het om dit oor te doen, sou ek seker steeds dieselfde opgetree het. Ek hoor al hoe meer van my vriendinne se gru-stories hoe hulle seergekry het op plekke waar hulle veilig moes gewees het.  Ek sou nog altyd, en sal vir die res van my lewe, my lewe enige dag met blydskap gee om jou te beskerm van alles en almal wat jou wil seermaak.

Ek het saam met jou deur die seer van die laerskool geworstel. Ek het baie dae skuldig gevoel. Want daardie sukkel wat jy ervaar het om vriende te maak, dink ek kom dalk geneties van my af- ek het net so gesukkel op skool om met ander mense te connect.  Jy was baie selfbewus, en daarvoor  het ek dalk vir jou die verkeerde voorbeeld gestel.

Jy het baie keer op skool uit gevoel.  Ek wil vir jou sê dis omdat jy ‘n baie unieke mens is.  Jy is nie soos almal  anders nie. En dit is ‘n baie beter ding as wat jy nou sal verstaan. Jy is een van die beste kunstenaars wat ek ken.  Jy is baie meer kreatief as ek en jou ma saam.  Jou brein dink op ‘n ander manier as baie mense s’n, en dit is verseker nie verkeerd nie, dis ‘n gawe!  Jy het ‘n melankoliese temperament, en is geneigd tot depressie, soos ek en ‘n paar ander van ons familie.  Baie van die groot kunstenaars in die geskiedenis, en party van die sterkste leiers, het ook daarmee geworstel. Dit kan ook een van die groot dryfvere in jou lewe word, wat jou tot nog meer sal inspireer.
Drakensberge 17e verjaardag- nie een van jou gunsteling fotos nie, maar een van myne!

Ek was so bly dat jy jouself begin vind het in die Hoërskool. Jy het op sportgebied, met jou plek in die eerstespan, baie verder gevorder in spansport as wat ek ooit kon.  Jou kultuurbydraes by die skool in drama, kuns was uitstekend. Jou verkiesing op die VLR was vir my die erkenning van ‘n potensiële leier in die lewe wat jy self nog sal ontdek. En die feit dat jy jouself in jou kamer kon vind- ‘n wonder!
Jou verjaardag vandag was vir my aan die een kant ‘n skok. Die skok is dat ek maar net weer besef dat ek besig is om ouer te word. Maar hierdie skrywe gaan oor jou. Ons besef dat jy nou wettiglik volwasse is.  Ek het die afgelope ruk probeer om jou al meer en meer ruimte te gee om jou eie keuses te maak, en meer en meer verantwoordelikheid vir jou eie lewe te vat. En jy het my nie teleur gestel nie. Maar ons kom nader aan daardie punt wat jy jou eie lewe gaan leef, en ek net daar gaan wees om vir jou ondersteuning te gee.  Ek gun dit vir jou met my hele hart, dit was so lekker in my eie lewe toe ek daar gekom het.

Jy het soveel wonderlike talente gekry om die lewensreis mee aan te pak.  Ek weet jy gaan ‘n sukses van jou lewe maak, want jy het nog altyd hard geveg vir wat jy graag wil bereik. En nou lê die toekoms blink voor jou. Ek bid saam met jou vir die universiteitskeuring wat jy nodig het. Ek bid saam met jou dat jou loopbaankeuse, en jou koshuiskeuse vir volgende jaar mooi in plek sal val.

Ek weet jy is ‘n fantastiese mens, al glo jy dit as tiener nog nie self nie. Ek weet jy gaan ver kom, al sien jy nog nie die pad nie. Maar die een ding wat ek vir jou wil sê: solank ek lewe, sal ek daar wees vir jou. Ek sal jou altyd liefhê, ongeag die dinge wat ons vanweë die generation gap soms vir mekaar in warm oomblikke sê. Jy sal altyd by my welkom wees, maak nie saak wat die probleem is wat jou vreugde steel nie.
Ek sien uit na die toekomspad wat jy volgende jaar begin stap. So nou en dan bid ek vir jou huweliksmaat, wie en waar hy ook al mag wees.  Ek bid vir iemand wat jou gaan leer ken vir wie jy regtig is, en al die mooi in jou gaan geniet. Ek bid vir jou vir iemand wat jou so gelukkig gaan maak, soos wat ek nou al 21 jaar die grootste geluk saam met jou moedertjie beleef.  Kry vir jou iemand wat jou altyd respekteer, iemand wat jou ook sal dien, iemand wat vir die lang reis bereid sal wees om saam met jou die lewenspad te stap, deur dik en dun.  As hy ooit sy hand teen jou lig, gaan ek en jou broers hom b...aje hard slaan! (Dit het jou broer al tien jaar terug vir jou gesê- ons staan daarby!)

My kind, jy is gemaak om met arendsvlerke te vlieg (Jes 40:31) Jy is meer as ‘n oorwinnaar (Rom 8:37)  en jou ouers sal altyd in jou glo. Dankie dat jy ons dogter is, en ek is verskriklik, baie, baie lief vir jou!
Vir altyd!

Jou Pappa


Op die 18e verjaardag by Zebula-  8 Julie 2011